Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 14
Оглавление10
Kara
Lethe sit die spiraal vol soet, warm tee voor my op die tafel neer. Dan skuif sy haar kasteel in ons skyngram twee vorentoe. Sy maak die lang vlegsel vlamkleurige hare los terwyl sy na my kyk.
“Wat?” vra ek. Want hoewel Lethe geen gesigsuitdrukkings het nie, ken ek haar nou al goed genoeg om te weet iets amuseer haar.
Sonder onnodige, kras geluide kommunikeer?
“Nee. Ek hou van die kras geluide en ek hou van my eie stem. Dit laat my voel ek het nog bietjie beheer oor my lewe. Dat ek nie net ’n bot in julle speelkas is nie.”
Jou keuse. Wat beteken geluid wat jy gemaak het? Onbeholpe, lelike geluid. ’n Vraag?
“Ag, hou op, Lethe. Iets is vir jou snaaks – wat is dit?”
Jou hare vandag los.
“En?”
Orpheus kom vandag.
Ek voel hoe my wange warm word. Jy kan niks vir hierdie wesens wegsteek nie. Sy’t my geleer hoe om my gedagtes te blokkeer, maar duidelik kry ek dit nog nie reg nie. Seker ’n belaglike ding om te doen – jou hare losmaak om ’n man te beïndruk tussen soveel perfekte wesens.
Verkeerde skuif, sein Lethe toe ek my hand na my biskop uitsteek.
Dias. Ek is ’n goeie skaakspeler, maar skaak met hierdie wesens is meer soos ’n vorm van wegkruipertjie.
Jy dink jy onthou alles ná die ongeluk?
Sy is spraaksaam vanoggend, as mens dit so kan noem.
“Ja, ek dink so. Hoekom?”
Jou persoonlikheid anders ná die ongeluk.
“Wat?!”
Ek het al agtergekom die woord pla haar só erg dat sy nie antwoord as ek dit gebruik nie.
“Jammer, Lethe. Ek bedoel: hoekom sê jy ek is nou anders? Jy het my mos nie geken nie?”
Dopgehou. Iets het jou gedryf. Nou passief. Jy het iets …iemand verloor.
“Hoe weet jy dit alles? Ek dog jy’t gesê …”
Sy vee skielik ons skerm leeg.
Die volgende oomblik voel ek die onaangename geruk en gepluk in my kop soos wanneer meeste van die Andromedane met my kommunikeer. Die naam is te lank en ek het al “Andros” gebruik, maar hulle hou blykbaar nie van die assosiasie wat dit kan hê nie. Daar bestaan glo lankal nie meer Androïede nie – te veel komplikasies.
“Ylena, ek het gevra jy moet dit nie doen nie! Jy maak my seer. Praat gewoonweg, asseblief.”
“Het julle Skuiwe gespeel?” vra die ander vrou, terwyl sy weet ons het. “Jou mediese behandeling verbied dit.”
“Ek het geen mediese behandeling meer nodig nie. Volgens julle toetse is selfs my geheue terug. Julle kan my nou maar vrylaat.”
“Jy’s nie ’n gevangene nie. Maar Orpheus sal daaroor besluit.”
Jammerte, skuld, vrees en irritasie flits een na die ander oor Ylena se gesig en ek sukkel om nie te lag nie. Menslike emosies fassineer haar en sy oefen dit gedurig. Dalk kry sy dan ook meer aandag van Orpheus?
“Jou afspraak is oor presies sewe-en-vyftig minute,” sê sy. “Ek sal jou dan kom haal.”
“Dankie, hoor. Dis so vreeslik dierbaar van jou.”
Sy lyk verward, want sy weet daar is iets wat sy nie snap nie.
Dan loop sy.
Ons moet jou voorberei vir Orpheus, kom dit van Lethe.
“Ek het klaar my hare losgemaak.”
Sy ignoreer my opmerking.
Enigste voordeel: jy onthou en verstaan meer as wat hulle weet. Orpheus nie jou vriend.
“Maar jy is?”
Besluit self.
As Lethe ’n mens was, het ek nou gedink sy voel seergemaak.
“Is Orpheus ’n dokter?”
Orpheus baie dinge – heler, elektro-spesialis, spesiekus, genetikus …Orpheus het fassinasie met mens-spesie, obsessie, al eeue lank. Ken jou spesie goed. Versigtig.
“Glo jy hy sal my ooit seermaak?”
Seermaak? Naïewe woord. Hy sal selfbeskikking wegvat, die bietjie wat mens-spesie het.
“Is jy en Ylena van ’n ander …e …status as Orpheus-hulle?”
Ons is van ’n ander spesie op Andromeda. Nader aan julle. Leef nie vir ewig.
Dit skok my. Ek het besef daar is ’n statusverskil, maar ’n ander spesie!
“Hoekom help jy my?”
Lang storie. Eeue lank.
Lethe vee oor die skerm en ons spel verskyn weer.
Probeer weer. Beste voorbereiding vir Orpheus. Jy onthou nie alles. As ek jou help onthou, moet jy kan wegsteek.
Lethe lyk soos altyd terwyl sy dié gedagtes na my stuur – perfek, emosieloos. Dalk het ek verkeerd verstaan?
“Wat bedoel jy …dat ek nie alles onthou nie? Hoe weet jy?”
Ek was daar toe dit gebeur het. Voor ons jou hierheen gebring het.