Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 21

8

Оглавление

Die swaar skemeraandverkeer in Voortrekkerweg laat Kassie die skuifdeur na sy woonstel se balkon toetrek. ’n Mens kan g’n met so ’n lawaai konsentreer nie.

Hy stap terug na die rusbank, eet die laaste stukkie van sy kaastoebroodjie en sluk dit af met Creme Soda. Hy draai die proppie op en sit die bottel tussen sy voete neer. Terwyl hy ’n Lucky Strike aansteek, trek hy die koffietafeltjie met die asbak nader. Langsaan lê Danie van Tonder se skootrekenaar.

Danie se selfoon het niks opgelewer nie. Toe hy die foon vanmiddag wou deurkyk, was die verdomde battery afgeloop en moes hy dit eers laai. Toe die ding weer gelaai is, moes Kassie tot sy ontsteltenis ontdek dis nie ’n slimfoon nie, maar net ’n gewone selfoon vir bel en om SMS’e mee te stuur. Sy onkunde oor selfoontegnologie het hom gepootjie, want hy het nie agtergekom dis ’n baie basiese foon toe hy vroeër op die SMS’e tussen Danie en Bertie afgekom het nie.

Kassie het besef Danie moes sy Facebook-bedrywighede op sy skootrekenaar gedoen het. Hy’t Nelis van Tonder toe gebel en hulle het afgespreek dat hy Danie se skootrekenaar ná vyf gaan haal, wanneer Nelis tuisgekom het van die werk.

Om die tyd te verwyl, het Kassie deur die hoop dossiere gekyk. Die foto’s van die vermiste kinders – almal met glimlaggende, onskuldige gesiggies – het iets aan hom gedoen wat nog nooit voorheen gebeur het nie. Die gedagte aan waar daardie kinders hulle nou bevind en wat hulle moet deurgaan, het ’n dringende begeerte by hom laat posvat om die saak so vinnig as moontlik op te los. Al moet hy dag en nag werk.

Hy’t nog nooit ’n saak hanteer waar sulke jong kinders betrokke is nie en die emosies wat hy ervaar, stem hom onrustig. As groentjiespeurder het hy al geleer dat jy te alle tye afsydig moet staan en moet sorg dat die gegewens van ’n saak jou nie emosioneel oorweldig nie. Anders maak jy oordeelsfoute.

Hy en Rooi kan nie met hierdie saak foute bekostig nie. Nie één nie.

Dit gaan nie daaroor om die polisiehoof te beïndruk soos die brigadier graag wil doen nie, of om die Valke ’n punt te probeer wys nie.

Dit gaan oor weerlose kindertjies wat uitroep om gehelp te word. Sommige al agt jaar lank. En dis nou in sy en Rooi se hande om daardie noodkreet te beantwoord.

Dis ál wat saak maak.

Hy vee die sigaretas vies van sy broek af. Toe hy vanmiddag by die Van Tonder-huis kom, het hulle tot hul ontsteltenis ontdek dat Danie se skootrekenaar deur ’n wagwoord beskerm word. Sy pa het nie die wagwoord geken nie.

Kassie het die kind se kamer van voor af deursoek. Gister, ná forensies klaar was met die vingerafdrukke, kon hy en Rooi niks van belang daar kry nie.

Maar gelukkig was sy soektog vanmiddag suksesvol. Hy’t die wagwoord van Danie se skootrekenaar op ’n papiertjie in ’n boksie gekry. Dit het in die onderste lessenaarlaai tussen ’n hoop kriekettydskrifte gelê.

Nou tik hy die wagwoord huiwerig op die rekenaar in, bang dat sy Facebook-afleiding dalk heeltemal verkeerd is. Want as dít niks oplewer nie, weet hy wragtig nie waar om volgende te soek nie.

* * *

Zach staar eers lank na sy rekenaarskerm voordat hy Festus roep.

Een van die geteikendes het ’n friend request aanvaar en haar ma is saam met haar op ’n foto. As bonus het die ma ’n Facebookblad wat nie geslote is nie. Én sy het blonde hare.

Festus se T-hemp is vol blou spatsels van die spray paint. Hy trek ’n stoel nader sodat hy langs Zach kan sit.

“Fok, jou asem stink,” sê Zach vies en skuif weg.

Festus ignoreer hom, staar net skreefoog na die ma se profielfoto terwyl hy met ’n voorvinger in sy neus grou.

Hy skud sy kop. “Sy’s hopeloos te vet.”

“Jy’s te bleddie neusoptrekkerig!”

“Jy sal ’n ander vroumens moet kry.”

“Fok, Festus, noudat ons geld soos bossies maak, gaan jy als opdonner met jou jagsgeit. Kom ons fokus op ons main job om Medusa van kids te voorsien.”

Zach gaan in op die Facebook-blad van die meisie met die drie sussies.

“Kyk hier, hier’s ’n golden opportunity. Vier van hulle. Dis sestig K met een ontvoering. Hulle speel gereeld in ’n park naby hulle huis, wat beteken hulle kan maklike teikens wees. Jy moet met die Opel gaan check of jy die park kry. ’n Mens kan op die foto’s sien dis naby Tygerbergheuwels, en daar’s ook ’n klein shopping centre in die omgewing.”

Festus staan op. “Oukei. Maar jy moet nog steeds vir my ’n sexy blonde kry.”

“Ja, ja.”

Zach hou sy broer dop toe hy uitloop. Siek in sy kop, maar crucial vir die sukses van hulle besigheid. Hyself het nie die guts om in mense se driveway stil te hou en ’n ma en haar kinders binne minute te ontvoer nie.

Soms dink hy hulle moes ’n minder risky business gekies het. Maar toe hy destyds Tor op sy rekenaar geïnstalleer het om toegang tot die Dark Web te kry om die opsies uit te check, het Festus daarop aangedring dat hulle met Medusa kontak maak. Die blote gedagte om kinders vir vyftienduisend rand per kop te ontvoer, het hom opgewonde gemaak.

Zach vermoed hy het tóé al die moontlikheid van die ma’s raakgesien.

* * *

Boon wag tot dit donker genoeg is voordat hy die koevert in die Tamboerskloof-huis se posbus druk. Hy skarrel terug na sy wegkruipplek oorkant die straat.

’n Rukkie gelede het hulle die ligte in die huis aangesit.

Boon het die outoppie gesien toe hy die gordyne in een vertrek tydsaam toetrek. ’n Forse kêrel met breë skouers, bleskop en grys snor. Die tannie was op die agtergrond sigbaar toe sy krom-krom verbyloop. Sy lyk baie ouer as haar man.

Boon is net dankbaar dat sy nie bedlêend is weens haar siekte nie. Dit beteken sy is in staat om die huis te verlaat.

Of hulle gaan val vir die uitnodiging na die simfoniekonsert, sal hy eers môreaand uitvind. Hy kan maar net hoop hulle hou van dié tipe goed.

Anders sal hy opnuut ’n plan moet beraam om hulle uit die huis te kry. Hy móét daar inkom om sy navorsing te voltooi.

Medusa

Подняться наверх