Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 12
Оглавление8
Shivani
Sleep. Oor ’n grotvloer. Glad, sag. Nee, dis nie ’n droom nie. Ek’t geslaap, maar ek’s nou wakker …
Die lakenman! Daar was aanhoudende gille – my eie. Toe niks.
Nou sleep hy my in die donker rond, ek hoor hom asemhaal. Hoe lank sleep hy my al? Afrol en terughardloop …hy klink moeg en oud, roggelend …My foslig?
My polse is vas! Die lakenman het my polse …en my enkels …
Hy’t gestop. Net sy asem. En die geluid van water! Meer lug as voorheen? Ek weet nie, ek snak al weer na asem … Dis grotdonker en my oë raak nie gewoond daaraan nie.
“Wŏ xiànzài rēng tale!”
Hy gaan my gooi? Gaan hy my gooi? Sy stem weerklink oor ’n groter afstand as ’n grottonnel.
“Yīgè zhēnzhèng de rén?!”
Daar is nog iemand! Ver onder ons, die weerklank slaan bo ons vas …Oud, jonk, manlik, vroulik? Als grotstemme. Meer mense, moeiliker om weg te kom.
Lakenman sê nou hy glo ek is ’n mens – of ek dink dis wat hy sê. Hy praat ’n Chinese dialek wat vir my vreemd is.
Nou praat ’n derde iemand! Beslis jonger …
Die lakenman is sterk. Sy asem blaas in my gesig.
Hy brom onderlangs, kreun. Lig my op.
Ek’s in die lug!
Iemand gil …dis ek.
Onderstebo?
Vryval. Gil. Ruk. Bande om my maag ook.
Al Kxûm se kwaadste woorde rol uit my mond. Kwaad-bang – kan dit nie keer nie. Die lakenman bind mense met toue vas! Hy bind hulle vas en neem hulle sonder hulle toestemming iewers heen! Hy gooi mense!
Meer kwaad as bang, soveel meer kwaad as bang …Hoe kan mens …
“Màn man de lăorén!” Dis die jonger een se stem.
Iemand lag. Nie meer so ver onder my nie …
Ek hang. Sak stadig. Hoor water, ruik grotwater. Alles ruik anders. Dis soos niks wat ek voorheen …
Sak nog, vinniger …hang weer.
Iemand haal asem oor my. Meer as een persoon.
“Wŏ yŏu tā …” sê die een.
“Wŏ yěyǒu tā. Màn man bǎ tā fàngxià …” sê die ander een.
Hulle sit my in ’n boot neer. Ek hoor die water onder en om my, ruik dit, voel dit wieg. Ek het al op ’n verbode polsfiksieruim gesien hulle behandel mense en diere só.
“Aaa!” skree ek. “Julle gaan jammer wees hieroor, julle gaan só jammer wees!”
Maak geraas in jou eie taal asof jy geen beheer het nie …maar jy hét nie beheer nie …
Ek het altyd beheer. Ek kan kies hoe ek …
“Jy is so mooi.”
Wat?!
“Ekskuus?” Ek is seker ek het dit gehoor, in Afrikaans. Die jong persoon het dit gesê.
Of is my brein besig om goed op te maak omdat ek nie kan sien nie?
“Ekskuus? Praat iemand Afrikaans?”
Lakenman is kwaad. Sy dialek weergalm in die stalagmietdun stemmetjie en ek vang nie eers een woord daarvan nie.
Die jong persoon antwoord en die boot begin beweeg. Dit klink nie of iemand met ’n spaan roei nie, dis in elk geval te vinnig. Ek hoor niks anders as water om my nie, maar nou ruik ek iets …chemies …
Ek het my sekerlik verbeel oor die Afrikaans. Ek mis iets bekends, toe hoor ek woorde in my taal.
Die twee ouer mense praat aanhoudend, nou ver van my af. Hoe groot is die boot? Waar is die jong een? Die gevoel om geïgnoreer te word …ek ken dit nie. Ek hou nie daarvan nie.
Daar is iets klam en koud op my wang. Dit beweeg stadig …’n grotslak …’n grotkrap …’n lopende swam? Nou in die rigting van my mond …My polse is nog vas!
Ek wil my mond toehou, maar die gil begin in my keel …
My mond gaan oop. Iets druk dit toe. Ferm, hard.
“Sj …” Asem in my oor. “Moenie skree nie, mooi meisie. Ek sal jou help, maar die ander mag nie weet nie. Sal jy nie skree nie?”
Ek knik my kop. Die hand los my mond.
“Hoe weet jy …hoe sien jy my?” fluister ek terug.
“Kun het jou oë toegemaak. Ons het wit fosfor. Ek sien jy het ’n groen fosforlig gehad. Kun het dit gevat. Jy sal nog gewoond raak aan wit fosfor.”
“Maak my los, asseblief! Wie’s jy? Waar kom julle vandaan? Waar is ek? Wat wil julle met my doen?”
“Sj …”
Die ander twee stemme kom nader.
“Qù zuò zài qiánmiàn, Johann!”
Dan is sy naam Johann. Lakenman Kun klink nog net so aggressief.
Johann probeer vra vir iets, maar Kun skree hom dood. Ek hoor hoe hy wegloop.
Kun en die ander een praat bo-oor my. Iets van kos en water. Sekerlik verstaan hulle Engels?
“Untie me now! Take off the blindfold!”
“Soon will do that. Not long now.”
Dis nie Kun se stem nie, so dit moet die ander een wees.
“Who are you?”
“Me – Weiyuan. We cave people. Many long times. You safe now.”
Ek wil gil. Hoe kan ek veilig wees?
“Not far. You sleep now. This will help.” Weiyuan smeer iets in die kuiltjie van my nek.
Ek probeer wegruk en hy lag. Hy speel net met my. Goor man.
Kun sê iets en skuifel na die ander kant van die boot. Ek sal moet wag. Hulle gaan my nie losmaak tot ons …is waarheen ons gaan nie.
Ons vaar deur ’n tonnel. Eggo’s korter, lug dikker, klammer. Ek voel honger, duiselig, vaak …so vaak …