Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 17

4

Оглавление

Kassie hou voor die huis in Durbanville stil. Dis ’n indrukwekkende dubbelverdieping, spierwit mure met ’n grasdak en twee groot balkonne op die boonste verdieping.

“Hier’s genoeg bome vir iemand om ongesiens in die oprit te park,” sê Rooi.

Kassie knik. “Lyk soos ’n baie stil straat ook.”

Nelis van Tonder wag hulle by die voordeur in. Kassie skat hom iets in die veertig, ’n lang kêrel met ’n bos swart krulhare wat lanklaas ’n kam gesien het en ’n bedonnerde uitdrukking op sy gesig.

“Is julle die speurders?” vra hy sonder om blad te skud. “Ek’s nie baie beïndruk met julle nie, hoor! Gisteraand was hier ’n paar manne van die Durbanville-stasie en ná ’n oproep of twee sê hulle die Valke gaan die saak ondersoek. Ek’t tot middernag tevergeefs vir dié donners gewag. Toe kry ek vanoggend laat eers ’n oproep dat ’n sekere SGU-eenheid die saak oorvat.”

“Ja, ons is van die SGU,” sê Kassie. “Op Afrikaans die Spesiale Spookeenheid. Ons het dadelik gekom toe ons hoor die saak is nou ons verantwoordelikheid.”

Van Tonder kyk op sy horlosie. “Dis al tweeuur.”

Kassie antwoord nie. Hy verstaan die man se frustrasie goed. Hy moet angsbevange wees oor sy vrou en kinders.

Hulle volg Van Tonder die huis in en gaan sit in ’n ruim sitkamer met ’n klomp kleurvolle skilderye ingeryg teen die muur. Alles blomme en in dieselfde styl gedoen, merk Kassie. Moet seker dieselfde kunstenaar wees.

“Ons is net vinnig ingelig oor wat gebeur het,” sê hy. “So ons sal graag by die begin wil begin. Wanneer het jy verneem jou vrou en kinders is … weg?”

“Ek’t eers laat gistermiddag die boodskap op my sel gesien.”

“Soos ons verstaan, het ’n vriendin gisteroggend hier aangekom en toe agtergekom jou vrou en kinders is weg. Het sy jou nie dadelik laat weet nie?”

“Ek was op die gholfbaan in Langebaan toe Sharon my bel. My foon was op silent en in my gholfsak. Sy’t toe ’n SMS gestuur.”

Van Tonder kyk af na sy hande. “Ek en my vriende het gister ses-en-dertig putjies gespeel. Ek’t eers ná die tyd op my sel gekyk. En toe was ek ook nie regtig bekommerd nie, want Moira en die kinders gaan stap baiekeer op Sondae hier langs die dam en hou soms piekniek daar.”

Hy sluk, skud sy kop. “Toe bel ek, maar Moira het nie haar selfoon óf die huisfoon geantwoord nie. En Danie en Altatjie … my kinders … ook nie hulle selfone nie. Toe weet ek iets is fout, want die kinders gaan selde sonder hulle fone iewers heen.”

Sy oë is nat toe hy opkyk. “Hulle selfone lê bo in hulle kamers.”

“En jou vrou se foon?”

“Ek kan dit nêrens kry nie. Ek het dit probeer bel, maar die battery is seker pap.”

“Wanneer laas het jy met jou vrou gepraat?” vra Rooi.

“Vrydagaand. Ek het haar net gebel om te sê ons het veilig gery.”

“Nie Saterdag nie?”

Van Tonder stut sy kop in sy hande. “Nee. Sy’t Vrydag gesê sy sal my bel as daar ’n krisis is, ek moet van als vergeet en my naweek geniet.”

“Ons verneem iemand in die straat het ’n groot paneelwa sien wegry?”

“Ja, my buurman het Saterdagoggend in sy tuin gewerk toe hy die wit paneelwa sien. Omdat dit ’n doodloopstraat is en ons op die punt bly, het hy aangeneem dis op pad na ons toe om iets af te lewer. Kort daarna het die paneelwa weer gery. Hy dink nie daar was ’n naam op die bakwerk geskryf nie en hy’t nie na die nommerplaat gekyk nie.”

“Kon hy die bestuurder sien?” vra Kassie.

“Nee. Hy dink die paneelwa het getinte ruite, maar hy’s nie doodseker nie.”

“Het jou vrou genoem van iemand wat iets hier gaan aflewer?”

“Nee.”

“Dui enigiets in die huis op ’n inbraak?”

Van Tonder skud sy kop. “Niemand sou deur ’n oop venster kon inkom nie, daar’s oral diefwering. En Moira hou die deure altyd gesluit.”

“Niks in die huis wat op ’n worsteling dui nie?”

“Nee, maar iets was tog vreemd.” Van Tonder beduie fronsend na ’n aangrensende deur. “Moira skilder gewoonlik op ’n Saterdagoggend in haar ateljee. Die verf aan die kwas waarmee sy besig was, was kliphard.”

“Wat is vreemd daaraan?”

“Sy’s hipernetjies op haar kwaste. Sy was dit altyd deeglik as sy klaar geverf is.”

“Enige afleidings wat jy kan maak?” vra Rooi.

“Al waaraan ek kan dink, is dat sy besig was om te skilder toe die voordeurklokkie lui. Toe het sy die kwas neergesit, haar voorskoot uitgetrek en die deur gaan oopmaak.”

“Sou die kinders ook kom kyk het wie dit is?” vra Kassie.

“Gewoonlik nie, behalwe as dit ’n maat is wat een van hulle verwag. En hulle het nie dieselfde maats nie, so hulle kom nooit saam voordeur toe nie.”

Iemand kon hulle in hul kamers gaan haal het, dink Kassie, maar hy sê dit liewer nie. “Wie’t almal geweet jy’s die naweek weg?”

Van Tonder haal sy skouers op. “Nugter weet. My vrou se vriendinne dalk. Hulle klets mos maar onder mekaar.”

Kassie staan op. “Kan ons maar deur die huis loop? Ons forensiese span sal binnekort hier ’n draai maak om vingerafdrukke te neem. Ek sal ook graag jou kinders se selfone wil saamvat … as jy nie omgee dat ons na die boodskappe kyk nie?”

“Doen wat julle moet. Kry net my vrou en kinders terug!”

Daar’s ’n desperaatheid in die man se stem wat Kassie ongemaklik maak. Hierdie soort sake word selde vinnig opgelos. Daarvan is die ander nege-en-twintig vermistes ’n stille getuienis.

* * *

By die Brackenfell-biblioteek kry Zach gou ’n onbesette rekenaar. Dis sy plan om vanmiddag net friend requests uit te stuur aan die klompie kinders wat hy gisternag op Facebook geïdentifiseer het.

Hy skep eers sewe Facebook-profiele met die foto’s van Amerikaanse kinders wat hy vanoggend op die geheuestokkie afgelaai het. Hy gee vir hulle name, geboortedatums en woonplekke. Dan stuur hy vir elkeen friend requests aan sy ander honderd-en-tien vals profiele en aanvaar dit sodat die nuwes darem ’n klompie vriende kan wys. Selfs kinders is agterdogtig as hulle ’n friend request kry van iemand wat geen vriende het nie.

Volgende laai hy foto’s op die nuwe profiele van restaurantetes, sportbyeenkomste en tonele by Tafelberg en die see. Hy’t die afgelope twee jaar ’n databasis van foto’s vir dié doel opgebou.

Hy like namens die nuwe profiele verskeie flieks, bands, TV-programme, apps en speletjies wat gewild is onder tieners. Dit waarborg gewoonlik goeie resultate. Sodra kinders sien ’n voornemende vriend het dieselfde belangstellings as hulle, aanvaar hulle jou request makliker. Hy behaal meestal ’n suksesratio van vyftig persent. Saam met die jonger boeties en sussies van dié wat vir hom val, sal hy maklik twintig kinders hê om van te kies.

Die wete dat hy weer ’n vrou vir Festus moet teiken, irriteer hom grensloos. Hoewel sommige kinders aan wie hy friend requests stuur ook foto’s van hulle ma’s op hul blaaie het, is dit baie moeiliker om met volwassenes Facebook-vriendskappe aan te knoop.

Boonop het baie ma’s geslote Facebook-blaaie – jy kan eers toegang tot hulle posts kry as hulle jou as ’n vriend aanvaar. En vir Festus se doeleindes moet hy soveel moontlik inligting oor die vrou se doen en late kry. Hulle is nie altyd so gelukkig soos met die Van Tonder-vrou wat haar man se gholftrip op Facebook uitgebasuin het nie.

Daarby is Festus nog uitsoekerig ook, want dit moet kwansuis ’n mooi blondine wees. Zach snork. Dit gaan weer baie van sy tyd vreet om die regte vrou vir sy broer te kry.

Aan al die ander risiko’s wil hy nie eens dink nie.

* * *

Hy vertrek om kwart voor vyf by sy woonstel. Hy’t minstens veertig minute nodig om teen oopmaaktyd daar te wees.

Ná die stuk snelweg draai hy af in Durbanville se rigting. Hy moet nog twee keer afdraai voor hy op die grondpad is. Vyf kilometer verder stop hy by die plaashek met die bordjie wat aandui dis ’n privaat pad. Oortreders sal vervolg word, waarsku dit. Hy maak eers seker daar kom nie voertuie aan nie voor hy die slot oopsluit, deurry en die hek weer sluit. Soos elke lid het hy sy eie sleutel.

’n Kilometer verder stop hy eers in die laning bloekombome op die hoogtetjie, klim uit en bespied die pad wat na die hek lei ’n laaste keer. Hy wonder of ander lede dié instruksie ook so pligsgetrou volg.

Tevrede dat die omgewing stil en veilig is, klim hy in sy kar en ry verder met die kronkelpad af, verby die murasie wat seker vroeër ’n arbeidershuis was. Van daar af is dit ongeveer twee kilometer tot by die werf.

Hy stop by die groot ysterhekke, klim uit en druk die interkomknoppie. Terwyl hy wag, beskou hy die drie meter hoë betonmuur met die elektriese heining bo-op. Die plek is ’n ondeurdringbare vesting en dit gee gemoedsrus aan die lede.

“Ja?” kraak die stem oor die interkom.

“Nege-een-nege-sewe,” resiteer hy sy nommer, wat eintlik onnodig is. Die kamera-ogie langs die interkom het hom lankal geïdentifiseer.

Die hekke gaan stadig oop. Hy ry deur en wag eers dat dit heeltemal toemaak voor hy die huis nader. Hy weet hy word dopgehou om seker te maak hy volg die instruksies.

Nie eens sy status as erelid vrywaar hom van die reëls nie. Medusa hef groot boetes op oortredings – in daardie opsig skeer sy almal oor dieselfde kam.

Medusa

Подняться наверх