Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 16
ОглавлениеHoofstuk 13
Hoofstuk 13
Met dokter Hugo se brief in haar hand sit suster Schoombie in die skaduwee van die soetdorings wat so ’n entjie van haar rondawels af staan en waarna die stukkie grond, haar heiligdom, vernoem is.
Dis nog vroeg in die oggend, skaars tienuur, maar sy het alreeds ’n harde dag se werk agter die rug. Van vieruur af was sy al besig met die twee huishulpe en die tuinman wat haar help om die blomme te pluk en te sorteer sodat sy hulle vroeg, wanneer die blomwinkels oopgaan, in die stad kan aflewer. Dankbaar sit sy nou terug in die gemaklike houtstoel wat altyd hier onder die soetdorings wag vir die halfuurtjies tussenin wanneer sy kan ontspan, en wag dat Anna vir haar tee bring.
Haar blik gaan met waardering oor die somerlandskap wat hier voor haar uitgesprei lê. Dit is ’n pragtige gesig wat strek tot daar waar die Magaliesberg blou afgeëts teen die horison lê – ’n panorama wat gedurig wissel soos die son sy goue pad van die ooste na die weste baan. Al is sy hoe moeg, hier kry sy altyd weer krag.
Sy sal nooit vergeet dat sy dit alles aan Chris Hugo te danke het nie.
Sy ken Chris al baie jare lank. Byna dertig jaar. Sy was ’n verpleegster by die hospitaal in Kaapstad waar hy ná sy terugkeer uit Holland ’n jaar lank gewerk het. Hy was arm en het ’n groot studieskuld gehad, maar sy sou haar toekoms met die grootste bereidwilligheid aan hom toevertrou het. Maar Chris het haar nooit gevra om dit te doen nie. Hulle vriendskap was diep en heg, maar hy het nooit met haar oor liefde gepraat nie. Sy het gedink sy verstaan. As hy eendag gevestig is en sy studieskuld afbetaal het, sal hy weer na haar toe kom. Nou is hy te eergevoelig om haar te vra.
Toe hy ’n jaar of twee nadat hy uit die Kaap weg is vir haar van sy huwelik met Tina van Graan skryf, was sy verstom en verslae. En toe sy hoor dat hy met ’n ryk man se dogter getroud is, het haar hartseer en verslaentheid plek gemaak vir bitterheid. Sy was diep teleurgesteld in Chris. Die man wat sy aanbid het, het ook maar voete van klei gehad soos ander mense. En die skok en teleurstelling was so groot dat sy, wat altyd so kalm en bedaard was, ’n tyd lank kop verloor het. Daar was skielik ’n leemte in haar lewe wat ten alle koste gevul moes word en sy het buite die hospitaal afleiding gesoek, hoewel sy haar werk nog getrou gedoen het. Maar die uitspattige lewe wat sy gelei het, het nie vir haar berusting gebring nie en haar uiteindelik suur bekom. Dis toe dat haar gesondheid die knou gekry het wat haar later so duur te staan gekom het.
Dit was vyf of ses jaar voordat sy Chris weer gesien het. Byna nog dieselfde Chris, ’n bietjie breër en ’n bietjie beter aangetrek as die jong dokter wat sy geken het, maar geensins die welvarende man wat sy gedink het Chris toe al met sy ryk vrou se hulp moes gewees het nie.
Hy was bly om haar weer te sien en hulle kon nie genoeg gesels nie. Hy het haar genooi om by hulle in die Strand te kom kuier. Hy wou sy vrou en seun vir haar wys.
Sy het die eerste dag wat sy los was, gegaan. Sy het gebrand van nuuskierigheid om die vrou te sien. En sy sien haar nog soos sy haar daardie oggend gesien het: ’n skraal jong meisie in ’n blou baaibroek, haar hele lyf goud gebrand deur die strale van die son, die goudblink van haar hare, die laggende diepblou oë. Sy sien nog die liefde in Chris se oë – sy het geweet dat sy te gou geoordeel het.
“Dis ons eerste vakansie vandat ons getroud is,” het sy vrolik gesê. “En o, geniet ons die see! Ek weet nie hoe ons Paul ooit van die see en die sand sal wegkry nie. Maar wag, ek gaan hom eers haal dat hy kom hallo sê.”
Sy het opgewip en soos ’n kind see toe gehardloop. Dit was laagwater en sy moes ’n hele entjie draf om by die rotse te kom waar ’n blonde knapie, goud gebrand soos sy ma, gespeel het.
Tog wonderlik hoe ’n mens onthou, dink suster Schoombie. Dis goed sewentien, agttien jaar gelede en ek onthou nog hoe mooi dit daardie Maartoggend was, die see wat ver teruggetrek het, die swart rotse, die onvergeetlike blou berge van die Strand en Gordonsbaai, en die jong blonde vrou met die fraai jong seuntjie aan haar hand.
Hulle was heerlike geselskap, Chris en sy Tina en hulle klein Paul, en sy het baie onwillig van hulle af weggegaan toe die dag om was.
’n Jaar of twee later het ’n lastige hoesie waarvan sy nie ontslae kon raak nie haar verplig om die Kaap met sy nat, koue winters te verlaat. Sy het twee jaar lank in die Algemene Hospitaal in Johannesburg gewerk en toe hulle ’n matrone soek vir Chris se nuwe hospitaal was sy gelukkig genoeg om die pos te kry.
Ná al die jare het die drome van haar jeug werklikheid geword. Dit was ’n bietjie anders as wat sy gedroom het, maar tog was dit vir haar ’n voorreg en ’n vreugde om saam met Chris te werk. Byna agt jaar lank het hulle saamgewerk, het sy gesien hoe sy praktyk groei, het sy die liefde en vertroue gesien waarmee sy pasiënte hom bejeën. Sy was nog lief vir Chris, maar dit het nie meer seergemaak nie.
“Is jy nie van plan om te gaan spesialiseer nie, Chris?” het sy hom eendag gevra.
“Moenie jy ook nog lol nie,” het hy glimlaggend gesê. “Ek het alreeds my hande vol met Tina.”
“Dit was altyd jou ideaal,” het sy hom herinner.
“Ek weet. Maar as ’n mens ouer word, lyk sulke dinge vir jou minder aanloklik as wat dit vroeër gelyk het. Ek dink nog soms daaraan – ek dink Tina sal daarvan hou om in die stad te gaan woon – maar ek weet nie of ek so gelukkig daar sal wees nie. Hier is die werk altyd interessant en vol verrassings. Vandag is dit ’n galblaas, môre ’n skedelbreuk, oormôre ’n sprinkaan wat in ’n man se keel ingevlieg het . . .”
“Of tant Rykie se rumatiek, of klein Willie se ‘trekkens’, of jy moet in die nag twintig myl agter ’n dronk man aanry wie se kop by ’n partytjie oopgeslaan is!”
“Ja, dis waar. Maar hulle het my almal nodig. Hulle ken en vertrou my. En eendag as Paul klaar is . . . Ek sien baie uit na die dag wanneer ek en Paul kan saamwerk, Hester.”
Chris het nie weggegaan nie en saam het hulle Oudendal se siekes gesond gemaak. Die jare het verbygesnel. Paul het grootgeword. Soms was sy so ’n bietjie onrustig oor Paul. Chris was altyd besig en Tina het hom bederf. Die kind het alles gekry wat sy hart begeer. Dikwels het sy aan sy pa gedink, aan hoe swaar hy gekry het.
Dit was die jaar voor Paul universiteit toe is dat die slag haar getref het. Sy het maer geword en het haar eetlus verloor, sy was gedurig moeg en lusteloos en die hoes was skielik erger. Dit was tuberkulose. Chris en Tina was baie goed vir haar, maar dit het haar ’n volle jaar in die sanatorium gekos en sy sou nooit weer kon verpleeg nie. Die dokter was baie beslis daaroor. ’n Stil, rustige lewe – heeldag in die buitelug, voedsame kos en geen bekommernisse nie – en sy kan ’n rype ouderdom haal. Maar as sy sy raad verontagsaam . . .
Weer was dit Chris en Tina wat haar gehelp het. Tina het geweet hoe lief sy vir blomme is en die hoewe naby die stad waar sy naby die mark sou wees, was Tina se voorstel.
Hulle het die geld vir haar voorgeskiet en haar help soek na die regte plek. Verbasend gou het hulle dit gekry: ’n tienmorghoewe met goeie tuingrond noord van Pretoria. Dit het ’n nuwe, ruim rondawelhuis gehad wat teen die rand tussen doringbome gestaan het, sterk water en ’n wonderlike uitsig. Chris het ook voorgestel dat sy ’n kamer moes inrig vir pasiënte wat herstel en so ’n oord skep vir mense wat ná ’n lang of ernstige siekbed ’n tydjie moes wegkom na ’n plek waar daar rus en stilte, vars lug en volop melk en eiers is. En haar hospitaalkamer was nog nooit lank leeg gewees nie. Chris het daarvoor gesorg. Haar pasiënte kom nou van heinde en verre om hier in die stilte en rustigheid van Soetdorings weer volkome te herstel. As sy wou, kon sy nog drie sulke kamers aangebou het en hulle sou nooit leeg gewees het nie. Maar dan sal sy te swaar moet werk en ook nie tyd vir haar geliefde blomme hê nie. Een pasiënt op ’n keer is genoeg. Sy hoef nie veel vir hulle te doen nie – algehele rus en ontspanning is gewoonlik al wat hulle nodig het – en dit is aangenaam om iemand te hê om mee te gesels as jy lus het. Maar dit was die blomme wat so welig onder haar liefdevolle sorg gegroei het wat haar lewe gevul het, wat weer krag in haar siek liggaam en berusting in haar hart gebring het.
En Tina was reg. Dit was nie nodig om ’n mark te soek nie. Daar was ’n ongelooflike vraag na mooi blomme. Daar was altyd vriende wat verjaar, babatjies wat gebore word, ’n jong bruid, ’n man of ’n vrou of ’n kind wat na die graf gedra word. Blomme was altyd in aanvraag. Sy is nou al byna drie jaar hier en nooit sal sy ophou om die Here te dank vir die gelukkige ingewing wat haar hierheen gestuur het nie. Of vir twee sulke vriende soos Chris en Tina nie.
En nou skryf Chris dat hy haar hulp dringend nodig het, dat hy vir haar ’n pasiënt bring, ’n jong meisie wat swanger is en wat sy die volgende ses maande moet huisves. Sy moet hom laat weet hoe gou die hospitaalkamer beskikbaar sal wees.
Die oubaas wat nou hier is, meneer Fischer, moes al ’n paar dae gelede vertrek het, maar hy is so bekoor deur die plek en het die rus wat hy hier gekry het so geniet dat hy self besluit het om nog langer te bly. Maar sy sal vir hom sê daar kom ’n nuwe pasiënt – sy is ook al verveeld daarmee om dieselfde ou storietjies telkemale weer oor en oor te moet aanhoor.
’n Jong meisie wat ’n kind verwag. Sy het nog nooit so ’n pasiënt gehad nie. Maar Chris se brief is dringend . . . en daar is altyd die blomme waarheen sy kan vlug as sy weer alleen wil wees.
Hy het haar gebring: ’n bloedjong meisie, skraal en regop, maar so wit en stil dat die vrolike groet op haar lippe gesterf het nog voordat sy ’n woord kon sê. Negentien jaar oud. So teer soos ’n bloeisel met die oggenddou daarop. Maar daar was pyn in die grys oë en nog nooit het suster Schoombie iemand gesien wat so alleen en verlate gelyk het en dit so dapper probeer wegsteek het soos Deborah Malan daardie oggend toe Chris haar na Soetdorings gebring het nie. Arme kind, het sy simpatiek gedink. Arme kind. Die wêreld het jou so vroeg al die rug toegekeer. Maar hier op Soetdorings is daar rus en genesing – ek weet, ek het dit self hier gekry – en ek sal jou ook help om dit te kry.
Hulle het die middag saam met haar geëet, maar die genot wat sy in ander omstandighede uit Chris se geselskap sou geput het, het ontbreek. Sy was al die tyd te diep bewus van die skraal, bleek gesiggie langs haar aan tafel, van die meisie wat so stil en beleef was asof daar geen gevoel meer in haar is nie.
Voordat hy weg is, het die dokter gevra om haar blomme te sien. Sy het Deborah na haar kamer geneem en saam met hom gestap. Soos sy vermoed het, was dit nie haar blomme waarin hy belang gestel het nie. Hy wou met haar gesels. En daar was so baie wat sy wou weet dat sy nie kon wag dat hy begin nie.
“Chris, die arme kind. Waar is haar mense? Het sy nie familie nie?”
Chris het nie dadelik geantwoord nie. Chris word ouer, dink sy opeens. Hy werk te hard. En hy lyk so diep bekommerd. Wie sou die meisie wees?
“Ja, sy het familie. Maar sy kan daar nie bly nie. Haar pa is ouderling in die kerk en daar is nog twee jonger dogters in die huis.”
Suster Schoombie voel hoe die bloed na haar kop stoot. O, die wreedheid van die wêreld tog. Wanneer sy haar mense die nodigste het, verstoot hulle haar.
“En die man?” vra sy en haar stem is onnatuurlik hard en kwaai.
“Die man is ’n jong student.”
“En nou moet sy haar kind hier kom kry en dan seker vir ander mense weggee. Sy moet alleen die smart en vernedering dra. Sowaar, daar is tye dat ek die ganse mansgeslag verwens.”
Die dokter gaan staan stil om na haar te kyk en die glimlag om sy mond is wrang en bitter. Met verbasing sien sy dat sy oë vol pyn is.
“Nog dieselfde ou vuurvreter, Hester, altyd gereed om vir die swakkeres in die bres te tree. Hester,” vervolg hy en hy draai sy kop weg en lyk grys en moeg, “Hester, moenie te hard oordeel nie. Die man is my eie seun, Paul.”
Dis of die soet geur van die blomme haar skielik walg, of daar ’n skaduwee oor die lieflike somerdag val.
“Here, Chris,” is al wat sy kan sê terwyl sy met verskrikte oë na hom kyk.
“Ja, Hester. Dis dinge wat met ander mense gebeur, nè, nie met ons nie. Ons is mos soveel beter as hulle, so iets kan ons nie oorkom nie. En as die dag kom, is dit so verpletterend, so oorweldigend, dat dit jou voete onder jou uitslaan en dreig om alles waaraan jy geglo en vasgehou het te vernietig.”
Sy is nog steeds sprakeloos. ’n Duisend gedagtes flits deur haar brein, maar sy is slegs bewus van haar diep jammerte vir Chris. ’n Oomblik sien sy nog vir Paul soos hy laas in sy blinkgroen motor hier weggery het, die son soos goud in sy blonde hare, erfgenaam van die ganse sonnige wêreld. Die beeld verdwyn en dit is weer sy pa wat sy voor haar sien – oud, met die wêreld se smart in sy oë. In dié oomblik weet sy dat haar liefde vir Chris Hugo nog net so kan seermaak soos vroeër. En Tina?
Dis haar verdiende loon, dink sy onstuimig. Sy het Paul aanbid. Hy was ’n jong god, volmaak in haar oë. En toe vul ’n diepe deernis, ’n oorweldigende gevoel van jammerte vir Chris en Tina, haar hart en maak haar oë blind van die trane.
“Ek is jammer, Chris,” is al wat sy kan uitkry en sy skaam haar vir haar trane. Sal sy noudat Chris haar nodig het soos ’n jong meisie sonder selfbeheersing aan die huil gaan?
“Ek en Tina is verbyster. Dis soos ’n aaklige droom. Dis of ’n mens koers verloor, of die dryfveer van jou bestaan skielik geknak is. Ons het so baie van Paul verwag.” Hy bly ’n rukkie stil. “Ons het gedoen wat ons dink die beste vir hom is . . . vir hulle al twee. Paul moet eers sy studie klaarmaak. Ek is baie jammer vir Deborah. Sy is so jonk, so fyngevoelig. Maar om hulle ontwil was daar nie ’n ander uitweg nie. Ons kon hulle nie aan hul eie lot oorlaat nie.”
Dis vir Chris bitter swaar om hul optrede, waaroor hy self ook al so baie bedenkings gehad het, teenoor die eerlike, opregte Hester te regverdig. Dit klink so gevoelloos en onmenslik. Nou verwyt Hester se oë hom ook. Maar hulle moet nou deurdruk.
“Paul wou met alle geweld met haar trou, maar dit was sy wat geweier het. Sy is ’n goeie meisie, Hester, en ek het baie respek vir haar. As sy dit toegelaat het, sou Paul met haar getrou het en sy hele toekoms laat vaar het. Maar selfs al was sy so diep verneder, het sy geweier om met hom te trou – hoewel ek seker is dat sy hom liefhet – en ons kon haar nie oorreed nie. Haar pa het haar bitter verwyt. Maar ons het nie reg te werk gegaan nie. Hester, en ek voel diep verantwoordelik vir die meisie. Ek wens ek kon haar by ons in die huis laat bly het, maar ons kan nie nou nie. Dis met groot dankbaarheid dat ek aan jou gedink het en dat ek haar in jou sorg laat. Kyk goed na haar, Hester, geestelik en liggaamlik. Ek sal so dikwels as wat ek kan, kom kyk hoe dit met haar gaan en as jy my nodig het, moet jy nie huiwer om my te laat weet nie.” Stadig begin hulle terugstap na die rondawels toe.
“En die baba? Gaan sy die baba behou?”
“Nee, Hester. Sy moet self ook weer terug universiteit toe. Daar is mense wat ek goed ken wat nie ’n kind het nie en wat die baba sal neem.”
“Ek sal na haar kyk, Chris,” belowe sy. “Om jou en Tina se ontwil, maar ook om haar eie ontwil. Die kind is gebreek. Sy het baie liefde en simpatie nodig. Chris,” haar oë is meteens dringend op hom gerig, “kan julle haar nie maar by julle laat bly nie?”
“Nee, Hester. Dis onmoontlik. Dit sal Tina breek. Dis veel beter so. Die meisie is jonk. Sy sal weer daaroor kom. Die tyd genees alle wonde.”
“Ek hoop julle doen reg, Chris.”
“Ek hoop ook so, Hester. Ek dink eerlik dit is die beste so.”
Is Chris werklik so seker hy doen die regte ding? wonder suster Schoombie. Of praat hy maar net om homself te oortuig?
Hulle is nou by die kliptrappie wat na die rondawels lei. “Kyk goed na haar, Hester,” herhaal hy. “Laat my dadelik weet as dit nie goed gaan nie. In haar gemoedstoestand kan sy enigiets aanvang. Oor ’n week of twee kom ek weer vir julle kuier.”
Ek sou glo jy voel diep verantwoordelik, Chris Hugo, dink suster Schoombie, haar oë op die vaal pad waarlangs die motor nou net gery het. Julle maak nie reg nie. Daar was ander maniere om die kinders te help. Maar dit het blykbaar ’n groter gees en groter onselfsugtigheid geverg as waartoe jy en Tina in staat is.
En het jy al een keer daaraan gedink dat dit jou eerste kleinkind is van wie jy so praat, wat jy so maklik aan ander afgee? Bloed van jou bloed en vlees van jou vlees! Daar lê vir julle almal nog groot verdriet voor.