Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 10
ОглавлениеHoofstuk 7
Hoofstuk 7
Debbie aarsel met haar hand op die deurknop. Sy hoop Trudie slaap. Dis reeds lank ná middernag. Sy het nog nooit so laat uitgebly nie en noudat sy alleen is, noudat die gloed van haar opgewondenheid verdwyn het, voel sy so klein en skuldig. Sy is bly haar ouers weet nie; sy hoop Trudie sal ook nooit weet nie. Sy sien nie kans vir die noute van die kamer daar binne nie. Sy wil liewer buite wees, een met die wit maanlignag en die sagte, koel wind wat deur haar hare roer.
Maar sy moet ingaan.
Soos ’n skaduwee, donker, geluidloos, glip sy die kamer binne. ’n Oomblik aarsel sy totdat haar oë aan die kamer gewoond word, dan beweeg sy saggies in die rigting van haar bed. Gelukkig tog dat Trudie so vas slaap. Maar die volgende oomblik stamp sy teen die lae bankie en in die stilte van die nag is die gekras van die bankie oor die vloer te hard.
“Debbie?” kom dit vaak van Trudie.
“Dis ek, Trudie,” sê sy saggies, gerusstellend. “Jammer.”
Debbie hoor hoe die bed kraak soos Trudie omdraai en ’n rukkie later hoor sy dankbaar weer haar maat se reëlmatige, diep asemhaling. Sy trek vinnig en geluidloos uit in die donker. Dan gaan kniel sy, nie by haar smal bedjie soos gewoonlik nie, maar voor die oop venster. Sy kan nie vanaand haar gewone aandgebed bid nie. Lank, bewegingloos, kniel sy voor die oop venster. Die nag is vriendelik maar donker en die sterre vonkel dof, sonder glans.
Sy dink aan Paul. Sy hoor hom weer fluister: “Debbie, my liefste, wat het ek gedoen?”
En sy hoor haar antwoord: “Moenie jammer wees nie, Paul. Ek . . . ek is bly. Ek het jou lief en nou behoort ek reeds aan jou, al moet ek nog baie jare wag.”
“Debbie,” en daar was sielewroeging en selfverwyt in sy stem. “Ek het jou lief, Debbie, maar ek moes dit nie gedoen het nie.”
Sy het hom getroos en gerusgestel. Dit was sy wat sterk en seker en wys was. Daar is groot liefde en teerheid in haar hart vir die jong man aan wie se sorg sy haar toekoms toevertrou, aan wie sy haarself vanaand sonder voorbehoud gegee het. Hulle sal moet wag, sy en Paul, nog lange jare moet wag, maar miskien sal die gedagte aan vanaand haar versterk en vertroos in die dae wanneer eensaamheid en verlange na Paul vir haar te veel word. Dit was die gedagte aan die skeiding wat soos ’n donker skaduwee oor hulle laaste dae saam gelê het wat veroorsaak het dat sy haar vanaand aan sy liefkosings oorgegee het. Hulle was alleen by die Fonteine. So ’n stil, vreedsame aand met die gefluister van die wind in die bome, die wit maanlig wat die wêreld in ’n towerland omskep. Dit was miskien verkeerd van hulle, maar sy voel nie of sy gesondig het nie. Sy is so seker van haar liefde vir Paul – en sy liefde vir haar – en dit was nog maar deur al die eeue heen die vrou se voorreg om haar te gee aan die man wat sy liefhet. En as Paul die dag terugkom na haar . . . As hy terugkom . . . En as Paul nie terugkom nie? Maar hy sal. Sy weet hy sal. Hy moet.
Agter haar in die kamer hoor sy Trudie se rustige asemhaling. Sy dink weer aan Trudie se waarskuwings. Is dit wat Trudie die hele tyd gevrees het? Maar hoe kon sy geweet het? Wat weet Trudie van daardie wit vlam van liefde wat alles verteer en verskroei, wat haar magteloos aan haar liefde oorgelewer het? Sy het verander vanaand, sy het ’n vrou geword. Sy sal nooit weer dieselfde Debbie wees nie.
Sy sluit haar oë en met haar voorkop teen die koel vensterbank bid sy: “Here, ek het hom so lief. Vergewe my as ek verkeerd gedoen het, maar ek het hom tog so lief. Behoed en bewaar hom tog, liewe Here, in al die lang jare wat hy weg sal wees van my en bring hom weer veilig terug na my. Liewe Here, bring hom terug.”
Haar gebed is skielik dringend en smekend. Daar het ’n wolkie, niks groter as ’n man se hand nie, op die horison verskyn.
In sy kamer is Paul ook nugter wakker. Hy is siek tot in sy siel toe as hy dink aan wat vanaand gebeur het. En dit met Deborah, Deborah van alle meisies. Debbie wat so fyn en broos en dierbaar is. En hy wat haar moes beskerm, het haar onteer. Nie net onteer nie, maar haar aan skande en smart blootgestel. En dit omdat sy hom liefhet. Hy wat die gevare geken het, wat sterk en verstandig moes gewees het, wat sy drange moes beteuel het, het haar verder en verder langs vreemde paaie gelei en ongekende emosies aangewakker. En toe hy sterk moes wees, was hy swak. Maar hy het nooit eens aan so ’n moontlikheid gedink nie. Nie met Debbie nie.
Met sy kop in sy hande sit hy en sy gedagtes is wrang en bitter. Vir die eerste keer in baie jare dink Paul Hugo nie aan homself nie, maar aan iemand anders, aan die seerkry wat moontlik vir iemand anders wag. Waarom het hy dit tog gedoen? Hom oorgegee aan die hartstog van ’n oomblik wat soveel ongeluk en bitterheid as nasleep kan hê? O, dis maklik om die vrou se liggaam die skuld te gee as sy in sy arms lê en haar hartstog saam met syne styg om hulle een te maak met die wit maanlig om hulle, een met die oneindige heelal.
Sy is nog baie jonk, jonger selfs as die meeste meisies van haar ouderdom. Hy is ouer, verstandiger. Hy moes beter geweet het. Hy het ook beter geweet. Hy moes sterker gewees het. Hy weet lankal dat hulle met vuur speel en hy moes op sy hoede gewees het. Maar hy was nie. Hy het hom oorgegee aan die genot wat uit hulle liefde gebore is. En waar het dit hulle nou laat beland? Wat het hy gedoen? Here tog, wat het hy gedoen! En wat kan hy doen om vir daardie onreg te vergoed wat hy in die naam van liefde gepleeg het? Wat kan hy doen om Debbie teen verdere seerkry te beskerm?
Daar is net een uitweg.
Hulle moet trou, dadelik trou. Trou voor daar enige sprake kan wees van ’n gedwonge huwelik. Dan is Debbie beskerm. Hulle kan dit geheim hou. En as hulle gelukkig is, hoef niemand ooit daarvan te weet nie. Hy sal voortgaan met sy studie en Deborah met hare, en ná ’n jaar of twee kan hulle verloof raak en sodra hy klaar is, kan hulle . . . trou! Net hulle twee sal weet. Maar as hulle nie gelukkig is nie? Die Here bewaar Debbie van enige gevolge van hul onbesonne daad. Want sy sal nog swaarder moet boet as hy. Hy durf nie eens dink aan wat hulle sal moet verduur nie. Nee, trou moet hulle. Sommer môre. En dit moet net goed gaan. Dit moet net. Dit word swart voor sy oë as hy dink aan die moontlike gevolge. Hy is nat van die sweet en voel siek en koud. Tina, sy pa, hulle vriende . . . wat sal hulle van hom dink? Wat sal van sy goeie naam word? Sy toekoms? Sy hele lewe lank sal hy gebrandmerk wees, hy wat Paul Hugo is. Sal sy pa hom vergewe? Kan hy met ’n vrou en kind na sy nuwe universiteit toe gaan? Sal sy pa gewillig wees om hom soveel jare met vrou en kind te onderhou? Durf hy dit verwag? Moet hy dan nou afsien van sy toekomsdrome om vir hom en Debbie elders ’n bestaan te gaan vind? Nee, so sal die Here hulle nie straf nie. Dit het hulle nie verdien nie, so groot was hierdie enkele sonde tog nie. Alles sal regkom. Alles moet net regkom. Dis maar net ’n droom, ’n aaklige droom waaruit hy netnou dankbaar sal wakker word. ’n Aand wat so volmaak begin het, en so volmaak was, kan nie so rampspoedig eindig nie. Twee jong harte vol van die afskeid wat kom – hulle moes nooit vanaand alleen gewees het nie. Ongeoorloofde liefkosings, Debbie in sy arms, om hulle die beskutting van die donker wilgers wat so laag hang . . .
Debbie sou die aand huis toe gaan en Paul het nie veel tyd gehad om sy plan uit te voer nie. Hy was alreeds vroeg die oggend op. ’n Kokende bad gevolg deur ’n koue stort en twee koppies swart koffie het hom beter laat voel. In die helder daglig het sake ook nie so duister gelyk nie. Sal hy nie maar alles aan die noodlot oorlaat nie? Hy is moontlik heeltemal onnodig onrustig. Moet hy hom nou halsoorkop in ’n huwelik begewe wat dalk nie regtig nodig is nie? Hy sal met Debbie praat. As sy voel dis nodig, sal hy dadelik met haar trou. Maar sy onrus neem weer toe. Hy is ouer en sterker. Debbie sal vir hom luister en dit is sy plig om reg te maak wat hy verbrou het. Om die besluit aan haar oor te laat sou net so ’n groot onreg wees soos die een van gisteraand. Hy ken Debbie. Sy sal niks doen wat hom moontlik kan benadeel nie. Sy sal eerste aan hom dink en nie aan haarself nie, en sy eerste plig is nou om haar te beskerm, al is dit dan tot watter prys ook al.
En dit was eers nadat hy dié besluit geneem het, vas en onherroeplik, dat daar kalmte en rus in sy gemoed gekom het.
Net ná ontbyt is hy na Debbie toe. Sy was skaam en verleë. So jonk en weerloos. So bleek, met diep skaduwees onder haar oë, asof sy ook nie laas nag geslaap het nie. Hy het haar gevra om ’n entjie saam met hom te gaan ry en sonder teëpraat het sy saam met hom gegaan. Selfs so vroeg in die oggend was dit al drukkend warm en dit was heerlik om uit die stad weg te kom. Hulle het nie gepraat nie. Paul lyk so anders, dink Debbie. So streng en vasberade, byna ongenaakbaar. Sou hy kwaad wees vir haar oor gisteraand? Het sy haarself goedkoop gemaak in sy oë? Gaan hy nou vir haar sê dat hy haar nie meer liefhet nie?
Langs ’n helder stroompie, in die skaduwee van ’n paar wilgerbome, het Paul die motor tot stilstand gebring. Dit was koel en stil hier. Sy het net die sagte geruis van die stroompie gehoor soos dit oor die klippe kabbel. Maar sy was styf en koud asof die oordeel alreeds oor haar gevel is. Paul het moeg gelyk. Hy was so bleek.
’n Rukkie is hy stil, toe neem hy haar hand in syne. Hy kyk na haar, lank en ernstig, toe gewaar sy ’n vonkeling in die diepblou oë, die skemering van ’n glimlag om sy mond.
“Ek wens jy het ’n bietjie ouer gelyk, Debbie,” sê hy. Sy gaap hom verbaas aan. Wat sou Paul nou bedoel? Die glimlag om sy mondhoeke groei. Hy neem haar hand, lê dit teen sy wang en sê toe saggies: “Jy weet dit nog nie eens nie, Deborah Malan, maar dis vandag jou troudag.”
Sy kyk hom verskrik aan. Is Paul van sy sinne beroof? Maar die glimlag om sy mond, die liefde in sy oë, stel haar gerus. Is dit ’n grap? Paul sien die ongeloof, ontsteltenis selfs, op haar gesig.
“Wil jy nie met my trou nie, Debbie?” vra hy sag.
“O, ek wil, ek wil,” fluister sy.
“Vandag? Sommer nou-nou?”
Die ongeloof is nog steeds daar. “Natuurlik nie. Nie vandag nie.”
“Vandag en nie ’n dag later nie. Luister nou mooi na my, Debbie, en ek is seker jy sal met my saamstem. Ek het baie gedink en ek is daarvan oortuig dat dit die beste is. Het jy klaar ingepak?”
“Ja, ek het nog net een klein koffertjie oor.”
“Dis goed. Ek gaan jou nou huis toe neem en jy gaan gou klaarmaak. Sê vir niemand iets nie. Dan gaan ek en jy Johannesburg toe. Ons kry ’n spesiale lisensie en trou sommer voor die landdros. Niemand behalwe ek en jy weet daarvan nie en as alles goed gaan, hoef niemand ooit daarvan te weet nie. Ons neem al jou bagasie saam, dan hoef ons nie eers weer terug te kom Pretoria toe nie. Vanaand neem ek jou sommer in Johannesburg na die trein toe en jy gaan huis toe asof niks gebeur het nie.”
Debbie kyk hom aan, stom en verslae. Sy dink aan haar ma en haar pa en toe begin sy bitterlik te huil.
“O Paul, maar ons kan mos nie,” snik sy toe hy haar ná ’n tydjie effens tot bedaring bring.
Hy streel die blinkswart hare en fluister naby haar oor: “Waarom nie, Debbie? Waarom nie? Het jy my dan nie meer lief nie?”
“Ek het jou lief. Ek het jou lief. Ek het jou so lief. Maar dis juis omdat ek jou liefhet . . .”
“Nee, dis darem nou nie ’n verskoning wat ek kan aanvaar nie,” glimlag Paul. “Jy het my seker maar nie meer lief nie.”
“Paul,” berispe sy hom verwytend.
“Nou waarom dan nie?”
Sy stoot hom weg en sit terug, weg van hom af.
“Paul,” sê sy met bewende lippe, maar sy kyk reguit in sy oë. “Is dit oor gisteraand?”
“Ja, Debbie,” sê hy eerlik. “Natuurlik is dit oor gisteraand – hoofsaaklik. Ek het jou lief en as dit nodig is, wil ek jou beskerm.”
“Nee,” sê sy. “Nee, nie so nie.”
“Ons kan nie nou anders nie.”
“Ons kan wag,” sê sy koppig. “Miskien . . . miskien . . . is dit nie nodig nie.”
Hy sien die rooi gloed wat in haar nek en wange opstoot en saggies trek hy haar weer na hom toe. “Ons kan nie wag nie. Moenie dat ons later spyt is nie. Ek gaan ’n groot belofte van jou vra, Debbie, en as jy my regtig liefhet, sal jy my help. Ek wil met jou trou, vandag nog. Maar dan gaan ek jou vra om ons troue ’n absolute geheim te hou. Jy mag niemand daarvan vertel nie. Nie vir Trudie nie en nie vir jou ma nie. Vir niemand nie. En al die jare, totdat ek jou eendag kan kom haal as my vrou, moet jy die geheim vir my bewaar. Dink jy jy sal dit regkry?”
“Natuurlik. Maar dit is nie nodig nie.”
“Dit is nodig. En dit sal nie so maklik wees om die geheim te bewaar nie. Selfs in ons briewe moet ons nooit eens melding daarvan maak nie. Jy is maar net die meisie wat vir my wag totdat ek klaar is en jou kan kom haal. Maar jy moet leer en ek moet leer en die jare sal gou verbygaan. Later kom ek vir jou kuier en kom jy vir my kuier, en as my ouers sien wat ’n oulike meisie ek het, sal hulle heeltemal tevrede wees dat ons verloof raak en so gou moontlik trou.”
Die bloed begin vinniger deur haar are jaag en opwinding bemeester haar. As Paul dit so stel, waarom nie? Solank sy net nie in die pad van sy toekomsdrome staan nie, sal sy alles doen wat hy wil hê. Maar om dit vir daardie een kans uit ’n honderd, ’n duisend, te doen . . . Sy kyk op in sy oë en hy verstaan.
“En as sake verkeerd loop, is jy nie alleen nie. En dan sal ons wel ’n plan maak. Maar dit sal nie. Ek weet. Ek is seker daarvan.”
“Maar waarom dan?”
“Omdat ek jou liefhet en omdat ek oortuig wil wees dat jy aan my behoort as ek ’n duisend myl ver van jou alleen daar in die Kaap sit. Maar miskien is jy nog nie seker dat jy my so liefhet nie.”
“Paul,” verwyt sy hom weer.
Hy glimlag, maar vervolg meer ernstig: “Ons het nie so baie tyd nie, Debbie. Ek het nog nooit vantevore getrou nie en ek weet nie eens hoe lank dit neem om ’n spesiale lisensie te kry nie. Bennie sal weet, maar ek durf hom nie vra nie. So, ons sal maar so gou moontlik moet gaan. Jy gaan nou nie verder teëstribbel nie, gaan jy? Dis al wat ons kan doen. En as jy eendag uitvind dat jy my nie meer liefhet nie, of as jy iemand anders liefkry, sal ek jou nooit hou as jy nie wil bly nie, Debbie.”
Haar oë is al weer vol trane. “O, Paul, ek sal jou altyd liefhê. Jy is die wonderlikste man in die hele wêreld.”
“Nee, my liefste. As ek ’n beter man was, sou ek jou nooit . . .”
Sy sit haar hand oor sy mond. “Nee, dit was ons al twee. En ek sal graag vandag met jou trou, en ek sal jou geheim hou, en ek sal vir jou wag, en ek dink nog jy is die wonderlikste man . . .”
Hy druk haar aan sy hart. “Sodra ek klaar is, kom ek jou haal.” Hy hou haar weg van hom af en bestudeer haar gesiggie. Met die tekens van trane op haar wange lyk sy nog jonger as haar agttien, byna negentien jaar.
Sy sien die frons op sy gesig en vra: “Wat is dit, Paul? Wat makeer?”
“Ek weet nie hoe ons die landdros sal kan oortuig dat jy al een-en-twintig jaar oud is nie. Kan jy nie ’n plan maak nie, Debbie?”
Sy glimlag effens. “Ek dink so. Trudie het ’n swart hoed wat my sommer baie ouer laat lyk. Ek sal dit leen. Trudie gaan eers môre, so jy kan dit weer aan haar terugbesorg. As ek net êrens ’n bril kan kry. Trudie s’n het gebreek, anders kon ek dit ook geleen het.”
“Ons kan maar die bril laat staan,” sê hy glimlaggend. “Anders is ek nie eens seker dat ek met die regte meisie trou nie. Nou kom, ons sal moet aanstoot.”
“Sal daar nie moeilikheid wees nie, Paul?” vra sy nou onrustig. “Sal hulle ons glo?”
“Ek hoop so.” Sy gesig is ernstig. “Jy moet my help soveel jy kan.”
Trudie was nie tuis toe Debbie daar kom nie. Aan die een kant was Debbie baie bly, want sy was vandag ’n bietjie bang vir Trudie se skerp oë. Maar sy was jammer om weg te gaan sonder om vir Trudie te groet en net die gedagte dat hulle aanstaande jaar weer saam in die kamer sou wees, het haar beter laat voel. Sy het darem eers gou vir Trudie ’n briefie geskryf en tot siens gesê. Gelukkig was mevrou Rabie tuis en kon sy haar groet en sê dat Paul haar sommer Johannesburg toe neem, want hulle wil nog eers die middag bioskoop toe gaan. Haar hart het in haar keel geklop, maar mevrou Rabie het haar vriendelik gegroet en glad nie agterdogtig gelyk nie. Debbie het ’n donker rok met lang moue aangehad en Trudie se swart hoedjie gedra en sy het gedink dat sy ten minste een-en-twintig jaar oud lyk.
Debbie was een keer met Intervarsity in Johannesburg, maar sy het die stad glad nie geken nie. Paul het egter alles geweet en wat hy nie geweet het nie, het hy gevra. Hulle het na ’n juwelierswinkel toe gegaan en Paul het vir haar ’n trouring gekoop. Haar keel het weer begin toetrek en sy het bang en senuweeagtig geword, maar Paul het gesê hy wil geen verdere trane op sy troudag sien nie; hulle moet dit ’n dag maak wat hulle altyd sal onthou. So wou ek nie my troudag gehad het nie, het sy gedink, en haar hart het bevrees in haar keel bly klop terwyl sy asof in ’n droom al agter Paul aanloop.
“Onthou nou, Debbie,” fluister Paul weer vir oulaas terwyl hulle die trap na die landdroshof toe opstap. “Jy is in negentienhonderd en elf gebore, nie in negentien veertien nie. Jy is een-en-twintig, nie agttien nie.”
“Ek sal onthou,” fluister sy. Sy is nou kalm, maar dis ’n kalmte wat uit desperaatheid gebore is. Dis om Paul se ontwil dat sy dit doen. Die gedagte aan wat voorlê, vul haar met angs en bewing. Sy is diep ongelukkig en tog besef sy dat hulle moet aangaan. Paul se hand is op haar arm, sy kan nie omdraai nie. Sy kyk op na hom. Hy is ook maar ontsteld, maar baie vasberade – dit kan sy sien. Sy sal ook maar dapper moet wees. Nou kan sy nie meer omdraai nie.
Paul bekyk vlugtig die uithangborde. Daar is dit: Huwelike. Die deur is oop en hulle gaan die kantoortjie binne. ’n Ouerige man met ’n groot voorkop en yl grys hare kyk effens op van die registers waarmee hy werk en loer bo-oor sy bril na hulle. Sy oë is helderblou – amper soos Paul s’n, dink Debbie – maar waterig. Die rande van sy ooglede is rooi. Sy hele houding is onpersoonlik en saaklik.
“Goeiemôre, Meneer,” sê Paul.
“Goeiemôre,” kom die antwoord half meganies en hy skryf gou eers ’n paar woorde in die register.
Debbie het ook ’n flou “goeiemôre” geuiter.
Die amptenaar voltooi ’n vel in die register, klad sy skryfwerk versigtig, vergelyk dit vlugtig met die vorm, sit sy pen neer en skuif die vorm met ’n kykie bo-oor die bril in ’n vakkie in. Debbie sien dat sy swart kantoorbaadjie by die elmboë deurgeslyt is. Hy plaas die vingerpunte van albei hande op die toonbank. “Ja, Meneer?” vra hy vir Paul.
“Ons wil graag vanoggend trou, Meneer.”
Paul is ook senuweeagtig, sien Debbie, en dis of sy skielik sterk en sekerder voel. Sy het Paul lief, sy wil met hom trou. Dis maar net dat dit so anders is as wat sy haar dit altyd voorgestel het.
Die ou man draai stadig na Debbie en kyk haar aan asof hy by haar ook bevestiging wil kry. Voor sy kan dink, antwoord sy op sy onuitgesproke vraag: “Ja, Meneer.”
Hy kyk weer na Paul. “Spesiale lisensie,” sê hy asof hy vir Paul iets voorsê.
“Ja, Meneer.”
“Is julle ouers of familie hier?”
“Nee, Meneer.”
“Weet julle ouers van julle voorneme? Het julle ’n toestemmingsbrief van die dame se ouers?”
Paul kry effens kleur. “Ons ouers weet niks van ons planne nie. Ons is albei mondig.”
Die amptenaar trek ’n laai onder die toonbank oop, vroetel tussen dokumente en bring ’n paar vorms te voorskyn wat hy noukeurig deur sy bril betrag.
“Julle sal hierdie verklaring moet voltooi.”
Hy sit die vorms voor hom neer en reik na sy pen. Nou kom dit, dink Debbie. Hy sal seker eerste vir Paul vra. Paul het tog al die praatwerk gedoen. Dan sal sy ook al haar antwoorde reg hê.
Skielik kyk die waterige blou oë haar stip aan. Hulle is effens vergroot deur die bril. “Waar woon jou ouers, Juffrou?”
Die vraag beteken eers niks vir Debbie nie. Waar woon haar ouers? Waarom vra hy dit nou? Wil hy met hulle in verbinding tree? Sê nou hy ken hulle? Hy moet mos haar name vra. En haar ouderdom. Negentien elf, nie negentien veertien nie.
Sy word bewus van die pouse. Sy klem haar handsakkie onder die toonbank styf vas sodat haar hande nie moet bewe nie.
“Op Sandspruit, Meneer.” Dis of iemand anders praat.
“Ken jy die juffrou se ouers?” Dis nou weer Paul se beurt.
Paul is ook nie op sy gemak nie. “Ons is albei studente – van Pretoria. Ons het mekaar daar leer ken.”
Paul bly stil en wag vir ’n verdere vraag.
Maar daar kom geen verdere vraag nie. Die twee ou blou oë wag dat hy moet aangaan. Paul weet hy moet stilbly en wag vir verdere vrae. Hy sê onnodig te veel. Maar die blou oë wag dat hy aangaan.
“Ons het besluit om te trou voordat ons huis toe gaan.” Paul voel hoe lamlendig sy antwoord, sy ongevraagde verduideliking, klink. Hy kan mos nie vir die nuuskierige ou vent sê hy trou met Debbie omdat hy haar liefhet, omdat hy haar wil beskerm, omdat hy moet nie. Hy kan ook nie vir hom sê dit gaan hom nie aan waarom hulle trou nie. Hy het ook nie eens gevra nie. Dis maar net die oë wat vra.
“Wanneer is jy gebore, Juffrou?”
Vinnig kyk Debbie op. Sy was die vraag nie te wagte nie. Nie nou al nie. Sy het gespanne gestaan en wag vir wat Paul sou sê. Dan sê sy vinnig: “Negentienhonderd en elf.” Haar stem het net so effens gebreek voor die “elf”, maar sy voel skuldig. Sy voel hoe sy bloos. Sy weet die ou man agter die toonbank lees die leuen in haar oë en sy kyk weg.
Die man se lang, maer vingers beweeg asof hy drie, vier note oor en oor op die toetse van ’n klavier herhaal. Hy staan ’n oomblik ingedagte.
“Wag net ’n oomblikkie, asseblief,” sê hy en hy stap na ’n sydeur, klop en gaan die vertrek binne. Hy maak die deur saggies toe.
Paul en Debbie kyk na mekaar, maar hulle praat nie. Die onrus wat hy in haar oë lees, vul sy hart ook, maar hy kan dit beter wegsteek as sy. Hy sit ’n oomblik sy hand gerusstellend op hare en glimlag. Gespanne wag hulle.
Debbie skrik toe die deur weer oopgaan. Die ou man kom uit, maar voor hy die deur toetrek, wissel hy eers nog ’n paar woorde met iemand in die ander vertrek. Hulle hoor die stemme, maar kan nie uitmaak wat gesê word nie. Toe kom hy terug na die toonbank en sê: “Die landdros het nou ’n afspraak. Hy sal nie voor halfeen beskikbaar wees nie. Hy voel dat hy julle by afwesigheid van julle ouers, of hulle skriftelike toestemming, moet vra om julle geboortesertifikate voor te lê. Het julle dit dalk by julle?”
Paul voel hoedat ’n woedebui dreig om hom te oorweldig. So ’n vervelige, bemoeisieke vent! Kan hy nie sy werk doen en hulle in vrede laat gaan nie? Met moeite bedwing hy hom en sê: “Nee, Meneer. Ek het nie gedink dis nodig nie.”
“Die landdros wil dit graag hê. Julle kan dit by die Uniegebou kry, by die Registrateur van Geboortes.”
“U bedoel ek moet teruggaan Pretoria toe?” vra Paul ongelowig.
“Dit sal nodig wees.”
Paul voel hoe sy hande van ontsteltenis bewe. Hy durf nie na Debbie kyk nie. Hy probeer nog een maal. Nog een verdere vernedering.
“Meneer, asseblief. Dis vir ons heeltemal onmoontlik om nou weer terug te gaan Pretoria toe. Juffrou Malan . . . ons . . . gaan vanaand huis toe.”
Hy praat nie verder nie, want hy sien dit help nie.
“Ek is jammer, Meneer, maar as die landdros dit vereis, is daar niks aan te doen nie.”
’n Oomblik staan hulle oorbluf voor hom. Dit het hulle nie verwag nie. Dit sal ook niks help om verder te redekawel nie, dit sal net lyk of hulle iets het om weg te steek. Die landdros is seker binne sy reg om ’n bewys van geboorte te vra, anders sou hy dit nie gedoen het nie. Die versoek is ook nie onredelik nie. Dis net dat hy wat Paul is so vreeslik graag wou regmaak wat hy verbrou het en nou ontneem hulle hom die kans. Hy voel goedkoop en verneder . . . en hy het Debbie ook nog dié verdere vernedering aangedoen.
Dit lyk vir hom of daar in die waterige blou oë begrip vir hulle verleentheid is, of die man weet wat hulle hierheen gebring het. Skielik kan hy dit nie meer hier in die kamertjie uithou nie.
“Dankie, Meneer. Tot siens.”
Hulle is terug in die helder daglig en die son brand warm op hulle. Hulle kyk nie na mekaar nie. Albei voel verneder en goedkoop, ’n vreemde ervaring vir Paul Hugo.
Hy neem Debbie aan die arm. Tussen die haastige menigte op straat kan hulle nie praat nie. By die eerste kafee neem hy haar binne. Hulle gaan sit regoor mekaar en ná ’n rukkie waag sy dit om na Paul te kyk. Hy is bleek en daar tril ’n spiertjie in sy wang. Dis die eerste maal dat Debbie hom so ontsteld, so onseker, sien. Sy vergeet haar eie vernedering en ’n diep, grenslose liefde vir Paul wel in haar op. Sy wil hom troos en paai, vir hom sê dit maak nie saak nie.
Hy neem ’n sigaret, steek dit op en neem ’n paar diep trekke voordat hy na haar kyk. Daar is ’n skewe glimlaggie om sy mond, maar die blou oë lag nie.
“Ek het toe ’n pragtige gemors daarvan gemaak, nè, Debbie?”
“Dis nie jou skuld nie,” sê sy vinnig.
“Dis alles my skuld.” Hy kyk ’n lang oomblik na haar en sê: “Ek is jammer, Debbie. Ek het bedoel om goed te doen.”
Sy steek haar hand oor die tafel na hom toe uit. “Ek weet en ek waardeer dit, Paul. Ek sal dit altyd onthou. Maar dis miskien beter so . . . en ek sal dit as ’n goeie teken vir ons sien. Dat alles goed sal gaan en dat jy eendag as jy klaar is vir my sal kom haal.”
Hy druk haar hand styf in syne vas.
“Ek hoop jy is reg, Debbie. En as jy my nodig het . . .”
“Dit sal goed gaan, ek is seker dit sal goed gaan.”
“Die Vader gee dat jy reg is.” Hy kyk in haar oë, diep en innig. “Ek het jou lief, Debbie, liewer as ooit vantevore. Ek sal gou maak, so gou ek kan, en jou dan kom haal.”
Die kelnerin bring hulle tee en dankbaar drink hulle dit. Debbie kom agter dat Paul ook kalmer word. Maar sy weet dis ’n ondervinding wat nie een van hulle ooit sal vergeet nie.
Toe hulle uitstap, koop hy vir haar ’n tamaai doos sjokolade en ’n entjie verder by ’n juwelier ’n stringetjie fyn, pragtige pêrels. Daarna het hy haar na ’n groot, deftige plek toe geneem waar hulle geëet het en nou kon sy sien dat Paul hom daarop toespits om die oggend se teleurstelling en vernedering te probeer vergeet en vir haar ook daarvan te laat vergeet sodat hulle laaste paar uurtjies saam gelukkig sal wees.
Die middag het hulle uitgery na die Boksburg-meer, maar die weer het vroeg opgesteek en dit het sommer gou begin reën. Hulle is na ’n teekamer toe waar hulle gesit het totdat dit tyd was om weer te gaan eet. Hulle was alleen en tog ook nie alleen nie. Paul het die meeste van die tyd net haar hand vasgehou en hulle kon nie eens veel gesels nie. ’n Rukkie ná hulle klaar geëet het, moes Paul haar trein toe neem. In die motor het hy haar nog vir oulaas teen hom vasgehou, bang om haar te laat gaan. Sy hart was vol liefde en teerheid vir die jong meisie in sy arms en daar was ’n dringende gebed in sy hart dat niks moet gebeur om Debbie te gou te laat grootword nie, dat sy nie te gou moet agterkom dat daar ook pyn en smart, teleurstelling en bitterheid in die wêreld is nie.
Toe hy haar trein toe neem, het dit nog saggies gereën. Hy het vir haar vrugte en boeke gekoop en haar tasse vir haar weggepak, en nog steeds het hy gevoel hy moet iets doen voor sy vertrek. Maar daar was niks meer wat hy kon doen nie. Hulle was ’n klein rukkie alleen in die kompartement en hy het daar vir haar tot siens gesê. Saggies het hy die ooglede, wat swaar was van die trane, gesoen en toe die warm, lieflike mond.
“Ek kom jou haal,” het hy gesê.
“Ek sal wag,” het sy gefluister.
Hulle kyk ’n lang oomblik in mekaar se oë, toe glimlag Paul effens.
“Jy moet grootword. As ek weer met jou trou, sit jy wragtie nie ’n swart hoed op nie.”
Deur haar trane het sy geglimlag . . . en toe het die eerste van haar reisgenote gekom. Saam het sy en Paul op en af op die perron gestap totdat dit tyd geword het vir die trein om te vertrek.
’n Laaste vinnige omhelsing en die trein is die swart reënnag in terwyl Paul alleen op die perron bly staan.