Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 7

Terug in die verlede

Оглавление

By ’n rooi verkeerslig word ek omsingel. Een probeer ’n koerant aan my afsmeer, nog een druk ’n sakkie nartjies teen my ruit, ’n ander een swaai pakke swart vullissakke rond, iemand skree: “Hangers!” En daar is ’n jong seun wat moedeloos lyk terwyl hy ’n sakkie koeksisters lig. Ek hou van daardie gedraaide lekkernye, maar ek gaan beslis nie my venster oopmaak en van dit koop nie, want hier kom ’n sonverbrande vroutjie met ’n plakkaat: HELP ASB! – GEEN WERK – 5 KINDERS – ONS SUKKEL – GOD SEËN U! Op die plakkaat is daar ’n foto van die vyf kinders vasgeplak. Hulle lyk regtig fucked-up.

Die lig slaan oor na groen. Ek maak dat ek wegkom. ’n Geduikte blou minibus sny onverwags voor my in. Amper vloek ek die bestuurder.

Nou speel Beethoven se Vyfde. Ek trek af. ’n Ou wat duimry dog ek stop vir hom en hardloop nader. Ek wuif hom weg en antwoord my selfoon.

“Dirk, dis ek. Kan jy my help?”

Irritasie slaan in my op. “Waarmee, Duane? Dope?”

“Nee, man. Ek moet blyplek kry. My girl het my uitgeskop.”

“Waarom?”

“Maak dit saak?”

“Ek sou so dink.”

“Kom ons sê maar net dinge het nie uitgewerk nie.”

“Ek raai jy het nie werk nie.”

“Jy raai reg. Werk is skaars …”

“Maar dit keer jou nie om kak te maak en gefire te word nie, nè, Duane?”

“Gaan jy preek of gaan jy help?”

Ek sug. “Hoeveel?”

“Hoeveel kan jy gee?”

“Ek sal kyk. Ek bel jou later.”

Ek sweer, my broer maak my mal. Hy sit daar in Kaapstad en rook homself simpel. Hy dink nie aan môre nie.

Nie dat ek dit juis doen nie. Nie meer nie. Dit was anders toe ek nog ’n vrou en twee kinders gehad het.

Maar ek kan dit nie verstaan nie. Ek kan tog nie my broer vir ewig onderhou nie. Hy sê hy werk, maar ek ken hom. Oor ’n paar dae is hy weer afgedank. Hy smaak die bottel kwaai.

Aan die een kant wil ek hom in sy moer stuur, maar dan weer, hy bly my broer. Hy is een van die twee mense met wie ek regtig gemaklik voel om mee te kommunikeer. Dis net hy en Jacques Olivier.

Ek stop by die huis waar my dooie vrou se suster en haar man bly. Dis amper 18:00, so ek neem aan hy is op die pad, aan die hardloop.

“Maak nie saak hoe ver jy hardloop nie, jy gaan nie van jou probleem af wegkom nie,” het ek hom eenkeer vertel.

Sy probleem maak die deur oop. Ansie is nog steeds baie mooi. Sy vee die bruin kuif uit haar oë en lyk verbaas om my te sien.

“DIRK! Wat maak jy hier?”

“Ek kom kuier,” glimlag ek.

Ansie het ’n koddige manier van praat. Sy lê die klem op onverwagte woorde. Nou en dan ruk haar kop liggies en haar oë gaan al hoe groter oop. Daar is by my geen twyfel dat sy eendag ’n beroerte gaan kry nie. Die tekens is tog daar vir almal om te sien.

“Hoekom?”

“Kan ek inkom?”

“Dewald is NIE hier nie.”

“Ek sal jou nie gryp nie …”

“Ag, MAN …”

Sy is ’n agterdogtige vrou. Sy het Dewald al baie maal agtervolg. Sy bel hom minstens tien keer ’n dag. Sy het hom al met ’n pan in die gesig geslaan terwyl hy slaap.

Ek en sy het kort voor haar troue ’n scene aangehad. Sy was onseker oor haar liefde vir Dewald en bietjie lus vir my. Ons het mekaar een keer gesoen en sy het amper daaroor selfmoord gepleeg.

“Koffie?”

“Het jy nie whisky nie?”

Sy skink van Dewald se goedkoop whisky en gee die glas aan. “En toe, wat soek JY hier?”

“Maria Staal.”

“WAT van haar?”

“Ek soek haar. Sy het verdwyn.”

“En waarom soek JY haar?”

“Haar pa het my gehuur om dit te doen.”

“Waarom sou hy DIT doen?”

“Sy vrou is besig om te sterf.”

“O, het hy haar WEER by die trappe afgestamp?”

“Skuus?”

“Het jy nie geweet nie? Toe ons op skool was, het hy haar by die trappe AFGESTAMP. Sy was vir amper ses MAANDE in ’n rolstoel.”

“Genuine?”

“ALMAL het daaroor gepraat.”

“Ek het nie geweet nie.”

“Vir ’n JOERNALIS weet jy eintlik nogal MIN, Dirk,” sê sy sarkasties.

Ek haal maar net my skouers op. Ek kan tog nie ALLES weet nie.

“Nou maar waarom sal jy na MY toe kom om oor MARIA STAAL te praat?” vra Ansie.

Haar kop skud weer liggies en haar oë rek weer groter oop. Haar waterige blou oë.

Ek verskuif my blik na die enorme groen en rooi papegaai in die kou in die hoek.

“Hallo,” groet die papegaai. “Hallo.”

Ek groet nie terug nie. Het nog nooit veel gehad om vir voëls te sê nie.

“Oh, sush, TRAVOLTA!” roep Ansie uit.

“Haar pa het my vertel julle was in dieselfde skool.”

“So?”

“Hallo,” groet Travolta. “Hallo.”

“So, vertel my van haar, asseblief.”

“Sy was ’n FREAK. Vol hang-ups …”

Hoor wie praat, dink ek.

“Ons was nie vriendinne nie. Maar ek was die ENIGSTE een wat bereid was om ’n kamer met haar te deel.”

“Julle was mos in die koshuis?”

“Hallo,” sê die papegaai weer. “Hallo.”

Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om die voëltjie se veertjies uit te pluk, regtig, hoor, kom verby die gehallo-hallo …

“Net vir ’n jaar, toe my ouers oorsee gewerk het. Maria het in die aande met haar misvormde hand teen die muur geslaan en ‘JESUS MIN MY SALIG LOT’ gesing.

“Het sy enige kêrels gehad?” vra ek haar en daar groet Travolta weer: “Hallo. Hallo.”

“Jy SPEEL seker.”

“Ek het gehoor sy was deurmekaar met sataniste.”

“O, REGTIG?”

“Dink jy sy was dalk lesbies?”

Haar oë skiet ys. “WAT bedoel jy daarmee?”

“Hallo,” kras die papegaai weer. “Hallo.”

Ek skud my kop vinnig heen en weer. “Nee, ek bedoel nie jy en sy … ek het maar net gewonder …” en aan die papegaai sê ek skielik aggressief: “Hallo. Hallo, Travolta. Hallo, okay, hallo!”

“Vra haar maar self as jy haar EENDAG sien,” sê Ansie kil. “Ek dink in elk geval dis belaglik dat jy MY oor HAAR uitvra, wat sal dit nou help? Ons was hoe lank gelede … wat, jare, man, JARRRE gelede saam op skool. Ek het haar JARRRE laas gesien.”

Voetstappe buite. Die deur word oopgemaak. Dis Dewald. Beep Beep, The Road Runner.

“Hallo, Dirk!” groet hy vriendelik, natgesweet. Hy is ’n lang, maer man. “Dis nou ’n verrassing. Ons lees ook deesdae net jou stories in die koerante.”

“Hallo,” groet die papegaai. “Hallo.”

“Moenie ’n woord glo nie,” glimlag ek en staan op. “Goed om jou weer te sien. Jy lyk fiks. Maar ek moet gaan. Ek het ’n ander afspraak. Ek het net gou met Ansie oor iemand kom praat. Sy kan jou vertel.”

Ek gee vir Ansie my besigheidskaartjie. “Bel my as jy aan iets kan dink wat my kan help, asseblief.”

“Hallo,” groet Travolta. “Hallo.”

“Koebaai,” sê ek. “Koebaai.”

101 Bakgat maniere

Подняться наверх