Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 14
ОглавлениеHoofstuk 11
Hoofstuk 11
Hulle het ’n swaar nag met Tina gehad. Eers wou sy glad nie glo dat so iets moontlik kon wees nie, dat Paul, haar Paul, skuld aan so iets kon hê nie. Sy wou eenvoudig nie sy erkenning en verduidelikings as die waarheid aanvaar nie. Dit was die meisie wat hom verlei het, dit was maar net ’n slinkse set van haar kant om Paul in haar strikke te vang. Dis nie elke dag dat ’n meisie die kans kry om so maklik ’n seun soos Paul in die hande te kry nie. Die dokter moet alleen gaan, seker maak dat haar storie waar is, haar omkoop.
Paul sal dié nag nooit vergeet nie: sy ma se ontsteltenis, haar histeriese gehuil, sy pa se strak wit gesig terwyl hy haar probeer kalmeer en troos, die veragting en afsku wat hy in sy hart vir homself gevoel het. Die nag se gebeure is diep op hom ingebrand. Arme Debbie, het hy gedink toe sy ma uiteindelik aan die slaap raak van die slaapdrankie wat sy pa vir haar gegee het en hy verlig na buite gevlug het om die vars naglug diep in sy longe in te trek. Hy is totaal uitgeput. Arme Debbie. As dit hier in ons huis so gaan, hoe moet dit nie met haar gegaan het nie. Vir ’n meisie is dit altyd soveel swaarder, die prys wat sy moet betaal, is so verskriklik hoog. Maar as hy by Debbie staan, soos hy vas van plan is om te doen, sal hy ook swaar moet boet. Dit sal nie net Debbie wees nie. Hy sal sy mooi toekoms moet prysgee. En nog nooit was die toekoms mooier en aanlokliker as op hierdie oomblik dat hy dit moet opoffer nie. Met die verantwoordelikheid van ’n vrou en kind . . . ’n kind . . . hy, Paul Hugo, met ’n kind . . . Here, is dit waar of is die hele nag maar net ’n verskriklike nagmerrie waaruit hy netnou, nat van die sweet, sal wakker word? Is dit moontlik dat hy hom moet bekommer oor die toekoms saam met ’n vrou en kind?
Dit moet waar wees, want hier staan hy in sy ma se roostuin, die nagwind koel teen sy koorsige wange. Om hom is die stilte van die sterrenag en in sy hart is daar diepe vertwyfeling en selfveragting.
Die dokter het ook buitentoe gekom en sy seun in die tuin onder die sterre sien staan. Die trotse blonde kop is vooroor gebuig, sy hande is diep in sy sakke gesteek. ’n Oomblik kyk hy na hom, dan sit hy sy arm om Paul se skouers. Dit is sy seun, hy het hom lief. Hy is maar ook net vlees en bloed, swak en sterk tegelyk soos alle skepsels op aarde. En wie is hy om te oordeel? Dit was hulle skuld ook, syne en Tina s’n, want hulle het gedink Paul is anders as ander kinders. Vir hulle was die begaafde jong seun met sy laggende blou oë iets anders, iets wonderliks, ’n jong god.
“Papsie . . . vergewe my. Ek is jammer.”
Die dokter se arm druk stywer om die skraal, jong skouers. ’n Rukkie nog staan hulle so onder die sterre, dan neem hy sy seun binnetoe. Hy skink vir hulle elkeen ’n koppie sterk swart koffie wat hy nou net gemaak het. In die kombuis om die tafel sit hulle dit en drink. Met die helderrooi-en-wit geruite gordyne lyk die kombuis gesellig en vrolik, maar die twee by die tafel is albei baie moeg.
Ná ’n rukkie sê die dokter: “Ek en jou ma sal albei saam met jou na Deborah se ouers toe gaan. Ons sal maar nie nou verder planne maak voordat ons hulle gesien het nie.”
“Dankie, Vader,” sê hy dankbaar. Dit sal goed wees om sy pa by hom te hê, om deur sy krag en kalmte ondersteun te word.
Ten spyte van die feit dat hy so vasbeslote is om na Deborah toe te gaan en haar by te staan, vrees hy die oomblik dat hy na ’n vreemde man toe moet gaan en sê: “Ek is Paul Hugo,” terwyl hy weet dat die naam Paul Hugo galbitter in die man se mond sal lê, dat hy vir hom net haat en bitterheid en veragting kan voel. Hy sal baie dankbaar wees as sy pa saamgaan. Maar daar is geen verdere planne om te maak nie. Daar is net een uitweg vir hom.
Hy wens sy ma wil liewer tuis bly. So ontsteld en emosioneel soos wat sy op die oomblik is, sal haar teenwoordigheid allesbehalwe ’n kalm uitwerking op oorspanne senuwees en oorvol gemoedere hê. Maar hy ken sy ma; sy sal saamgaan.
Hulle wil net kamer toe gaan toe die voordeurklokkie lui. So laat in die nag? Paul kyk op sy horlosie. Dis halfdrie. Die dokter is moeg ná die dag se werk en die spanning van die afgelope ure. Maar sy stem is vriendelik en kalm toe hy met die besoeker praat en Paul hoor hom sê dat hy dadelik sal kom.
“Ek is jammer, Dokter,” sê die man. “Dit lyk of jy reeds uitgeroep is. Maar haar koors is so hoog . . .”
“Ek kom dadelik,” sê die dokter gerusstellend. “Wag maar buite, jy kan sommer saam met my ry.”
“Dankie, Dokter,” hoor hy die man dankbaar sê.
Sy pa moet môreoggend halfagt twee operasies doen waarvan Paul weet, een ’n galblaasoperasie waaroor hy nogal taamlik bekommerd voel. En in stede daarvan dat hy rustig kon gaan slaap ná ’n bitter vermoeiende dag sodat hy môre met ’n helder verstand en seker hand oor die operasietafel kan buk, moes hy die kosbare ure van die nag met sy vrou en seun deurworstel en vir hulle krag en vertroosting gee.
“Gaan nou bed toe, Paul,” sê sy pa toe hy weer in die kombuis kom. Sy stem is gebiedend soos toe Paul nog ’n klein seuntjie was, en sonder ’n woord staan Paul op. “Gaan slaap, moenie vir my wag nie.”
Paul gehoorsaam. Sy keel voel dik en seer en sy oë brand. Hy is gedaan, maar gee glad nie om of hy nooit weer slaap of nooit weer wakker word nie. Dit is maar goed dat hy nie meer ’n dokter word nie. Hy het nie sy pa se innerlike krag wat so onontbeerlik vir ’n goeie dokter is nie. Hy sal nie vir mense wat siek en bang tot die dood toe is die nodige inspirasie, die moed en die hoop, kan gee om hulle te help om weer anderkant uit te kom – soos hy so dikwels al sy pa sien doen het nie. Sy pa is soos ’n eikeboom, diepgewortel. Hy het krag, nie net vir homself nie, maar ook vir die klimopplante wat so hulpeloos in die wind om hom rondslinger. En hy wat Paul is, is een van daardie klimopplante.
Toe die dokter terugkom, het hy sy motor sommer langs die huis laat staan. Hy is byna te moeg om uit te klim. In die ooste hang die blink môrester met die boodskap van ’n nuwe dag wat oor die berge aanbreek.
’n Nuwe dag, dink hy. En dan . . . my arme seun.
Paul het die volgende oggend ’n telegram vir Deborah gestuur om haar van hulle koms te verwittig. Hulle kan eers die volgende dag gaan, want die dokter wou ten minste vier en twintig uur ná die operasie by sy galblaaspasiënt bly. Dan sou hy hom maar aan ou dokter Petersen se sorg toevertrou en so gou moontlik weer terugkeer huis toe.
Die dag was vir Paul ’n herhaling van die vorige nag. Hy het nog geslaap toe sy pa hospitaal toe is. Hy wou so vreeslik graag die galblaasoperasie gesien het. Die dokter het die geval in besonderhede met hom bespreek. Die man is nog taamlik jonk en het ’n groot gesin wat van hom afhanklik is, en hy was byna net so haastig soos die dokter dat dit moet verbykom, dat alles goed moet afloop. Toe sy pa by die huis uit is, het hy nog geslaap en sy pa het hom nie wakker gemaak nie. Sy pa weet hoe baie hy belang stel, hoe graag hy die operasie wou sien.
Dit is vir hom ’n wrang gedagte dat die mooi ideale waarmee hy van kleins af besiel was nou op die ashoop van die verlede lê. ’n Bitter trek lê om sy mond. Hy het sy ontbyt onaangeraak opsy gestoot en die een koppie koffie na die ander gedrink. Sy ma sit teenoor hom aan tafel. Sy lyk bleek en moeg, baie ouer as gewoonlik, maar tog mooi in ’n blou linnerok wat by haar oë pas. Laggende blou oë soos die diepblou van die see op ’n wolklose lentedag. Maar vandag lag hulle nie, hulle is hartseer en verwytend en nog effens geswel van al die baie huil.
Haar figuur is nog slank en regop. Hy was altyd so trots op haar, sy mooi jong ma. Sy was soos ’n maat vir hom. Sy het hom liefgehad en aanbid, hom alles gegee wat sy hart kon begeer. Sy het die kuns verstaan om die lewe te geniet en haar warm lewensvreugde was aansteeklik en het ander mense se lewens verryk. Maar vanoggend is die vuur in haar geblus.
“Paul,” sê sy stil toe hy uiteindelik sy koppie wegstoot. “Kom saam met my tuin toe, asseblief.”
Hy weet dit sal maar net ’n herhaling van die vorige nag se argumente wees en hy voel prikkelbaar en moeg. Maar gehoorsaam volg hy haar. In die somerhuisie, wat in een hoek van die mooi, kleurryke tuin staan, is dit koel en rustig. Niemand sal hulle daar steur nie. ’n Oomblik maak hy sy oë toe om die lafenis van die vroeë oggendstilte te geniet. In die hoë bloekombome langs die huis koer duiwe sag, weemoedig, asof hulle weet van die droefheid en teleurstelling wat in die dokter se mooi huis gekom het en die lag uit sy ma se oë verdryf het.
Hy maak sy oë oop en kyk vas in sy ma se oë, oë vol teerheid en liefde.
“Paul,” sê sy sag. “Kom ons probeer sake vanoggend koel en kalm bespreek. Ek wil jou help. Daar moet ’n ander uitweg wees.”
“Daar is niks meer om te sê nie,” sê hy byna stroef. “Daar is ook geen ander uitweg nie. Ek is jammer, Tina, bitter jammer vir julle.”
“Paul,” onderbreek sy hom driftig, haar goeie voornemens al klaar weer vergete. “Hoe kan jy so praat? Hoe kan jy vir ’n oomblik daaraan dink om met die meisie te trou?”
“Hoe kan ek aan iets anders dink?”
“Ek sal dit nie toelaat nie. Ek sal alles in my vermoë doen om die huwelik te keer. Niemand sal dit verwag nie. Dit kan net ongelukkigheid en bitterheid in die toekoms bring – vir jou en vir . . . haar. Dit sal jou hele toekoms ruïneer. Hoe kan so ’n huwelik ooit gelukkig wees?”
“Ek het dit alles net aan myself te danke.”
“En die meisie, het sy nie ook skuld daaraan nie?” Daar begin sy al weer, dink hy, moeg en oorbluf. “Paul,” vervolg sy, en hy kan sien sy probeer kalm bly. “Paul, ons is ouer en slimmer as jy. Ons weet meer van die wêreld as jy. Ons weet wat so ’n huwelik aan ’n seun soos jy kan doen. Paul, jy is so jonk en begaaf, daar wag so ’n mooi toekoms vir jou . . .”
“Maar Tina,” val hy haar opreg verbaas in die rede. “Wat anders kan ek doen? Debbie se situasie is nog erger as myne.”
“Paul,” en daar is ’n wêreld se vasberadenheid in haar stem, “ons kan nie toelaat dat jy jou lewe so verwoes nie. Ek het daaroor nagedink. Daar is ’n uitweg. Ek sal enigiets doen om jou te help, maar ek is hulpeloos. Maar jou pa kan jou help en hy moet. Hy is dit aan jou verskuldig.”
Terwyl sy praat, het haar blik syne ontwyk, maar toe hy nie antwoord nie, kyk sy op na hom. ’n Tydjie kyk hulle vas in mekaar se oë en hy sien sy is nie so seker van haar saak as wat sy voorgee nie. In ’n fluisterstem, asof sy bang is dat iemand hulle kan hoor, vervolg sy: “Jou pa moet haar help.”
“’n Onwettige operasie?” ’n Tyd lank speel hy met die gedagte. Hy het self al vantevore daaraan gedink. Dit sou ’n uitweg wees. Maar dan sê hy met groot oortuiging: “Vader sal dit nooit doen nie.”
“As ek hom vra, sal hy dit doen,” sê sy sag, dog net so beslis.
“Tina, ek weet dis vir jou swaar. Ek weet wat julle vir my gedoen het en ek weet wat julle van my verwag het. Dis nie nou die tyd om te praat van berou en vergifnis nie. Maar ek het verkeerd gedoen teenoor jou en Vader en teenoor Deborah. Ek is oud genoeg om die verantwoordelikheid vir my dade te dra. Ek weet dit breek jou hart, maar daar is geen ander uitweg nie. Vader sal nooit toestem tot so ’n operasie nie. En by al die ongeluk is daar een geluk: Ek het Debbie lief en sy het my lief en ek sal hard werk om ’n sukses van ons lewe saam te maak. Jy sal van Debbie hou.” Hy sien die trek van afsku op haar gesig en ’n oomblik is hy stil. “Moenie so bevooroordeeld wees nie, wag eers tot jy haar sien. Sy is onskuldig. Dis ek wat die skurk is, al is dit vir jou so swaar om te glo.”
Maar sy ma is onverbiddelik. “Al is sy ook wie, Paul, al is sy ook ’n engel uit die hemel, sal ek haar net haat en verafsku vir wat sy aan jou gedoen het.”
“Hoe kan jy die meisie wat ek liefhet, haat en verafsku?”
“Jy het haar nie lief nie, Paul. Hoe kan jy, jy van alle mense, so ’n meisie liefhê, ’n meisie wat so min van haarself dink en haarself so goedkoop maak? Daar is baie van haar soort in die wêreld, gewetenlose meisies wat maar net wag vir die regte prooi.”
Paul praat nie. Hy is wit en kyk vyandig na haar – na haar, sy ma. Sy kan sien hy veg hard om sy selfbeheersing te behou, sy sien die spiertjie wat so senuweeagtig in sy wang trek. Sy voel ’n doodse koue oor haar liggaam kom, ’n sagte windjie roer soos ’n waarskuwing deur haar hare. “Paul,” vervolg sy en haar stem, haar oë, die uitgestrekte hande, alles pleit by hom. “Paul, ek wil jou nie seermaak nie. Jy is my kind. Ek het jou lief en veg maar net vir jou toekomstige geluk. Ons moet realisties wees. Jy het haar nie lief nie. Jy is vol berou, jy voel verantwoordelik. Maar as jy met haar trou, sal die dag baie gou aanbreek dat jy ook met haat en afsku na haar kyk omdat sy jou beroof het van alles wat die lewe vir jou ingehou het. Jy weet jy is ’n gebore dokter, Paul. As jy dit moet prysgee, sal jy nooit regtig gelukkig wees nie, sal daar altyd ’n leemte in jou lewe wees.”
“Wag, Tina.” Hy staan op en gaan sit langs haar. Hy sit sy arm om haar skouers. “Jy moet my help en dit nie nog swaarder maak nie. Ek voel goedkoop en laag en gemeen genoeg. Daar is net een eerbare ding om te doen. Wat die toekoms vir ons gaan inhou, weet ek nie. Vandag lyk alles vir my ook maar duister. Maar ek kan nog iets moois van die lewe maak sodat jy eendag weer trots op my sal voel. Op die oomblik kan ek nie verder dink as dat ek na Deborah toe moet gaan nie. As ek dit nie doen nie, sal ek nooit weer enige selfrespek hê nie.”
Sy rus haar kop teen sy skouer en vra sag: “Hoe kan jy so seker wees dat dit jy is, Paul? Dis miskien iemand anders en jy is die gerieflike sondebok. Daardie soort meisie . . .”
Paul ruk hom van Tina los. Dit is swart voor sy oë. Hy veg hard om sy selfbeheersing te behou. Maar as sy nog een maal van “daardie soort meisie” praat, gaan hy nie verantwoordelik wees vir wat hy doen nie. Debbie! Debbie! dink hy, wat het ek aan jou gedoen? ’n Rukkie sit hy so. Dan kyk hy op na sy ma. Sy blou oë is gefolter en sy skrik toe sy sy gesig sien, so wit is hy, so vol pyn. Dis of die jeug vir goed uit hom verdwyn het.
Meteens besef sy dat sy dit heeltemal verkeerd hanteer. Deur die meisie swart te smeer en sleg te maak, is sy besig om Paul van haar af weg te stoot – reg in die meisie se arms in. In sy eie oë is Paul so skuldig dat hy nou na niemand en niks wil luister nie. Hy sal na die meisie toe gaan, hy is nie verniet haar en Chris se seun nie.
En skielik sit sy haar hande oor haar gesig en begin bitterlik te huil.
Toe Chris Hugo die aand van die hospitaal af terugkom nadat hy ’n laaste saalrondte gedoen het, wag Tina alleen vir hom. Sy is al uitgetrek vir die nag. Haar dun wit kamerjas val in sagte voue om haar mooi liggaam. Sy is so mooi en sag en vroulik. Haar blonde hare is weggeborsel van haar gesig af en sy laat hom dink aan ’n fontein waar ’n man op ’n snikhete dag sy dors kan les, weer krag en nuwe lewe kan kry. Sy lyk verbasend kalm en rustig, dink hy dankbaar.
“Paul het gaan slaap,” sê sy sag. “Hy het so moeg gelyk, ek het hom vroeg bed toe gestuur.”
“Dis goed. Ek hoop hy slaap.”
“Hy is vas aan die slaap. Ek het netnou gaan loer.”
Hy sit sy arm om haar en sy lig haar kop sodat hy haar op haar mond kan soen. Sy sit haar kop teen sy skouer en verslap teen hom. Hy sit albei sy arms om haar en druk haar teen hom aan. “Arme Tina,” sê hy sag en streel die blonde hare. Nog ’n oomblik rus sy so teen hom, toe stoot sy hom sag weg.
“Gaan sit, Chris. Die water kook. Ek gaan gou vir ons tee maak.”
“Dit sal lekker smaak.” Hy gaan op die rusbank sit. Hy het ’n besige dag gehad. Met toe oë wag hy dat Tina terugkom.
Hy voel nog die warmte van haar liggaam teen hom, ruik die sagte geur van haar hare. Tina, die vrou wat hy liefhet, nog net so hartstogtelik soos wat hy meer as twintig jaar gelede sy skaam, jong bruidjie liefgehad het. Hoe jonk was Tina nie. So jonk en onskuldig. En hoe bitter swaar het hulle nie daardie eerste jare gekry nie. Tina was ’n welgestelde man se dogter. Dit was baie teen haar pa se sin dat sy so jonk getrou het. Die jong doktertjie was so arm; hy het ’n groot studieskuld gehad en hy moes hard werk van vroeg tot laat. Tina was heeldag alleen by die huis en sy moes self ook hard werk – werk waaraan die fyn, vertroetelde jong meisietjie nie gewoond was nie. Maar sy het nooit gekla nie. Sy het gelag en gesing en sy huisie het vir hom ’n toevlugsoord, ’n paradys, geword. Hulle was nog nie ’n jaar getroud nie toe Paul gebore is . . . een koue winternag toe die wind droewig om die huis gehuil en ontydige reën hard en koud teen die vensters geval het.
Ja, dit was moeilike jare daardie, moeilik vir hom én vir Tina. Sy het alles gehad voor sy met hom getroud is en daarna niks nie. Hulle was brandarm. Net sy liefde het sy gehad, en vir Paul. En dit was vir haar genoeg. Hy het soms die skurwe handjies gesoen en gesweer dat sy weer alles sou kry wat haar hart begeer. En sy het gelag en gesê sy weet, sy sal wag. Die erkenning het gou gekom. Hy was bekwaam en hardwerkend en die mense het vertroue in hom gehad. Voordat hy geweet het, was hy ’n welgestelde man. Toe Tina se pa sterf, het sy goed geërf, maar toe het hulle dit nie meer nodig gehad nie. ’n Paar honderd pond toe hulle pas getroud was, sou vir hulle veel meer werd gewees het as die duisende pond tien jaar later.
As Tina net nie die ongeluk gehad het toe sy die tweede keer swanger was nie! Dit het byna haar lewe gekos. Hy sal daardie dae nooit vergeet nie. En vir die vrou wat so blymoedig die maer jare met hom gedeel het, het hy alles gegee toe die vet jare gekom het. As sy vir Paul ’n nuwe speelding – soos die motor – wou gee, was haar argument altyd: “Paul wil nie ons geld hê as ons die dag dood is nie. Laat hom dit nou saam met ons geniet.”
En hy kon dié argument nooit weerstaan nie. Hy het gesien Tina bederf Paul, maar Paul was al wat sy gehad het. En hy was altyd besig, self kon hy so min tyd aan Paul se opvoeding gee. Soms het hy met haar daaroor gepraat, maar sy het hom uitgelag. “Paul is jou seun,” het sy altyd gesê. “Niks sal hom werklik bederf nie. Nie eens ek nie. Hy geniet maar net die lewe. Een van die dae is hy ook ’n dokter en dan is daar nie meer speelkans nie. Ek weet waarvan ek praat. En hy is al ou seuntjie wat ek het.”
Dit was natuurlik die hele moeilikheid. Paul was die spil waarom haar hele lewe gedraai het. Hy self was altyd so besig dat hy nie vir sy vrou en kind die tyd wat hulle toekom, kon gee nie. En waarom het hy so hard gewerk? Hy kon lankal ’n jong dokter gekry het om hom te help. Ou dokter Petersen is oud en gedaan en kan nie meer veel help nie. Hy moes al lankal uitgetree het; hy het genoeg om ’n rustige oudag te geniet. Of het die tuig so vasgegroei dat hy nie meer kan uitspan nie? ’n Jong vennoot is die oplossing. Hy kan nie nog wag totdat Paul eendag klaar is nie. En meteens is Paul se toekoms en alles wat daarmee saamhang, al die implikasies van die brief wat gister gekom het, weer in sy gedagtes.
Tina kom terug met hulle tee. Hulle gesels nie, maar dis nie nodig nie. Maar terwyl hulle die tee drink, kom hy agter dat sy nie so rustig en kalm is as wat sy wil voorgee nie. Hy sit sy hand oor hare en kyk vraend na haar. Sy kyk terug na hom en die andersins sonnige blou oë is bewolk en smekend op hom gerig. Hy wag.
“Chris . . . Chris . . . ek wil vanaand vir jou ’n groot guns vra.”
“Vra maar, my liefste, tot die helfte van my koninkryk!”
Nog kyk die blou oë in syne. Haar stem is helder terwyl sy vra: “Chris, jy is al een wat Paul kan help. As jy . . . die meisie help, is Paul vry . . . is daar niks wat hom bind nie.”
Hy antwoord nie dadelik nie. Sy gesig is onleesbaar. Sal hy vir haar sê dat die gedagte al heeldag by hom ook spook? Lank bly hy stil, toe sê hy: “My liefste, ek sou my lewe gee as dit Paul sou help en vir jou geluk sou bring. Maar ek kan nie doen wat jy vra nie.”
“Nie eens vir my nie?”
“Nie eens vir jou nie, my hart. Want dit sal nie vir ons geluk bring nie, nie vir jou nie, nie vir Paul nie en nie vir my nie. Maar ek belowe jou vanaand hier dat ek alles in my vermoë sal doen om Paul te help. As daar enige ander uitweg is, enige ander manier, sal ek nie aarsel nie.” Hy sit sy vinger onder haar ken en dwing haar om in sy oë te kyk. “Dit is vir ’n dokter belangriker as vir ’n gewone man om die regte lewensmaat te kies. Ek sal nie toekyk hoe Paul die verkeerde keuse maak as ek iets daaraan kan doen nie. Kom ons gaan slaap. Ek is moeg. En mag die mense vannag almal diep en rustig slaap.”