Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 7

3

Оглавление

Mei 1990

Lila maak seker dat sy voor die ander kinders by die laatmiddag-kooroefening wegkom. Vandat hulle vir die jaarlikse skoolkoorwedstryd oefen, dring juffrou Louw daarop aan dat hulle ekstra ure insit.

Sy hardloop by die hoofhek uit. Donker wolke is besig om saam te pak, die lug grou en dynserig. Sy kies koers na die sementpad, kyk eers goed rond voordat sy tussen die digte bosse inglip.

Onderin haar sportsak is die balaklawa, handskoene en oorpak wat sy die afgelope week met moeite daarin moes bondel. Sy trek die oorpak haastig oor haar skoolklere aan, ook die balaklawa en handskoene. Dan grawe sy tussen die takke vir haar hokkiestok wat sy al verlede week hier weggesteek het. Met die stok gereed neem sy haar posisie agter ’n bos in. Van hier af het sy ’n goeie uitsig op die pad.

Haar liggaam is snaarstyf gespan. Vandag gaan sy haar kans kry. Naomi en Ansie loop elke middag hierlangs huis toe, ’n kortpad na hulle rykmansbuurt. Maar vandag was Ansie nie by die skool nie. Griep, het iemand gesê.

Lila koes agter die takke in toe sy haar prooi in die verte sien aankom. Sy’s verlig dat nie een van Naomi se ander maats vandag saamstap nie.

Sy verstewig haar greep op die hokkiestok se handvatsel. Haar asem jaag, maar sy is gereed. Dis die oomblik waaroor sy al so lank droom.

Naomi se voetstappe kom op die sypaadjie nader.

Net toe sy verby is, kom Lila geruisloos agter die bos uit. Sy swaai die stok met al haar mag na Naomi se agterkop, tref sekuur met ’n harde klapgeluid.

Naomi se bene swik onder haar en sy val kermend vooroor. Lila slaan nog ’n hou na haar kop toe sy op die sypaadjie lê.

Sy trek die liggaam onder die bosse in en is verlig om ’n polsslag te voel. As sy Naomi doodgeslaan het, sou dit alles bederf het.

Sy gaan sit bo-op die bewustelose meisie, haal die botteltjie uit haar oorpak se sak en draai die deksel af. Met haar voorvinger skep sy ’n groot homp van die batterysuur uit wat sy vroeër van ou trekkerbatterye op die plaas afgeskraap het.

Met haar ander hand trek sy Naomi se regterooglid oop en smeer die suur met mening in haar oog. Net een oog, besluit sy, want met die ander een moet Naomi kan sien hoe geskend sy is.

Lila grawe vir die knipmes in haar sak. Sy weet die lem is vlymskerp, want haar pa slyp sy versameling messe gereeld.

Sy druk die mespunt skuins bo Naomi se linkeroog in. Die lem gly deur die vel. Dit los ’n dik sigsag-bloedspoor toe sy dit oor die voorkop, wang en ken trek.

Sy kom orent, beskou haar handewerk tevrede. Sy wil die handskoene uittrek, maar dan onthou sy. Sy buk en trek Naomi se romp op, wikkel haar broekie oor haar bene af en gooi dit langs haar op die grond.

Lila trek die oorpak vinnig uit. Sy hou Naomi fyn dop. Daar is spiertrekkings in haar ooglede en sy begin saggies kreun. Haar gesig is vol bloed.

Doodseker dat sy als saamgevat het, stap Lila met haar sportsak oor die skouer en hokkiestok in die hand terug in die skool se rigting. As sy gou maak, behoort sy die sesuurbus te haal.

Die volgende dag is dit hoofnuus in die oggendkoerant.

Batterysuur-verkragter slaan weer toe

DURBANVILLE. – Die sogenaamde batterysuur-verkragter het gister vir die vierde keer vandeesmaand in die Kaap se noordelike voorstede toegeslaan.

Hierdie keer was sy slagoffer ’n vyftienjarige meisie van ’n plaaslike hoërskool. In al drie die vorige gevalle het meisies in hulle vroeë twintigs onder sy wreedheid deurgeloop toe hy eers batterysuur in hulle oë gesmeer en hulle daarna verkrag het. Al drie het permanente oogskade opgedoen en sal nie weer kan sien nie.

Anders as met sy vorige slagoffers, het die verkragter hierdie keer in net een van die meisie se oë suur gesmeer. Die polisie vermoed daar moes ’n struweling plaasgevind het, want hy het haar gesig met ’n mes gesny. Alles dui daarop dat hy haar wou verkrag, maar hy is moontlik gesteur en het van die toneel gevlug. Geen leidrade is sover gevind nie, maar die ondersoek duur voort.

Medusa

Подняться наверх