Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 10

Duane

Оглавление

Dit lyk of Duane so pas uit ’n vullisblik geklim het. Hy lyk nie regtig moeg nie, hoewel hy op ’n middernagvlug was. Sy hare is wit gebleik en sy klere sakkerig. Hy het ’n blou seilsak oor sy skouer.

“Hallo, Dirk. Long time, no see.”

“Ja, dit was nogal.”

“Hel, maar dis koud hier in Gauteng.”

“Nie in die Kaap nie?”

“Nie soos hier nie.”

Ons stap na die kar toe. Sy seilsak gaan in die kattebak. Net voor ek wegtrek, gee ek vir hom ’n piouterflessie aan.

“Wat’s dit dié?”

“Whisky. Vir die koue.”

Duane lag bruintand. Ek vra hom amper of hy dan nie tande borsel nie. Hy vat ’n sluk en gee die flessie terug. Roelien het die flessie nog vir my gegee, eenkeer toe ek verjaar het.

“Haai, jy is nie veronderstel om te drink én te bestuur nie!”

Ek lag vir Duane se grappie.

“Dis óf dit óf opvries.”

“Werk jou heater nie?”

“Dit werk, maar ek stel dit nie te warm nie, anders kry ek hoofpyn.”

“Radar Love” van Golden Earring speel oor die radio. Alweer ouerige musiek. Ek trap die petrol.

“Ek verstaan nie waarom jy my hierheen gevlieg het nie,” sê Duane.

Ek gluur hom vlugtig aan en probeer kalm bly. “Maar jy het my tog om hulp gevra.”

“Vir geld. Ek het jou vir geld gevra.”

“Ja, fok, ek is nie Standard Bank nie, okay? Ek het gedink dis tyd dat jy weer ’n bietjie huis toe kom, dat ek kan sien hoe jy lyk. Ek gaan nie vir jou geld inbetaal en dan koop jy drugs nie. Fok dit.”

“Hei, het jy skielik ’n priester geword?”

“Nee, maar dis tyd dat jy bykom. Dalk kan ek jou help. Anyway, ek het jou hulp nodig.”

“My hulp? Dis ’n eerste. Hoe? Wat?”

“Onthou jy vir Maria Staal?”

“Maria Staal …”

“Ek hoor jy het haar aan Satanus Rex bekend gestel.”

“Hoe nou?”

“Ansie vertel my jy het Maria saamgenooi begraafplaas toe, toe sy nog op skool was.”

Dis of Ansie gehoor het ek praat van haar, want my selfoon lui en dis weer sy. Ek het mos geweet ek moes haar nie raps nie. Hoeveel keer het sy my nou al gebel van ons kafoefel het? Hoeveel keer het ek al geantwoord?

Nie een keer nie. Ek druk weer net die foon dood.

“Aag, ou Maria, ja, dit was niks ernstigs nie. Sommer bullshit, Bro. Waar kom jy aan haar?”

“Ek word baie geld betaal om haar op te spoor. En ek dink jy kan my help. Ek sal jou betaal. Jy was mos deurmekaar met sataniste toe jy nog in Pretoria was. Wie was daai ou?”

“Watter ou?”

“Die koning van die sataniste, jou buddy-old-pal … Ansie sê Maria en hy het ook dik tjommies geraak. Ek dink hulle is dalk nog steeds dik tjommies, daarom reken ek as ons jou tjommie opspoor, dan sal ons Maria ook kry.”

“Jy praat seker van Warren Jevon.”

“Einste hy. Het julle nog kontak met mekaar?”

Duane anwoord nie. Sy kop is weggedraai en hy kyk die nag in. Hy lyk nie baie gelukkig nie.

“Duane? Is jy orraait?”

“Nee, fokkit.”

“Nou wat’s fout?”

Dit lyk of hy trane wegsluk. “Ek wil Warren nie eintlik weer sien nie.”

Nou soek ek woorde. Ek het nie eintlik aan Duane se gevoelens gedink toe ek hom ontbied het nie. “Sorry man, shit, ek moes jou seker oor die foon gesê het. Maar ek is desperaat. En ek dink jy is die enigste een wat my kan help.”

“Maar hoe?”

“Ek het jou mos gesê. Jy moet my by die sataniste inkry. Dis die enigste manier wat ek kan dink hoe ek Maria kan kry.”

Duane vat die flessie by my. Hy sluk twee, drie keer. “Wie sê sy is nog by hulle?”

“Haar pa reken sy is.”

“Bliksem, Bro …” Hy vryf gefrustreerd deur sy hare. “Jy weet nie wat jy aan my doen nie! Ek het dan juis hier gewaai om van Warren-hulle af weg te kom. Bro … nee, man. Nee!”

Hy sluk weer uit die flessie en gluur by die venster uit. “Ek het geweet ek moes nie terugkom nie. Ek het gedink ek sal maar mooi loop, weg bly van die bad stuff. Huh? Maar nou? Nou wil jy hê ek moet jou soontoe vat.”

“Dink aan die geld, Broer. Dink aan die geld. Ek sal jou goed betaal.”

“Ek’s hier oor die geld, Dirk,” sug hy. “Jy weet ek het geld nodig. Ek sukkel om te survive. Ek het altyd geld nodig, jy weet dit. Maar nie so nie. Nee, man. Wat help die geld my wanneer ek dood is?”

“Ag nee, nou oorreageer jy. Dis nie so erg nie.”

“Doen ek, Dirk? Doen ek? Ek sê jou, ek het jou boek gelees … jy skryf oor die occult, oor spoke en goed, maar jy weet niks. Dis hoekom ek hier is, want jy weet niks. En ek is bang, Bro, ek is bang. Moerse bang.”

101 Bakgat maniere

Подняться наверх