Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 18

Cultösaurus Erectus

Оглавление

Maria is in die sitkamer van my woonstel, besig om musiek te luister en te rook. Ek hoor sy het my Blue Oyster Cult-CD ontdek. Cultösaurus Erectus.

“Dis een van die beste CD’s ooit,” sê ek as ’n groet, “elke lied is ’n juweel.”

Sy druk haar sigaret dood. Blaas die rook uit. Staan op en glimlag. Ons stap in mekaar se arms in.

Dis heelwat later toe ons onder ’n kombers sit en musiek luister. Kaalbas.

Ek verwonder my aan die rigting waarin my lewe skielik foeter. ’n Paar jaar gelede was ek nog ’n gesinsman. Nou sit ek en sagpraat met ’n naakmodel. In my sitkamer. Met Cultösaurus Erectus op die CD-speler.

“Jy het weird musiek,” fluister Maria.

“Joune klink weer vir mý weird.”

“Ek identifiseer met die meisie in die een song.”

“Watter een?”

“ ‘Unknown Tongue’.”

“Die een oor die meisie wat haarself sny?”

“Ja.”

“Doen jy dit?”

“Nee. Dis die gevoel waarvan ek praat. Die eensame atmosfeer. Die meisie sny haarself, dan gaan sy weer skool toe die volgende dag. Niemand weet daarvan nie. Net sy. Sy is in haar eie wêreld. Sy is in die Anderwêreld.”

“Die Anderwêreld?”

“Dis die naam van my digbundel.”

“Ek het nie geweet jy het al gepubliseer nie.”

“Ek het nie. Dis net vir my.”

“Kan ek dit lees?”

“Nee. Ek sal dit vir jou voordra.”

Die musiek eindig. Dis stil in die woonstel. Net ’n lampie in die een hoek wat lig maak. Maria lek oor haar lippe. Sy kyk na my met haar donkerblou oë. Dit lyk nou swart. Dan fluister sy haar gedig.

Uit die antieke tye, die volgende:

Seth was soms ’n slang

Soms ’n swart vark

Sy bols is uitgesny deur Horus

Seth het Horus se oog uitgepluk

En hom probeer verkrag

Daar is nie een beskrywing in die Bybel

Van hoe die man wat Jesus genoem is

Gelyk het nie

Paulus het die Woord versprei

Asof hy op kokaïen was

Sy energievlakke het nie ’n einde gehad nie

Satan word vir duisend jaar vasgeketting

En in ’n abyss gesmyt

Dan word hy vir ’n kort tydjie

Vrygelaat, en hy sal weer moeilikheid maak

Maar vuur uit die lug sal sy weermag vernietig

Hy sal dan self in ’n poel vuur gegooi word

Saam met die ander valse profete

Die dood en Hades ook in die vuur

Die duiwel word lewendig vir die

Gelowige of bang mense

In Islam is die duiwel ’n triviale,

Dom karaktertjie

Ook genoem Iblis of Shaytan

In die Koran word alles aan Allah toegeskryf

Selfs die onaangename, soos hongersnood

Ek staar steeds in haar oë, toe besef ek sy is klaar. “Jy maak nie grappies nie,” mompel ek. Wat anders kan ek sê?

“Jy hoor, ek en jy lees dieselfde soort boeke. Ons dink oor dieselfde soort dinge. Dis waarom ons so vinnig gekliek het.”

“Het ons gekliek?”

“Het ons nie?”

“In die Anderwêreld,” sê ek. “Waar kom jy aan die naam?”

“Ek het op ’n keer ’n boek gelees oor ’n doktor Konstantin Raudive van Letland wat eksperimente met opnames van stemme van die Anderwêreld – die doderyk – gedoen het. Dit het vir my dié treffende reël opgelewer: ‘In die Anderwêreld is dit nag, broers. Hier brand die voëls.’ ”

“Wat sou dit beteken?”

“Ek het al baie daaroor gedink, maar ek kan nie sê nie.”

“Dalk het doktor Raudive hom verbeel. Dis dalk soos daai ouens wat jare gelede plate agteruit gespeel het, dan ontdek hulle kamstig geheime boodskappe?”

“Nee, nee, ek glo in spoke,” fluister Maria dromerig.

101 Bakgat maniere

Подняться наверх