Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 15

2

Оглавление

Toe hy op agtien uit die weeshuis stap, het Boon Boonzaier gedink ’n nuwe, opwindende lewe lê vir hom voor. Hy’t nie geld gehad om te gaan studeer nie, maar hy’t geweet hy’s slim genoeg om ’n ordentlike werk los te slaan. Sy goeie matriekuitslae sou daarvoor sorg.

Hy was in sy moer in verkeerd.

Op sy tuisdorp, Brakpan, is hy net bekwaam genoeg geag om die hoofkarwag by ’n groot winkelsentrum te word.

Boon het Kaap toe getrek. Hy wou nog altyd by die see bly, en volgens sy vriende op Brakpan is daar baie beter werkgeleenthede as in die noorde van die land.

Dit was vier jaar gelede.

Sy Kaapse droom het intussen sleg platgeval. Hy’t hier en daar los werkies gekry – ’n kratpakker in die hawe, ’n seisoenwerker op ’n wynplaas in Durbanville, toesighouer oor skoonmakers by die stasietoilette in Bellville, kelner by ’n restaurant in die Kaapse middestad.

Harde, onderbetaalde werk wat nie ooreengestem het met sy visioen van vinnige rykdom en ’n sorgelose bestaan nie.

En nou is hy ’n bedelaar in die Kaap se strate, sy slaapplek snags onder brûe of op parkbanke. Hy is nou amptelik een van die duisende haweloses in die Skiereiland.

Maar hy’s ’n hawelose met ’n plan, troos hy homself gereeld vandat hy twee maande gelede die TV-program gesien het. Hy’t op daardie spesifieke dag skuiling gesoek onder ’n gebou se afdak toe sy klere ná ’n harde reënbui deurdrenk was. Bedremmeld en koud het hy deur die winkelvenster na die rye TV-skerms gestaar. Die program het hom gefassineer, en danksy die Engelse onderskrifte kon hy dit woord vir woord volg.

Dáár het sy plan begin.

Sedertdien gaan Boon elke tweede dag na die Kaapse Argief. Dis tydrowend om die magdom ou koerante deur te werk. Eenkeer was hy seker hy’t die regte geval gekry, maar ná verdere navorsing het hy teleurgesteld besef dit sal nie werk nie. Die seun was te tengerig, en hy het buitendien blonde hare en blou oë gehad.

Maar nou het sy big break in die lewe gekom, daarvan is Boon oortuig.

* * *

Daar is ’n ligte blos van opwinding op brigadier Shaheena Fortuin se wange toe Kassie en Rooi by haar kantoor instap.

Dié saak moes soos ’n reddingsgordel na haar gekom het, dink Kassie. Met haar oormaat ambisie sou sy dit nie kon hanteer as haar elite-eenheid so kort ná die stigting daarvan in betekenisloosheid moes verval nie.

Daar is ’n hoop dossiere op haar lessenaar gestapel en sy het ’n notaboek voor haar oop.

Sy glimlag breed. “Uiteindelik is ons weer in business. Net betyds ook, want die polisiehoof het al rooimiere begin kry.” Die geluksaligheid op haar gesig spreek boekdele.

“Hierdie is ’n hélse groot saak.” Sy bly ’n oomblik stil vir dramatiese effek. “Ek’t vanoggend saam met die Wes-Kaapse polisiehoof en ’n paar grootkoppe van die Valke vergader. Hulle het die saak eers hanteer, maar hulle is toegegooi met ander prioriteitsake. En hierdie saak het nou sulke afmetings aangeneem dat hulle voel hulle gaan net afskeepwerk doen. As julle my vra, is hulle te behep met die politiek, pleks daarvan om te fokus op hul kern-job van misdaadbekamping.”

Kassie wens sy wil by die punt uitkom, maar hy’t al geleer om geduldig te wees. Hy vermoed sy put heimlike genot daaruit om hulle aan ’n lyntjie te hou.

“So, dis nou óns baby.” Sy trek die notaboek nader. “Hierdie storie gaan ’n special effort van julle twee verg. Tot tyd en wyl die ander twee spanne jobs kry, kan julle hulle ook inspan. Verder sal julle met ander polisie-eenhede moet skakel.”

Sy sit haar hand op die stapel dossiere. “Die saak is boonop deur die jare deur verskillende speurders hanteer. Julle sal dalk ook by van hulle moet kers opsteek.”

Kassie knik. Kom net by die fokken kern uit, dink hy.

“Mensehandel.” Die brigadier kyk vlugtig af na haar notaboek. “Daar word geraam daar’s wêreldwyd dertig miljoen mense wat vir slawearbeid en seks en wat nie alles aangehou word. Almal het spoorloos uit die samelewing verdwyn.”

Sy leun terug in haar stoel, asof sy wil hê dié inligting moet eers insink.

“Ons hoef darem seker nie ál dertig miljoen op te spoor nie,” probeer Rooi ’n grappie maak om die ongemaklike stilte te verbreek.

Kassie loer na die brigadier. Sy vind dit duidelik nie amusant nie. Soms laat Rooi se oordeel hom sleg in die steek wanneer hy onvanpaste goed op die verkeerde tyd kwytraak, en hierdie is een van daai kere.

“Nie nou die tyd vir jou soort humor nie, Rooi,” sê sy ysig. “Dis ’n baie ernstige saak.”

“Jammer, brigadier,” mompel Rooi.

“Hierdie is gevalle van mense wat die afgelope agt jaar in die Skiereiland verdwyn het,” gaan sy voort. “Hoofsaaklik kinders, maar in die laaste tyd ook volwassenes – twee vroue. Die Valke vermoed dis die werk van dieselfde sindikaat. By twee van die onlangse gevalle is ’n wit paneelwa opgemerk. Hulle is nie seker of die ouer sake verband hou met die nuwes nie.”

“Hoeveel vermistes is daar?” vra Kassie.

“Nege-en-twintig, van wie sestien straatkinders is. Maar die afgelope twee jaar het dertien mense verdwyn wat in taamlik goeie gebiede woon, selfs rykmansbuurte. Die ouderdomme van die kinders wissel tussen vyf en dertien. Die twee vroue is albei ma’s in hul laatdertigs wat saam met hulle jong kinders verdwyn het.”

Kassie onthou nou dat hy koerantberigte daaroor gelees het.

Die brigadier tokkel met haar voorvinger op die boonste dossier. “Julle sal genoeg tyd hê om ordentlik hierdeur te werk, maar daar’s ’n dringende taak wat voorrang móét kry. Die afgelope naweek het nóg ’n vrou en haar twee kinders spoorloos uit hul huis in Durbanville verdwyn. Dit was vermoedelik Saterdag. Die vrou se man was vir die naweek weg op ’n gholfuitstappie. ’n Vriendin het Sondag by die huis aangekom om die kinders vir Sondagskool op te tel. Die voordeur het oopgestaan, maar die vrou en kinders was nêrens nie. Volgens ’n verklaring aan die Durbanville-polisie het ’n buurman Saterdagoggend ’n wit paneelwa by die erf sien uitry. Die Valke is honderd persent oortuig dit hou verband met die ander sake, want dis nou die derde keer dat so ’n paneelwa naby die misdaadtoneel opgemerk is.”

“Moet ons eers by die Durbanville-polisie aangaan?” vra Kassie.

“Nee, hulle is klaar ingelig dat ons die saak oorneem. Julle sal volledige verklarings by die huis en in die straat moet afneem en ’n nuwe dossier open.”

Sy skuif die stapel in hulle rigting. “Kêrels, dis ’n grote hierdie,” benadruk sy. “Ons eenheid se naam is op die spel. Want ek belowe julle die Valke gaan ons met valkoë dophou.”

Medusa

Подняться наверх