Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 8

Оглавление

4

Shivani

Asem – laat daar net heeltyd genoeg asem wees. My hande rem vergeefs teen die glibberige rotswande. Skerp stalagmiete wat ’n glyende lyf kan oopkerf.

Uiteindelik …die nou gang spoeg my pynlik uit. Ek moet aanhou hardloop.

Blindelings. Vlak grotwater, koes vir stalagtiete. Jou lyf hardloop sonder dat jy dink, Shivani, jy moet stop.

Oorleef. Kalm. Dink. Soos Appa jou geleer het.

Hoekom is dit so donker? Waar is my …My foslig het toegeklap, die donker is deel van die angs.

Sit ’n rukkie op my hurke, ek moet probeer sin maak van wat gebeur het.

Ek is in ’n kleinerige grotkamer, hoog genoeg dat ek regop kan staan. Dit ruik anders hier – muwwe lug gemeng met slierte van die soutreuk soos toe die kraak deur die grot geruk het. Maar genoeg lug vir nou.

Ek sal vinnig by die ander moet terugkom. Water drup oral, maar grotsampioene groei nie vanself nie, en dit lyk nie of hierdie grot ooit gekultiveer is nie.

Goed. Asem rustiger.

Nou kan ek nog drie openinge in die dowwe lig uitmaak. Die gang waaruit ek gekom het, is te glad en te steil om in terug te klim. En wat sou dit help? In die grot waar ek was, was ’n gat besig om te gebeur. Een van die ander drie uitgange dus – iets wat hopelik boontoe lei.

My hande en knieë voel of hulle aan die brand is ná my val, die dorings se steekpyn nou heel weggebrand. Ek hoor weer Kxûm se stem wat vir my skree: “Kaikaisen!” – ek speel grootmens.

My lag klink grotterig, weergalm terug na my. Ja, Appa, ek kan nog vir myself lag, al klink dit soos nou. Dit herinner my ek het ’n stem, al gebruik ek dit nie graag nie.

Nou is dalk die tyd daarvoor.

Ek skyn my koplig in die eerste uitgang af. Dis afdraand. Nie so steil nie, maar af. Ek gaan probeer. Ek kan nie net vir myself lag nie, ek kan darem skree ook.

“Am-ber! …Help! …Kxûm! …Hui te!”

Die eggo’s sterf weg …dit raak grotstil. Net die water drup.

Die volgende uitgang is niks meer as ’n vlak opening wat na ’n skeur lei nie. My dun bene mag dalk daar deurgaan, maar my kop sal vashaak. As ek hier buk en skree …

“Am-ber! …Help! …Kxûm! …Hui te!”

Ek hou my oor langs die skeur, maar die eggo’s sterf weg. Dit raak weer tonnelstil. Net my hart klop, my asem hyg …

Wat is dit?

Die klank van vlerke …agter my. Dis links, nee, voor, of op!

My foslig flits rukkerig deur die grot …niks …Daar!

Weer ’n swiepgeluid. Daar’s iets grys soos die vlerke van ’n vlerhaas in die laaste uitgang!

Vinnig soontoe. My hart klop al weer te wild. ’n Geswiep dieper in die gang, anderkant die draai, daar waar dit donkerder is.

“Vega!” skree ek sonder dat ek weet hoekom. “Vega!”

Hardloop agter die vlerke aan.

My regtervoet haak aan iets vas, pluk my lyf onder my uit. Ek val weer op my hande.

“Kā!” glip dit uit soos ek Kxûm soms hoor sê.

Ek probeer regop kom, maar iets sit aan my enkel vas. Die foslig het weer afgegaan. My hande gly oor die klam grotvloer …maar nou agteruit.

Iets sleep my aan my enkel! Ek probeer my naels in die grotvloer inslaan, maar dis te glad.

“ ≠a!” skree ek terwyl ek op my maag agteruit gesleep word, magteloos en woedend.

Tot die grotsaal om my oopgaan. Wie of wat aan my enkel trek, het daarmee opgehou.

Wat nou? Woede, vrees. Ek lê stil, hiperbewus van enige geluid. Ek moet omdraai en kyk. Skuif my kopstuk reg en knip die foslig oop dat ’n straal lig voor my uitkring.

A! Ek weet wie dit is!

Kxûm. Ek kon gedink het as iemand my sou kry of kom soek, sou dit sy wees. Sy’t my voorheen al sonder geluid agtervolg en dan skrikgemaak – baie irriterende gewoonte wat sy het. Ek ontspan heeltemal, voel hoe my lippe begin lag toe ek omrol.

Haar lyf is afgeëts onder ’n wit katoenlaken wat sy om haar gedraai het. Haar humorsin is bekik, maar ek gee nie om nie!

My oë fokus in die dowwe lig. Dis nie Kxûm nie!

Dis so lank soos sy, hoewel skraler en manliker …die kleur van die grotwande, maar half deurskynend …lang ligte hare …skrefiesoë …

Ek weet ek gil aanhoudend, maar ek hoor niks.

Tot my asem opraak.

Hy het ’n string hare in sy hand, geweef in ’n sterk tou wat nou slap om my enkel lê.

Toe dit weer stil in die grotsaal is, praat hy.

Sy stem is skor en hy wag dat elke woord klaar weerklink voor hy die volgende een uitspreek. My Chinees is nie goed nie, maar ek verstaan wat hy sê.

“Kom na Yaodong. Die Shifu wag.”

Snak

Подняться наверх