Читать книгу Medusa - Rudie van Rensburg - Страница 20

7

Оглавление

Rooi wag Kassie by die kantoor in. Dis duidelik hy’s angstig om verslag te doen oor die dossiere.

“Raait, laat waai,” sê Kassie toe hy agter sy lessenaar gaan sit.

“Ons het agt jaar se dossiere hier, maar daar’s ’n duidelike verskil tussen die eerste ses jaar en die laaste twee jaar se gevalle.” Rooi beduie na die twee stapels dossiere voor hom.

“In die eerste ses jaar het sestien straatkinders verdwyn, een keer soveel as vyf op ’n slag. Volgens die haweloses wat die polisie ondervra het, het die voorvalle hoofsaaklik in die stadskom en suidelike voorstede plaasgevind. Die kinders is deur die bank swart of bruin en hulle ouderdomme wissel tussen vyf en elf, met die meerderheid tussen agt en tien jaar oud. Daar’s géén opvolgbare leidrade nie en ook nie foto’s van die kinders nie.”

Hy trek ’n vel papier met notas nader. “In die laaste twee jaar en drie maande het vyftien kinders en drie ma’s verdwyn. Ek het die Van Tonders sommer bygetel.”

Kassie knik.

“Van die vyftien kinders is twaalf wit en drie bruin,” gaan Rooi voort. “Almal bly in die noordelike voorstede en kom uit gegoede huise. Daar was altesaam ses voorvalle waar drie groepe van drie kinders en drie groepe van twee verdwyn het. Die groepe het almal dieselfde kenmerke: Dit bestaan uit sussies en boeties, en die oudste lid van elke groep was dertien toe hulle verdwyn het. Daar is dus ses dertienjariges en die ander nege is tussen die ouderdomme van vyf en elf.”

“Shit,” mompel Kassie. Danie van Tonder se Facebook-storie klink nou nie meer so onskuldig soos hy aanvanklik vermoed het nie.

Rooi trek nog ’n papier nader. “Die drie vroue was almal by hul huise toe hulle saam met hulle kinders verdwyn het. In die ander gevalle het die kinders weggeraak by onderskeidelik Canal Walk en die Tygervallei-sentrum. Die wit paneelwa is in Tygervallei se onderdakparkeergarage opgemerk. Die sekerheidskameras wys hoe die kinders in elke geval alleen na die parkeergarage gaan en enkele minute later ry die paneelwa uit. Dit het nie nommerplate nie en weens die getinte ruite is dit onmoontlik om die bestuurder uit te ken.”

Hy tel ’n derde vel notas op. “’n Groot wit paneelwa is ook opgemerk naby ’n huis in Panorama waar ’n ma en haar kinders verdwyn het. In dié geval het ’n ooggetuie bevestig die voertuig het getinte ruite. Die ma’s en hulle kinders het elke keer op ’n Saterdag verdwyn, en in al drie gevalle was die pa nie tuis nie.”

Hy tuur peinsend voor hom uit. “Dis vir my duidelik dat ons hier met twee verskillende groepe fokkers te doen het. Een groep wat straatkinders in die suidelike deel van die stad getarget het, maar wat nou nie meer bedrywig is nie. En ’n ander groep wat in die noordelike voorstede toeslaan en soms ook vroue ontvoer. Dis beslis nie dieselfde spul nie.”

“Klink so, ja,” sê Kassie.

Hy vertel van sy gesprek met Bertie van Loggerenberg. “Word Facebook dalk iewers in die dossiere genoem?”

Rooi skud sy kop. “Nie ’n woord nie. Die kolwe-storie klink vir my onskuldig. Wat laat jou dink die vermistes kan ’n Facebook-konneksie hê?”

“Omdat die oudste lede van elke groep in die afgelope twee jaar dertienjariges was, en omdat kinders eers van daardie ouderdom af toegelaat word om Facebook-profiele te skep.”

Rooi sit vorentoe. “Bliksis, noudat jy dit so stel, klink die krieketkolwe ook nie meer vir my onskuldig nie! Hoe vat ons dit verder?”

“Ek gaan op Danie se Facebook-blad inzoem. Hopelik kry ek die persoon wat die kolf-storie vir hom gespin het. Jy moet kontak maak met die familielede van die ander slagoffers van die afgelope twee jaar en uitvind of hulle dertienjariges op Facebook bedrywig was.”

“Wat van die straatkinders?”

“Daar sou Facebook tog nie ’n rol gespeel het nie. Ons sal by die Valke moet hoor waar hulle oral navraag gedoen het. Help nie ons mors ons tyd deur met bergies in die stad te praat as die uniforms hulle reeds ondervra het nie.”

* * *

’n Papiertjie waai teen Boon se been vas waar hy in Breestraat by ’n verkeerslig staan en bedel. Sy eerste reaksie is om dit op te frommel, maar sy oog val op die opskrif in hoofletters.

Dis op goeie papier gedruk en is ’n uitnodiging na ’n uitvoering van die Kaapstadse Simfonieorkes in die Kaapstad-stadsaal. Die bekroonde pianis Berto Valentino vier sy vyftigste verjaardag met die uitvoering van Beethoven se Vyfde Klavierkonsert saam met die orkes. Die datum is oormôreaand.

In een hoek staan Komplimentêre kaartjie. Daar is twee nommers by, met die woorde: Ons nooi u en u metgesel graag uit om die uitvoering by te woon. Hierdie kaartjie sal u gratis toegang gee tot bostaande sitpleknommers. Daar is ook ’n wit spasie waar die uitgenooide se naam ingeskryf kan word.

Boon bekyk die kaartjie. Dit moes op ’n manier verlore geraak het, want daar’s nie ’n naam ingeskryf nie. Wat beteken die sitplekke is nie aan enigiemand toegeken nie.

Hy wik en weeg of dit die moeite werd gaan wees, besluit dan dit kan nie skade doen nie. Hy moet net ’n ordentlike wit koevert in die hande kry.

Probeer bly die beste geweer, het sy ou weeshuismoeder altyd gesê.

* * *

Johnny vat die twee swart sakke yt na die rubbish bins in die vierkant. Dis sy job ná elke meal vanlat Clement gedisappear het. Rest his soul.

Noudat Johnny se escape plan in sy breins broei, check hy die vierkant elke dag yt.

Hy meet wee’ die hek met sy oë. Om oo’ daai iron te kom sal easy wies. In sy dae as street kid moes hy oo’ baie hoër gates kom om vorie poelieste weg te kom. En hierie ene het nog lekke vastrapplek ok.

Assit’ie was virrie hoë muur en die electrical fencing ommie huis’ie, was hy al lankal gone. Kadiso het soe paar jaar trug mos oo’ daai muur probeer klim, maar hy’s so kwaai geshock lat tot sy tanne swart soos charcoal gebrand was. Dit was ok die laaste sien van hom. Die big baboon is hie’ weg met hom en hy’t nooit wee’ gereturn’ie. Rest his soul ok.

Die bitch het gesê daai moet ’n lesson vi’ almal wies: Hie’ kan jy nie escape’ie. Want besides die electrical fencing check die camera die muur ok yt.

Da’ wag ’n surprise vi’ haar.

Johnny sug.

Assie blerrie farmer net wee’ wil kom.

Medusa

Подняться наверх