Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 85

Ons gesels met Pieter W. Grobbelaar

Оглавление

Mnr. Grobbelaar, u is bekend vir u boeke oor volksverhale. Wat is ’n volksverhaal?

Volksverhale is verhale wat van geslag tot geslag deur ouers aan hulle kinders vertel word. Vroeër jare is dit oorvertel, deesdae kan ons dit darem neerskryf. Volksverhale sluit sprokies, fabels, mites en legendes in.

Ek het my altyd ingeleef in die stories wat Oupa vertel het. Dit was baie interessante stories en pret om na te luister.

Presies. Volksverhale moet geniet word. Dit prikkel ook die kinders se verbeelding, want alles en enigiets is moontlik in ’n volksverhaal.

Ek het u vertellings van Uilspieël gelees. Bestaan daar werklik iemand of iets soos Uilspieël?

Nee, Uilspieël is ’n karakter wat in Duitse stories ontstaan het en daar het hy die naam Till Eulenspiegel gehad.

Nou hoe het ons hierdie stories oor hom in Afrikaans gekry?

Die eerste stories oor Till Eulenspiegel is reeds in 1300 vertel. Baie gou het die stories oor die hele Europa versprei en baie gewild geword. Hierdie stories het al in die Hollandse tyd na die Kaap gekom en hier het hulle Till Eulenspiegel se naam na Tyl Uilspieël verander.

Wat het in Suid-Afrika met Uilspieël se verhale gebeur?

Die kinders het die stories só geniet dat dit van geslag tot geslag oorvertel is. In Suid-Afrika het Uilspieël, Antjie Somers, Jakkals en Wolf en die Swape baie kinders se lieflingkarakters geword.

In hierdie verhaal van Uilspieël wat ons gelees het, was die volk aan die einde hartseer toe hulle besef dat hulle hul grootste grapmaker verloor en Uilspieël keiser gaan word. Wou die grootmense met hierdie stories net hê dat die kinders die verhale moet geniet en lekker lag?

O nee, so tussen die grappe deur het Uilspieël dit geniet om die swakhede of foute van mense te beklemtoon. In een verhaal was daar ’n boer wat gedink het hy weet altyd beter en in ’n ander een is ’n buurman te suinig. Ou Uilspieël sien hierdie ouens dan goed reg. So leer hy in elke storie vir die kinders ’n lewenslessie wat hulle ook weer in hulle eie lewe kan toepas.

Lees eers Pitkos wat hierna verskyn. Dit sal jou met die vrae help. Beantwoord dan die vrae wat op begripstrategieë gebaseer is op jou eie en vergelyk jou antwoorde met jou groepslede se antwoorde. Jou onderwyser sal die antwoorde saam met julle nasien.

1. In die eerste antwoord van Pieter W. Grobbelaar word gesê dat volksverhale nie verhale in die ware sin van die woord is nie. Verduidelik die stelling.

2. Is die volgende sin ’n feit of ’n mening: “Die eerste stories oor Till Eulenspiegel is reeds in 1300 vertel.” Gee ’n rede vir jou antwoord.

3. Wie het die verhale van Uilspieël na Suid-Afrika gebring?

4. Gee bewyse uit hierdie onderhoud . . .

a. dat die verhale van Uilspieël sprokies of legendes is.

b. dat dit baie gewild was.

5. In die laaste vraag word die woord grapmaker gebruik. Gee ’n sinoniem (woord met min of meer dieselfde betekenis) vir dié woord.

6. Skryf die hoofgedagte van die laaste paragraaf neer.

7. Watter ondersteunende feite word by die hoofgedagte van die laaste paragraaf gebruik?

8. Wat sou jy sê is die doel van hierdie onderhoud?

9. Kies die teikengroep wat in hierdie onderhoud sou belangstel. Maak ’n keuse uit die volgende:

volwassenes • wetenskaplikes • kleuters • storieliefhebbers

10. Skryf name neer van sprokies waarvan jy baie hou of gehou het toe jy kleiner was. Skryf ook neer watter lessies jy van hierdie sprokies onthou.

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Подняться наверх