Читать книгу Snak - Rouxnette Meiring - Страница 17

Оглавление

13

Shivani

Ek besef skielik Traag-!Kwabba-an is hoogs intelligent. Johann lê nog na hom en staar. Nes almal hier het hy al die jare gedink !Kwabba-an het by geboorte breinskade gekry. Wys jou net hoe in ’n groef mens jouself kan dink.

“Jy praat Afrikaans?” vra ek verbaas.

“Ek praat en verstaan al die grottale. En nog ’n paar.”

Ek lê langs Johann en !Kwabba-an op die haarsak van die ou man wat laas nag dood is. Ek probeer om nie daaraan te dink nie – Johann sê hy’s net dood van oudgeit, geen siekte. My eie sak in die vrouesaal is vol grotsampioene. Hopelik kom hulle dit eers laat môre agter. Ek het gesê ek voel siek en gaan vroeg slaap, moenie my wakker maak nie.

“So wanneer beweeg ons?” Johann het eindelik sy stem teruggekry.

“Slaap solank. Ek sal julle wakker maak.” Selfs !Kwabba-an se fluisterstem is mooi. Diep en donker, met ’n effense Khoekhoegowab-aksent.

Ek weet ek sal nie kan slaap nie, maar ek wil doen wat !Kwabba-an sê. Hy is die enigste persoon wat my kan help om weer vars lug in te asem. En hy sê hy het vir my gewag, hy’t geweet ek kom. Ek vertrou nou op hom vir my hele lewe.

Ek maak my oë toe met ’n gebed aan die aardgod – die god van !Kwabba-an wat deel was van sy groei en sy grootword en hopelik ook nou die ontsnapping van ons drie uit die voorgeboortesfeer van die aarde. Vanaand gaan ek myself toelaat om aan Amma en Appa te dink. Dis ’n nag van hoop. Enigiets is moontlik.

“Shivani.”

Dias, ek het aan die slaap geraak.

“Nee, nie so vinnig nie.” !Kwabba-an druk my weer plat op die haarsak.

“Ons gaan een vir een,” fluister hy. “Na die stortgrot. Die uitgang begin in die stortgrot. Johann is klaar daar. Staan stadig op asof jy vaak is en loop soos ’n man. Wag daar vir my.”

Ek stap platvoet en swaar tussen die slapende mans en seuns deur na die stortgrot. Niks by my nie – !Kwabba-an sal sorg vir alles wat ons nodig het vir die uittog. Ek sal van grotwater leef as ek net weet ek kan hier uitkom.

Daar is niemand in die stortgrot nie. Dis goed, maar waar is Johann? Ek gaan staan by die stroompie wat die mans gebruik, haarkombers om my lyf.

Iemand fluit. Dis Johann. Agter die waterval net buite die sproeisirkel sit hy op sy hurke en wag. Hy wink vir my.

“Waar’s die uitgang?” praat ek in sy oor bo die geraas van die water.

“Net !Kwabba-an weet. Hy sal ons wys.”

Ek is meteens bang !Kwabba-an gaan nie kom nie. Dat dit ’n lokval is.

“As hy en sy voorouers altyd geweet het hoe om hier uit te kom, hoekom het hulle nooit gegaan nie?”

“Ek weet nie.”

Johann se oë soek in die rigting van die slaapsaal se ingang. Is hy nou ook agterdogtig? So naby en tog so ver …Waar bly !Kwabba-an?

Ek begin druk teen die rotswand agter die waterval. Dalk moet ons self hier probeer uitkom. Êrens moet die uitgang versteek wees …

“Hier kom hy.”

Toe ek omdraai, sien ek !Kwabba-an doelgerig aangestap kom, soos iemand met ’n missie waarvoor hy sy lewe lank wag. Hy sal ons nie verraai nie, weet ek onmiddellik. Verligting tref my soos vars lug.

Onder sy haarkombers haal !Kwabba-an ’n sak uit wat hy oor sy skouer gooi. Die kombers prop hy binne-in.

“Reg?” vra hy.

Ek en Johann knik.

!Kwabba-an stap na die rotswand waaraan ek staan en druk het, sy neus teen die rots asof hy iets probeer ruik. Dan praat hy met sy diep stem. Dit klink soos woorde in Khoekhoegowab, maar met ’n vreemde aksent.

Mdisi! Die rotswand skuif oop. Maar net ’n klein entjie.

!Kwabba-an wys ek moet deurskuur. “Hou die slaapsakke bo julle koppe vas. As ons begin stap, bind dit om julle middellywe.”

“Dis donker!” snak ek. Ek is in ’n tonnel wat skaars genoeg spasie het vir een middelmatige grootmens.

“Ek sal lig maak sodra ons almal in is en die ingang toe is.”

Ek kan hoor hoe Johann deurgewriemel kom. Hy steun en kreun. Nie nou nie, Shivani. Om histeries te lag gaan nie nou goed wees nie.

“Waar is jy?” Johann druk sy vingers in my gesig.

Ek klap dit weg.

Die bietjie lig uit die stortgrot verdwyn toe !Kwabba-an die opening laat toegaan. Sy foslig gaan aan.

Ek draai om. Die tonnel word vorentoe nog kleiner.

“Klim oor my rug agtertoe, Johann,” sê !Kwabba-an. “Jy ook, Shivani. Ek moet voor loop.”

Hy staan handeviervoet en Johann klim oor. Maklik, sy bene is lank genoeg. Terwyl ek …

“E …”

“Maak gou, Shivani, ons is haastig.” !Kwabba-an klink ongeduldig.

Ek sluk my laghisterie vinnig in.

“Skree as julle nie kan byhou nie.”

!Kwabba-an trek weg met ’n stewige pas. Gou hyg ek en Johann na asem.

Ek herinner my aan hoe ek hier gekom het – gesleep, gegooi, geroei. Al die pad geblinddoek en vasgebind. Niks kan erger wees nie, hierdie reis gaan ’n lied wees. Ek vee die sweet met my mou af, kyk noord en dias voort. Hopelik het !Kwabba-an water gebring.

Ons drafstap in stilte. Ek gaan nie eerste sê ek is moeg nie, so ek hoop Johann doen dit binnekort. Voor ek neerslaan omdat my bene besluit het dis genoeg. Waarvan het !Kwabba-an en Johann so fiks geraak? Moet onthou om hulle te vra.

“Hoe ver nog voor ons rus, !Kwabba-an?” roep Johann eindelik.

“Volgende grot eet ons en slaap!” roep hy terug sonder om sy spoed te breek.

Dit kan enigiets beteken. Ek wag dat Johann vra hoe ver die grot is, maar hy doen dit nie.

Ek strompel-hardloop voort. Baie mense wat ek ken, sou nie so ver kon volhou nie – Kara, Amber …Kxûm sou kon, Vega sou kon. Gelukkig kom jy in ’n tipe sone waar jy net kan aanhou. Effens buite jou liggaam, effens dieper in jou liggaam …net verby die armlengte van verstaan.

!Kwabba-an het gestop en ek dias amper in hom in.

“Hier stop en slaap ons,” beduie hy.

Die grot waarin ons staan is sirkelvormig, iets tussen ’n saal en ’n kamer.

Ek gaan sit op my knieë. Johann sak tot op sy hurke. !Kwabba-an swaai die sak van sy skouer af en haal ’n waterbottel en die opgerolde haarsakke uit.

“Rol hierdie uit, ons gaan nou slaap. Dis nog ver.”

Terwyl ons op die slaapsakke sit en om die beurt die waterbottel aanstuur en aan gedroogde sampioene kou, begin !Kwabba-an praat. Dis asof hy jare se praat in hom opgekrop het en nou loslaat.

“Die geskrifte in die Stigtersgrot is in Khoekhoegowab, ’n skryftaal wat van die vroegste tye bestaan het. Driehonderd jaar gelede het die Khoe dit van voor af ontwerp, want hulle het nie geweet dit bestaan reeds nie. Daarom kon die Khoe-setlaars die geskrifte in die oorspronklike taal lees. Dit sê daar is ’n element in die grot gevind wat ’n transformerende invloed op mense het. Maar hulle was nog nie gereed om dit te gebruik nie, dus moes dit bewaar word vir latere geslagte.”

“Hoe bedoel jy ‘transformerend’?” !Kwabba-an gebruik outydse woorde. Ek voel sleg om hom te onderbreek, maar ek moet verstaan.

“Dit verander mense. Dit maak dat hulle oor groot afstande kan sien en kommunikeer, selfs oor lewe en dood heen. Die element is ontgin en weggevat – hulle dink verder Noord. Hier was min spore daarvan oor, net genoeg om die Shifu heldersiende te maak. Heldersiende maar steeds dom …sonder wysheid.”

“Hoekom het jy besluit om nou bogronds te gaan?”

“Die opdrag kom al van my oor-oupagrootjie af. Elkeen se pa het dit vir hom oorvertel: As ’n vrou van die bogrond hier aankom, het sy jou kom soek. Dan is dit tyd. Dis tyd dat jy saam met haar teruggaan en die element vind, sodat alles wat asemhaal weer vrylik kan kommunikeer.”

!Kwabba-an het klaar gepraat. Hy kruip in sy slaapsak in, doof sy foslig en draai op sy linkersy, weg van ons af.

Ek en Johann lê in die donker met ons sampioene en herkou aan sy woorde.

Snak

Подняться наверх