Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 17

Honde

Оглавление

Klassieke musiek in die kar. Ek ken nie die stuk nie. Dis swaar en skep ’n kriewelrige atmosfeer, want buite is dit donker. Ek ry stadig. Hoekom mag ek Jevon nie in die dag sien nie? Is hy dalk ’n vlermuis? Slaap hy in die dag?

Daar is net die stukkie pad voor my ligte. Dan is daar nog iets. Ek slaan my hak op die rempedaal. Dis ’n dooie hond. Iets swaar moes oor die dier gegaan het. Seker ’n groot lorrie. Die hele agterlyf is plat. Dis ’n bloederige gemors, maar die kop … dit is nog perfek, sonder enige letsel, regop, en die oë kyk na my en die dik tong hang by die bek uit.

Ek sit my hazards aan en klim uit. Hierdie spektakel moet ek van naderby beskou. Dit is ongelooflik. Dit is ’n kunswerk wat iewers uitgestal moet word. As ek my kamera by my gehad het, het ek nou foto’s geneem.

Dit tref my dat ek lankal nie meer met my kamera in my kar rondry nie en dis eintlik snaaks, want vir baie jare was dit my gewoonte. Dit was in die jare toe ek nog met Jacques Olivier vir die vlieënde pierings gewag het. Dit was in die tyd van die fliek Close Encounters of the Third Kind en boeke geskryf deur Erich von Däniken. Ons het daardie tyd gereeld gaan bergklim, langs damme uitgekamp, in die hoop om ’n vlieënde piering te sien. Dit was ons oortuiging dat ons spesiaal was, dalk geheime agente van die aliens, en dat hulle ons sou oppik en dat ons dan met medaljes beloon sou word vir ons werk. Wat ons werk nou eintlik was, het ons nie geweet nie. Ons het soms bespiegel dat daar moontlik kameratjies of mikrofoontjies in ons geplant is wat die aliens in staat gestel het om meer van die mensdom te leer. Of so iets.

Dit was ook Jacques se wens dat, indien hy dan nie ’n geheime agent vir die aliens was nie, daar ten minste seks-eksperimente op hom uitgevoer sou word, soos ons gelees het op sekere plaaswerkers iewers in Suid-Amerika gedoen is.

Ek het opgehou om die mik-en-druk in die kar te hou toe ek na my troue ’n duurder kamera gekoop het. Roelien het daarop aangedring dat ek die kamera in die kluis bêre wanneer ek nie uit was op ’n storie nie. Mettertyd het ek minder foto’s begin neem en meer van vryskut-fotograwe gebruik gemaak.

Ek dink Roelien het die kamera later sommer vir ’n vriendin se laaitie gegee. Hopelik is hy intussen deur aliens opgepik en in die hol genaai.

Nog honde by Jevon se plek. Die twee dobermans is vriendelik, dus neem ek aan die dwerg is op die stoep.

Ja, hy staan daar met sy monnikpakkie in die deur, en ek sweer, vannag voel ek kunstig, ek is regtig spyt dat ek my nie op fotografie toegespits het nie, want ook dit sou ’n treffende foto gewees het. Daar is ’n dowwe oranje lig wat agter die dwerg skyn. Dit laat hom nog korter lyk in die deur se raam. En jy sien nie die dwerg se gesig nie. Net die figuur wat daar staan, roerloos.

Hy lag seker onderlangs, want ek dink hy weet my hart klop nou vinnig.

Ek praat met die honde en ek praat met Arnold, maar niemand antwoord my nie. Die honde steek tong uit en draai om my en die dwerg draai sy rug op my. Ek volg hom die huis in. Hy klop aan ’n deur.

“Kom maar in!” Dis Jevon.

Arnold beduie aan my om in te gaan. Ek kyk na sy gesig. Ek wil weer sy tandjies van nader beskou, maar sy mond is toe. Sy krokodilagtige vel laat my ril. Hy stink.

Dis ’n luukse sitkamer waarin ek my nou bevind. Daar is ’n dik oranje mat op die vloer. Groot stoele en ’n enorme bank. Duur goed, dit kan selfs ek sien, en ek weet niks van meubels nie. Lekker sag, maar dit lyk stewig. ’n Lae tafeltjie in die middel van die vertrek. Bottels wyn en glase. Kerse. ’n Kaggel teen die een muur. Hoeveel kaggels is daar in hierdie huis?

By die tafeltjie, op die mat by Jevon se voete, sit Duane. Dit het my ’n rukkie geneem om hom te herken, want sy hare is nou geel. ’n Gelerige wit, en dit staan sulke puntjies. Ek weet nie of dit met haarsproei of met jel so gevorm is nie, ek weet net dit kan nie vanself so staan nie, behalwe as dit baie vuil is, en dit lyk nie vuil nie. Daar is donker oogomlyner om sy oë en sy lippe het sweerlik ’n gekleurde lipstiffie aan. Hy druk sy lippe uit, asof hy ’n soentjie soek.

Pruil Duane vir my? Ek sal hom wragtig ’n snotklap gee!

Ek is nogal verward. Aan die een kant het ek dadelik die situasie opgesom en besluit Duane het na Jevon toe weggehardloop vir dwems en … wat? Homo-liefde? Ek voel teleurgesteld. Duane is so swak.

Aan die ander kant wonder ek – vlugtig – of hy nie, wel, getoor is nie …

Hy lyk bleek. Sy oë is blou, maar niemand is tuis nie – soos die sanger David Bowie iemand anders se oë in die lied “Scary Monsters” beskryf.

Ek dink die mannetjie is definitief op drugs. Hy rus met sy regterarm en kop oor Jevon se bene. Die satanis is die ene glimlaggies, weereens in swart sodat sy hande en sy kop helder vertoon. “Hoe gaan dit, my vriend? Sit gerus.”

Ek wil vir hom sê dat ek nie sy vriend is nie, maar ek kry nie woorde uit nie. Ek sak in die stoel verste van hulle af neer en haal swaar asem.

“Hoe lyk dit met ’n bietjie wyn?”

Ek antwoord nie.

“Skink vir jou.”

Ek maak so en gaan sit weer.

“Waarom lyk jy vanaand so omgekrap?” terg Jevon my.

“Duane,” is al wat ek uitkry.

Jevon gooi sy kop agteroor en lag. Uit Duane se keel kom daar ook ’n vreemde geluid. Dis seker veronderstel om sy lag te wees, maar dit is asof dit die afwen van ’n speelgoed-hoenderhaan is. Die een oomblik het hy my nog doodstil aangestaar, die volgende oomblik het Jevon begin lag en onmiddellik het my broer se mond ook oopgegaan in ’n O en het daardie vieslike geluid daar uitgekom.

My gesig moet iets snaaks wees om te aanskou, want nou steek Jevon sy wysvinger na my toe uit en hy lag weer lekker en dit klink of daar ’n vuis vol snot in sy keel is.

Natuurlik trek Duane ook weer los met so ’n kort laggie. Jevon vroetel met sy hand in Duane se hare. Duane skuur soos ’n kat teen die donker man se bene.

“Duane, wat’s jou fokken storie?” vra ek kras.

“Moenie lelik wees met Duane nie,” waarsku Jevon vriendelik. “Jy kan mos sien hy is nou weer by my, waar hy hoort. Shame, ek het hom so gemis. Ek moet vir jou dankie sê dat jy hom weer teruggebring het Pretoria toe.”

“Maar wat doen jy met hom?”

“Hy is my special boy,” knipoog Jevon. “Jy wil dit mos nie wees nie.”

“Special boy,” prewel Duane en lig sy kop sodat dit agteroor hang, “kêkêkêkêkê!”

“Stil, jy,” fluister Jevon en sak af en soen die hoendertjie lank en vol op die sagte snawel.

Ek krimp ineen. Kyk weg. Ek het al ’n keer of wat vermoed dat Duane ’n double adapter is, maar dis nie iets waarvan ek bevestiging wou gehad het of wou gesien het nie.

Jevon draai sy kop effens sodat hy met ’n nare trek op sy gesig na my kyk. Hy maak sy mond oop en skuur sy gesig opwaarts teen Duane s’n, en die hele tyd is sy lang tong uitgesteek en lek hy oor sy spesiale seun se aantreklike gevreet.

“Nee, Here,” sê ek gebelgd.

“Wat is dit dan nou, Dirk?” vra Jevon bedaard, maar tog met ’n effense koggel in sy stem. “In die eerste plek gebruik jy die naam van ’n god waarin jy nie glo nie as ’n kragwoord, en in die tweede plek kom jou weersin vir my en jou broer se biseksualiteit sterk deur.”

“Ek het nie tyd vir hierdie bullshit nie …”

“Sit, asseblief, Dirk. Ontspan. Drink jou wyn. Vertel my wat is dit wat jou so ontstel.”

Ek sou hom graag wou aanrand, maar het sy hulp sekerlik nog nodig. “Dis beter,” glimlag Jevon. “Nou, vertel my waarom jy sê ‘nee, Here’ as jy nie ’n Christen is nie.”

Ek verwonder my aan die man se skynbare selfvertroue. Hy het waarskynlik ’n handwapen daar langs hom in die donker, of anders beskik hy oor bonatuurlike magte en kan hy my seker met sy oë brand as ek hom sou probeer gryp.

Ek sal hierdie speletjie moet speel. “Dis seker uit gewoonte,” sê ek en my stem klink skor. “Want dis regtig nie iets wat ek doen om iemand te skok nie. Dis eintlik vir my half stupid dat mense aanstoot neem as ’n mens sê ‘God’, of ‘Jesus’, of ‘Here’, en jy bedoel dit as ’n kragwoord. Want as jy daaroor dink, dis net woorde. Maar ’n mens moet ook verstaan dat toegewyde Christene nie daarvan hou nie, so waarom sou jy sulke woorde dan in hulle geselskap gebruik?”

“Ek het gesien ’n groep Christene het betoog teen dit wat hulle as godslastering beskou in rolprente.”

“Soos ek sê, dit pla my nie veel nie, maar dit raak so half stupid. Dis vir my ’n teken van ’n lui skrywer wanneer die mense in die fliek of in ’n storie oor die TV elke tweede sin begin, of elke minuut uitroep: ‘Oh, my God!’”

“En jou gevoel oor biseksualiteit?”

“Dis julle saak,” lieg ek, want dit kook in my om Duane so te sien. “Wat my eintlik ontstel, is dat Duane vol drugs is. Ek weet hy gebruik die goed, maar ek wil nie hê hy moet ’n pateet word nie.”

“Moenie jou oor Duane se dwelminname bekommer nie,” sê Jevon, en vroetel weer met sy hand deur Duane se kloskop. “Ek monitor hom noukeurig. Verstaan my mooi, Dirk, Duane is nie net my special boy nie, maar ook my slaaf. Ek sal nooit toelaat dat hy heeltemal pateties word nie.”

“Wat bedoel jy, jou slaaf? En wat bedoel jy, nie heeltemal pateties nie. Kyk na hom!”

“Daar gaan jy alweer. Raas-raas-raas. Jy moet dalk self so nou en dan ietsie neem, Dirk, dit sal jou stres verminder. Duane is my slaaf omdat hy daarvan hou om ’n slaaf te wees. Verstaan jy wat ek bedoel? Ek bind hom vas en piets hom en dwing hom om vir my goed te doen. Maar omdat ek ’n man van vele kante is, is dit nie al scene waarin hy feature nie. Ek hou byvoorbeeld ook daarvan as hy soms mooi lyk, soos vanaand, mooi soos ’n pragtige meisie.”

Ek verskuif amper ’n werwel. En nou wil ek nie verder hoor nie.

“Ek kyk jou uit, Warren, jy speel die groot kultusleier, maar ek waarsku jou, amper elke kultusleier in die geskiedenis het sy gat gesien. Vat maar vir Jeffrey Lundgren, vat vir Jim Jones, vat David Koresh. Hulle almal het hul gatte gesien. Lundgren is lewenslank tronk toe gestuur en Koresh en Jones het selfmoord gepleeg. Jy moenie dink jy is so spesiaal nie.”

“Ai, ai, ai, Dirk, ontspan. Ek sê weer: ontspan. Drink jou wyn. Jy ken my nie en jy ken nie jou eie boetie nie. Ek wonder of jy jouself ken. Komaan, Dirk, vertel my waarom is jy vanaand hier. Waarom is jy regtig hier?”

“Ek is hier omdat ek Maria soek en omdat ek wou kom kyk wat gaan aan met Duane.”

“Is dit so, Dirk? En jy verwag ek moet my vingers klap en dan is Maria weer by jou. En jy dink jy kan jou voorkop op ’n plooi trek en dan sê ek toemaar, hier’s Duane, vat hom saam met jou. Ek het vir jou gesê ek soek iets in ruil vir Maria, onthou? Wel, ek het besluit ek sal vir Duane vat.”

Ek kyk in Duane se dowwe oë en skielik wil ek net uit. Hy lyk nie na iemand wat meer wil lewe nie. Ek besef weer ek ken hom nie baie goed nie. Daar is duidelik baie dinge waaroor ons nooit eerlik gesels het nie. Ek voel skuldig oor my broer. Hy het gesê ek moes hom nie laat kom het nie. Maar dis nou te laat. Ek sien myself nie as ’n superheld wat gaan opspring en Jevon stukkend slaan, Duane gryp en voor die kwaai dobermans vlug nie. Ek haat myself, maar wat kan ek nou juis doen?

“Wat van Maria?”

“Sy sal terug wees.”

“Terug? Waar?”

“By jou plek. Sy sal daar wees vir ’n tweede skeppie, want sy dink jy is beroemd.”

101 Bakgat maniere

Подняться наверх