Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 12
ОглавлениеHoofstuk 9
Hoofstuk 9
Kersfees het stil verbygegaan.
Hulle is almal Kersoggend kerk toe. Pieter Malan was ouderling en die gesin was getroue kerkgangers. Dit was slegs weens siekte of ongesteldheid dat een van hulle op ’n Sondagoggend uit die kerk kon bly.
Dit was stil en koel in die kerk. Daar was maar min mense. Dominee Van Heerden was weg see toe om ’n welverdiende rus te geniet en ’n vreemde jong predikant het in sy plek waargeneem. Hy het hulle vertel van die ster wat die herders gesien het en van die Kindjie wat in ’n stal gebore is sodat sondaars van hul sondes verlos kon word. Debbie het ’n rukkie lank van Paul vergeet en stil en aandagtig geluister.
Op die plaas het sake maar hulle gewone gang gegaan, want selfs op Kersdag moet die koeie gemelk en versorg, die hoenders gevoer en al die ander noodsaaklike take verrig word. Debbie het nie daarvan gehou dat haar pa so hard werk nie. Hy was van vroeg in die oggend tot donkeraand besig sonder om te rus en het die laaste tyd ouer geword. As hy saans so moeg lyk, het Debbie hom diep jammer gekry en gewens dat sy iets kon doen om hom te help. Sy sal volgende jaar dubbel so hard werk, het sy haarself telkemale voorgeneem, en sodra sy klaar is en ’n aanstelling kry, sal sy byna al haar geld huis toe stuur.
’n Klompie jong mense het die dag ná Kersfees op Aandrus kom deurbring en hulle het almal onder die ou peerboom piekniek gemaak. Daar was van Debbie se ou maats ook, seuns met wie sy saam skoolgegaan het en wat altyd baie van die slim grysoogdogter gehou het. Maar sy het weggegaan en hulle het agtergebly en selfs ná net een jaar het Debbie gevoel hulle stel nie meer in dieselfde dinge belang nie. Sy het hulle ontgroei. Miskien was dit omdat sy Paul leer ken en liefkry het dat sy nou soveel ouer as hulle voel, soveel wyser.
En toe word Bontrok, haar pa se beste melkkoei, siek. Met ’n bekommerde gesig het Pieter Malan sy werk gedoen en soveel tyd as wat hy moontlik kon by die siek Bontrok in die stal deurgebring. As hulle vra hoe dit gaan, het hy maar net sy kop geskud. Dit was of daar ’n skaduwee oor die huis geval het. Selfs die sonnige Popsie was stil. Haar pa se moeë, bekommerde gesig en die jammerte in haar ma se oë het haar vrolikheid gedemp. Pieter Malan het byna ’n hele nag in die stal saam met sy koei deurgebring. Elfuur die aand bring Miems vir hom ’n koppie swart koffie. Langs hom op die grond staan ’n paar bottels brandewyn, lynolie en medisyne. In die strooi lê die koei. ’n Rukkie kyk sy in stilte. Dis vir haar of Bontrok se asemhaling nie meer so swaar is nie, asof sy gemakliker voel.
“Sy lyk ’n bietjie beter, Pieter.”
“Sy is ’n bietjie beter.”
“Kom jy nie nou ’n slaggie rus nie? Jy lyk so moeg.”
“Nie nou al nie, my vrou. Gaan slaap jy maar solank. Ek sal nog ’n uur of twee bly totdat ek meer gerus is.”
Sy weet dit help nie om hom te probeer oorreed nie. Sy ken Pieter. En sy weet hy is baie onrustig, sy weet hoe groot die verlies sal wees as hy Bontrok moet verloor. Maar sy self is doodmoeg. Sy is ook al van voor sonop af aan die gang en kan hom tog nie help deur hier te bly nie. Hy stap saam met haar huis toe, neem ’n dik, oorgetrekte kombers en gaan weer terug stal toe.
Maar sy kan nie slaap nie. Sy mis Pieter langs haar op die groot bed. Voor sy haar oë sluit, bid sy ook soos Popsie gebid het: “Liewe Jesus, maak tog vir Bontrok gesond.”
Bontrok was die volgende oggend beslis beter. Pieter se oë het diep agter in hul kasse gesit en hy was moeg en bleek. Maar hy het weer met onvermoeide ywer sy werk op die plaas hervat. ’n Paar dae nog van spesiale sorg en Bontrok was weer gesond.
Januariemaand was droog en warm. Die lang somerdae was uitputtend. Selfs vroegoggend het die son se strale al gesteek en geskroei. Dit was net saans, as die son agter die rante verdwyn het en die sagte aandluggie begin roer, dat die wêreld draagliker geword het en ’n mens gevoel het dat jy weer kan lewe. Maar ten spyte van die hitte was hulle almal heeldag bedrywig. Daar was altyd werk op die plaas. Hulle moes kook en bak, hulle het help karring en botter maak, die eiers verpak om weggestuur te word, gewas en gestryk. Vir die dogters moes nuwe klere gemaak word.
Die dorp se jong mense het baie aande kom kuier. Hulle het vleisgebraai, waatlemoenfees gehou, speletjies gespeel, gesing en op die werf te kere gegaan.
Al die bedrywigheid het Debbie ook aan die gang gehou. Sy het haar knaende onrus onderdruk en haarself gedwing om vrolik en opgewek saam met die jongspan te kuier.
Maar Januarie het einde toe gespoed en haar onrus het toegeneem. Dit het steeds groter inspanning van haar geverg om saam met die jolige jong klomp te kuier, om so sorgeloos en opgeruimd soos altyd rond te baljaar sodat die huismense, en veral haar ma, tog niks moet agterkom nie.
In haar hart het die doodse vrees en angs steeds groter geword. En haar verlange na Paul het ook steeds gegroei. Sy verlang so baie na hom; sy verlang gedurig na hom. In die oggend as die dou op die blomme lê, in die warmte van die dag as sy onder die peerboom in die koelte lê en droom, saans as die son ondergaan en die skemering oor die vlaktes kruip. En as die sluiers van die nag die aarde toevou en slegs die flonkerende sterre die duisternis deurdring, word haar verlange onuithoudbaar.
Dit het Februarie geword.
’n Enkele reënbui het die weer ’n dag of twee afgekoel, maar die droogte is nie gebreek nie. Oor ’n paar weke moet sy weer terug Pretoria toe.
Debbie staan teen sononder op die stoep met ’n brief wat sy daardie middag van Paul gekry het. Sy wil alleen wees. En tog is sy bang om alleen te wees, want dan oorweldig haar gedagtes en haar vrees haar weer. Die skaduwees wat rek en aankruip, maak haar neerslagtig.
Die lug, wat heeldag ’n harde, gevoellose staalblou was, word nou ligroos en die wolkvlies aan die westerhemel word ’n diep karmosyn, dan skarlakenrooi en goud en oranje en die sagste pers . . . jakarandabloeisels . . . Paul . . .
Doortjie kom by die voordeur uit.
“Stap saam met my na die koppie toe, Doortjie. Daarvandaan sal dit nog mooier wees.”
Maar Doortjie kan nie saamgaan nie.
“Jammer, Deb, maar ek het belowe om Ouma te help. Ons het vir julle ’n verrassing vir ete. Stap jy maar, die aandete sal nog lank nie klaar wees nie. En kyk sommer vir my part ook!”
Debbie stap alleen die veld in. Meteens beny sy vir Doortjie. Sy is so gelukkig, so seker van haarself, altyd so bedrywig.
Die wêreld is nou aan die brand. ’n Paar oomblikke staan die vlamme teen die hemel, dan vervaag die helder kleure tot sagte tinte. ’n Diep skemering daal oor die aarde neer. Ook die eensaamheid en verlange in haar word dieper, dringender. Sy vat aan Paul se brief in haar sak. Dis nie nodig om dit te lees nie. Sy ken die inhoud van buite. Paul se briefie is opgewek, maar tog so teleurstellend kort. Vandag sou ’n lekker lang brief haar so baie getroos het. Maar Paul is ook altyd besig, gedurig aan die gang. Eers op Hermanus, waar hulle so lekker by die see gekuier het, en nou weer tuis. En binnekort moet Paul Kaap toe gaan. Sy gun hom die lekker vakansie, maar sy verlang so baie na hom. Sy verlang na sy teenwoordigheid, na sy sterk, beskermende arms om haar.
Sy gaan sit op ’n rots en maak sy brief weer oop. “Liefste Debbie.” Liefste Debbie! Solank sy maar sy liefste Debbie bly, is alles nog reg. Maar sy kan nie die verlange in haar stil nie. Sy kan ook nie meer teen die onrus in haar hart, die gevoel van angs en beklemming, stry nie. Sy het die spookgedagtes nog telkens verdryf. Sy wil nie, sy durf nie, sy kon hulle nie hanteer nie. Dae lank, weke lank, het sy nou al teen die aaklige moontlikheid gestry. Sy wou nie, sy kon nie die werklikheid aanvaar nie. As dit moet waar wees, as dit moet waar wees dat sy Paul se kind moet kry . . . En nou kan dit nie meer anders as om waar te wees nie.
Vir die eerste maal konfronteer sy die werklikheid en dis of die wêreld om haar donkerder word. “Here, Liewe Here, dit mag tog nie waar wees nie!”
Haastig staan sy op en stap verder die veld in, gejaagd, asof sy deur vinnig deur die skemering te stap die aaklige gedagtes wat soos bye om haar swerm van haar kan afskud.
Sy het daardie aand al haar vrese, wat nou vir haar werklikheid geword het, teenoor Paul uitgestort en gevra hy moet haar help. Sy weet nie hoe nie, maar sy self is raadop. Kan hy nie kom kuier sodat hulle saam ’n plan kan maak nie? Dit was vir haar bitter swaar om hierdie brief aan Paul te skryf. Sy het gedink wat anders sy kon doen, dalk moes sy maar deurdruk en teruggaan Pretoria toe sonder om vir Paul te laat weet en hom ook nog te ontstel. Daar in die stad sal sy op die een of ander manier geholpe raak, sal niemand weet nie. Maar sy het nie die moed daarvoor nie – sy moet vir Paul laat weet. Sy sal haar ma ook moet sê. En hoe gaan sy dit regkry?
Die tekens van die stryd wat sy nag ná nag alleen moes stry, die angs en onrus wat haar so verteer, het hul spore op haar gelaat. Sy het moeg en lusteloos geword en daar was donker skaduwees onder die grys oë. Baie oggende het dit swaar gegaan om ’n stukkie ontbyt saam met die gesin te eet sodat hulle niks moes agterkom nie. Sy het nie gelukkig of gesond gelyk nie.
Miem Malan het opgemerk dat daar iets is wat haar dogter hinder. Dis maar die ondraaglike hitte, het sy gedink. Dan weer: Debbie is verlief, sy verlang na Paul. Sy onthou self nog die onsekerheid van daardie eerste jong liefde. Sy wens Paul kan ’n bietjie kom kuier. Sy sou graag met hom wil kennis maak. Maar Pieter sal nie daarvan hou nie. Hy dink Deborah is nog ’n kind. Tog, Debbie is byna negentien jaar oud. Byna so oud soos sy was toe sy met Pieter getroud is.
Dis ’n paar dae later en Miem Malan is besig om ’n nuwe rok vir Debbie aan te pas.
“Jy word so maer, Debbie,” sê sy bekommerd terwyl sy na die rok kyk. Sy kan byna haar twee hande om Debbie se middeltjie span. Debbie was altyd fyn en skraal, maar dis of sy nou besig is om weg te kwyn. “Wat is dit, my kind? Voel jy nie lekker nie?”
Debbie het yskoud geword. Toe sy in die spieël kyk, was haar gesig doodsbleek. Maar haar ma het op haar knieë voor haar gestaan, besig met die rok se soom, en het nie gesien hoe ontsteld sy is nie. Ná ’n rukkie kon sy darem kalm antwoord: “Dis seker maar die hitte, Moeder. Daar is niks verkeerd nie.”
“Verlang my dogter terug universiteit toe of is dit maar net die jong dokter na wie sy verlang?” vra sy sag. “Is hy baie gaaf, Debbie? Kan hy nie vir ons kom kuier nie?”
Daar is ’n knop in Debbie se keel. Haar mond voel droog en sy voel tot die dood toe naar. Haar liewe, dierbare, selfopofferende ma. Hoe moet sy vir haar die vreeslike nuus vertel? Is dit hoe sy beloon word vir haar toewyding aan haar gesin? Haar pa, so streng, self so sterk, wat sal hy sê? Hoe sal sy hom ooit weer in die oë kan kyk? Doortjie, wat haar so bewonder, liewe klein Popsie, Ouma . . . Klein en beskaamd sal sy voor hulle staan. Is dit wat die liefde aan ’n mens doen? Jou krag en jou trots vernietig, jou tot in die afgrond verneder?
Sy kyk af in haar ma se vraende oë en weet dat die uur uiteindelik aangebreek het. Die uur waarin sy voor ander sal moet boet vir wat sy gedoen het. En saam met die skande voel sy tegelykertyd ook ’n groot verligting omdat sy die ondraaglike las wat sy alleen moes dra nou met iemand anders kan deel. ’n Oomblik lank sluit sy haar oë. “Here, help my, gee my krag . . .” Dan kyk sy bang maar vasberade in haar ma se onrustige oë en kniel skielik langs haar.
“Moeder,” fluister sy met bewende lippe, smekende oë op haar moeder gerig. “Moeder, ek is in vreeslike groot moeilikheid.”
Mevrou Malan kyk haar dogter verskrik aan. Haar gesig is wit. “Deborah!”
Sy hoor Doortjie in die kamer langsaan beweeg, ’n opgewekte liedjie op haar lippe. Stram, moeisaam, asof alle krag en soepelheid uit haar liggaam verdwyn het, staan sy van haar knieë af op en druk die deur toe. Dan sluit sy dit en gaan stadig terug na haar kind, wat met haar kop teen die kas aangeleun staan asof sy lewensmoeg is.
Debbie, haar dogtertjie, haar groen koring op die land.
In Miem Malan se hart was daar geen twyfel nie. Nie nadat Debbie haar van daardie aand by die Fonteine vertel het nie. Dat dit met Debbie, haar trotse, kieskeurige Debbie, kon gebeur het, was ongelooflik. Maar die bekentenis van Deborah se bleek lippe, die vrees en die angs en skaamte in haar oë, het geen twyfel gelaat nie.
En die swaarste ding wat sy nog ooit moes doen, was om haar man te vertel. Sy sou haar lewe gee om hom die smart en bittere teleurstelling te spaar. Sy weet hoe trots Pieter is. Vir hom sal dit ’n ontsettende skande en vernedering wees, die grootste ramp wat hom kon tref. Die dood sou verkiesliker wees. Maar daar is geen uitweg nie. Hy moet weet. Sy het hom nodig. Saam moet hulle hul dogter bystaan en help. Sy stap na die stal, waar sy hom kry. Sy voel oud en tot die dood toe moeg. Êrens het sy haar plig versuim, êrens het sy te kort geskiet in haar dogters se opvoeding. Dit was nie genoeg om hulle net lief te hê met ’n diep, begrypende liefde, om vir hulle te werk en te droom en op te offer, om saam met hulle te lag en te sing, om te probeer om daagliks so te lewe dat haar dogters in haar handel en wandel ’n voorbeeld kan vind om te volg nie. Dit was nie genoeg nie. Êrens het sy te kort geskiet. Sy is so moeg, maar nou moet sy sterk wees. Haar kind het haar nodig.
Debbie het gedink haar pa gaan haar klap. Stil het sy voor hom gestaan. Sy gesig het donker geword, sy hand was dreigend gelig. Maar die hand wat hy gelig het, het ná ’n paar sekondes slap na sy sy teruggeval. Hy het in haar blougrys oë gekyk, oë so vol smart, en stil weggedraai.
Haar pa het daardie aand aan Paul se pa geskryf. Sy het hom gesmeek om dit nie te doen nie, om ’n bietjie te wag. Maar hy was doof vir haar gepleit.
Sy was opnuut siek van ontsteltenis as sy dink aan wat Paul nou sal moet deurmaak. By hulle is dit of dood skielik in die huis gekom het. Niemand lag of praat of eet nie. Doortjie het haar met groot, verskrikte oë aangekyk toe sy netnou iets in die kamer moes kom haal. Net Ouma was kalm. Daar was ’n groot deernis in haar oë, haar hand op Debbie se kop was sag en liefdevol. Ouma, wat so baie smart en pyn in haar lewe geken het, kon saamvoel met ander in hul smart. Ouma was nie verbaas of geskok nie. Dis of Ouma weet en verstaan. Ouma ken die lewe, sy het al geleer dat die mens se jare op aarde meestal moeite en verdriet is.
Debbie se ma het vir haar aandete gebring en toe sy dit nie wou eet nie, ’n koppie warm tee. Met teer hande het sy haar help uittrek en in die bed gesit. Debbie het die hele middag nie ’n traan gestort nie. Sy was hard en koud en stomgeslaan. Haar pa se bitter verwyte en woede het haar nie geraak nie. Net twee woorde het soos vuur in haar siel gebrand: “Jou skandekind.” Haar skandekind! Nou eers het dit vir haar werklikheid geword. Sy gaan ’n kind kry, Paul se kind. En haar pa noem dit ’n skandekind. Sy was opstandig en het haat en afkeer gevoel, nie net teenoor haar pa nie, maar ook teenoor die ongebore kind. Hoe kon sy anders voel teenoor die kind wat met sy koms alles wat vir haar dierbaar is, vernietig? Haar liefde vir Paul is deur die modder gesleep. Paul se veelbelowende toekoms verkeer in gevaar. Haar ma en pa, die hele gesin, is in die diepste ellende gedompel. En dan is daar Paul se ouers, haar universiteitsloopbaan . . . Ja, die hele wêreld is verander omdat daar ’n kind – ’n skandekind soos haar pa dit noem – gebore moet word.
Maar haar ma se teerheid en liefde het die walle van haar selfbeheersing laat breek en sy het bitterlik gehuil.
“Toe maar, my kindjie, toe maar. Moeder sal jou help. Alles sal regkom. Toe maar, Debbie. Moenie so huil nie. Wag, ek gaan weer vir jou ’n koppie lekker warm tee haal.”
Met die koue tee het sy by die kamer uitgestap.
“Moeder sal jou help. Alles sal regkom,” het sy gesê. Sy weet self nie hoe nie. Die toekoms is aaklig en duister. Maar Debbie is haar kind en sy het haar nodig. Nog nooit het sy ’n ma se hulp en liefdevolle ondersteuning so nodig gehad nie. Die arme kind. Sy moes haar deegliker gewaarsku het. Daar is bitterheid en ook opstand in haar. Hoe kan dit die wil van God wees dat dié beproewing hulle moet tref? Wat het hulle dan gesondig om so gestraf te word? God is ’n God van liefde. Kan Hy dan behae daarin skep om die groen koring op die land te vernietig? Maar Hy is die God van wysheid ook en in sy wysheid sal Hy vir hulle die pad wys wat hulle moet volg.
Pieter het die aand gebid vir hulle dogter wat so diep gesondig het en God gesmeek om haar genadig te wees en haar haar groot sonde te vergewe.
Sy het later alleen voor haar dogter se bed gekniel. Debbie het uiteindelik geslaap, die spore van haar trane nog op haar wange. Jonk en weerloos het sy daar gelê en sy het nie soos ’n sondares gelyk nie.
“Help haar, Here,” het sy haar Hemelse Vader gesmeek. “Help ons om haar te help.”