Читать книгу Deur ruite van die reis - Melanie Grobler - Страница 12
seeskulp
ОглавлениеLig hierdie skulp na jou oor en jou bloed sal suis met asemlose
helderheid. daardie galmende afgronde waar basstemme
gedy in die dieptes van ’n soutgety. elke klank word die eggo
van die buitenag. ek hoor jou stem soos op straat
die galmende klokke van Krakow, dan in ’n moskee in Córdoba
jou stem tussen gedempte dreunsang
frase vir frase lig die Goldbergvariasies hul in die konsertsaal
jou voetstappe, die beweging van jou stem en die durende roep
van die dikkop. aan die naat van bewussyn, soos ’n droom in die newel
torring gedagtes van verlies aan my hart. hoe lank gaan jy nog
ronddwaal in vreemde stede op soek na slaapplek of betekenis
of dwaal oor heuwels om ons liefde met sneeu te vergelyk?
nêrens is daar ’n vaste huis of tuiste. die lewe gaan heen
met veranderinge. ook die hartklop van die seehuis verander
in die leë jare. die nag praat al hoe sagter.