Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 9

Ansie se verrassing

Оглавление

In die nag het ek weer na die foto’s van Maria gekyk. Eers het ek die foto’s bestudeer om te sien of ek nie dalk tog haar “snaakse handjie”, soos George Appelgryn dit gestel het, kon sien nie. Die fotograaf het goeie werk gedoen. Ek kon nie.

Vroegoggend log ek by Facebook in. My byna 300 sogenaamde vriende was besig, sien ek. Een oom, wat ek van geen kant af ken nie, het ’n paar Bybelversies uitgelig. Iemand saam met wie ek op laerskool was, stel voor almal moet op YouTube aanmeld en kyk hoe sing Frank Sinatra “Night and Day”.

Jacques Olivier was ook doenig, duidelik gesuip, want hy het verskeie vloekwoorde die kuberruimte ingestuur.

Ek Google Maria sonder sukses.

Ek spring in my rooi Polo en gaan soek haar in die strate van Melville. Dié voorstad van Johannesburg word soms spottend “Klein Hollywood” genoem, omrede daar glo heelwat plaaslike celebrities en akteurs uithang.

Ek sien nie een nie. Hulle is net so skaars soos parkeerplek.

Ek ignoreer die kêrel wat draadrakkies en ’n miniatuur draad Harley Davidson aan my probeer verkoop en stap by die Full Stop Cafe in. Die plek se dekor lyk vir my effe verweer, maar party mense sal dit sekerlik kunstig of oulik vind. Die tafeltjie waar ek gaan sit, wobble en ek strip my moer onmiddellik en soek ’n ander sitplek met die kelnerin wat my verbouereerd agtervolg.

“Het jy dalk dié meisie gesien?” vra ek haar, skielik vriendelik, toe ek ’n gemaklike sitplek gekry het. Ek het Maria se gesig uit een van die foto’s geknip en op ’n stukkie karton geplak.

“Mmm,” peins die kelnerin, “laat ek sien …” Sy bekyk die foto met ’n ernstige frons.

“Sy het ’n snaakse handjie,” gooi ek in.

“Wat bedoel jy, snaaks?”

“Iemand het al daardie hand as ’n deurknop beskryf.”

Die kelnerin, ’n skraal poppie met hangskouers, maak grootoë en sit die foto op die tafel neer.

“Hoekom soek jy haar?” vra sy agterdogtig.

“Ek’s ’n joernalis. Ek’s besig om ’n storie te skryf oor mooi maar gebreklike mense.”

Die kelnerin se gesig verhelder. Dis asof haar voortande skielik by haar mond uitpeul. “My suster is gebreklik! Sy is sonder knieë gebore!”

“Is sy so mooi soos jy?” vra ek sonder om ’n oog te knip.

Die kelnerin bloos. Na ek haar suster se telefoonnommer gevat het, bestel ek ’n bier en ’n bordjie aartappelskille. Ek sien die kelnerin sleep haar voete.

Het seker ook nie knieë nie …

Niemand in die Full Stop Cafe kan my help met Maria nie. Ek eet klaar en vra die kelnerin om die sjef te komplimenteer vir die heerlike kaassous wat saam met die skille voorgesit is. Toe vertrek ek effe besluiteloos, maar tog tevrede met my eie sarkasme, en dwaal by ’n boekwinkel in. Ek loer na verskeie boeke, maar registreer niks, want ek besef dat dit skynbaar nie so eenvoudig gaan wees om Maria op te spoor as wat ek gedink het dit sou wees nie.

Bach se tweede Brandenburg-concerto speel oor Classic FM terwyl ek terugry Pretoria toe. Al die pad Johannesburg toe gekom vir ’n bord aartappelskille en ’n bier …

Die pad tussen Pretoria en Johannesburg het my nog nooit aangestaan nie. ’n Klompie jare gelede het ek vir ’n paar maande by ’n tydskrif in Johannesburg gewerk.

“Hoekom trek jy nie hierheen nie?” het die redaktrise gevra toe ek oor die pad bitch.

“Almal wat ek ken, is in Pretoria,” het ek geantwoord. “Ek hou van Pretoria.”

Dit is die waarheid. Of miskien was ek maar net nie weer lus om te trek nie. Na Roelien se dood het ek van die meeste goed ontslae geraak, maar dit was nog steeds ’n moerse trek woonstel toe.

As ek nog steeds voltyds in Johannesburg gewerk het, sou ek seker nou die Gautrein gery het. Dit sou my ’n paar irritasies gespaar het. Dan weer, ek hou nogal daarvan om kar te bestuur.

Skielik is dit Beethoven se Vyfde in die kar. Ek trek by ’n vulstasie af en antwoord. Dis Ansie.

“Dis nou ’n verrassing!” roep ek, regtig verbaas, uit.

“Dirk, daardie KÊREL van wie jy gepraat het … die een met wie Maria deurmekaar was … die SATANIS … ek dink ek kan jou met hom help.”

“Wie’s hy? Waar kan ek hom kry?”

“Ek wil nie oor die FOON praat nie. Kan ons mekaar iewers ONTMOET?”

“Moet ek soontoe kom?”

“Nee. WAAR bly jy nou?”

Ek gee haar die adres en jaag na my woonstel om op te ruim. Vuil skottelgoed word vinnig gewas. Die bed word opgemaak. Antiseptiese middel word in die toiletbak gegooi. Insekdoder teen die muur, net vir ’n bietjie geur. Die musiek … iets ligs, iets ouerigs – Prefab Sprout – . Die eerste klanke trek net deur die lug, toe klop Ansie.

Sy het grimering aangesit. Dit pas haar. Laat haar sagter lyk.

“Brrr … dis vandag KOUD,” sê sy.

“Kom in. Sit. Kan ek vir jou iets bring om te drink? Ek het koffie en whisky, of koffie en whisky!”

“Whisky, net so, ASSEBLIEF.”

Sy bewe. Nie net haar kop nie. Haar hande ook. En haar skouers.

“Waar’s Dewald?”

“Hy is op ’n MOTIVERINGSKURSUS iewers in die Magaliesberge.”

“Ja!” roep ek tergend uit en slaan met my regtervuis in my oop linkerhand. “Sê ja … en wees positief!”

Ansie lag senuweeagtig vir my grappie. “Ja, nou sal hy HOPELIK meer polisse verkoop.”

’n Ongemaklike oomblik volg. Prefab Sprout sing ’n snaakse lied, “The King of Rock ’n’ Roll”. Dit help. Ek skud my kop rond asof ek ook graag ’n beroerte wil kry.

“So, wat is dit wat jy my wil vertel? Waarmee kan jy my help?”

Ansie staan rusteloos voor die venster. Ek beweeg langs haar in. Dertien verdiepings laer af is daar heelwat karre wat in die straat jaag. Hier bo kan ’n mens dit nie hoor wanneer die vensters toe is nie.

“Is jy baie EENSAAM, Dirk?”

Haar onverwagse vraag ruk my. “Ja … nogal. Ek kom dit nou nie meer so erg agter as … net na Roelien se dood nie. ’n Mens raak mos maar weer daaraan gewoond om alleen te wees.”

Ek vertel haar nie dat Johnnie Walker my gereeld moet uithelp nie. Of dat ek soms ver ente gaan draf of swaar gewigte optel net om iets anders as hol te voel nie.

Ansie kyk weer na die straat daar onder. Sy vat ’n slukkie whisky. “Ek’s OOK eensaam,” sê sy en haar oë is skielik vol trane. Dit loop oor en sy vee dit vinnig met haar hand af. “Ek weet jy dink ek’s ’n BITCH, maar ek’s ook baie eensaam.”

“Ek dink nie jy’s ’n bitch nie.”

“Ek en Dewald werk NIE. Maar ek wil hom nie LOS nie, want dan sal ek nog MEER eensaam wees.”

“Haai,” sê ek verwonderd oor die rigting waarin die gespek gaan, “dis orraait. Vat dit kalm. Relax.”

Sy snuif. “Die ERGSTE ding wat my pa-hulle ooit aan my gedoen het, was om my KOSHUIS toe te stuur,” sê sy.

“Hoe bedoel jy nou?”

“Daar was BAIE kinders, maar ek was altyd ALLEEN. Jy sien, Dirk, ek kon nog NOOIT met ander mense meng nie … OOPMAAK nie. DIS waarom ek saam met Maria Staal in ’n kamer gedruk is …”

Ek sien die trane is weer naby en sit my hand op haar skouer. Sy draai na my. “Dirk …” Skielik is sy teen my bors, en sy huil.

“Dis orraait, Ansie, dis orraait.”

“Dirk … Dirk, ek het JOU lief,” kerm sy.

Ek kry daardie zoemgeluid in my kop wat ek gewoonlik kry wanneer ek tot selfbewustheid geskok word. En dit skree in my: Pasop vir hierdie vrou, jy weet sy is nie lekker nie. En sy is jou oorlede vrou se suster.

Maar ons lywe praat hul eie taal. Ek voel haar borste teen my en ek voel die hitte tussen ons. Ek onthou hoe ons mekaar in die kombuis gesoen het een Nuwejaarsdag terwyl Roelien-hulle buite geswem het. Toe het sy teruggetrek toe ek my hand tussen haar bene geglip het.

Dié keer druk sy haarself net stywer teen my vas.

101 Bakgat maniere

Подняться наверх