Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 11

Warren Jevon

Оглавление

Twee-uur in die oggend. My leerbaadjie hou die koue darem effens uit. Maar my gesig voel vreeslik. Ek wonder of ’n mens se oë kan vries en bars, soos ysblokkies.

Ons is naby die Pretoria-stasie. So paar jaar gelede het ontstoke pendelaars die stasie afgebrand omdat die trein laat was. Kan nou doen met so ’n vuurtjie.

“Hier op,” beduie Duane.

Ek volg hom agterom die donker gebou en teen ’n metaaltrap op. Hy het ’n ligbruin corduroy-baadjie met ’n wollerige wit kraag aan. In die dowwe straatlig lyk sy hare skielik groen.

Dit was ’n lang dag waarin ek hom vermy het deur in my kamer te bly en te lees. Hy het musiek geluister en televisie gekyk.

“Ons sal moet wag tot vanaand,” het hy gesê. “Jevon kom nie uit sy gat voor donker nie.”

“Waarom gaan ons nie net na sy gat toe nie?”

“Wil jy hê ek moet help, of nie?”

“Okay, ons doen dit op jou manier. Dis tog waarom ek jou hierheen laat kom het.”

Hy was steeds ongelukkig met my. Dit kon ek sien. En die vorige nag, na ons van die lughawe af gekom het, het ek gehoor hoe hy in sy slaap kerm.

Ek kon ook nie juis slaap nie. Ansie se SMS’e het my irriteer: WAAROM ANTWOORD JY NIE, DIRK? HET ONS LIEFDE-MAAK DAN NIKS BETEKEN NIE?

Maller as haar papegaai. Fok-itttt …

En ja, ek was verbaas oor Duane se reaksie. Ek het nie gedink dit sou vir hom ’n groot ding wees om my ’n bietjie aan sy ou vriende voor te stel nie.

Wat hy oor my werk gesê het, het ook by my gespook. Dit is so, ek weet nie regtig iets oor die okkulte nie. Die boek wat ek daaroor geskryf het, is grootliks ’n sameflansing. Ja, ek het heelwat navorsing gedoen – uit ander boeke. Dis nie asof ek al ooit self ’n bonatuurlike avontuur beleef het nie.

“Is jy reg?” vra Duane. Ons is aan die bopunt van die trap.

“Ja,” antwoord ek, effens onseker van wat om te verwag. Duane was nie baie spraaksaam op pad hierheen nie.

Hy stoot ’n houtdeur oop. Skielik hoor ek die musiek. Ons is in ’n kort gang en dan stoot Duane nog ’n deur oop. Nou slaan die musiek ons. BOEM-BOEM-BOEM!

Ons stap in ’n stampvol vertrek in. Die ligte is helder en ek sien dit is meestal mans. Hulle dans met mekaar of staan by die lang kroegtoonbank en gesels. Party vry met mekaar.

Daar is ook ’n paar vroue. Wat dans. Of gesels. Of met mekaar vry. Duane kry vir ons ’n gaatjie by die kroeg. ’n Vetterige kêrel met krulhare en ’n bril met dunnerige, langwerpige glasies staan nader. Hy uiter skril arias soos ’n Maria Callas. Sy mond lag terselfdertyd. Die klank skeur deur die onmiddellike omgewing. Dan, skielik, sing hy nie meer nie. “Wat sal dit wees, menere?” vra hy ons.

Ek is sprakeloos voor die absurde diva. Duane stamp aan my. “Whisky? Johnnie Walker Red Label?” Ek knik.

“Twee dubbels,” bestel Duane en trek die beker water nader.

“Watse plek is dit dié?” vra ek sodat net hy kan hoor terwyl die kroegman ons drankies skink.

“Jy kan mos sien?”

“Moffies? Sal ons Jevon hier kry? Is dit sy uithangplek?”

“Blykbaar, ja.”

“Is hy dan ’n moffie?”

“Bi.”

Ons koppe is na aan mekaar, want die geraas is regtig kwaai. Ons whisky kom en ek betaal. “Hou die kleingeld,” sê ek vir die kroegman.

“You must be an angel,” koer die kêrel en by wyse van bedanking uiter hy ’n kort, priemende kreetjie. Verskeie mense skater van die lag en praat oor hom. Ek neem aan hy is een van die groot aantrekkingskragte, ’n soort frats van hierdie sirkus.

“Wat is dit hierdie?”

“Trance.”

“Trance?”

“Trance-musiek.”

“O.”

Ek kyk weer bietjie rond, skrikkerig om iemand se oog te vang. Dis die eerste keer dat ek in ’n gay-klub is, sover ek weet. Baie spieëls.

“Ek het gedink dit sou donker wees.”

“Hoe bedoel jy?”

“Donker. Ek dog sataniste hou van die donker.”

“Dis mos ’n gay-klub, nie ’n sataniste-klub nie,” sê Duane en verskoon homself.

“Wag, moenie my alleen hier los nie,” sê ek effe paniekerig en voel dadelik verspot. Tog draai ek my rug na die mense en gluur na die spieël in die bottelrak. Ek sien niemand steur hulle eers aan my nie. Ek is seker nie mooi genoeg nie. Ek trek die ander kroegman se aandag. Dit lyk of klink darem nie of hy ook wil snaaks raak nie. Dans net so bietjie met die heupe.

My tweede whisky is half toe Duane terugkom. Hy sit sy hand op my skouer en fluister: “Ek het hom gekry. Kom.”

“Hier’s jou whisky,” sê ek en gee sy glas aan. Hy verdun dit nie soos gewoonlik met water nie, maar slaan dit net so weg. Ek maak my drankie ook klaar en volg hom.

Ons stoot ’n paadjie en ’n deur oop en nou is ons in ’n donkerder vertrek. Die musiek is sagter. Minder mense. Duane stap na ’n skemer hoek. Ek tel agt mense daar op bonkige leerstoele en ’n bank. Dis duidelik wie die grootmeneer is. Dis ’n kaalkopman in swart. Swart leerbroek en swart langmouhemp met ’n ronde kragie. Swart snor wat aansluit by ’n swart kenbaardjie. Donker oë. Ek voel half lus en sê: “Ag, jy is nie ernstig nie, wat ’n cliché …” Maar die man se intensiteit is van so ’n aard dat ek die gedagte onmiddellik uit my kop dwing. Hy sit diep in die leerstoel, met ’n donkerkopvrou op elke leuning. Op die tafel voor hom is ’n asbak waarin sy seroet smeul. In sy een hand is ’n glas met iets wat soos whisky lyk. Sy ander hand kielie die een vrou se rug.

“Dirk, laat ek jou voorstel aan Warren. Warren, dis my broer Dirk, van wie ek jou nou-nou vertel het,” sê Duane en staan weer terug.

Jevon sit sy glas neer en steek sy hand uit. Ek buk effens en neem dit in myne. Dis koud. Hy bly sit. Sy donker oë kyk belangstellend na my. Hy kyk my in die oë. Dan glimlag hy.

“Dirk,” sê hy en ek is intens bewus dat hy nog steeds my hand vashou, “Duane sê my jy soek na iemand.”

“Dis reg,” sê ek en onttrek my hand. Hy laat sy hand ’n rukkie in die lug hang en laat sak dit dan stadig.

“Ek het vir Duane gesê julle twee moet môreaand daar na my plek toe kom. Dan kan ons gesels.”

“Dankie.”

“Gaaf. Dan sien ons mekaar weer.”

Duane vat my aan die arm. Ek kyk na hom. Hy knik met sy kop deur se kant toe.

“Okay. Bye,” sê ek en stap saam met Duane weer die warboel van die dansende vryers in. Duane is duidelik klaar gekuier in die klub. Hy gaan by al die deure uit en af teen die metaaltrap. Ons is weer in die koue.

101 Bakgat maniere

Подняться наверх