Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 15

Оглавление

11

Shivani

Dis die meisie wat hulle Leda noem se beurt om te praat. Die ou man in die kring het die klip vir haar aangegee, wat blykbaar beteken die spreekbeurt is hare. Lyk my mense praat in die taal waarin hulle die gemaklikste is – Afrikaans, Frans, Khoekhoegowab, Xhosa, ’n Chinese dialek – en almal verstaan dit.

Die meisie met die klip lyk senuweeagtig, draai een wit vlegsel om en om ’n vinger. Haar blou are gloei in die fosforlig. Spookagtige lig. Mooi en fyn kind, op haar deurskynende manier …

Sluk. Keer die naarheid in jou keel, stop dit. Die reuk van swamme wat oral om ons gekweek word, is oorweldigend. Of dalk is dit die grotmolkaas wat in haarsakke hang om ryp te word. Water drup aanhoudend iewers, ’n ander klank as die water wat in die ondergrondse meer drup.

Die wag by die smal grotdeur staan steeds daar met sy vlymskerp stalagtiet. Wanneer sal hulle ophou om my op te pas? Mal spul …As hulle wil hê ek moet deel word van die gemeenskap en “goeie kinders baar”, soos Johann dit aan my moes vertaal, moet hulle ophou om my soos ’n gevangene te behandel.

Arme Johann …Ek moes seker nie die boodskapper se kop probeer afbyt het nie, maar hy sê en vra al die verkeerde goed. Soos aan die begin, toe hy wou weet hoekom Afrikaans my moedertaal is. Hoekom nie?! Tamil is my tweede taal, maar ek het dit so lanklaas met Appa gepraat …Waar val hy uit met so ’n simpel vraag? O ja, uit ’n grot uit.

Die grotwande kaats Leda se fluisterstemmetjie na my terug, singerig, asof sy die woorde uit haar kop geleer het.

“Ons stigtervoorvaders, teenoor wie ons ewig dankbaar sal wees, het hierdie grotte ontdek en besluit om hier vir ons ’n veilige vesting te maak, weg van die euwels van die bo-aarde. Hier wag ons op die redding van die Egiptiese voël wat die Heilige Luis in sy bek na ons sal terugbring. Dan sal ons weer met die hele aarde kan kommunikeer, en só sal die goeie die kwaad oorwin.”

Die Shifu knik. Sy lang, wit baardvlegsel lê in ’n spiraal op die rotsvloer voor hom. Hy vryf af en toe met sy vinger oor die hopie, asof hy wil seker maak dis nog daar. In die wit foslig kon ek nog nooit sy gelaatstrekke ordentlik uitmaak nie. Maar hy lyk oneindig oud, al is daar feitlik nie ’n plooi op sy gesig nie.

Leda gee die klip aan ’n jong vrou, wat in Xhosa begin praat. Sy kyk voor haar op die vloer, maar haar stem is sterk en seker, asof sy ten minste glo in wat sy voordra.

Haar woorde skok my. Die populasie-aanwas word streng beheer en baarvrouens word kort ná puberteit geïdentifiseer! Sluk jou naarheid, Shivani, dit gaan jou nie help nie.

Hulle moet weke voor die geboorte in die baargrot saam met die vroedvrou gaan bly! Voel duiselig, gaan flou word. Dis ’n nagmerrie, ek moet hier uitkom!

Johann stamp aan my. Mdisi, ek moet myself regruk. Diep asem in. Gelukkig is sy klaar. Hopelik beweeg hulle nou weg van die kinders-baar-deel.

Sy gee die klip aan die ou vrou langs haar. Dié het ’n soort tulband om haar kop wat lyk of dit van menshare en molvelle geweef is. Sy maak eers haar oë toe. Dramaties. Wit ooghare tril.

Johann wat langs my sit, steek sy hand op. Die Shifu lyk geïrriteerd toe hy vra of hy vir my kan vertaal wanneer iemand praat in ’n taal wat ek nie verstaan nie.

Die Shifu grom kortaf iets. Blykbaar is dit “ja”, want toe die ou vrou eindelik in ’n vreemde dialek begin sing-praat, fluister Johann in my oor.

“Dis alles leuens, Shivani. Nee, kyk voor jou. Lyk beïndruk. Maak of jy aan haar lippe hang en of ek vertaal wat sy sê. Lyk bewonderend – die Shifu hou jou dop.”

Ek maak so en Johann fluister voort: “My oor-oupagrootjie het die dagboek van een van die stigtervoorvaders gesien …voordat die leiers dit kon verbrand. Hy sê die stigters was deel van ’n groep Kangogrot-toeriste wat verdwaal het ná ’n groot ontploffing in die Wondergrot. Hulle het probeer uitkom, maar was vasgekeer.”

Ek wil iets vra, maar die Shifu se oë is op my. Ek probeer hard om beïndruk te lyk. Was nog nooit goed met voorgee nie. Dalk sien hy ek voel eintlik gewalg.

Johann bly ’n rukkie stil terwyl die vrou in haar Chinese dialek voortsing. Dan praat hy weer: “Het jy die geskrifte en rotstekeninge in die Stigtersgrot gesien? My oor-oupagrootjie het gesê volgens die dagboek was die geskrifte op die grotmure klaar daar toe hulle hier aangekom het.”

Nou is ek regtig nuuskierig. “Wat sê die geskrifte? Kon iemand dit lees?”

Die Shifu maak sy keel skoon en kyk na my met ’n fosforuitdrukking in sy wit oë. Sy blik waarsku: Bo-aardse vreemdelinge moet stilbly in hierdie heilige groepie.

Die vrou sing-praat verder en nou rol trane oor haar wange. Sy wieg heen en weer asof sy haarself aan die slaap wil sus. Olierig, die hele storie.

Johann wieg ook effens, hy probeer om die vrou se lyftaal na te maak. “Nee,” fluister hy. “Of dalk. Moenie nou kyk nie, maar verste aan die linkerkant sit Traag-!Kwabba-an. Hulle noem hom so omdat sy brein blykbaar seergekry het met geboorte en hy nie duidelik kan praat nie. Sy voorvader was die gids in die grotte tydens die ontploffing – dit was alles in die dagboek. Die ontploffing het die gids glo blind gemaak. Hy en sy nageslag het baie meer geweet van die grotte, maar die Shifu en sy shimen het hulle gestraf oor iets. My pa dink hulle wou bo-aards gaan, maar niemand praat daaroor nie. Vandat !Kwabba-an se pa dood is, praat hy met niemand meer nie.”

Johann bly skielik stil. Die ou vrou het haar rol klaar gespeel.

Die jonger kinders in die kring sit almal met groot oë en halfoop monde. Duidelik glo hulle elke woord. Hier en daar is ’n tiener met ’n meer skeptiese uitdrukking, wat hulle vinnig verander as die Shifu opkyk.

O kloon, nou gee die ou vrou die klip vir Weiyuan, een van die mans wat my gevang het. Sy rol is duidelik anders. Hy klink selfversekerd en doelgerig en sy Chinees weergalm deur die grot.

Ek wil eintlik graag weet wat hy sê, maar Johann hou aan praat.

“Die Shifu is heldersiende. Hy het geweet jy’s op pad en ons moet jou gaan red.”

Heldersiende. Dias, wat ’n uitdrukking vir hier!

“Ek was nie op pad nie. En julle het my nie gered nie, julle het my ontvoer!” Gelukkig is Weiyuan besig om soos ||Hui !Gaeb se stadsvaders sy oortuigings uit te basuin, want ek fluister nie meer nie. Johann loer senuweeagtig na die Shifu, maar dié is in ’n heldersiende beswyming.

“Ja, goed. Ek sê maar net wat die Shifu gesê het.”

“Wel, al hierdie storietjies en verhaaltjies van julle is baie interessant, maar dit het niks met my te doen nie. Ek wil teruggaan na die regte wêreld waar my regte vriende vir my wag en waar ons regte goed het om te doen. Weerkaatsings in ’n grot is nie vir my nie.” Ook nie baargrotte en vroedvroue nie.

Johann gryp my elmboog. “Shivani, ek sal jou help wegkom as ek kan saamkom. Weerkaatsings in ’n grot is ook nie vir my nie. Maar ons het vir !Kwabba-an nodig om ons te wys hoe om hier uit te kom. Hy weet …en ek dink hy sal wil saamgaan.”

My hart klop vinniger. Ek gaan weer vars lug inasem. Ek gaan weer lewe.

Snak

Подняться наверх