Читать книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach - Страница 5

2

Оглавление

Lucinda hoor al die gedreun van die helikopter toe sy haar wit jas oor haar hemp en romp aantrek, die stetoskoop in haar sak druk en haar mediese tas gryp.

“Anna, ek gaan kliniek toe, hoor!” roep sy.

Anna kom uit die kombuis en vee haar hande met ’n vadoek af. “Sterkte, dokter. Jirretjie tog, ek hoop die seun is nie aan die doodgaan nie.”

“Nie as ons dit kan keer nie.”

Op ’n drafstap haas Lucinda haar na die kliniek, waar dit lyk asof almal in die kinderafdeling rondhardloop en gereedmaak vir die ontvangs van die malariapasiënt. Sy sit haar tas in die voorportaal neer en volg die mense na die helipad, waar Jens en Marita en ’n horde mense reeds staan en wag.

Die helikopter sweef nader en hang in die lug sodat die reuse rotore die bome en gras en almal se klere en hare woes laat waai. Op die kant lees Lucinda Huber Construction Africa. Sy gaan nader, al waai haar hare oor haar gesig en wapper haar jas om haar asof sy in ’n tornado is. Die helikopter lyk vir haar soos ’n reusemuskiet.

Marita neem haar arm en skree iets, beduie na die helikopter, maar Lucinda kan nie hoor nie.

“Wat?” roep sy.

“Die pa het saamgekom.”

Almal storm nader toe die loods en drie mans uitklim en Lucinda kyk hoe hulle die figuur op die draagbaar uithaal en op die kliniek se trollie sit. Dis maar ’n kleinerige mensie, dink sy vervaard.

Toe sien sy die lang, donker man raak wat langs die pasiënt bly terwyl die personeel om die draagbaar maal. Hy draai om en groet vir Jens en Marita, sy hare deurmekaar gewaai deur die wind van die rotore, wat al stadiger draai totdat hulle gaan staan. Die dreunende enjin word afgeskakel.

Lucinda kry die eienaardigste gewaarwording. Die man is beslis aantreklik, lank en met breë skouers, donker hare en oë en met ’n soel vel, maar sy gesig is stroef van bekommernis. Sy voel simpatie vir hom, maar dis nie al nie. Dis asof haar asem iewers in haar keel gestol het.

Sy ruk haar reg en gaan nader.

“Hier is een van ons pediaters, dokter Lucinda O’Neill,” hoor sy Jens sê. “Dokter Wannenburg wag in die saal vir ons. Lucinda, dit is meneer Werner Huber.”

Donker, troebel oë kyk in hare en ’n groot hand omvou hare. “Aangename kennis, dokter.” Sy voel asof die oë in haar siel inkyk, maar dan is die oomblik verby en draai hy weg.

“Dankie dat ons so vinnig hierheen kon kom, Jens.”

Die ouer man klap hom liggies teen die skouer.

“Ons help graag ’n ou vriend. Kom, ons neem Erik onmiddellik in dat ons bloedtoetse kan doen. Hy sal in ’n privaat kamer lê, want hy het natuurlik geweldige hoë koors.”

Lucinda en Marita volg terwyl die ander vooruit haas. “Dit lyk my julle ken die Hubers goed?” vra Lucinda in die loop.

“Ja, Werner en Jens se jonger broer was groot vriende op universiteit. Werner en sy vrou het eenkeer vir ons kom kuier, maar hulle is twee jaar gelede geskei. Sedertdien het ons hom nie weer gesien nie, maar hy werk deesdae ook meestal aan groot projekte in Afrika.”

Lucinda se simpatie verdiep sommer. Die arme, siek kind kom uit ’n gebroke huis, maar hy het darem ’n besorgde pa.

Klein Erik is uiteindelik in die bed en sy sien dat hy behoorlik ruk van die koors. Sy gesig is rooi en blink van sweet. Lang, swart wimpers lê op sy wange. Sy donker hare is deurdrenk van sweet en sy lyfie bewe onophoudelik. Nogtans is hy vir haar ’n mooi kind, wat baie weerloos lyk.

Almal staan terug sodat sy oor hom kan buk en hom ondersoek.

“Hoe oud is hy?” vra sy vir die pa, wat aan die ander kant van die bed staan, sy gesig bleek. Sy merk terloops dat hy grys vlekkies in sy swart hare het en dat hy eerder manlik as bloot aantreklik genoem kan word.

“Hy is sewe. Hy het vir my kom kuier in Zambië. Ons het gedink dis nog nie muskiettyd nie, en sowaar, daar word hy gebyt. Dit het ’n aantal dae geneem voordat ons besef het hy is regtig baie siek. Ek het nie juis vertroue in die dokters van Zambië nie en het hom onmiddellik teruggebring na SuidAfrika. Na Jens se kliniek.”

“Dis die beste ding wat jy kon gedoen het,” sê Jens.

Lucinda kom met die uitslag van die bloedtoetse wat die laboratorium gestuur het by Werner Huber aan.

Foei tog, hy waak nog heeltyd by sy seun, al werk die personeel met die kind, dink sy. Sy mooi hemp en broek is gekreukel en sy das is heeltemal los. Sy hare is deurmekaar en die swart baard op sy besliste kakebeen maak ’n skaduwee onder sy vel.

Hy kyk op na haar, en sy merk met deernis dat hy baie moeg lyk, al is hy klaarblyklik ’n sterk man.

“Jy lyk vir my baie jonk, dokter O’Neill,” sê hy. “Maar Jens-hulle verseker my jy is ’n uitstekende dokter en dat jy vertroud is met tropiese siektes.”

“Ja, ek het by Tygerberg-hospitaal daarmee gewerk.”

Hy staan op en kom nader.

Sy kyk op in sy gesig. “Miskien moet u na my kantoor kom en die verpleegsters toelaat om vir eers na u seun om te sien. Ek moet vir u verduidelik wat aangaan.”

Terwyl hy agter haar aanstap, is sy bewus van sy groot gestalte en die nuuskierige blikke, of blikke vol ontsag, wat hulle volg.

“Sit asseblief, meneer Huber,” nooi sy toe hulle in die kantoor is, en sy gaan sit oorkant hom. “Weet u baie van malaria af?”

“Ek weet dit maak baie mense in Afrika en Asië dood, en dat daar verskillende soorte is. Watter soort het my seun?”

Hy klink asof hy hom met wilskrag kalm hou. Lucinda skraap haar keel sodat sy nie emosioneel en skor moet klink nie. “Hy het Plasmodium falciparum. Ek moet u ongelukkig waarsku dat dit een van die ergste vorms van die siekte is.”

Sy sien hoe sy soel gelaat verbleek. “Liewe hemel,” hoor sy hom prewel. “Hoe op aarde kon dit gebeur het?”

“Malariaparasiete word deur die vroulike anofelesmuskiet versprei en –”

“Ja, dit weet ek darem. Ek het sy ma – my eksvrou – gewaarsku dat hy vooraf iets moet neem, want al is dit nog vroeë lente, bestaan die gevaar van besmetting. Dit wil vir my voorkom asof hy niks geneem het nie.” Lucinda sien dat hy so hard op sy tande kners dat die spiere in sy kakebeen beweeg en ’n aartjie op sy voorkop begin klop.

“Eers het dit gelyk asof Erik griep onder lede het,” sug hy.

“Die simptome kan soos griep wees: kortasem, naarheid, kouekoors. Mense besef nie altyd dadelik dat dit malaria kan wees nie.”

Werner Huber kreun. “Wat is die ergste scenario? Koma, die … dood?”

Dit ruk haar aan die hart dat hy so ontsteld is. “Ja, maar ons kan dit hopelik keer. U het hom betyds gebring.”

Hy laat sak sy kop in sy hande en sy kyk hoe die lang vingers deur sy hare vee asof hy die aaklige nuus wil wegvee.

“Meneer Huber, malaria-infeksie word met middels soos kinien en artemisinin behandel en al kom middelweerstandigheid dikwels voor, moet u asseblief nie moed verloor nie. U kind is jonk en hy was waarskynlik gesond en nie ondervoed nie.”

Hy kyk na haar met oë vol pyn. “Erik is my enigste kind. Al wat ek het. As ek hom moet verloor …” Hy kreun weer en maak sy gesig met sy hande toe.

Lucinda staan op en plaas haar hand op sy skouer. Onder haar vingers voel sy sy spiere deur die hemp beweeg. Dit voel eienaardig om aan hom te vat, maar sy wil hom troos.

“Ons gaan u seun help, meneer Huber. Hou net moed.”

Hy kyk op en sy neem haar hand weg, want sy oë brand in hare. “Wat is die heel beste behandeling? Ek gee nie om hoeveel dit kos nie.”

Sy gaan sit weer. “Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel artemisinin-gebaseerde kombinasieterapie aan, oftewel AKT. Maar dit kos twintig keer meer as enige ander medikasie.”

“Ek gee nie om om te betaal nie, soos ek gesê het.”

Sy knik. “Goed, maar laat ek vir u al die moontlikhede uitspel. Kinien word steeds deesdae gebruik om weerstandigheid of ernstige gevalle te behandel.”

Sy sê nie vir hom dat P. falciparum vir byna negentig persent malariasterfgevalle verantwoordelik is nie. Dat dit die soort malaria is wat die weerstandigste is teen kinien en ander middels. Sy kan hom nie met hierdie brutale waarheid van sy hoop ontneem nie.

“Kinien is die eerste middel wat gebruik is om malaria te behandel en daar is mense wat glo dat dit steeds die beste is vir die behandeling van weerstandige falciparum-malaria. Ons kan dit binneaars toedien.”

“Doen net wat julle kan, solank julle my kind red.”

Lucinda hoor ’n klop aan die deur en Jens kom in.

“Ek sien dokter O’Neill het jou vertel wat Erik makeer, Werner. Wel, as ons weet, kan ons dit reg behandel. Het jy vir hom al die simptome verduidelik, Lucinda?”

“Nie alles nie, net dat dit aanvanklik soos griep manifesteer. Ons praat nog van die middels waarmee ons dit kan behandel.”

“Vertel hom sodat hy voorbereid is.”

“Die malaria tas die bloed aan en veroorsaak dat die milt en lewer vergroot. Dit kan ook die niere aantas. Die pasiënt kan om die beurt kouekoors en hoë koors kry en erg sweet, want die koors kan opgaan na veertig grade celsius. Dan is daar selfs tussenin kort periodes waarin die pasiënt goed voel. Falciparum-malaria is die ergste en u seun gaan yl en deurmekaar wees. U moet bedag wees op al dié dinge, maar besef dat hy nou onder behandeling is, en dat dit die beloop van die siekte is.”

Jens knik, maar Lucinda sien in sy oë dat hy, soos sy, vrees vir fatale serebrale malaria.

“Doen wat julle moet doen,” sê Werner Huber. “Kan ek hier bly totdat hy buite gevaar is?”

“Ons twee gastesuites vir ouers is ongelukkig beset, maar jy kan in ons huis kom bly.”

Lucinda hoor Jens se aanbod en kry ’n idee. “Ek bly alleen in ’n kothuis wat ’n gesin kan akkommodeer. Meneer Huber kan gerus in een van die spaarkamers intrek en kom en gaan soos hy wil. Ek is in elk geval meestal by die kliniek.”

Hy kyk na haar met somber oë. “Ek sal baie dankbaar wees as ek dit kan doen.” Hy draai na Jens. “Ek wil julle nie ontwrig nie. Kan ek by dokter O’Neill gaan bly?”

Jens druk sy skouer. “Natuurlik, Werner. En enige tyd wat jy wil, eet jy in die kliniek se kafeteria. Lucinda se huishulp, Anna, sal in elk geval ook vir etes sorg.”

Werner Huber staan op. “Ek wil nou teruggaan na my seun, asseblief.”

Terwyl dokter Wannenburg na die ander kinderpasiënte omsien, konsentreer Lucinda meestal op Erik Huber.

“Ons sal sien hoe hy op die medikasie reageer, meneer Huber,” sê sy vir die pa, wat weier om by die bed weg te gaan en skaars iets eet of drink.

Dis hoe ’n toegewyde, liefdevolle ouer kan wees, dink sy meewarig. Iets wat sy self nooit geken het nie.

“Waar is Erik se ma?” vra sy.

“In Engeland. Ek het haar laat weet dat sy moet kom. Sy behoort môre hier te wees.”

Lucinda wonder oor dié ma. Sou sy weer getroud wees? Is sy so toegewyd soos die pa?

Sy is net op pad uit die privaat kamer toe sy die jong verpleegster Jenny de Lange teëkom.

“Is dit nie ’n beeld van ’n man nie?” sug Jenny. “En so lief vir sy kind.”

Lucinda haal haar skouers op. “Hy is seker. Verskoon my, ek wil gou met dokter Wannenburg gaan praat.”

Eintlik het sy nie lus vir klets oor mooi mans in dié krisistyd nie.

“Dokter Wannenburg, kan ek met u saamstap en gevalle bespreek?” vra sy toe sy hom en suster Martie en twee verpleegsters op hulle rondte sien. “Ek sal binnekort weer na Erik Huber gaan kyk.”

“Natuurlik. Jy is welkom.”

Sy luister na die diagnoses en die gesprekke en sien dat daar twee kinders is wat MIV-positief is. Hulle kom laaste by Nanette, wat vir Lucinda baie siek en swak lyk. Ongetwyfeld is die siekte al gevorderd en sit dit nou in vigs om. Ander ouers het deur die loop van die dag gekom en gegaan, maar niemand was by Nanette sover Lucinda kon agterkom nie.

“Sy het opgeswelde kliere, asemhalingsprobleme en koors, en sy verloor gewig,” fluister dokter Wannenburg. “Natuurlik het sy diarree. Haar ma het haar geïnfekteer en dié is al dood.”

Lucinda se hart bloei vir die kind. “Ag, foei tog. Waar is die pa?”

“Hy kom so dan en wan, maar hy is ’n renjaer en reis rond. Ek skat hy het haar hier laat opneem omdat dit die beste was wat hy kon doen.”

Lucinda kyk na haar kaart. “Nanette van Reenen,” lees sy hardop en die verskriklikste gedagte skiet deur haar. Sy kyk na dokter Wannenburg. “Wat is haar pa se naam?”

“Edwin van Reenen. Dalk herken jy die naam? Die man is baie bekend, nie net in Suid-Afrika nie, maar veral oorsee.”

Lucinda voel asof die vertrek ’n oomblik draai en toe weer stilstaan.

“My liewe dokter, jy is doodsbleek. Wat makeer?” hoor sy die dokter vra, maar sy kan weens die skok nie antwoord nie.

“Help haar, suster,” hoor sy, en hande vat haar en laat haar op ’n stoel sit.

Voor haar is die gesig van die dokter wat oor haar buk.

“Ek is jammer,” prewel sy. “Ek het so geskrik. Edwin van Reenen is ’n baie ou vriend.”

Sedert haar kinderdae, sedert die weeshuisdae, maar sy sê dit nie.

“Ai, dis vreeslik,” simpatiseer dokter Wannenburg. “Nou ja, jy sal hom wel sien as hy weer kom. Hy kom so dikwels soos hy kan, sê hy, maar dis nie kort-kort nie.”

Lucinda voel hoe suster Martie haar oor die rug streel asof sy ’n kind troos. “Kan ek vir jou iets gee vir die skok, dokter?”

“N… nee, dankie. Ek sal nou-nou reg wees.”

Sy skud haar kop en staan op. Die dogtertjie se groot oë kyk in hare en sy voel asof sy in trane kan uitbars en die kind vasgryp, maar sy hou haar in.

“Ek sal ’n spesiale ogie oor haar hou,” sê sy. “Is sy op anti-retrovirale? Die pa kan dit seker bekostig?”

“Ja, al het ons die probleem dat pediatriese dosering daarvan moeilik is om heeltemal korrek vas te stel. Sy kry vloeistofmedikasie, wat duur is, en ons moet dit natuurlik verkoel. Ek probeer die regte dosis volgens gewig toedien, maar soos jy seker weet, reageer kinders nie altyd so goed soos volwassenes nie.”

Lucinda luister in stilte en dink dat Nanette met sulke behandeling dalk jare lank sal lewe, maar niemand kan seker wees nie. Sy knipper skielike trane weg.

Edwin se kind. Blonde, vrolike Edwin wat nie kon wag om weg te gaan en die lewe met albei hande aan te gryp nie. Sy het op die nuus gesien en gelees hoe hy aan die Grand Prix in verskillende lande deelneem, en selfs hoe hy wen.

Het hy die losbandige lewe begin aanhang toe hy ryk en beroemd geword het? Die soort lewe waar mense met MIV besmet kan word? Sy voel siek as sy daaraan dink.

Waar is al die ander familie, die ma se mense? Of het hulle haar verwerp omdat sy vigs gekry het?

Ek sal jou tragedie vir jou probeer versag, klein meisie, dink sy en buk oor Nanette. “Ek kom weer vir jou kuier, hoor.”

“Ja.” Die fluistering is so sag dat Lucinda dit skaars hoor.

Werner Huber kyk na die jong pediater toe sy inkom en merk dadelik op dat sy lyk asof sy ontsteld is, maar dit probeer wegsteek. Sou dit wees omdat sy vrees dat hulle nie vir Erik gaan deurtrek nie? Hy kry ’n gevoel van onrus soos ’n klip in sy maag.

Daar buk sy weer oor sy seun en ondersoek hom. Hy het lanklaas so ’n deernisvolle gesig gesien. Dat sy omgee en dat haar hart in haar werk is, kan niemand betwyfel nie. Daarby het sy ’n sonderlinge skoonheid, waarvan sy skaars bewus lyk. Iemand so mooi kon ydel gewees het, maar sy is dit skynbaar nie.

“Een van my skranderste studente, en deurgaans ’n presteerder, seker omdat sy met beurse en lenings moes studeer,” het Jens vroeër vertel toe hy oor haar uitgevra het. ’n Weeskind uit ’n baie troebel agtergrond. Dis seker daarom dat sy so simpatiek voorkom: sy ken swaarkry en sukkel.

Daar is net een probleem, dink hy: sy lyk so jonk. Haar loopbaan as pediater was nog maar kort. Hy wonder of sy ooit genoeg weet, ten spyte van die vertroue wat Jens in haar stel. Gelukkig is hier darem ’n ouer pediater by om haar te ondersteun. Jens en Marita se belangstelling in Erik is ook persoonlik.

“Pappa.”

Hy skrik toe hy Erik se stem duidelik hoor en vlieg op. Die dokter steek haar hand uit en streel liggies oor Erik se wang. Dis so ’n teer gebaar dat die asem in Werner se keel vasslaan.

Sy kyk op. “Hy is ’n bietjie deurmekaar, maar ons verwag dit.”

Werner kyk diep in die pragtige blou oë tussen swart wimpers. Hy besef dat hy staar en dat sy bloos, asof sy verleë is.

Sy kyk af en hou haar besig, en op sy beurt hou hy haar diskreet dop. Al weet sy dalk nog nie genoeg nie weens ’n tekort aan ondervinding, het sy ’n wonderlike bedside manner, dink hy. Hy kan glo dat kinders vir haar lief kan word.

Onwillekeurig sug hy.

“U moet baie moeg wees,” hoor hy haar sê. “Wil u nie gaan eet en stort nie? U kan mos weer terugkom. U doen nie uself óf Erik ’n guns as u uitgeput raak nie. U moet ook u kragte bewaar.”

“Jy bedoel julle wil nie twee pasiënte hê nie?”

“Ja. Ek dink u moet vir my luister. U sal sommer baie beter voel. Anna kook aandete en ek het vir haar gesê sy moet na u omsien.”

Styf-styf staan hy op. “Nou goed, maar ek is netnou terug.”

Toe hy uit is, hoor Lucinda agter haar ’n stem sê: “Haai, bly hy tog nie by dokter in die huis nie?”

Sy draai om. “Ja, want daar is baie ruimte. Dis óf daar óf by die Krauses.”

Verpleegster Jenny het ’n uitdrukking van afkeer, en ook iets soos nyd.

Lucinda onderdruk ’n sug. Mense moet nou net nie iets lees in haar aanbod dat Werner Huber onder haar dak kan vertoef nie. Sy kry hom jammer, dis al. Sy probeer net medemenslik wees.

Hartklop Omnibus 3

Подняться наверх