Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 20
Оглавление16
Shaka
Die son bak ’n ou so half aan die slaap, veral ná Groues vir ons middagete gevang het. Die water wat so oor die rotse voel-voel, lyk lekker …vriendelik. Groues hou nie daarvan as ek swem nie.
Wat het ek gemaak in die dae voor Groues?
En toe Manna later weg is, was dit ook nie so erg nie, want Groues is hier. Kan nie glo dat dit werk nie, telepatie met Manna en Groues. Dis natuurlik die ding van so op die rand wees tussen leef en doodgaan – ’n ou raak desperaat, jy sit alles in.
Groues hou haar kop skeef soos sy die sprinkaan met haar kiestande kou. Ons verstaan mekaar, ek en sy. Sy leer my baie oor telepatie.
Kara …Sproetjies. Wat ek by Groues geleer het, kan ek dalk gebruik om Sproetjies te soek. As sy nog lewe. Ek het gedink dis net ek en Gogo wat kan …Dis moeiliker as jy nie in iemand se oë kan kyk nie, maar dis tog spesie-spesifiek, so dit behoort te help.
Dis dalk ’n goeie tyd vir my en Sproetjies …met die son so lekker op my en Groues. Snaaks hoe ek haar nou eers mis …vandat ek nie meer op die rand van die dood voel nie.
As ek op hierdie rots sit en op haar konsentreer …Ja, dinge gaan vandag gebeur.
Ek was nog nooit op hierdie deel van die eiland nie. Vreemd, dit voel of ek al jare hier woon. Altyd iets nuuts …maar hierdie rots voel vandag na my plek in die son, net hier. Nou raak die water anders, troebel, onrustig, geïrriteerd, smyt die skulpies teen die rotse dat hulle kletter. Die uitstoot en terugtrek kry nie hul ritme nie.
Los nou eers die see. Fokus op Kara. Konsentreer.
Hulle is Noord, Egipte toe. Waar behoort hulle nou te wees? As als goed gegaan het …
Nee, dit sal nie help nie. Konsentreer op háár.
Hare in ’n dik bruin vlegsel oor die een skouer. Oë groen, soms kwaai, soms onseker, soms vol lag. Die neusie parmantig, mond vol en sensitief …
Nee, dit werk ook nie. Die Kara wat sy is wanneer sy na my kyk en met my praat – dís die een wat ek moet roep.
Ek fokus op ons – dit wat ons word as ons saam is. Diep asem …rustig …en ek het dit! Daar is iets …sy is ver. Verder as wat ek my kon indink. En sy is alleen.
Soek iets wat ons kan deel, ’n herinnering …
Saam in die gondel in ||Hui !Gaeb. Jy leun teen die rand van die boot met jou hand in die water, Kara. Dis net ek en jy wat wakker is, Kaleb lê toe-oë. Die Vryheidsfees in ||Hui !Gaeb is soos ’n vrolike ontploffing van kleure en reuke en klanke om ons. Baniere en orkeste, ou musiek, nuwe musiek …Ons kyk in mekaar se oë. Iets gebeur, jy moet dit ook voel. Ek terg jou, jy is vies en skaam tegelyk. Ons deel ’n grappie …net ons twee. Jy hou daarvan, jy lag. Ek maak jou gelukkig, laat jou vry voel. Selfs wanneer Kaleb wakker word, deel ons nog die grappie. Ons lag vir hom en die sweefkar wat hy wil steel.
Ek voel haar in my gedagtes, sy is daar!
Ek weet sy voel my ook, maar sy is ongedissiplineerd. Sy spring rond, verward …sy weet nie dis ek nie. Ek moet haar langer by my hou.
Ander herinnering. Ons sit op my bed en ek kyk in haar chartreuse oë. Sy steek haar hand uit en sit dit op my arm. “Ek belowe jou, Shaka.” Ek voel weer my armhare rys …
Die kat maak ’n geluid langs my. Haar ore lê plat agtertoe, haar stert is opgepof …Wat is fout, Groues?
Ek tref koue water terwyl ek nog na Groues kyk. Dan is my kop onder die water.
Iets het my in ’n klem beet, net my hande kan beweeg. Ek probeer losruk, gryp na wat my vasdruk, sluk water. Oë oopgesper kan ek steeds niks sien nie. Ons duik ondertoe, water maal om my. ’n Dowwe beeld van ’n blink, glibberige arm soos dié van Shea, net baie dikker …
Maar dis nie Shea nie en dit praat met my.
Hou op veg. Jy gaan verdrink. Droëgrondmens.
Dis niks soos Shea se sagte gedagtes nie. Die viswese se haat brand deur my brein: Droëgrondmense het slegte dinge gedoen.
Maak jou lyf slap, Shaka. Longe gaan bars.
Ek nie slegte droëgrondmens.
Sê dit met my laaste energie.