Читать книгу Deur ruite van die reis - Melanie Grobler - Страница 6
ses kwatryne
ОглавлениеDie draaijakkals is gebore om agter
die geluid van larwes aan te grawe
om ná die somerreën onder die blou
van die hemelboog in die rondte te tol.
Met pote soos dié van ’n kameel sit sy
soos ’n hond op haar skraal agterstewe
van ouds af maak sy haar kleintjies groot
op die melk van ander singende diere.
’n Somber dier soos verbeel deur Kafka
lyk op ’n afstand soos ’n tweekopslang
met hierdie vers vlug die reptielpaar
deur die tweespalt van hul gedagtes.
Die diere wat ek vertroetel en name gee
brul onbeskaamd in my binneste
leeu en tier en wildekat
met spoeg wat uit hul bekke spat.
Sonder enige begrip hang ons aan die heelal
soos verstrooide beendere roep ons na mekaar
geteister deur honderd klokke
gee ons vorm aan ons eensame gedagtes.
Asof in ’n dans, van die apeks tot sykant
ontvou die heliks soos ’n tydlose gedagte
ver weg van die intellektuele woede
slaap die kouri op die seebodem.