Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 8

4

Оглавление

Oktober 1990

Net ou Knoetze en ’n handjie vol plaaswerkers is by haar pa se begrafnis. ’n Lastige wind laat stofwalms oor die grafte dwarrel.

Dis ’n mistroostige seremonie – die dominee wat met ’n somber stem haar pa se lof besing asof hy hom kwansuis geken het, die gedempte snikke van ’n paar vroue, ’n hond wat weemoedig in die verte tjank.

Lila staar emosieloos na die oop graf. Sy het lankal klaar getreur oor haar pa se dood. Dit was eintlik ’n verligting toe hy sy laaste asem uitblaas. Sy kon dit nie meer uitstaan om hom so te sien ly nie. Die dokter sê die kanker het vinnig versprei: longe, lewer, maag …

Haar pa se siekte het op die verkeerde tyd gekom. Lila moes dikwels van die skool wegbly om hom by te staan en sy kon nie volle bevrediging put uit Naomi se terugkeer nie.

Almal was geskok om die skool se trompoppieleidster en mooiste meisie só te sien. Die halfblinde en erg geskende Naomi is skielik ’n patetiese figuur. Die seuns het haar begin vermy, en party noem haar Scarface. Baie van haar vriendinne ignoreer haar. Gedurende pouses sit sy eensaam op die verste punt van die rugbypawiljoen.

Die dominee se teemstem slaan weer deur, maar Lila luister nie na hom nie. Naomi is ook vinnig uit haar gedagtes. Van gister af dink sy eintlik net aan ou Knoetze se aanbod.

Hy het die oggend by die huis aangekom toe sy pas klaar gestort het. Hoed in die hand met haar gesimpatiseer en sy eie droefheid verklaar, ook “oor die verlies van nie net ’n plaasbestuurder nie, maar ’n ware vriend”.

Lila wou in sy gesig lag. Haar pa se vriend! Terwyl hy ylend aan sy bed vasgekluister was, het die ou man nie een keer die moeite gedoen om te kom verneem hoe dit met hom gaan nie.

Sy was ongemaklik tydens hulle gesprek in die beknopte sitkamer, want sy het net ’n T-hemp oor haar kop gegooi en ’n oefenbroekie aangetrek toe hy aan die deur klop. Ou Knoetze kon sy oë nie van haar borste afhou nie.

Sy kon nie help om te dink aan die stories wat op die plaas rondgaan oor sy vatterigheid nie. Mita, wat haar soms in die huis uithelp, het eenkeer gesê: “Meneer Knoetze doen baie meer as net vat aan daai jong dogters. En die seuntjies moet ook maar suutjies trap vir hom.”

Ná sy vrou se dood het die stories net meer geword. Haar pa het gesê sy moet haar nie steur aan die werksmense se geskinder nie. “Meneer Knoetze is ’n eerbare man, boonop ’n ouderling wat hom nie met sulke nonsens sal besig hou nie.”

“Ek is hier om met jou oor jou toekoms te praat, Lila,” het ou Knoetze gesê. “Ek voel dis my Christelike plig om na jou om te sien. Jou pa sou dit ook van my verwag het. Ek wil nie hê jy moet in ’n weeshuis opeindig nie.”

Hy het sy hand op haar skouer gesit, sy waterige oë vasgenael op haar borste. “Soos jy weet, het ek nie kinders nie, en ek raak nou vinnig oud. Ek het iemand nodig om my by te staan en te versorg. Jy kan by my in die huis kom intrek. Ek sal jou goed betaal.”

Lila het nooit aan die moontlikheid van ’n weeshuis gedink nie. Dit was ’n skrikwekkende vooruitsig.

“Wat … van my skool?” het sy gestamel.

“Maak vanjaar standerd agt klaar. Jy kan later jou matrieksertifikaat kry. Maar van volgende jaar af gaan ek jou nodig hê. Dan sal daar nie tyd vir skool wees nie.”

Hy het om hom beduie. “Hierdie huisie gaan ek vir die voorman gee, want ek stel nie weer ’n plaasbestuurder aan nie. Met jou pa se dood het ek besluit om my boerdery heeltemal af te skaal. Ek gaan die meeste van my grond verhuur.”

Sy hand het afgegly teen haar rug. “Wat sê jy, Lila?”

“Ek … ek weet nie …”

“Dit sal vir jou eie beswil wees. Jy wil tog nie in ’n weeshuis tussen ’n klomp wildvreemde kinders gaan sit nie?”

Sy het hom nie geantwoord nie, en hy het sommer aangeneem sy stem in. “Jy kan die naweek al intrek. Ek sal vir Jakob vra om jou goedjies met die bakkie te kom optel.”

Nou, terwyl die dominee vra dat hulle die oë vir gebed sal sluit, weet sy nie of sy regtig ’n keuse het nie. Sy sal nie dadelik haar pa se karige spaargeldjies kan kry nie. En ou Knoetze is reg: Al is sy reeds sestien, sal sy weeshuis toe moet gaan.

Maar die gedagte om alleen saam met hom in daardie kasarm te bly, stem haar onrustig.

Sy loer na hom. Hy staan met toe oë en grou met ’n stomp voorvinger in sy neus. ’n Groot man, skof soos ’n bees, boep wat laag oor sy gordel hang. Sy sal haarself nie teen hom kan verdedig nie.

Lila trek haar skouers agteroor. Hy beter nie met haar lol nie. En al is hy groot, weet sy hoe om af te reken met mense wat met haar sukkel.

Medusa

Подняться наверх