Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

Hoofstuk 2

Met ’n stamp slaan die kamerdeur oop en die jong meisie val byna die kamer binne. Haar arms is belaai met boeke en dit lyk asof die viool wat sy so ongemaklik onder haar arm vasknyp hom enige oomblik te pletter kan val. Haastig spring haar kamermaat op uit die stoel voor die venster om reddende hande na die viool uit te steek.

“Trudie! Trudie!” vermaan sy glimlaggend. “Eendag is eendag, dan val Chopin stukkend.”

Met ’n sug laat Trudie die boeke op haar bed val en sak self uitgeput langs hulle neer. Maar ná ’n paar oomblikke lyk dit darem of sy tot verhaal gekom het; sy sit weer regop, stoot die hare uit haar oë en grinnik.

“Dankie, skat,” sê sy. “Hoewel daar darem nie lewensgevaar was nie.”

“Ek dink Chopin was nog nooit so na aan sy einde nie.”

“Nooit nie,” stry Trudie Hiemstra. “Chopin weet hy is altyd veilig by my. Maar ek is darem bly ek moes nie nog een tree verder gee nie.” Sy staan op, steek haar hand in haar kleurbaadjie se sak en sê: “Ek het vir jou ’n present gebring.”

Sy lê ’n trossie blou jakarandablomme op die tafel voor haar kamermaat neer. Gretig tel Deborah Malan die blomme op.

“Hoe pragtig!” sê sy. “Dan begin hulle al? Waar het jy dit gekry? Die bome hier by ons is dan nog morsdood. Ek is nou al so haastig om hulle te sien. Ek dink julle Pretorianers het maar net weer grootgepraat.”

“Ek is nie ’n Pretorianer nie! En hulle het rede vir grootpraat. Wag maar, jy sal sien. Maar ek het nie hierdie trossie vir jou gebring om te bewonder nie. Die eerste jakarandablomme het ’n ander, veel dieper betekenis.” Haar kamermaat kyk haar vraend aan en op dramatiese toon vervolg sy: “Die uur van vergelding! Koue lappe op die koorsige voorhoof! Middernagtelike ure van swoeg en sweet!” Sy giggel oor die verbasing op Deborah se gesig. “Met ander woorde, kamermaat, die gevreesde eksamen is hier; bloktyd het weer aangebreek.”

Deborah sit die trossie opsy en begin weer haar naels verf. “Ag Trudie, jy kan tog so laf wees!”

“Laf! Oor so ’n pynlike onderwerp!” Sy plaas haar elmboë op die tafel en kyk hoe Deborah versigtig ligpienk naellak aan haar vingernaels verf. Toe sê sy sag, tergend: “Paul het gesê ek moet dit nie vir jou gee nie.”

Deborah bloos.

“Paul? Waar het jy hom gesien?”

“Hy het my met sy motor huis toe gebring. Die bus het voor my neus weggetrek en Paul het net toe daar verbygekom en hom oor my ontferm.”

“Wou hy nie inkom nie?” vra Deborah ongeërg, haar blik op haar hande wat sy nou versigtig deur die lug swaai om die naellak te laat droog word. Die blos lê nog op haar wange.

“Nee, hy was haastig.”

“En waarom mag ek nie die jakarandablomme kry nie?” vra sy ná ’n rukkie.

“Ek weet nie. Hy is dalk bang dat jy ná die waarskuwing nie vanaand sal gaan dans nie.”

Die jong meisie lag sag, gelukkig.

“My liewe Trudie, as ek moes wag tot die jakarandas blom om te begin studeer, sou ek snags lankal nie meer ’n oog kon toemaak nie. Ek is nie hier vir my gesondheid nie, hoor!”

Trudie se vriendelike sproetgesiggie is meteens ernstig. Maar sy praat nie. Deborah kyk haar ondersoekend aan en sê ondeund: “En waarom het jy dit toe tog vir my gegee?”

“Sommer,” sê Trudie skouerophalend. “Nou het ek darem my plig gedoen.”

Haar stem, haar hele houding, is skielik anders, en ná ’n rukkie vra Deborah sag: “Waarom hou jy nie van Paul nie, Trudie?”

“Nou is jy weer laf. Die meisie wat nie van hom hou nie, moet ’n paar varkies kwyt wees. Maar dis juis die moeilikheid.”

“Wat bedoel jy, dis die moeilikheid?” vra Deborah effens gesteurd.

“Dit gaan te goed met Paul. Sy hele lewe lank al. Hy is tot in die afgrond toe bederf.”

Deborah antwoord nie en draai haar gesig weg, maar Trudie kan sien dat sy haar vererg. “Jy verdedig hom nie eens nie?”

Vinnig draai Deborah terug na Trudie, maar haar kamermaat se openhartige gesiggie, die mooi bruin oë wat haar half smekend aankyk, laat haar aarsel.

“Dink jy regtig Paul is bederf, Trudie?”

“Ek sê nie dis sy skuld nie, Debbie, maar dis tog so. Die enigste kind van welgestelde ouers, slim en aantreklik . . . al die goeie feetjies was seker daar met sy geboorte. En bid jou aan, tot sy professors hou ook van hom. Dit moet definitief ’n sterk karakter wees wat sulke dinge kan oorlewe.”

Deborah glimlag verlig.

“Ag Trudie, jy kan so verspot wees. Ek het gedink jy is ernstig.”

“Ek ís ernstig. Driekwart ernstig. Die ander kwart is seker maar jaloers.”

Deborah lag.

“Dit lyk my jou verstand is ’n bietjie beneweld. Paul het seker te vinnig gery.”

“Paul ry altyd te vinnig. Maar wat kan jy ook anders verwag? Om vir ’n student sy eie motor te gee! En dan nog so ’n motor!”

“Hy is in sy derde jaar!” verdedig Debbie vinnig.

“Hy het as ’n groentjie met sy eie motor hier aangekom. Dit was nou wel nie dié supermodel nie, maar tog. Maar ek weet dis nie my besigheid nie. Ek weet ook nie waarom ek my juis vandag daarmee bemoei nie.”

“Waarom doen jy dit dan?” vra Debbie sag, haar blik ondersoekend op haar vriendin gerig. Sy verstaan haar nie vandag nie. Wat sou oor Trudie se lewer geloop het? Sy is gewoonlik die opgeruimdheid self.

Trudie kyk na haar en sy aarsel. Toe sê sy stroef: “Ek wil nie graag sien dat jy seerkry nie . . . of ongelukkig is nie.”

“En jy dink dat Paul my seer of ongelukkig sal maak?”

Die eerlike bruin oë kyk reguit in hare.

“Ek weet nie. Ek hoop nie so nie.”

“Waarom dink jy dan so?” dring Debbie sag aan. Sy voel ontsteld en vaagweg ongelukkig, maar sy kan sien dat haar vriendin iets op die hart het.

“Ek dink nie so nie. Ek het geen reg om so te dink nie. Ek is seker verniet bang. Ook nie bang nie, onrustig. Ek ken vir Paul. En ek ken jou. Julle lewensopvattings, julle ideale, is so verskillend. Jy is nog so jonk, Debbie, jy begin nog maar net met jou studie. Jy’s ’n belowende student en jy het so hard gewerk om die kans te kry – jy het tog self vir my so gesê. En Paul . . . Paul het nog soveel studiejare wat voorlê.”

Half verleë, half smekend kyk Trudie haar aan. Sy kan nie verder praat nie. Dis te moeilik. Maar Deborah begryp. Sy staan op en sit haar hand vir ’n oomblik op haar maat se skouer.

“Toe maar, Trudie, jy is verniet bang. Ek en Paul verstaan mekaar. Ek weet ek is nie Paul se eerste meisie nie, maar wie weet, moontlik is ek die laaste. Vir my is Paul van die eerste dag af die eerste en die enigste een en ek sal baie jare vir hom wag as dit nodig is.”

Sy tel die trossie blou blomme op en kyk weer lank daarna, toe neem sy ’n glas, maak dit vol water, sit die blomme daarin en plaas dit terug op die tafel.

“So ja, nou is dit nie meer ’n waarskuwing nie, net ’n mooi blomtakkie. Ek weet ook wat die hele moeilikheid is: Jy is maar net ontevrede omdat ek vanaand – op ’n weeksaand – saam met Paul gaan dans. Nie waar nie?”

“Ja-a,” erken Trudie. “Omdat dit al gewoonte geword het. Maar dink jy nou self dit is reg, Debbie? Sal jou ouers tevrede daarmee wees?”

’n Vlugtige oomblik dink Deborah aan haar ouers daar op hulle plasie en die streng nougesetheid waarmee Pieter Malan sy dogters grootgemaak het, maar dis ver weg en lank gelede.

“My werk is alles klaar. En dis vanaand ’n spesiale geleentheid, Trudie. Dis Anne-Marie se een-en-twintigste verjaardag. Hulle is ou vriende van Paul se familie.”

“Dis altyd ’n spesiale geleentheid.”

“Dit is ook wanneer ek saam met Paul uitgaan,” glimlag Deborah. “In elk geval, moenie so kwaai wees nie. Ons het maar nog net ’n paar ou wekies saam. Jy weet Paul gaan volgende jaar Kaapstad toe en Pretoria sal vir my maar baie leeg en eensaam wees sonder hom. Jy sal nie eens een maal met my rusie hoef te maak omdat ek rondloop nie. Maar wag, ek moet gaan bad en my mooimaak. Die meisies sal vanaand almal baie mooi lyk en ek sal maar sleg afsteek in my ou tuisgemaakte rok.”

“Jy sal mooier lyk as enigeen van hulle,” sê Trudie vinnig.

Deborah lag terwyl sy haar handdoek neem.

“Nou toe nou,” sê sy, “dit klink beter.”

Toe Deborah uit is, bly Trudie daar by die tafel sit. Sy tel die botteltjie ligpienk naellak op en draai dit om en om in haar hand. Sy voel nie tevrede nie. Sy moes liewer maar stilgebly het. Haar praat sal tog nie help nie. Het dit al ooit gehelp om ’n verliefde meisie teen ’n man te waarsku? En as hy nog iemand soos Paul is . . .

Sy weet ook nie waarom sy onrustig voel nie. Maar Deborah is so jonk, so onskuldig. Agttien jaar oud, maar nog in so baie opsigte ’n kind. In alles behalwe haar byna volwasse beslistheid om die beste te maak van haar jare aan die universiteit . . . en haar liefde vir Paul. Vir Deborah is dit nie die lughartige kalwerliefde wat die eerste, die tweede en selfs die derde liefde vir die meeste studente is nie. Paul is die prins wat haar wakker gemaak het. Daar lê ’n glans oor haar. En ’n koue vrees vir Debbie omklem haar hart. Haar en Paul se verhouding hou niks goeds in vir Debbie nie. Sy ken vir Paul. Drie jaar gelede, toe sy al ’n tweedejaar was en Paul hier aangekom het, het hulle enkele klasse saamgeloop en in dieselfde kringe beweeg. En in drie jaar leer ’n mens jou medestudente goed ken, veral iemand soos Paul wat noodwendig uitstaan bo die ander studente. ’n Mens kon nie Paul se mooi blink motor miskyk nie en ook nie die meisies wat beurte gemaak het om saam met hom uit te gaan nie. Daar was al ’n hele paar in die drie jaar – en dit was altyd die mooiste en gewildste meisies.

Debbie het aan die begin van die jaar gekom, jonk en vol ideale. En soos die toeval dit wou hê, het sy en Trudie – om heeltemal verskillende redes – by Louise Rabie kom loseer en saam in ’n kamer beland. Debbie het gekom omdat mevrou Rabie verlangs familie van haar pa is en sy bereid was om Debbie teen ’n baie redelike prys in te neem. Eintlik sou dit baie beter vir haar gewees het as sy in die koshuis kon gaan bly het. En as Pieter Malan vir Louise Rabie beter geken het, sou sy seker ook daarheen gegaan het. Maar hy het haar nie persoonlik geken nie en Debbie het gekom.

Louise Rabie is ’n kunstenares met ’n egte kunstenaarstemperament. Sy is ’n bekende figuur in musiekkringe in die stad. In haar jong jare het sy pragtig gesing en selfs nou, al is sy diep in die vyftig, luister mense nog graag as sy sing. Sy is ook ’n begaafde pianis en is deesdae baie gewild as begeleidster. Eisteddfods, konserte, kerkfunksies, liefdadigheidsorganisasies – sy is altyd besig, altyd verdiep in bedrywighede wat nooit end kry nie. Dis hoe Trudie met haar kennis gemaak het. Mevrou Rabie moes Trudie een aand by ’n studenteplegtigheid begelei. Sy het Trudie na haar huis genooi sodat hulle saam kon oefen. Sy het baie van Trudie se spel gedink en haar verskeie kere gevra om saam met haar op te tree. Sy het Trudie aangemoedig om meer te oefen, maar Trudie het gesukkel om genoeg tyd in die koshuis te kry om reg te laat geskied aan haar vioollesse. En toe het mevrou Rabie eendag met die voorstel gekom dat sy ’n maat moes kry om ’n kamer met haar te deel – sy wou Trudie graag as loseerder hê. Trudie het die aanbod gretig aanvaar en aan die begin van verlede jaar het sy en May Ferreira hulle intrek by mevrou Rabie geneem. May moes ná die eerste semester terug huis toe, want haar ma was siek en sy moes by die huis gaan help, en die res van die jaar het Trudie die kamer vir haar alleen gehad. Maar aan die einde van verlede jaar het mevrou Rabie haar gewaarsku dat sy aan die begin van die jaar weer ’n kamermaat sou hê: Deborah Malan, ’n eerstejaarstudent en verlangs familie van haar. Trudie was nie baie ingenome met die idee nie, maar sy kon nie juis teëpraat nie en het maar gehoop vir die beste. Sy het egter onmiddellik van Debbie gehou, en alhoewel sy drie jaar ouer is, het hulle besonder goed klaargekom en baie gelukkig saamgebly. Tog het sy dikwels gedink dit is jammer dat Debbie nie in die koshuis is nie. Hier is sy te veel haar eie baas. Skielik was die streng beheer waaraan sy haar lewe lank onderworpe was, weg. Haar pa is ouderling en tuis was sy dogters gedurig onder streng toesig. As sy in die koshuis was waar sy vaste reëls moes nakom . . . maar hier is sy vry om te kom en gaan wanneer sy wil en is daar niemand behalwe sy, Trudie, om ’n oog oor haar te hou nie. Mevrou Rabie het haar maar baie min aan hulle bedrywighede gesteur – behalwe wanneer sy en Trudie saam aan die een of ander konsert moes deelneem, wanneer sy gesorg het dat Trudie gereeld en genoeg oefen.

Louise Rabie het nie kinders van haar eie nie. Sy het haar eerste man vroeg verloor en daarna is sy met ’n wewenaar met twee jong seuntjies getroud. Haar tweede man het haar ná ’n paar jaar ook ontval en haar goed agtergelaat. Die een seun is lankal uit die huis uit en die tweede, ’n jong man van vyf-en-twintig jaar, het nog by haar gebly. “Gebly” was die regte woord. Hy het ’n stoepkamer met ’n aparte badkamer gehad en hulle het hom slegs af en toe met maaltye te sien gekry. Almal, die huisvrou self ook, het gekom en gegaan soos hulle wou en die huishulpe het die huis aan die gang gehou. En as hulle ’n bietjie verbrou, het Louise Rabie ’n paar dae lank agter hulle gestaan en het alles goed gegaan tot haar buitebelange weer haar volle aandag geverg het. Dan het sy maar weer die huishouding aan die huishulpe oorgelaat, tot die volgende keer dat sy weer gedwing word om in te gryp. Teenoor die meisies was sy vriendelik en gaaf, maar sy het hulle hul eie gang laat gaan. En weg van die streng gesag van haar ouerhuis, waar haar pa en ma so nougeset oor hulle dogters gewaak het, het die nuwe, ongekende vryheid Debbie blykbaar ’n bietjie lighoofdig gemaak, die grond so ’n bietjie onder haar voete laat wegsak.

Die eerste paar maande het dit goed gegaan. Debbie was besiel met ’n vurige ambisie om skitterend aan die universiteit te presteer en het hard gewerk en slegs aan universiteitsbedrywighede deelgeneem. En dan het sy gewoonlik saam met haar, Trudie, gegaan, wat altyd ’n wakende ogie oor haar kon hou.

Maar dit kon natuurlik nie lank so aanhou nie. Daarvoor was Debbie te mooi. En toe Trudie haar een aand stralend voor haar spieël aantref en hoor dat sy bioskoop toe gaan, het sy geweet dis die begin van die einde. Toe sy nog boonop hoor dat Debbie se ridder Paul Hugo is, het sy regtig nie geweet wat om te doen nie. Daarna was die gort gaar. Die half skugter, teruggetrokke Debbie, wat tog so vol streke is as jy haar eers goed ken, het Paul se belangstelling al hoe meer gaande gemaak, totdat hy later sy aandag uitsluitlik aan haar gewy het. Vir Debbie, half kind wat sy nog was, was Paul die verpersoonliking van ’n jong meisie se drome: die mooiste, gaafste, slimste man in die ganse wêreld, die prins vir wie sy gewag het.

Waar Paul geroep het, het sy gegaan – eers onwillig en teëstribbelend wanneer dit ’n weeksaand is, maar later, soos die einde van die jaar nader gekom het, al hoe makliker. Dis nie oor haar werk dat Trudie bekommerd is nie. Debbie het die hele jaar hard gewerk. Sy werk nou nog hard. Maar dit beteken dat sy snags laat moet werk en soggens vroeg moet opstaan om by te hou. Debbie is slim, maar sy moet nogtans hard werk om goeie punte te behaal, terwyl Paul blykbaar sonder veel inspanning sy weg deur sy kursus baan.

O, Paul is ’n oulike ou. Sy het self ’n tyd lank droompies gedroom, maar sy het gou besef dat haar sproetgesiggie nooit Paul Hugo se hart sou kon verower nie. Ja, hy is oulik genoeg. Dis net dat sy eie belange altyd eerste kom. En Debbie is so jonk en verlief . . . en so halsoorkop in haar verliefdheid.

Sal die sagte waarskuwing van ’n jakarandablommetjie haar dan tot besinning kan bring?

Trudie tel die blou trossie op, laat dit in haar hand lê en sit dit dan met ’n klein suggie weer terug in die water. Vinnig, ongeduldig, staan sy op en begin die boeke op haar bed wegpak en bêre haar viool op ’n veiliger plek. Sy kan tog niks daaraan doen nie. En soos Debbie self ook sê: Dis nog maar net ’n paar weke, dan gaan hulle almal huis toe en volgende jaar gaan Paul Kaap toe. Dan sal sy belangstelling in Debbie gou verflou. Paul sal seer sekerlik nie lank getrou bly aan ’n meisie wat duisend myl ver weg is nie, al is sy ook Debbie. Voordat hy klaar gestudeer het, sal Paul ook nie aan verloof raak of trou dink nie.

Allermins Paul!

Arme Debbie!

Maar kyk, dit sal in elk geval ’n verligting wees as Paul Hugo aanstaande jaar ’n duisend myl ver van Pretoria af sit.

Tryna du Toit-omnibus 2

Подняться наверх