Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 3
PROLOOG
ОглавлениеMoira verstyf toe die solder se deur oopgaan. ’n Koue angssweet slaan op haar voorkop uit en haar liggaam begin onbeheers bewe.
Sy moet hard konsentreer om beheer oor haarself te kry. Sy wil nie haar vrees so ooglopend wys nie en neem diep asemteue om die bewerigheid uit haar lyf te dryf.
Eers kyk sy nie na hom nie, haar oë op die plafon gerig. Maar ná ’n tydjie raak die stilte te veel en draai sy haar kop na hom.
Die seun het dieselfde klere as gister aan: die gekreukelde rooi-en-blou blokkieshemp waarvan die onderste twee knope ontbreek, uitgewaste jeans vol kolle en vlekke, ’n lang winkelhaak op die een bobeen.
Hy tree vorentoe en streel liggies met sy benerige vingers oor haar linkerbors, pluk aan die tepel.
Sy krimp ineen.
Dan ruk hy sy hand weg asof hy oortree het en staan terug. Sy gelaat is bleek, die donker hangkuif skuins oor sy voorkop. Swart oë wat te na aan mekaar sit, gluur na haar. ’n Grynslag verskyn op sy gesig en ontbloot sy onversorgde tande.
Sy staal haar teen dit wat gaan kom, maar hy bly op ’n afstand en staar net na haar kaal lyf. Nie soos gister toe hy haar soos ’n uitgehongerde dier bespring het en drie keer verkrag het nie, sy vullisdromasem in haar gesig, sy sweterige hande oral op haar lyf.
“My kinders …” Sy sukkel die woorde uit deur droë lippe en met ’n tong wat aan haar verhemelte kleef.
“Waar’s my kinders?” Haar stem is skor.
Sy oë verhard, maar die grynslag is steeds op sy gesig.
’n Rilling trek deur haar. Eers wil sy wegkyk, maar besluit met groot wilskrag om sy blik te hou. Hy kan niks ouer as sestien wees nie.
Sy skraal gestalte met die knopperige skouers en lang, seningrige arms laat hom in die dynserige lig amper weerloos lyk. Asof hy ondervoed is, of tuishoort in ’n hospitaal vir ernstig siekes.
Dis presies hoe sy hom opgesom het toe sy gisteroggend haar huis se voordeur in Durbanville vir hom oopgemaak het. Hy het skaam geglimlag, onder sy kuif deur na haar geloer en met vuil vingers aan ’n hempsknoop gevroetel.
“Is Danie hier, tannie?”
“Is jy sy Facebook-vriend met die goedkoop speelgoed?”
Sy was effe ontsteld oor haar dertienjarige seun so maklik met ’n wildvreemde ’n kubervriendskap kon aanknoop. Boonop so ’n verwaarloosde skepsel.
Maar toe was Danie en Altatjie al by die deur, sedert die vorige aand bruisend opgewonde oor die goedkoop speelgoed en sporttoerusting wat hulle kan koop.
Die seun het na die groot wit paneelwa in die oprit gewys. “Alles is daarin. Julle kan kom kyk.”
Moira was dadelik agterdogtig, want sy kon nie ’n bestuurder agter die paneelwa se getinte ruite sien nie.
Maar Danie en Altatjie was al op pad soontoe.
“Tannie moet ook kom kyk,” het die seun haar nader gewink.
Dit het haar gerusgestel en sy het saamgestap.
Hy het die skuifdeur oopgemaak en opsy gestaan sodat sy en die kinders kon inklim. Binne het die paneelwa soos ’n Toys R Us-winkel gelyk.
Altatjie het opgewonde na die Barbiepoppe gewys. “Dit kos net vyftig rand, Mamma!” Op agt is poppryse haar enigste finansiële verwysingsraamwerk.
Danie het die krieketkolwe stormgeloop en een opgetel. “’n Gray-Nicolls soos ek nog altyd wou hê!”
Sy het nader gestaan om na die kolf te kyk. Met ’n prysetiket van net tweehonderd-en-vyftig rand moet dit ’n namaaksel wees, het sy gedink.
Toe klap die skuifdeur agter hulle toe.
Moira het die deur probeer oopmaak, maar dit was gesluit. Hulle was vasgekeer in die donker binneruim.
Haar gehamer teen die metaal het geen reaksie ontlok nie. Daar was net die ligte vibrasie en dreuning van die paneelwa se enjin wat aangesluit word.
Altatjie het histeries begin huil.
Moira het die speelgoed van die rakke agter die bestuurskajuit gestroop in die hoop om ’n ruit te vind, maar daar was niks. Hulle het vreesbevange saamgebondel, haar arms vertroostend om haar kinders toe die voertuig wegtrek.
Sy het probeer kophou waarheen hulle op pad was, maar het ná die vierde draaislag rigting verloor. Hulle was skielik op ’n oop stuk pad, want die bestuurder het heelwat vinniger gery.
Dit het soos ’n ewigheid gevoel, maar die reis was seker nie veel langer as ’n halfuur nie. Toe die paneelwa tot stilstand kom, het hulle voetstappe gehoor, en kort daarna stemme.
Die skuifdeur het oopgegaan. Hulle was in ’n motorhuis.
Langs die seun was ’n jong man, seker in sy middeltwintigs, met ’n rewolwer in die hand. Duidelik broers, het sy gedink. Dieselfde prominente kake, klein ogies en breë monde.
“Jy moet uitklim,” het die seun beveel. “Die kinders moet agterbly.”
Altatjie het snikkend aan haar rok geklou.
“Watse nonsens is dit?” het Moira haar braaf probeer hou. “My man sou nou al agtergekom het ons is weg. Hy sou die polisie gebel het. Hy sou die paneelwa in ons oprit gesien het en …”
Die seun het gelag. “Jou man is nie by die huis nie. Hy’s mos dié naweek op ’n gholftrip Weskus toe.”
Dit het haar onkant betrap. Hoe het hy geweet?
“Klim uit,” het die ouer een gesê.
“Ek gaan nêrens sonder my kinders nie!” het sy gegil.
Danie het sy arms beskermend om haar middellyf geslaan.
Die seun het onverwags in die paneelwa gespring, Danie aan die nek beetgekry en hom eenkant geslinger. Toe vir Altatjie weggestamp en Moira aan die arm gegryp en uitgepluk. Sy broer het die deur vinnig toegeskuif.
Sy het haar probeer teësit, maar die seun was verbasend sterk. Hy het haar teen die voertuig vasgepen terwyl sy broer die rewolwer teen haar wang druk.
“Los nou jou kak en maak soos ons sê!” het dié geblaf. “Dan sal niemand seerkry nie.”
Moira het onwillig saam met hulle gestap, Altatjie se wanhopige “Mamma, Mamma!” en ’n gedoef-doef uit die paneelwa in haar ore.
Sy is hardhandig by die agterdeur van die huis ingestamp. Die donker kombuis het na verrotte kos geruik.
Hulle het haar teen die trappe op geboelie en by die solder in gedwing, saam ingegaan en die deur toegetrek. ’n Vertrek met ’n klein venstertjie, toegetrekte blinding en ’n dowwe dakliggie, die enigste meubelstuk ’n enkelbed met ’n vuil, gevlekte matras.
“Trek jou klere uit,” het die seun gesê.
“Waarom … wat … gaan julle doen?” Haar hart het in haar keel geklop. Sy moes haar onderlip vasbyt om die trane te keer.
“Maak presies soos ons sê, anders gaan jou kinders aftjop,” het hy gedreig.
Sy het haar rok stadig uitgetrek.
“Trek alles uit.”
Sy het versteen bly staan.
Die broer het die rewolwer in haar ribbes gestamp. “Jy’t gehoor wat Festus sê!”
Festus. Hy’t hom op sy naam genoem, wat beteken hy gee nie om dat sy dit ken nie. Dis nie ’n goeie teken nie, het sy angstig gedink.
“Toe, toe!” het die seun geskree.
Sy het haar bra en broekie langs haar rok en skoene op die stowwerige plankvloer gesit.
Die seun het na die bed beduie. “Gaan lê op jou rug.”
Toe sy gehoorsaam, het die ouer een die rewolwer teen haar voorkop gedruk. “Gedra jou nou.”
Die seun het haar polse met kabelbinders aan die bed se raamwerk vasgemaak. Sy moes haar bene wyd oopmaak sodat hy haar enkels ook kon vasbind.
Hulle het haar so kaal en oopgespalk daar gelos.
Later was die seun alleen terug. Hy het sy klere met koorsagtige haas uitgepluk en op haar gespring, haar van kop tot toon betas en haar heeltyd “my hoer” genoem. Toe het die verkragtings begin.
Sy het haar oë toegeknyp, haar brein met die grootste inspanning probeer manipuleer om aan ander dinge te dink, haar te distansieer van die foltering wat haar willose liggaam deurmaak.
Maar die fisieke pyn, die brutale skending van haar privaatheid, Festus se hortende, stink asem in haar gesig en sy ekstatiese uitroepe tydens elkeen van sy orgasmes, het dit onmoontlik gemaak. Ek word verniel … verrinneweer … verkrag, was al besef wat deur haar kop geëggo het.
Dit het gevoel of dit nooit gaan ophou nie.
Hy het uitgeloop met sy klere saamgebondel onder die arm. Sy het verwag sy broer gaan volgende wees, maar dié het genadiglik nie opgedaag nie.
Haar nag was hel. Sy was seer, dors en boweal angsbevange oor die lot van haar kinders. Sy het gebid, gehuil, geskree en naar geword, amper in haar braaksel verstik.
Nou is die seun terug. En hy staar net grynslaggend na haar.
Sy verwag dat hy sy klere enige oomblik gaan uittrek.
Dalk moet sy ’n ander benadering volg? Hom op sy naam noem. Op sy gevoel probeer speel.
“Asseblief, Festus, moenie iets aan my kinders doen nie. Ek smeek jou! Hulle is nog so jonk en onskuldig. Hulle verdien nie om seer te kry nie. Ek sweer ek sal nie polisie toe gaan as jy ons vrylaat nie. En ek sal jou betaal! Daar’s baie kontant in ons kluis by die huis,” lieg sy.
“Jou kinders is lankal nie meer hier nie.”
“Waar … waar’s hulle?” Haar keel trek toe.
Hy antwoord nie.
Sy kan die trane nie keer nie. “Asseblief, Festus …”
Sy gesig ondergaan ’n metamorfose. Die grynslag is skielik weg. Sy oë vernou, ’n spiertjie spring in sy wang, sy lippe trek weg van sy tande soos ’n roofdier wat wil aanval.
Hy buk onder die bed in.
Daar is ’n gebreekte bierbottel in sy hand toe hy orent kom.
Die skerp glas glinster onder die skynsel van die dakliggie toe hy dit oplig.