Читать книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger - Страница 14

Jacques Olivier

Оглавление

Ek beskou Jacques Olivier as ’n vriend, hoewel ons mekaar byna nooit sien nie. Ons kommunikeer gereeld per e-pos, en praat miskien een keer per maand met mekaar oor die telefoon.

Jacques het ’n velsiekte wat hom soos ’n getatoeëerde man laat lyk. Hy drink verskriklik baie en is omtrent ’n kluisenaar. Hy is taamlik briljant op sekere gebiede en bou glo webwerwe vir ’n lewe.

Jacques is ook ’n kenner van sielkundiges. Hy het my al vir ure lank vermaak met sy staaltjies oor sy besoeke aan hulle. Van hulle het al vir hom probeer bid.

“Daarvoor kan ek mos na ’n dominee toe gaan,” reken Jacques.

En hy gaan dan soms inderdaad na dominees of pastore toe sodat hulle vir hom kan bid en die drankdemoon uit hom kan dryf.

Dit het nog nie vir langer as ’n week gewerk nie. Maar dit gee hom darem iemand om mee te praat. Sielkundiges en dominees. En prostitute. Hy gee ook heelwat geld uit op prostitute, vertel hy my.

Ek was veronderstel om later na sy huis te gaan vir ’n drankie, en nou sal ek dit moet afstel.

Dis nog iets wat nie met daardie Hollywood-helde gebeur nie. Die draaiboekskrywers kan nie toelaat dat vriende – wat nie ’n spesifieke rol te speel het in die storie nie – ons held (of die fliekganger) se aandag aflei van die taak op hande nie.

Maar hierdie is die werklikheid, en my vriend is net so deel van my lewe soos my ma. Ek kan nie maak of hulle nie bestaan nie. Ek kan hulle nie ignoreer en net op Die Groot Avontuur konsentreer nie.

Dus stuur ek ’n e-pos aan Jacques en ek probeer geheimsinnig wees sodat hy moet besef dat ek iets belangriks het om te doen. Ook natuurlik net om hom so bietjie uit te freak.

Nie vanaand nie, Jacques. Ek het onverwagse werk om te doen. Ken jy die duiwel, meneer? Ken jy vir Satanus Rex? Ek en hy gaan vanaand ’n bietjie dans, meneer.

101 Bakgat maniere

Подняться наверх