Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 12

8

Оглавление

Januarie 2004

Lila pak die laaste goed in ’n boks weg. Sy beskou die ander vier bokse tevrede. Nou kan sy asemhaal in die studeerkamer. Sy het die plek altyd vermy. Die herinneringe aan ou Knoetze het net te swaar aan die vertrek gekleef.

Maar noudat al sy goed weggepak is en dit vandag nog ashoop toe gaan, is dit asof die laaste Knoetze-kruis van haar skouers val. Sy is reg vir ’n nuwe begin.

Die afgelope tyd het sy haarself gedwing om nuut oor haar toekoms te dink. ’n Roekelose projek wat gepaardgaan met adrenalien en opwinding, is al wat haar uit hierdie vervelige kluisenaarsbestaan gaan sleep. Want buiten haar dobbelaande is haar lewe steeds vaal en saai.

Sy maak die boonste lessenaarlaai oop. Die drie spykertjies wat sy twaalf jaar gelede ingespan het om die volmaakte moord te pleeg, lê nog daar. Vir ’n oomblik oorweeg sy om dit ook in die boks te gooi, maar besluit daarteen. Dit sal in die toekoms vir haar as aansporing dien dat sy tot enigiets in staat is.

Ses maande gelede het sy die groot besluit geneem. Sy het ’n klomp bemarkingsboeke oor die internet bestel en kundiges se raad oor suksesvolle ondernemings opgeslurp. ’n Konvensionele onderneming sou nie vir haar werk nie, het sy geweet. Sy het besluit op ’n unieke produk vir ’n nismark. Die mark is beslis daar, sy moet net die produkte in die hande kry.

Snaaks genoeg was dit haar dagboek, wat sy van haar dertiende jaar af getrou gehou het, wat haar die idee gegee het vir haar onderneming. ’n Onderneming wat dieselfde uitdagings, risiko’s en opwinding sal verskaf as toe sy haar wraak op Quinton, Wessel, Naomi en ou Knoetze beplan het. Die herlees van haar dagboekinskrywings het haar oplaas laat besef dís die soort suurstof wat sy in haar lewe benodig.

Nou is al haar beplanning afgehandel. By die casino het sy deur die jare die regte mense leer ken wat haar kan help om haar onderneming te vestig. Mense wat onder die radar van die gereg hulle brood verdien, en wat bereid is om enigiets te doen vir ekstra geld.

Haar planne vir veranderings en aanbouings aan die plaashuis is goedgekeur. Die bouers begin oor ’n week. Sy het die huishulpe laat aftree en die laaste paar plaaswerkers afbetaal. Dis ’n projek waarvan sy die enigste stuurman sal wees.

Sy staan op agter die lessenaar en beskou haarself in die hangspieël teen die muur. Druk-druk aan haar blonde pruik en glimlag. Sy kan nie wag dat haar casino-vennote begin werk nie. Hulle het haar verseker sy sal kort voor lank genoeg produkte hê. En dat hulle weet van baie voornemende kliënte.

Maar sy moet geduldig wees. Die huis moet eers reg ingerig word vir grootskaalse sake.

Intussen het sy haar eerste bestelling geplaas, want dié is nie afhanklik van die voltooiing van die bouwerk nie. Sy stryk met haar hande oor haar lyf. Sy het soveel jare laas seks gehad, en boonop was dit ’n selfopgelegde straf ter wille van ’n groter saak.

Nou het sy iemand volgens haar eie voorskrifte bestel. En hierdie keer sal sý sorg dat dit ’n genotvolle ervaring is.

Medusa

Подняться наверх