Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 18

5

Оглавление

Vanoggend is Boon in Tamboerskloof. Dit was maklik om die straatadres in die telefoonboek te kry, want die mense het ’n taamlik skaars van.

Hy maak hom oorkant die pad agter ’n struik tuis, maar met ’n goeie uitsig op die huis. Dis ’n paleis van ’n plek. ’n Onlangse koerantberig sê die oubaas, wat ’n bekende sakeman was, het lankal afgetree. Skatryk. En met sy enigste seun oorlede en sy kleinseun al veertien jaar lank vermis, is dit ’n ope vraag aan wie hy sy miljoene gaan nalaat. Sy vrou is boonop sieklik.

Daarom Boon se dringendheid om sy plan in werking te stel.

Maar dis makliker gesê as gedaan.

Hy sal by die huis moet inkom as die oumense nie daar is nie. En dit sal in die aand moet wees, wanneer die huishulp klaar gewerk het.

Dalk is hulle met die ou tannie se siekte aan die huis gekluister en gaan hy nooit ’n kans kry om sy navorsing te voltooi nie. En sonder navorsing kan hy nie sy plan deurvoer nie.

Die oorbekende en neerdrukkende gevoel van mislukking lê meteens swaar op Boon se gemoed.

Sy gedagtes gaan terug na sy weeshuisdae. Op twaalf was daar sterk sprake dat ’n ouerpaar hom wil aanneem. Hy was in die wolke daaroor. Maar hulle moes ’n keuse maak tussen hom en Bart. Hulle het om die beurt ’n naweek by die mense gaan bly. Boon het sy beste voet voorgesit, die vrou saans met die skottelgoed gehelp en gemaak of hy belangstel in die man se modelvliegtuigies.

Hy was seker hulle gaan hom kies, maar Bart het die groen lig gekry.

Boon kners op sy tande. Hierdie een gaan hy nie deur sy flippen vingers laat glip nie.

Van nou af sal hy net eenvoudig elke nag hier moet sit om die oumense se bewegings dop te hou. Hy kan die huis nie voltyds bespied nie, want hy moet bedags bedel om kos in sy maag te kry. Wat beteken die komende weke gaan ’n bleddie veeleisende tyd wees.

Hy glimlag wrang. Niemand het gesê rykdom kom sonder opofferings nie.

* * *

Kassie bel Sharon, die vrou wat Sondagoggend by die Van Tonders se huis aangekom het.

Sy antwoord ná ’n paar luie. Hy stel hom voor en noem die rede vir sy navraag.

Haar weergawe verskil nie van Nelis van Tonder s’n nie. Die voordeur het oopgestaan, sy het die klokkie gedruk, na Moira geroep en toe deur die huis gestap.

“Het jy geweet Nelis het die naweek gaan gholf speel?” vra Kassie.

“Ja, ek het toevallig Moira se post op Facebook gesien. Sy het nog gesê sy kan die naweek heerlik skilder, want Nelis gaan Weskus toe vir ’n gholftrip. En sy hoef nie soos gewoonlik voor die kospotte te staan nie, want anders as hul pa is die kinders tevrede met wegneemetes.”

Kassie sug toe hy aflui. Die hele donnerse wêreld het dus geweet Nelis van Tonder was weg.

“Hier’s ’n patroon, hoor,” sê Rooi langs hom. “Veral by die laaste klomp dossiere.”

Kassie het hom gevra om solank deur die stapel dossiere te werk terwyl hy die nuwe Van Tonder-dossier voorberei.

“Watse patroon?”

Rooi skud sy kop. “Wil nie te gou praat nie. Gee my eers kans om deur almal te gaan.”

Kassie kyk weer na die foto’s van die Van Tonders voor hom op die lessenaar. Sy ingewande ruk. Die dogtertjie is ’n regte patroon met ’n poniestert, breë glimlag en twee kuiltjies in haar wange. As dit sý kind was, was hy lankal van sy trollie af van bekommernis.

Die seun staar selfversekerd na die kamera. Daar’s ’n gaping tussen sy voortande en hy’s erg besproet oor die neus en wange. Maar hy’s ’n mooi laaitie, trek na sy ma. Dié is ’n aantreklike vrou met skouerlengte blonde hare en blou oë.

Kassie onthou van die SMS op die seun se foon waaroor hy Van Tonder nog wou bel. Toe hy gister die fone deurgekyk het, was dit die enigste boodskap wat hom opgeval het.

Van Tonder antwoord dadelik sy foon. “Het julle enige nuus?” vra hy hoopvol.

“Nee, ongelukkig nie. Maar ek verseker jou ons doen ons bes. Ek bel oor iets anders. Ek’t deur al die boodskappe en oproepe op die selfone gegaan. Dit lyk of jou dogter die afgelope week nie juis aktief op haar foon was nie, maar jou seun het Vrydagaand om tien oor nege ’n SMS gestuur aan ’n maat met die naam Bertie.”

“Ja, dis Danie se groot pel. Hy kom gereeld hier.”

“Die boodskap sê: ‘Kom kyk jy môreoggend na die kolwe?’ ”

“Kolwe … watse kolwe?” vra Van Tonder.

“Bertie het toe laat weet hy kan nie meer kom nie, want hulle moet vir sy tannie op Melkbos gaan kuier.”

“Kyk, Danie is ’n fanatiese krieketspeler. Hy en Bertie is albei in die laerskool se eerste span. En hy’t my al stapelgek gemaak oor ’n nuwe kolf, maar ek het nie gedink daar’s fout met sy oue nie.”

“Het jy ’n telefoonnommer vir Bertie se ouers? Ek wil die kind nie op sy selfoon kontak nie. Ek sal eerder met die toestemming van sy ouers met hom wil gesels.”

“Ek … weet nie wat Bertie se van is nie,” sê Van Tonder verleë. “Maar ek sal vinnig by die skool navraag doen en ’n telefoonnommer kry.”

“Reg, dankie.”

“Dink jy die boodskap beteken iets, kaptein?”

“Dalk. Maar moenie jou hoop te gou daarop vestig nie.”

Kassie wil nie vals verwagtinge by die man skep nie. Wat hy nie vir hom sê nie, is dat dit tot dusver die énigste leidraad is om op te volg.

En die kans is maar gering dat dit iets gaan oplewer.

* * *

Johnny check die tweetjies oorkant hom yt. Hulle het vanoggend self by hom byrie tafel kom sit.

Sy hart wil tjank. Hulle is bleek en scared. Die seun sit kop onderstebo, sy sustertjie se skouers hang terwyl sy aan ha’ kos pik.

Gisteraand se initiation het hulle gerattle en geconfuse, kan hy sien.

Wat hulle nie wiet’ie, is dat die bad-bad times nog kom. Yt experience wiet hy die nuwes word eers net gently gegroom. Dis net ’n touch hie’ en ’n touch da’. Vir two or three weeks word hulle geprepare lat hulle se private parts nie in hiérie house of horrors private issie.

En dan, o die jirre alleen weet, dan …

Johnny scheme hierie plek het hom al soft innie upper storey gemaak, want sy oë is skielik nat en die kos stiek in sy keel vas.

Hysie mee’ die tawwe street kid wat fokol traak’ie.

Hierie plek het hom hart en siel gegee.

Dis oor al die blerrie suffering wat hy hie’ moet witness.

Medusa

Подняться наверх