Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 15

Die vlinder

Оглавление

Iewers het ek die adres van ’n webwerf gekry waar ’n mens kaart kan speel. Ek speel ’n paar hande en word steeds deur die kaarte geteister toe ek by Warren Jevon se klein, metaalblou BMW inklim.

Toe ek die webwerf oopgemaak het, het ’n lelike oog my vanuit die skerm aangegluur. Ek is gevra om een kaart te kies uit die vier wat op die skerm verskyn het. Hierdie kaart moes ek onthou. Ek kon dit selfs neerskryf indien ek bang was dat ek dit sou vergeet. Die oog het toe belowe dat hy die kaart wat ek gekies het, sou laat verdwyn.

Ek het ’n kaart gekies en toe die oog weer drie kaarte op die skerm geflits het, was myne die een wat weg was!

Ek het dit ’n paar maal probeer en het die rekenaar taamlik bewerig afgeskakel. Allerhande dinge het deur my brein gegaan – as iemand só iets kan regkry, wat nog? En hoe doen hulle dit? Kyk hulle nou vanuit ’n rekenaar in my brein?

“Wat pla jou?” vra Jevon na ’n paar blokke.

Ek vertel hom van die kaartspel.

“O, dis maklik,” reken hy.

“Ja?”

“Hulle gee jou vier kaarte, jy kies een, dan gee hulle jou drie ander kaarte. Dis net logies dat jou kaart nie daar sal wees nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Skryf al vier die kaarte neer wat hulle jou volgende keer gee. Byvoorbeeld, King of Hearts, Ace of Spades, Jack of Clubs en Tien van Diamante. Nou kies jy ’n kaart, sê maar die Jack. Nou verdwyn die kaarte en hulle gee kamstig die drie oorblywende kaarte, maar as jy dit neerskryf, sal jy sien dis drie heeltemal ander kaarte. Dit lyk amper dieselfde as jy vinnig kyk, maar die King Of Hearts, die Ace of Spades en die Tien van Diamante het ook verdwyn. Dis net ’n truuk.”

“Cheeeeee …” kerm ek, vernederd.

“Jy moenie ’n duiwel agter elke bos uitskop nie, Dirk,” lag Jevon.

“Watter duiwel?” vra ek droog. “Ek dog hy bestaan nie.”

Dit ruk Jevon onmiddellik weer terug in sy propaganda-rat en hy sê vinnig: “Dis reg, hy bestaan nie. Ek het al voorheen gesê die duiwel is iets wat deur die Christene geskep is. Hy is deur hulle geskep om hulle god goed te laat lyk. As jy hulle Bybel lees, sal jy nie die duiwel in die Ou Testament vind nie. In daardie stadium het die Jode geglo hulle god is goed én sleg. Dis eers later dat hulle besluit het dat hulle god net goed kan wees, en dat die bose dinge van iemand of iets anders moet kom. En voilà! Die duiwel is gebore.”

Die vierde beweging van Mozart se Simfonie no. 39 is in sy kar se CD-speler aan die gang. Ek’s nie heeltemal lus vir ernstige diskussies oor die duiwel nie, en probeer sarkasties die onderwerp verander deur na die musiek te verwys.

“Jy is besig om die stereotipe te verbreek.”

“O, ek het heavy metal, maar ek is nie nou in die bui daarvoor nie.”

Ons praat bietjie oor musiek, oor hoe heavy metal deur baie mense as sataniese musiek beskou word.

“Duiwelsmusiek,” lag ek. “Oeps, het vergeet, hy bestaan nie.”

“Dis bisar,” mymer Jevon.

“Wat?”

“Hoe groot iets wat nie bestaan nie, geword het. Die duiwel. God.”

“Dis snaaks dat jy dit sê. Net voor jy my opgelaai het, het ek ’n e-mail van ’n vriend ontvang, en ek quote vir jou: Die Switserse filosoof Denis de Rougemont reken die duiwel se grootste truuk is om ons te laat glo dat hy nie bestaan nie.”

“So, jy het ons ontmoeting met iemand bespreek?”

“Ja.”

“En hierdie vriend van jou, is hy ’n foendi?”

“Soort van. Hy was al in die malhuis.”

“Dan is hy gekwalifiseerd!”

Ons lag. “Maar wat dink jy van die filosoof se statement?” vra ek dan.

“Ek dink hy is waarskynlik ’n Christen, of dalk werk hy vir die Christelike kerk. Die Christelike kerk stuur ook propaganda die wêreld in, onthou.”

“Jy laat dinge baie complicated klink.”

“Jy weet dit is. Baie invloede het oor die jare ineengevloei om die duiwel te laat ontstaan. Kyk na die duiwel vandag – jy kry hom in die movies en in boeke en in allerhande dinge, daar is ’n hele industrie wat floreer as gevolg van die duiwel.”

“Jy sê daar is nie ’n duiwel nie. Maar waarom is die duiwel dan so ’n integrale deel van satanisme?”

“Wie sê so? Nie die ware sataniste nie, my vriend.”

“Wat van die bok se kop … die horings en rituele wat algemeen in die satanistiese praktyk is?”

“Ek moet weer beklemtoon – jy kry verskillende kultusse in elke geloof. Ek kan net van my eie groep praat.”

Ons stop by ’n hek. ’n Sekuriteitsman stap na Jevon se kant toe. Jevon gee vir hom ’n kaartjie. Die elektroniese hek gly oop en ons word ingelaat.

“Lifestyles of the rich and famous …” koggel ek. “Wie se partytjie is dit?”

“Die een of ander internet-tycoon s’n. Haai, jy kan hom van daardie kaartspel vertel!”

“Baie snaaks …”

Terwyl Jevon die kar parkeer, trek hy weer los: “Nog iets oor die duiwel, en ek belowe jou dit is my laaste woorde oor die onderwerp vanaand aan jou, is dat hy baie goed was vir die Christelike geloof. Dink daaroor. Sendelinge en Christen-dominees gebruik hom al vir eeue om mense mee bang te maak. En soos die tyd verbygegaan het, en die Christelike kerk gegroei het, is elke ander geloof op aarde al deur die Christelike kerk, wat bang was en steeds bang is dat hy sy mag sal verloor, as van die duiwel gebrandmerk. Ek hoef nie aan jou te vertel hoeveel mense deur die jare weens die Christene se gekheid gesterf het nie.”

Ons gaan by die enorme huis – dit lyk meer soos ’n vakansieoord of hotel – in. Klassieke musiek. Dit volg my teen ’n trap op. Van bo af kyk ek op ’n binnehof neer en op ’n byna volle simfonie-orkes. ’n Bewerige oupa swaai die stokkie en ’n dik vrou sing “Die vlinder”, een van my gunsteling-stukke, geskryf deur Ernesto Köhler.

Ja, daar is kunsbome met stringe gedraaide liggies om en ’n regte spuitfontein. ’n Lekker buzz. Baie mense. Party mooi, ander nie. Almal in duur klere.

Nie ek nie. Ek het my kakie-langbroek, ’n groen poliësterhemp en my lang, verweerde bruin leerbaadjie aan. Ek het darem vir die eerste keer in weke my swart leerskoene gepolish.

Omdat ek al jare ’n joernalis is, voel ek nie onwelkom nie. Ek meng met die mense, luister na die skinderstories en geniet die versnaperinge en die drank. Dit is mos gratis.

Jevon, sien ek, is ietwat van ’n kuriositeit. ’n Klompie mense drom om hom saam en hang aan sy lippe. Maar hy het nie heeltemal dieselfde impak hier as die ander aand by die klub nie. Ons twee is nie ’n Siamese tweeling nie, dus los ek hom met ’n oogknip om sy satanistiese sales-pitch te doen.

Ek bevind my op die boonste vloer waar ek my verlustig in stille observasie. Dan sien ek haar. Sy is besig om met die trap op te kom. Alleen. Sy is kleiner as wat ek gedink het sy is, dun in ’n swart minirokkie – dankie tog vir verwarmers! Sy lyk baie wit, maar nie broos nie. Sy kom aangestryk soos ’n model op ’n loopplank, en koppe draai. Ek voel my are klop en warm bloed laat my vel opgewonde kriewel. Ek sien haar donkerblou oë, maar sy sien my skynbaar nie. My bene is wyd geplant in ’n vertoning van arrogansie, maar dis nie hoe ek voel nie. Ek het al met leiers van lande, bekroonde akteurs en aktrises – en erger – gepraat. Ek weet hoe om koelkop te bly.

Buitendien, ek is reg langs die kroeg, so ek het hulp. En dis die kroeg waarheen sy mik.

“Is jy reg?” vra ek myself. “Hierdie is dalk jou enigste kans. Moenie dit verbrou nie.”

Ek kyk in haar gesig terwyl sy by my verbystap. Sy ignoreer my.

“Vodka met lime en lemonade,” bestel sy by die kroegman.

Ek draai my kop asof ek haar vir die eerste keer sien. Sy kyk nou na my. Ons oë vind mekaar. Sy kyk weer weg, na die kroegman wat haar drankie meng. Ek hou aan om na haar te kyk en praat eers toe sy haar drankie vat.

“Jy was saam met ’n vriendin van my op skool.”

Sy kyk na my, verbaas.

“Regtig? Wie is jou vriendin, en wat maak dit so spesiaal?”

Ek merk ’n fyn glimlag en belangstelling in haar oë.

“Ansie de Bruyn. Haar van is nou Welgemoed. Ek weet nie of dit vir jou spesiaal is nie, maar ek is so verbaas om jou in lewende lywe te sien, dat ek gedink het ek sal jou vertel.”

Sy glimlag. Skud haar kop effens.

“Ansie de Bruyn? Wanneer het jy met haar gepraat? En waarom oor my?”

“Ek het haar ’n paar dae gelede gesien. Ek was met haar suster getroud. Ons het oor jou gepraat, want ek het daardie fantastiese foto’s van jou in daardie tydskrif, waarvan ek liewer nie die naam sal noem nie, gesien.”

“Jy kan maar die naam sê,” giggel sy.

“Puik foto’s,” mymer ek. “En smaakvol gedoen.”

“Watter een was vir jou die smaakvolste? Die een waar ek wydsbeen op die stoel sit, of die een waar ek ’n wawiel maak?”

Ek lag saam met haar. Sy vat terterig ’n sluk van haar drankie en vee ’n paar hare uit haar oë. Nou eers merk ek haar gebreklike hand op. Die een sonder die glas. Die arm is dieselfde lengte as die ander een, dis net die hand … in plek van ’n hand is daar ’n stuk vleis so groot en gevorm soos ’n groterige gholfbal, en op dit, vyf balletjies – soos ’n baba se toontjies. Daar is ’n tatoe op die bokant van haar vreemde hand.

“Nice tatoe,” sê ek en neem haar gebreklike hand in my heel normale hand. Die tatoe is ’n drakie. Soos die een op die Walliese vlag.

Sy laat my toe om na die tatoe te kyk. Dan trek sy haar, uh, hand stadig uit myne. Ons oë ontmoet weer.

“Wat het Ansie van die foto’s gesê?”

“Sy was natuurlik jaloers op jou mooi lyf, wat anders?”

“Ek sal haar graag weer wil sien. Het jy haar nommer?”

“Ja, maar nie hier nie. Ek sal dit later vir jou gee.”

“Goed. Later.”

Ons kyk veelseggend vir mekaar. Dan kyk sy rond, skynbaar verveeld. “Saam met wie is jy hier?” vra sy.

“Ek het saam met ’n ou met die naam Warren Jevon gekom. En jy?”

Sy ignoreer my vraag. Lyk bietjie verbaas.

“Warren? Ken jy hom?”

“Nie eintlik nie. Ek het hom maar onlangs ontmoet. Hy gaan my dalk help met ’n boek waaraan ek werk.”

“O? Is jy dan ’n skrywer?”

“Eintlik ’n joernalis. Maar ek het darem al een boek geskryf.”

“O? Wat?”

“Occult Phenomena in South Africa. Part One.”

“Het jý dit geskryf? Wow! Dan is jy mos Dirk Steyn!”

Nou is dit my beurt om verbaas te wees. “Moenie vir my sê jy het dit gelees nie …?”

“Ek het. Wow. Great. Cheers.”

Ons klink glas. Ek voel soos ’n pas gekroonde wêreldkampioen, ten spyte van die vervelige stuk musiek wat die orkes nou speel.

Maria trek ’n gesig. “Shit, hier gaan niks aan nie. Kom saam met my, dan gaan luister ons na regte musiek.”

“Fok, ja,” sê ek dadelik. “Het jy ’n kar?”

“Jy sal sien,” sê sy skalks.

Terwyl ons deur die straat donder, weet ek nou waarom sy so windgat was oor haar kar. Dis ’n klein BMW Z3. En sy weet hoe om dit te bestuur met haar snaakse handjie. Ons skiet deur oop ruimtes soos in ’n rekenaarspeletjie. Die kar lewe met, vir my, onbekende stemme. Nine Inch Nails (het Maria geskree) bedreig my sinne. Ek maak my skouers reguit en baklei daarteen en begin dit geniet. Met hierdie tipe musiek durf jy nie net oorgee nie, want dan eindig jy op straat, of in ’n sloot. Dis bangmaak-musiek. Dis soos brandwurms in jou oor. Nee, soos ’n skop tussen die bene.

Ek word ’n akteur, een wat weet wanneer om te praat en wanneer om te maak of ek luister.

Gou is ons aan die dans. Hierdie is nog ’n plek waarvan ek nie geweet het nie. Klomp mense wat rondspring. Ons drink bier en skree en lag.

Nou in my slaapkamer. In die sitkamer het ek Patti Smith se Easter gekies. Musiek wat Maria nie ken nie.

“Fokken great!” het sy uitgeroep toe die eerste lied gespeel het – “Till Victory”.

Duane was nêrens te sien nie. Dankie tog.

Die tweede lied: “Babeloque”. Patti Smith op haar beste. Die hande wat haar aanhits om beheer te verloor en soos ’n sjamaan haar gedig uit te spoeg.

Seks op Maria se gesig. Dus: “Rock ’n’ Roll Nigger”. Die dringende kitare het ons in mekaar se arms gedryf.

Nou in my slaapkamer. Ek trek my klere uit en staan kaal voor haar. Sy kom na my toe en liefkoos my liggaam. Ek weet ek lyk skaflik, want ek oefen ten minste twee maal ’n week met gewigte.

Ek soen haar nek en dan haar mond. Sy proe na sigarette en bier. Sy glip uit haar klere en gaan lê op haar rug op die bed. Sy druk haar borsies met haar heel hand. Die ander een seil af na haar donker strepie pubiese hare. Haar toonvingertjies tussen haar bene. Ek hoor haar asemhaling. Dis die mees erotiese ding wat ek nog beleef het.

101 Bakgat maniere

Подняться наверх