Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 12

Grotto

Оглавление

Ysige naalde uit die hemel. Buite seisoen. Aardig, die reën. Dis donker. Die maan is agter wolke. Voor ons is Jevon se grotto. Die huis is op ’n kleinhoewe aan die westekant van Pretoria, naby die Hartbeespoortdam. In my kar se ligte lyk die huis breed en laag. ’n Dowwe lig skyn in een van die voorkamers.

Twee honde storm van die stoep af. Dobermans.

“O, donner. Hulle lyk kwaai.”

“Hulle ís kwaai.”

“Ken jy hulle? Of liewer, ken hulle jou?”

“Hulle sal my seker nie onthou nie.”

“Klim uit, dan kyk ons.”

“No way!”

Die honde hardloop blaffend om die kar en grom by die vensters. Skielik stop hulle, oortjies na bo. Hulle hardloop terug stoep toe. Daar, in die deur, staan ’n kort figuur.

“Wie’s dit?”

“Weet nie.”

“Nou kom, ons moet seker uitklim.”

Ek sit die kar se ligte af. Ons hardloop, versigtig om nie in die nattigheid te gly nie, stoep toe.

“Lê,” sê die persoon by die deur en die twee dobermans gaan lê gehoorsaam op ’n kombers. Dis ’n dwerg wat gepraat het. Hy het ’n kleed met ’n kappie aan. Ek kan nie sy gesig sien nie. “Kom in.” Dit klink of sy stembande met skuur­papier bygekom is. Ons volg hom. Hy draai effens om en loer oor sy skouer toe ons binne is.

Ek sien ’n gedeelte van sy gesig. Dit lyk of iemand miljoene gaatjies met ’n spykertjie in die dun vel geslaan het. “Maak toe die deur.” Sy tande … haaitandjies …

Daar is ’n groot skildery van ’n spierman se abdomen in die ingangsportaal.

“Draai die prent om en jy sien die gesig van ’n demoon,” fluister Duane.

Die dwerg grinnik in die kerslig.

“Kom,” sê hy.

Ons bly op sy hakke. Hy stap rukkerig, asof sy nek styf is aan die een kant. Sy een beentjie is skynbaar korter as die ander een, want hy hel oor na die linkerkant.

Ons bevind ons in ’n gang. Hier en daar is daar ’n kers wat lig maak teen die mure. Die dwerg gaan staan voor ’n oop deur waaruit ’n dowwe ligbank kom. “Gaan maar in.”

Dis ’n badkamer. ’n Lantern se lig veg deur die digte stoom-massa wat uit die outydse tipe bad op pootjies kom. Kaal en regop staan Warren Jevon in die bad, sy lang, dun penis slap tussen sy bene. Sy liggaam laat my dink aan foto’s van ’n jong Iggy Pop. Lenig met are en spiere wat verrassend goed vertoon. Letsels op die bors. Het hy, soos die malkop sanger Iggy, homself op ’n tyd met glasstukke gekerf?

Twee donkerkop-skoonhede is besig om hom met groot blikbekers af te spoel. Dis dieselfde twee vroue wat saam met hom in die klub was. Hulle is ook kaal. Ek voel hoe my hart nog vinniger klop en sukkel om hulle nie aan te staar nie.

“Goeienaand, menere. Ek sal nou klaar wees. Dames, julle kan my maar droog maak.”

Ons kyk hoe die vroue hom saggies met wit handdoeke pitter-pat. ’n Vulgêre geluid ontsnap uit die dwerg se mond. ’n Bietjie kwyl loop uit sy skeefgetrekte mond. Jevon glimlag selfvoldaan en hou sy arms uit sodat die vroue vir hom ’n wit japon kan aantrek. Hy skuif sy voete in ligblou pantoffels in.

“Daar’s hy. Dirk, volg my, asseblief. Duane, sal jy saam met Arnold wag?”

Sy oë val weer op my. “Dirk, rooiwyn?”

“Dit sal lekker wees, dankie.”

“Arnold, bring vir ons rooiwyn voorkamer toe, asseblief.”

Die dwerg en Duane verlaat die kamer. Ek sien hoe die twee vroue in die bad klim.

“Kom, Dirk,” sê Jevon en vat my aan die arm. Ons gaan na ’n klein vertrek waar daar ’n vuur in die kaggel woed.

“Lekker,” sê ek selfbewus en vryf my hande.

Ook hier is daar net ’n paar kerse wat lig maak. Die mure is kaal. Ons staan op ’n dik maroen mat. Twee gemakstoele met ’n tafeltjie tussen hulle is strategies voor die kaggel geplaas.

“Sit, asseblief.”

Ek maak so. Verwonder my aan die fassinerende gesig van Warren Jevon. Ek erken dit nie graag nie, maar hy lyk na iets anders as ’n mens. Hy sal slaag as ’n wese vanuit die buitenste ruim in ’n rolprent. Amper of die uiterlike iets anders wegsteek. Dis asof die vel enige oomblik kan skeur en hy sy ware gesig gaan wys – ’n akkedis-tipe monster soos in die televisiereeks wat ek ’n klompie jare gelede gesien het.

“Is jy teleurgesteld?” glimlag hy.

“Waarmee?”

“Jy het seker iets anders verwag? ’n Vreemde ritueel of iets?”

“Ek het nie regtig iets verwag nie.”

Hy lag saggies. “Miskien ’n volgende keer.”

Dan is Arnold daar met die wyn. Groot, stewige kristalglase en sterk cabernet sauvignon. Hy skink en los ons weer alleen. Ek vat ’n sluk en kyk na die plafon.

“Ons het nie elektrisiteit nie,” sê Jevon, asof hy my gedagtes kan lees.

“O?”

“Ja.” Hy sit sy linkerelmboog op die stoel se armleuning en leun oor na my toe, sy oë intens in myne. “Nou sê vir my waarom jy eintlik hier is, Dirk Steyn.”

“Duane het jou mos gesê … ek soek na Maria Staal.”

“Waarom na Maria, Dirk?”

“Haar pa het my gevra om haar te vind. Hy betaal my.”

“Gaan jy my betaal vir my hulp?”

“Dit lyk nie of jy geld nodig het nie …”

Dit laat hom weer glimlag. “Ek het altyd geld nodig, Dirk. Die lewe is duur. Maar jy is ’n skrywer … nogal oor die okkulte, so nou en dan. Kyk, ek moet eerlik met jou wees, ek dink nie jy skryf vir die kenner nie, maar daar is seker mense daar buite wat jou oppervlakkige inleidings interessant vind en ek dink ek en jy kan tog tot ’n ander ooreenkoms kom.”

Jevon teug aan sy wyn en staar ’n oomblik in die vuur. “As ek jou sou help, moet ek tog ook iets daaruit kry … maar wat? Gaan jy ’n boek oor my skryf? Dis ’n idee. Wil ek regtig so iets hê?” Hy antwoord sy eie vraag. “Ja. Vir seker. Ek het ’n gesonde ego. Ek stry nie.” Dit alles asof hy net met homself praat.

Nou draai hy weer sy gesig na my. “Ek sal help. Ek het nie op die oomblik direkte kontak met Maria nie, maar dit sal nie vir my moeilik wees om haar op te spoor nie. Op jou beurt sal jy dan weer vir my iets doen. Niks sinistêrs nie, dalk ’n boek of ’n artikel oor my. Ek is seker jy sal ook daarby baat kan vind. Daaroor kan ons later praat. Maar ontspan nou, ek gaan jou nie aan die groot boerbok van die berge offer nie. Drink jou wyn, kom ons leer mekaar bietjie beter ken.”

Ek lag selfbewus en drink van die wyn, maar my skouers bly styf. Jevon staan op en gaan staan met sy rug na die vuur.

“Jy gaan seker een van die dae iets oor satanisme skryf, Dirk. Maar wat weet jy van satanisme? Ken jy dit?”

Ek haal my skouers op. “Nie veel nie.”

“Dan ag ek dit as hoofpriester van hierdie grotto my plig om jou meer inligting te gee,” sê hy. Hy trek sy asem in en trek met ’n geleerde stem los: “Die Kerk van Satan is ’n wettig, erkende godsdiens, met sy wêreldhoofkwartiere in San Francisco, Kalifornië. Anton Szandor LaVey het die kerk op 30 April 1966 gestig. Satanisme het absoluut niks met die Christelike duiwel te doen nie. Satan kom van antieke Hebreeus en beteken teenstander. Ons staan teen die idees van die Joods-Christelike godsdiens.”

Ek voel soos ’n student en soek amper na ’n pen om notas te neem, soos ek destyds gedoen het toe ek joernalistiek aan die Technikon van Pretoria geswot het. Dit was ’n opwindende tyd in my lewe, maar aangesien ek in die aande as kroegman gewerk het omdat ek vir my eie studies moes betaal, was dit ook ’n tyd van harde geswoeg.

“Elke populêre, bose idee oor satanisme het sy ontstaan uit die Christendom. Eintlik is sataniste ateïste.”

“Vra ateïste demone om hulle te help soos Christene dit met engele doen?” vra ek, ligweg geïrriteerd met die skielike lesing en my geprogrammeerde verlede.

“Jy het seker al van satanistiese rituele gehoor?”

“Natuurlik. Maar ek dink sataniste is nogal baie soos die Christendom in die opsig dat jy ook diverse groepe sataniste kry.”

“Ja, ja,” sê Jevon. “Vat nou maar my grotto. Ek het my eie filosofieë en rituele bygesit by die lesse van Anton LaVey. Natuurlik kry jy spin-offs, kultusgroepe, veral by die jonger mense wat sekere idees en beelde net vir die skokeffek of vir die pret gebruik. Sex cults, daai soort van ding. Hulle weet nie wat hulle doen nie en gee satanisme ’n slegte naam. Dis hulle wat katte op grafte offer of jong kinders verkrag.”

“Wat is die hoofdoel van satanisme, behalwe om die Christel­ike kerk teen te staan?”

“Om te leef volgens ’n mens se natuurlike instinkte. Om rasionele selfbelang eerste te stel. Anton LaVey het gesê satanisme verteenwoordig bevrediging, in plaas van weerhouding. Satan verteenwoordig daadwerklike bestaan, in plaas van spirituele opiumdrome. Satan verteenwoordig onbesoedelde wysheid, in plaas van selfmisleiding. Satan verteenwoordig goedhartigheid teenoor diegene wat dit verdien, in plaas van liefde wat vermors word op ondankbare idiote. Satan verteenwoordig wraak, in plaas van draai-die-ander-wangetjie. Satan verteenwoordig die mens as net nog ’n dier – partykeer beter, meestal slegter as daardie diere wat op vier bene loop – die mens wat as gevolg van sy intellektuele vermoëns die mees gemene dier van almal is. Satan verteenwoordig al hierdie sogenaamde sondes, want dit lei tot fisieke, geestelike en emosionele bevrediging.”

Ek begin die gesprek geniet. “Verteenwoordig Satan dus boosheid?” toets ek hom.

“Wat liasseer jy onder die opskrif ‘boos’? Dink jy die dinge wat deur die jare in die naam van Jesus Christus gedoen is, was nie boos nie? Jy het oor heksery geskryf … dan weet jy van die baie onskuldige mense wat deur die Christene vermoor is.”

“Dit was toe. Ek praat van nou. Ek staan nie op vir die Christelike godsdiens nie, ek dink nie ek kan, of wil, myself ’n Christen noem nie. Maar alles omtrent daardie godsdiens is beslis nie sleg nie. Ek is seker ek sal iets goeds uit satanisme ook kry, as ek gaan soek, ek weet nie. Dit is nie my plek om te veroordeel nie.”

“Solank jy maar net deur die lewe kan vleg, is jy gelukkig?”

“So iets.”

“Jy is nie eerlik nie, Dirk. Jy soek ook na antwoorde. Dit is tog seker waarom jy ’n joernalis is. Dit is tog seker waarom jy oor die sogenaamde okkulte skryf. Ek dink jy weet baie meer as wat jy my wil wysmaak. Jy weet seker dat die Kerk van Satan essensieel ’n beweging is wat menslike potensiaal wil bevorder. Ek dink ook dat jy dink dat dit verkeerd is om net een van ’n miljoen te wees. Jy wil ook daardie een in ’n miljoen wees …”

“Nietzsche se Übermensch?”

“Ja, ek kan sien dat jy baie dinge vir my wegsteek. Maar dis jou keuse, ek aanvaar dit so.”

“Dis nie dat ek regtig soveel weet nie,” keer ek (maar ek is nie so seker of hy dit regtig aanvaar nie). “Ek is net so deurmekaar soos die meeste mense. Ek dink net dit is onmoontlik om te sê wit is wit en swart is swart.”

Jevon glimlag kunsmatig. “Dalk is jy reeds ’n satanis, jy besef dit nog net nie. Het jy al van Satan se elf reëls vir die Aarde gehoor?”

“Nee.”

“Een; moenie jou opinie of raad gee alvorens jy daarvoor gevra word nie. Twee; moenie jou probleme met iemand deel alvorens jy seker is hulle wil dit hoor nie. Drie; wanneer jy in iemand se plek is, betoon respek of moet anders nie daarheen gaan nie. Vier; as ’n gas jou irriteer, behandel hom wreed en sonder genade.”

My rug word styf en ek hoop van ganse harte dat ek my gasheer nie irriteer nie.

“Vyf; moenie seksuele stappe neem voor jy die parings­teken kry nie. Ses; moenie iets vat wat nie aan jou behoort nie, behalwe as dit ’n las is vir die ander persoon en hy van daardie las verlig moet word. Sewe; erken die krag van toorkuns wanneer jy dit gebruik het om jou begeertes suksesvol te vervul. As jy die krag van toorkuns afmaak na jy met sukses daarvan gebruik gemaak het, sal jy alles wat jy gekry het, verloor. Agt; moenie oor enige iets kla waaroor jy nie nodig het om aan aandag te gee nie. Nege; moenie kinders seermaak nie. Tien; moenie diere doodmaak nie, behalwe as jy aangeval word, of vir kos. Elf; wanneer jy in ’n oop gebied stap, moenie iemand pla nie. As iemand jou pla, vra hom om op te hou. As hy aanhou, vernietig hom.”

Die monoloog was taamlik oorweldigend. En verwarrend. Ek gee Jevon net die stywe oog en maak my wyn klaar.

“Ons is ook teen sogenaamde mind altering drugs en die oormatige gebruik van alkohol en tabak,” sê Jevon ernstig.

Ek kan nie help nie. Ek moet hardop lag. Tussenin stotter ek dadelik ’n verskoning uit. “Ek’s jammer. Maar jy kan ’n hond uit ’n bos uit praat. Ongelukkig was ek nog nooit ’n goeie orator nie. Ek moet eers lank dink oor sekere goed en soms eers daaroor skryf om daarvan sin te maak. Partykeer vat dit my weke of jare voor ek iets verstaan. So, vergewe my asseblief dat ek lag, maar dis omdat jou baie woorde my soos ’n golf geslaan het.”

“Moet jouself nooit onderskat nie, Dirk,” sê Jevon. Hy buk en gooi nog ’n stuk hout in die kaggel. Wanneer hy weer na my kyk, is daar ’n stoute uitdrukking op sy gesig. “Maar genoeg ernstig gewees vir een nag. Wat van nog ’n bietjie wyn?”

101 Bakgat maniere

Подняться наверх