Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 5
Maria, Maria
ОглавлениеHy wys my die foto’s van sy dogter. Maria. Pragtig. Baie wit. Swart polkahare, lang nek, klein, ferm tieties. Skraal lyf. Atletiese bene. My kop suis.
Ek dwing myself om verder te blaai. Die ouman kou selfbewus aan sy grys snor. Dis ’n snor waarin sop kan agterbly. Die snorbaarde is nie aggressief nie, eerder hartseer, soos wilgerboomtakke.
Die ouman stotter. Dan is hy stil. Ek ignoreer die paar onsamehangende woorde en blaai verder deur die sekstydskrif. Konsentreer daarop om my bewerige hande stil te hou. Ek hoor my hart pomp. Dit klink soos swaar industriële musiek.
“Nog ’n drankie?”
“Ja.”
Die whisky brand my keel. Sooibrand se voorloper.
Dis warm in hierdie ryk man se speelkamer. Warm en taamlik donker. ’n Buislig skyn dof uit die houtkroegie se dak en die vuur in die kaggel doen ook sy deel om my beter te laat sien. Daar is skilderye wat duur lyk teen die mure. Buffels wat water drink.
Ek het net oë vir Josef Staal se dogter. Maria. Ook bekend as Candice. Waarom kies hulle altyd name soos Candice, Cheri, Storm, Brandy of Zenobia?
“Kan ek die tydskrif hou?”
Staal kyk na my en ek kan in sy oë sien hy weet ek wil sy dogter bykom.
“Beteken dit dat jy die werk aanvaar?”
“Kom ons praat eers oor geld.”
“Jy weet geld is nie ’n probleem nie.”
Ek weet dit nie regtig nie. Maar ek sal sy spel speel. Ek het al van hom gehoor. Ek het al sy foto in tydskrifte en koerante gesien.
Ek moes seker die sakeman se agtergrond ondersoek het. Maar die ekonomie is nie een van my belangstellings nie. Ek kon nog nooit met geld werk nie. Ek weet nie hoe Josef Staal sy geld gemaak het nie en ek weet nie of hy nog steeds baie geld het nie. Maar ek speel sy spel.
“Waarom ek, waarom nie ’n privaatspeurder nie?”
Ons sit nou by die kroegie. Die tydskrif eenkant. Staal haal sy bril af en vee dit skoon met ’n sakdoek. “Ek het jou artikel oor die plaasmoorde gesien,” sê hy.
“Wat het dit met jou dogter uit te waai?”
“Jy het geskryf oor die toordokter se aandeel. En jy skryf boeke oor die okkulte. Ek vermoed Maria is met sataniste deurmekaar. Dit help nie ek kry iemand wat nie weet waarmee hulle te doen het nie. Jy is tog ’n joernalis, julle is tog ook speurders. Ek dink jy sal haar makliker kry as enigiemand anders.”
Dit klink vir my na dommerige redes om my te kies. Maar ek sê niks. Gee Staal net die oog. Hy is desperaat. Duidelik deurmekaar.
“Ek … ek weet jy was ook in die Spes-Magte. ’n Lid van die Reconnaissance-kommando. Ek glo jy weet hoe om jouself in gevaarlike situasies te hanteer.”
’n Glimlag ruk-ruk aan my mondhoeke. Die meeste mense is maklik om te flous. Ek was wel jare gelede ’n tyd lank in ’n kamp waar lede van die Spesiale Magte opgelei is. Naby Phalaborwa. Maar ek was nooit self ’n verkenner nie. Ek was ’n klerk. ’n Pen-pusher. Die regte recces het ons met minagting behandel omdat ons ook met maroen berets rondgeloop het. Ek het nooit daardie wapen met die kompas op die beret verdien nie.
“Jy vertrou my?”
“Meneer Steyn, ek sal jou genoeg betaal sodat jy nie die storie aan ’n koerant of tydskrif hoef te verkoop nie.”
Daarvan hou ek. Ek ruik verlossing. Ek wil weg uit hierdie land. Net vir ’n paar maande. Daar is te veel mense wat doodgaan. Te veel spanning. As ’n karkaper jou nie vermoor nie, dan is dit die petrolprys. Ek wil gaan prego’s eet in Portugal. Die Algarve. Naby die koffiewinkel waar ek soms ontbyt eet in die Brooklyn-sentrum in Pretoria, is daar ’n reisagentskap. In die venster is daar ’n plakkaat van die Algarve. Dit lyk idillies.
Ons is naby ’n groot snoekertafel. Ek drentel soontoe. Klap ’n bal of twee rond terwyl ek kamma my besluit neem.
“Wil jy speel?” vra Staal onverwags. Ek kan hom nie met ’n stok in die hand voorstel nie.
“Nee, dankie. Miskien ’n volgende keer.”
Staal staan ongemaklik rond. Ek kan sien hy probeer hard om nie pateties oor te kom nie. “Jou storie … die een oor die plaasmoorde … dink jy regtig dis die regering wat agter dit sit?”
“Ek het dit nooit so gestel nie.”
Ek weet nie waarom hy aanhou karring oor die storie nie. Maar dis ’n feit: my storie oor ’n toordokter in Lichtenburg wat sy aanhangers aangehits het om wit boere van hul plase af te dryf het baie mense ontstel. Veral omdat ek dit vergelyk het met ’n voorval ’n klompie jare gelede in Zimbabwe, toe ’n politikus regstreeks met ’n toordokter, wat dieselfde ding gedoen het, verbind is. My bron was ’n boek wat ek onder in ’n doos by die vlooimark voor Sunnypark-sentrum, in ’n deel van Pretoria wat besig is om te verval, uitgekrap het. A Policeman’s Narrative of Witchcraft and Murder in Zimbabwe deur Henry A. Clark. Hy was die ondersoekbeampte in daardie saak.
Dit het nie vir my na ’n boekie gelyk wat al deur baie mense gelees is nie. Ek het die boekie geplunder en liberaal met die feite omgegaan. Ek is stout in daardie opsig.
Staal soek nog na woorde. Ek besluit om tot ’n punt te kom. Ek is moeg. Ek wil gaan slaap. “Goed. Ek aanvaar die joppie. Ek sal jou dogter vir jou opspoor. Ek soek asseblief net ’n voorskot.”
“Ja. Ja. Ja, goed.” Staal sit sy glas neer. “Volg my, asseblief.”
Ons gaan by die speelkamer uit en stap teen ’n stewige houttrap op. Iewers huil ’n baba.
“Hoeveel kinders het u?”
Staal gaan staan. Hy haal moeilik asem. Hy is oorgewig.
“Net Maria. Dis haar baba wat jy hoor. Dis een van die redes waarom ek wil hê jy moet haar opspoor.”
“Een van die redes?”
Staal haal sy skouers op. “My vrou is baie siek. Kanker. Sy het nie baie tyd oor nie. Ek wil graag die gesin bymekaar hê voor sy gaan.”
“Ek neem aan Maria is nie op goeie voet hier weg nie?”
“Ja. Ons het rusie gehad.”
Hy draai om en stap verder. Ons gaan by sy studeerkamer in. Ek sien hy het ’n rekenaar op sy lessenaar. Baie boeke in die rak teen die een muur. Heelwat godsdienstige titels. Bybelbeloftes deur Eric Stander. En iets oor “Die merk van die Dier”.
Dit ruk my vlugtig terug na my laaste jaar op skool. Jacques Olivier was toe my beste vriend. Hy is dit steeds. Hy is baie vermaaklik. Op sy agttiende verjaarsdag het Jacques skielik ’n wedergebore Christen geword. Hy het kerkdienste by ’n eienaardige kerk begin bywoon. Voor die kerk was daar ’n reuse-veselglasfakkel wat soos ’n roomys gelyk het.
“Hoe gaan dit daar by die Ice-Cream-kerk?” sou ek hom vra.
“Moenie spot nie. Ons leer nou juis oor die Merk van die Bees,” het Jacques geantwoord.
Dit het my ’n tydjie geneem om te besef hy praat van die “Merk van die Dier”.
Sy prediker het “The Beast” uit Engels na “Die Bees” in Afrikaans vertaal.
Ek wou my pap lag.
“Hoe gaan dit met Die Bees? Moooo!” het ek vir Jacques gebulk.
Staal maak ’n kas oop. Daar is ’n groot kluis daarin. Hy hurk en sluit dit oop. Ek probeer oor sy rug loer, maar hy is te vinnig vir my. Hy gee vir my ’n dik koevert.
“Ek dink dit behoort genoeg te wees vir eers,” sê hy. “Ek belowe jou nog baie meer as jy haar opspoor.”
“Baie dankie.”
Ek steek die koevert in my broeksak. Dis vir my snaaks dat ons nog nie een keer ’n bedrag genoem het nie. Dis die hele tyd hierdie vae beloftes en nou hierdie koevert wat ek nie eers oopskeur nie.
Tog voel ek dit sal onvanpas wees om dit te doen. Om vir Staal byvoorbeeld te sê dat ek soveel of soveel rand per dag benodig. Dis tog geld wat ek nie sou gehad het nie. En waarvoor? Om ’n meisie wat kaal geposeer het in ’n sekstydskrif op te spoor. Hoe moeilik kan dit wees?
Staal verras my by die voordeur.
“Sê vir jou skoonpa ek stuur groete wanneer jy hom weer sien.”
“Ken jy vir Jaap?”
“Ek en Jaap het aan dieselfde universiteit studeer. Ons het deur die jare kontak gehou. Ek dink nie jy weet dit nie, maar ek was op jou troue.”
Ek lyk seker verbaas, en vir die eerste keer die aand lag Staal sonder om senuweeagtig te lyk of te klink.
“My vrou en haar ma het die meeste mense genooi,” verduidelik ek.
“Dis die geval met die meeste mans,” reken Staal. “Maar ek verstaan jy sien jou skoonouers ook nie juis meer nie?”
“Nee.”
Ek is al ’n paar tree weg toe Staal weer praat.
“Jy weet, Maria was saam met jou vrou se suster op skool.”
“Ja?”
“Ja.”
Ek wag. Dis koud. ’n Koue nag in Junie in Johannesburg.
Ek wag dat Staal iets sê van Roelien se suster. Of iets van Roelien. Iets soos: “Ek was ook op jou vrou se begrafnis.”
Maar hy doen dit nie.