Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 22

9

Оглавление

Kassie kyk aandagtig na die inskrywings op Danie se Facebook-blad.

Daar’s krieketkommentare van ’n hele paar van Danie se vier-en-tagtig vriende. Die Proteas se vertonings word in tipiese tienertaal geloof of gekritiseer. “Hulle was awesome” of “Hulle suck” kom gereeld voor.

Hy rol ondertoe op die blad en steek by ’n naam vas: Bertie van Loggerenberg. Dié klein bliksem is ook op Facebook!

Dis nie ’n wonder hy’t so ongemaklik gelyk toe sy pa sê hy word net toegelaat om na krieketwebwerwe te kyk nie. Hy’t sonder sy ouers se wete vir hom ’n Facebook-profiel geskep en neem lustig deel aan die gesprekke op Danie se muur.

Kassie neem aan Bertie se pa en ma is nie Facebookers nie, anders sou hulle hom seker uitgevang het. Hy begin vermoed baie ouers wat nie juis rekenaarvaardig is nie, het geen idee van wat hulle kinders in die kuberruim aanvang nie.

Die inskrywings op Danie se muur strek oor ’n periode van vyftien maande, dus was hy op twaalf al bedrywig op Facebook. Wat heel moontlik beteken daar’s nie ’n manier waarop Facebook se administrateurs kan vasstel of ’n kind oor sy ouderdom lieg wanneer hy ’n profiel skep nie.

In een inskrywing sê Danie hy spaar vir ’n nuwe kolf, maar “dit kos nou al soveel soos my pa se kar”. ’n Klomp vriende lewer daarop kommentaar, maar niemand praat van kolwe wat hulle vir hom wil wys nie.

Kassie dink ’n oomblik. Dalk moet hy na Danie se boodskappe kyk. Hy druk op die messages-ikoon en verstar. Hy’t die jackpot gestrike!

Sy vinger bewe toe hy afrol oor die boodskappe om dit van die oudste na die jongste te lees.

Die eerste boodskap is drie weke gelede gestuur deur ’n seun met die naam Jakkie Prans. Geoordeel na Jakkie se profielfoto is hy Danie se portuur.

Jakkie: hi danie. ek ht n klomp splinter nuwe bats. dis baie cheap. R250. sal jy belang stel?

Danie: Yes, vir sure! Waar bly jy?

Jakkie: ek sal na jou kom. my pa het n sports winkel en n toy shop en partei keer raak hy van die ou stock ontslae. daar is ok baie toys vir dogterkies. ek sien jy het n sissie. dan kan julle saam kyk waneer ek dit bring.

Danie: Cool! Ek bly in Durbanville. Wanneer kan jy kom?

Jakkie: ek sal jou lt weet. doen my net 1 faver. moenie vir jou pals daar van vertel nie. my pa moan as te veel mense daar van weet.

Danie: OK, laat weet my!!

Twee weke het verbygegaan voordat Jakkie verlede week Donderdag van hom laat hoor het.

Jakkie: hi danie. ek kan Saterdag oggend na jou kom. ons het nou baie bats en daars ok baie toys vir dogterkies.

Danie: Cool! Hoe laat kom jy?

Jakkie: 10 uur.

Danie: Kan ek net vir een van my pals vertel? Hy sal ook n bat wil koop.

Jakkie: hoe oud is hy?

Danie: 13. Hy is in my klas.

Jakkie: dis okay dan. sal jou sissie ok toys wil koop?

Danie: As daar poppe is, sal sy wil.

Jakkie: ons het baie poppe en dis cheap

Danie: Ek sal haar vertel.

Kassie steek nog ’n Lucky met die brandende stompie aan. Hulle hét die bliksem! Van Tonder se buurman het gesê die paneelwa was omtrent tienuur in die straat. Dis duidelik dat die Jakkie-karakter wou seker maak Danie se sussie kom ook na die speelgoed kyk. En hy wou nie hê ’n klomp kinders moet daarvan weet nie. Maar hy was tevrede dat Bertie saamkom, nadat hy eers seker gemaak het dié is nie te oud nie.

Kassie staar ingedagte na die rekenaarskerm. Die hele storie skree skuldig. Enigiemand wat sy ou voorraad speelgoed en sporttoerusting wil verkoop, sal maar te bly wees om ’n moerse klomp kinders daar te kry – ongeag hulle ouderdomme.

Jakkie se vreemde van laat ook die rooi ligte flikker. Kassie het nog nooit van ’n Prans gehoor nie. En Jakkie se swak taalgebruik dui op ’n bullshitter wat soos ’n jong kind probeer klink.

Kassie klik op Jakkie se naam om op sy Facebook-blad te kom. Geen woonadres of persoonlike besonderhede nie. Net twee-en-twintig vriende, van wie die helfte ook vreemde vanne het: Lim, Prinloo (sonder die s), Darry, Klyner …

Jakkie het geen persoonlike inskrywings gemaak nie, net ’n klomp krieketnuus van verskillende webwerwe af op sy muur gedeel. Wat heel moontlik beteken hy het Danie van die begin af in sy visier gehad. En hy moes op Danie se muur die foto van sy ma gesien het. As jy die merker oor die foto trek, verskyn haar naam by haar gesig, wat aandui dat sy ook ’n Facebook-blad het. En dís waar Jakkie gesien het Nelis van Tonder was laas naweek nie by die huis nie.

Kassie staan op. ’n Ongekende vuur brand in sy maag. Daarby voel sy lyf so styf soos Jan Koekemoer se kitaarsnare wanneer hy die vastrappolka speel. Kinderhandel. Dis asof sy liggaam teen dié donker gedagte rebelleer.

Hy loop peinsend heen en weer in die sitkamer. Hoe sou Rooi gevorder het met sy navrae oor ’n Facebook-konneksie by die ander slagoffers? Hy’s lus en bel hom, maar onthou dan Rooi het gesê hy en Torretjie gaan vanaand fliek.

Een ding besef Kassie: Hulle sal môre by die Valke se Elektroniese Misdaadeenheid moet uitkom. Hyself weet nie genoeg van die internet nie, maar by die eenheid is rekenaarboffins wat skrik vir niks. Daai ouens behoort gou te kan vasstel wat Jakkie Prans se woonadres is.

Hy vat ’n laaste teug aan sy sigaret. Dis ’n frustrasie dat hy nie dadelik kan werk maak van sy inligting nie.

Daardie vermiste kinders se foto’s jaag hom.

* * *

Hy betrag die geskenke wat hy vanaand vir die kinders gaan neem. Uit gister se gesprek kon hy aflei waarvan hulle hou.

Hy’t ’n krieket-bordspeletjie vir die seun gekoop en ’n Barbiepop vir die meisietjie.

Hy draai dit in rooi geskenkpapier toe. Dieselfde kleur papier waarin oom Wollie sy bootjie toegedraai het toe hy ses was.

Hulle twee was alleen by oom Wollie se huis, want sy tannie het saam met sy ma en pa na ’n toneelstuk gaan kyk. Hulle het gereeld by sy ma se suster en haar man gaan kuier en oom Wollie het gesê hy sal hom enige tyd vir die aand oppas. Hulle moet die toneelstuk geniet, want hy’t nie erg aan sulke goed nie.

Die grootmense was skaars weg toe oom Wollie die bootjie vir hom gee. “Jy moet net sien, dit kan op die water dryf.”

Hy het so ’n bootjie begeer, want een van die bure se seuns het altyd met presies so een in hulle visdam gespeel.

“Ek sê jou wat, hoekom gaan klim ek en jy nie in die bad nie?” het oom Wollie voorgestel. “Dan kan ons lekker met die bootjie speel.”

Dit het na ’n goeie plan geklink. Oom Wollie was so ’n gawe man. Hy’t hom altyd gegryp en gekielie as hulle daar kom. En wanneer dit ’n aandkuier was en hy vaak word, het hy op oom Wollie se skoot aan die slaap geraak. Sy ma het gesê oom Wollie is so lief vir kinders omdat hulle nie kinders van hul eie het nie.

Oom Wollie het die bad vol getap, al sy klere uitgetrek en hom toe ook laat uittrek. Hy wou eers sy onderbroek aanhou, maar oom Wollie het gesê sy ma gaan kwaad wees as dit nat is.

Toe wou hy oorkant oom Wollie in die bad gaan sit, maar die oom het gesê hy moet tussen sy bene kom sit, sy rug styf teen sy maag. “Dan’s daar meer plek om met die bootjie te speel.”

Medusa

Подняться наверх