Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 16

Оглавление

12

Kara

Dit voel of die son opkom as hy ’n vertrek binnekom.

“Kara. Jy lyk goed. Gesond.”

Orpheus praat altyd met my. Hy weet seker watter effek sy donker, strelende stem op my het. Al die kompleksiteit en die volheid van ’n simfonie-orkes in een stem …

Ek kan nie langer na my voete staar nie. Ek sal moet opkyk.

“Kara?”

Sekere goed sal ek nooit vir hom kan wegsteek nie. Die effek wat hy op my het, is een van hulle.

So ek kyk hom vol in die oë. Die pers oë met hul belofte van sterrestelsels en kennis van wêrelde waarvan mense net kan droom.

“Julle mense het darem vir Mars en Aenon …”

Ek weet die lag in sy oë is nie van nature nie – hy wys dit spesifiek vir my sodat ek moet weet hy maak ’n grap. Kommunikasiekonvensies van die menslike spesie is seker ’n handleiding wat hy self saamgestel het vir aardebesoekers van Andromeda. Sy hare blink soos sagte metaal, wat my om die een of ander rede aan ’n harpie laat dink.

Sy oë lag weer.

“Het jy hierdie effek op alle mense, Orpheus?”

“Meestal net op die vroulike geslag.”

Die kyk wat ek hom gee, kan hy in sy handleiding gebruik as “jaloesie-woede-magteloosheid”. Hy weet presies hoe hy my laat voel.

“Ek terg jou net, Kara. Die waarheid is: nee, ek het glad nie hierdie effek op ander mense nie.”

Dankie tog.

“Hulle voel geïntimideer of afgestoot deur my,” gaan hy voort. “Ek het dit al baie gesien: Die menslike spesie hou nie van ‘die ander’ nie. Hulle verkies ‘dieselfde’, of iets wat hulle kan verstaan. Julle het ongelukkig hierdie planeet ook gesien as ‘die ander’ .”

“So daar is darem iets besonders aan my.”

“Daar is baie wat besonders is aan jou, jy het geen idee nie …”

Hy kyk ’n oomblik te lank na my en my hart maak ’n paar kwantumspronge. Hy sien dit seker ook letterlik raak, want hy verander die onderwerp.

“Jy is nou gesond genoeg en jou geheue is terug. Dus kan ek jou wys waar ons is en kan ons gesels oor jou …e …toekoms.” Hy frons asof hy ’n probleem het met die woord en wil hê ek moet dit sien.

Met sy vinger trek hy ’n skyngram voor my in die lug. Ek sien onmiddellik wat aangaan. Hoe kon selfs Lethe dit vir my weggesteek het! Ons is nie naby Lug-Eurasië nie, ons is …

“Was jy nog nooit …?” vra hy, sy gesig sonder uitdrukking.

“Nee, nog nooit.”

Ek voel soos ’n onervare, naïewe persoon wat skielik uit ’n koepel gekruip het. Dit maak my so kwaad dat ek begin babbel.

“In ||Hui !Gaeb het ons geglo Aarde is ons oorspronklike planeet en ons moet dit eers herstel voor ons ander planete soek om te gaan verwoes. Dis net Chinafrika en Lug-Eurasië wat wentelstasies en interplanetêre reise vir gewone mense het. Ons glo nie aan die kolonisasie van nuwe plekke nie.” Dit klink of ek ’n toespraak maak oor hoe wonderlik ons in ||Hui !Gaeb is, maar ek gee nie om nie.

“Jou passie …julle passie …dis merkwaardig.” Sy oë wys niks anders nie as ruimte, energie, ewigheid.

“Draai ons saam met Aarde?”

“Ja, Kara. Soos die ander Aarde-stasies ook.”

“So hoe lank is julle al hier reg bokant ||Hui !Gaeb?” ’n Donker wolkmassa bedek die area, maar ek herken die lyne van Chinafrika.

“Eers van ná die vulkaniese uitbarsting.”

Ek volg die afstand van die Andromeda-wentelstasie met my vinger …dis baie ver weg van Lug-Eurasië en Chinafrika se stasies.

“Ek dog julle is kop in een kranstim met Lug-Eurasië? Hoekom het julle ’n aparte stasie?”

“Andromeda het verskillende missies. Daar is wel van ons in Lug-Eurasië, maar ek …hierdie stasie stel belang in mense van ||Hui !Gaeb.”

“Hoekom?”

“Julle het ’n ander evolusionêre epigenetiese pad gevolg. ’n Baie besonderse pad in vergelyking met die res van die bekende kosmos. Geen kortsigtige menslike ingrypings in die …wel, dit wat julle die DNS van lewende wesens genoem het nie.”

Hy kom agter ek raak weer kwaad, want nou zoem hy in op die detail van die wentelstasie. Dis reusagtig groot. Laboratoriums? Navorsingsale? Daar is ’n ingang wat lyk of dit verkeer beheer.

“Is dit mense met straalpakke en sontuie?” Ek sien nou eers hoe besig die ingang is.

“Daar is drie in- en uitgange: een vir ligtuie van ander planete af, een vir sontuie van die Aarde en een vir leefpakke – of straalpakke, soos jy dit noem.”

Ek voel weer soos ’n kik.

“Beheer is baie streng. Geen toegang of uitgang sonder identifikasie nie.”

Hy kyk nie na my nie, maar ek wonder of hy probeer sê daar is geen manier dat ek kan ontsnap nie. Ek moenie dink aan wat Lethe gesê het nie, oor my herinneringe wat nog nie alles teruggekom het nie. En as dit terugkom, mag Orpheus nie daarvan weet nie, want hy is nie my vriend nie …

“Wat is fout?” Sy stem is skielik skerp. Of verbeel ek my?

“Ek voel kloustrofobies so ver van die aarde af. Hoe lank gaan julle my hier aanhou?” Ek klink ongeskikter as wat ek bedoel het.

“Ons hou jou nie aan nie, Kara. Ek is bekommerd oor jou en oor die ongeluk wat op Aarde gebeur het.”

Hulle praat altyd van “die ongeluk”, maar niemand wil uitbrei as ek daaroor vra nie. Ek is seker dit was nie ’n ongeluk nie, maar ek sê niks.

“Jou lyf moet eers sterk word, sodat jou gedagtes kan volg.” Sy stem is sussend, gerusstellend.

“Ek haat julle elektro-oefeninge. Dit voel so …ongesond en onnatuurlik.”

Hy glimlag stadig. “Dit kom nie vir my …natuurlik nie, maar ek sal probeer wys hoe ek oor jou voel, Kara. Dis vir my oulik dat jy nie hou van die elektro-oefeninge nie. Maar ons het ||Hui !Gaeb-vriendelike oefeninge ook hier.”

Dít moes hy nie gesê het nie. Ek voel hoe my wange warm word van woede. “Spesiaal vir julle ||Hui !Gaeb-gevangenes? Hoeveel van ons is nog hier?”

Orpheus kyk net na my. Hy kon gejok het, maar hy bly stil.

Snak

Подняться наверх