Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 8
Moeder, my moeder
ОглавлениеIn die meeste flieks sien jy hoe die held daarop konsentreer om die krisis op te los. Hier, in die werklike lewe, moet ek myself ook nog bemoei met familiesake. Ma het vroeër gebel. Sy het ook geld nodig. Dis eintlik waarom ek Duane gehap het.
Dit voel party dae vir my of ek vir die welsyn werk. Toe Roelien en die tweeling nog gelewe het, het ek my geld ook nooit gesien nie. Tussen Roelien, my ma en Duane, het dit vinnig verdwyn. Nou is Roelien en die tweeling weg, maar dit help nie veel nie. Daar is nog altyd Ma en Duane. En die mongool.
“Moenie my alleen los nie, Dirk,” sê Ma elke keer wanneer ek waai. “Moenie jy ook wegloop nie.”
Ek was 12 jaar oud toe my pa weggeloop het. ’n Paar jaar later het Duane in sy voetspore gevolg. Hy was maar net ’n laaitie. Ons twee het deur die jare kontak gehou, maar hy praat nie meer met Ma nie. Te skaam.
’n Ruk sit ek net in die kar voor die ou huis. Vanaand voel ek hartseer omdat ek so oud is soos ek is. Waar’s die dae? Waar’s die sorgelose dae toe Ma gewerk het en ons net gespeel het?
Ons … ek en Duane. Nie die mongool. Ma se laatlammetjie. Een van die redes waarom Pa gevlug het. ’n Stadige kindjie. Dom oë wat ver van mekaar af sit. Groot kop met ’n weird haarstyl. Ma knip nou nog haar hare. Die mongool kom omtrent nooit uit die huis nie. Al wat sy doen is eet, poefies, TV kyk en doedoes.
Die mongool is dalk baie slimmer as ek. Dit klink na ’n bargain.
Ek klop nie. Die deur is nie gesluit nie. Die mongool sit voor die TV. Weereens kry ek bevestiging dat sy wel ’n idioot is, soos die dokter destyds gesê het. Want sy kyk na ’n program waar ’n ou aan drie dames vragies stel om sodoende te bepaal watter een sy gunsteling, sy sielsmaat, is. Dan is hulle veronderstel om te trou en vir ewig en ewig gelukkig saam te wees.
Die mongool glimlag. Ook nie meer ’n kindjie nie, nè …
Verby haar na Ma se kamer. Haar deur is toe, maar ek kniel nie en loer deur die sleutelgat soos ek eens op ’n tyd gedoen het nie. Ek klop hard en vinnig.
Ek hoor haar hoes.
“Dis ek. Dirk. Kan ek inkom?”
“Ja, Dirk.” Sy is besig om ’n sigaret aan te steek.
“Daai goed gaan Ma nog doodmaak.”
“Ja, ja.” Sy beduie dat ek moet sit. “Wat’s daar in die sakkie?”
“ ’n Geskenkie vir Ma.”
Sy vat die doos sigarette wat ek aangee.
Haar kamer is ’n nes. Stapels tydskrifte en hope klere. Baie foto’s teen die mure. Almal van jare gelede. Daar is Duane en ek met speelgoed-swaarde. Peter Pan en Captain Hook.
Buite blaf die hond. Nou blaf hy, maar toe ek ingekom het, was hy nêrens nie.
“Kom ons gaan kyk,” stel ek voor, want die rook maak my naar.
Dis al taamlik donker buite. Die wit pavement special spring teen my bene op.
“Nee, man! Dis ’n skoon broek!”
“Ou Worsie, kom laat ek jou vryf,” sê Ma en voeg die daad by die woord.
Ons gaan sit op die draadstoele wat onder die afdak staan. Dis kouerig.
“Julle moet die voordeur so nou en dan sluit.”
“Waarom? Niemand sal hier iets kry om te steel of om te verkrag nie.”
“Ma sal verbaas wees.”
Ek staar na die agterplaas waar ek soveel ure gespeel het. Dis nou netjies, danksy die tuindienste waarvoor ek betaal.
Dit was nie altyd so netjies nie. Toe ons kinders was, het dit partykeer soos ’n oerwoud gelyk van al die bossies en gras. Nou en dan het Pa of Ma vir my en Duane geld belowe as ons bietjie sou netjies maak. Ons het een keer op ’n molslangetjie afgekom. Altyd op brandwurms. Reuse-sprinkane en botterspinnekoppe.
Dis of Ma kan sien ek dink aan Duane.
“Wanneer laas het jy van jou sleg broer gehoor?”
“Ek het nou-nou met hom gepraat. Hy is nog in Kaapstad. Klink my hy sukkel maar.”
“Ons sukkel almal,” sug sy.
Ek weet wat kom. Haar skouers sak nog verder.
“Kan jy hierdie maand ’n paar rand afstaan?” vra sy sag.
“Natuurlik. Hoeveel soek Ma?”