Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 13

Оглавление

9

Shaka

Son. Ek het wragtig geslaap.

Eina, dias! Hoekom onthou ek nie van die stomp in die dak nie? Nou’s my roof seker weer oopgekrap.

Die gloeiende oë wat my heelnag wakker gehou het, waar’s hulle nou? Links van my, ek’t hulle heeltyd in die vuurlig links van my gesien …

Jy’t gedroom, ou. Of dalk was dit net ’n nagdier wat teen sonop gaan slaap het.

Nee, daar is dit nog …Wat het ons hier? Lyk rustig en kalm, nie of sy my gaan bespring nie. ’n Huiskat uit die ou verlede?

Nou moet ek weer daai brein gebruik waarvan Gogo gepraat het. Dias, dis harde werk. Huiskatte, laat ek sien …Troeteldiere …Lyk tog anders, langer bene en stert, dalk bietjie groter.

Kan nie ’n huiskat wees nie. Waar sal ’n huiskat nou ook vandaan kom? Beslis nie uit ||Hui !Gaeb nie. Blaai nog bietjie deur jou breinbasis, broer …

Vaalboskat. Dís wat dit is. Kyk daai oranje ore en die wit ringe om die oë, swart strepe op die stert. Hulle drink feitlik nooit water nie, eet muise, reptiele, insekte en …voëls. Waar’s Manna nou? Die kat sal seker nie ’n valk probeer vang nie?

Beste is om net hier te sit en die kat dop te hou. Sal lekker wees om haar te streel. Wanneer laas het ek aan iets lewendigs geraak behalwe om dit te eet? ’n Ou hoef seker nie bang te wees nie, maar dit sal nie kwaad doen om my visstok naby te hou nie.

Nou lig die kat haar kop effe, mond oop, oë op skrefies … Dit het ek ook iewers op die aardnet geleer. Katte het ’n orgaan – Jakob se orgaan of iets – wat in hulle verhemelte sit. Sy ruik my, asem my in en stuur my reuk na die ding in haar verhemelte wat dit sterker maak en meer inligting gee. So ruik sy my uit, die vaalboskat. Noem haar sommer Vales. Of nee, Gryses. Groues. Ek noem haar Groues.

Rustig sit sy daar. Kyk mens ’n wildekat direk in die oë of nie? Belangrike stukkie inligting vir ’n ou om te onthou. Ek dink leeus nie, maar wat het hulle gesê van katte? ’n Fotografiese brein help ook nie altyd nie …

Nou staan Groues op. Hoop nie sy gaan wegloop nie …Nee, sy kom nader. Oogkontak of nie oogkontak nie? Komaan, ou, dink!

Sy kom lê naby my skuiling. Lyk vriendelik, Shaka. Dias, dis moeilik om vriendelik te lyk as jy soos ek voel. Kyk kalm en gemaklik in haar oë, dis tog maar al wat ek weet om te doen.

Haar pupille raak effens groter. Dit kan twee goed beteken, volgens die aardnet …Sy kyk vir my. Knip dan stadig haar oë. Dís die teken, nou onthou ek. Dit wys Groues hou van my.

Snak

Подняться наверх