Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 11

7

Оглавление

Junie 2001

Lila skuif die getinte bril ’n entjie hoër op haar neus en druk liggies aan haar lang blonde krulle voor sy agter die dobbelmasjien inskuif.

Vandat die GrandWest-casino sy deure verlede jaar in November geopen het, is sy weekliks hier. Die flitsende liggies, die getjieng van munte en die geroesemoes van stemme het haar dadelik bekoor. Daarby is geld nie vir haar ’n probleem nie.

En vandat sy stiletto’s en kort rokkies met uitdagende lae halse dra, kýk die mans na haar. Sy geniet die aandag terdeë. Dis veel meer opwindend as om haarself in die plaashuis te sit en bejammer.

Haar genoegdoening oor ou Knoetze se dood het gouer verdwyn as wat sy gedink het. Daar was geen geregtelike gevolge nie. Volgens die lykskouing was sy nek morsaf van die val, en Sanna was tydens die polisie se ondersoek ’n geloofwaardige getuie dat die voorval ’n tragiese ongeluk was.

Maar Lila se saai bestaan het haar mettertyd ingehaal. Sy het in ’n put van depressie verval. Om finansieel onafhanklik te wees en alles te koop wat haar hart begeer, was nie meer genoeg nie. Haar selfbeeld het op die grond gesleep. Sy was steeds Lelike Lila Liebenberg, wat in die verlede net goed genoeg was om ’n kindermolesteerder se drange te bevredig.

Sy het ’n kluisenaarsbestaan gevoer in die kasarm van ’n huis. Deur ’n korrespondensiekursus het sy haar matrieksertifikaat gekry, maar daarna was die lus vir leer verby. In ’n stadium het sy dit oorweeg om die huurkontrakte vir die wingerde op te skort en dit self as ’n wynplaas te bestuur. Maar dit sou te duur wees om ’n kelder in te rig, het sy gou besef, en sy het te min kennis van boerdery en wynmaak.

Sy het haar dae verwyl met inkopies, TV-programme en deur na rolprente op die videomasjien te kyk. Sy het spanningsromans en tydskrifte verslind. Maar uiteindelik het dié doellose bestaan haar grondeloos verveel.

Toe sy op ’n dag in die koerant lees van die nuwe casino in Goodwood, het sy besluit om vir die pret te gaan dobbel. Dit sou ’n welkome uitkoms bied – iets wat sy op haar eie kan doen sonder om van ander se geselskap afhanklik te wees.

Die opwinding wat sy ervaar wanneer sy wen, het haar gou verknog gemaak aan dobbel. Of sy by ’n blackjacktafel of ’n slotmasjien sit, dit maak nie saak nie. Die adrenalien wat deur haar are bruis, verdryf al haar sorge. En omdat dobbel ’n spel van geluk is en geen formule vir sukses het nie, bied dit ’n soort risiko waaraan sy verslaaf geraak het.

Voor sy die eerste keer casino toe is, was haar grootste uitdaging om haar voorkoms te verander. Sy was lanklaas in ’n sosiale omgewing en was bevrees dat mense haar snaaks sou aankyk. Dat sy weer dieselfde vernedering as in haar skooldae sou ervaar. Die letsels wat sy daarvan oorgehou het, was nog ver van genees.

Sy het geweet Lelike Lila Liebenberg het ’n drastiese makeover nodig.

Vir plastiese chirurgie het sy nie kans gesien nie. Die beeld van Naomi se geskende gesig het in haar onderbewussyn bly steek. En chirurge kan boonop nie sukses waarborg nie, het sy in ’n tydskrif gelees. Die artikel het gewys hoe snywerk aan mense se gesigte sleg skeefgeloop het met neuse wat platval en oë wat onnatuurlik wyd gesper is. Nee, sy sou net ’n groter spektakel van haarself maak.

Maar sy was vasberade om deur te druk met ’n nuwe voorkoms. Nadat sy haar growwe vaalbruin hare tot teen die kopvel afgeskeer het, het ’n blonde pruik, getinte bril en die kreatiewe aanwending van grimering wondere verrig.

Haar grootste bate, haar sexy lyf, het sy geklee in die karigste kledingstukke wat die noordelike voorstede se boetieks kon bied. En ná baie moeite en talle proefnemings was sy omgetower in ’n skaflike Marilyn Monroe.

Reeds op haar eerste aand by die casino kon sy agterkom haar makeover was ’n reusesukses. En waar sy nou hier sit, voel sy hoe verskeie pare mansoë op haar brand. As sy eerlik moet wees, verskaf dít haar selfs groter plesier as om te dobbel.

Nie dat sy kans sien vir ’n verhouding nie.

En beslis nie met ’n volwasse man nie.

Medusa

Подняться наверх