Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk 3
Hoofstuk 3
Paul is weer laat, maar Debbie is al daaraan gewoond. Paul is maar selde betyds vir ’n afspraak. Debbie, weer, is altyd presies. Sy laat nooit iemand vir haar wag nie en wag ook nie graag vir ander nie. Maar sy gee snaaks genoeg nie om om vir Paul te wag nie. Sy weet hy sal kom en die vooruitsig om ’n hele aand in sy geselskap deur te bring laat haar die minute wat so stadig omgaan, verbydroom.
Sy is bly dat Trudie, wat ná aandete na ’n orkesoefening toe moes gaan, reeds weg is. Trudie sou net weer snipperig gewees het omdat Paul nie betyds is nie.
Liewe Trudie. Sag en liefkosend streel Debbie die fluweel van haar aandjas. Al is dit Trudie s’n, en al het Trudie ook rusie gemaak terwyl sy die jas aangebied het omdat Debbie weer op ’n weeksaand saam met Paul, wat ook beter moet weet, gaan rondloop, laat die jas haar soos ’n prinses voel. Trudie is verniet onrustig. Paul het haar lief. Hy het dit nog nooit in woorde gesê nie, maar sy is heeltemal seker daarvan. Paul het haar lief.
Paul! Paul! sing dit gedurig in haar binneste. Daar is ’n bruising in haar are. Dat Paul, die wonderlike, begaafde Paul, haar bo alle ander meisies verkies, is ’n wonder wat sy nog nie kan begryp nie. Sy voel maar nog altyd of sy droom, asof sy eendag sal wakker word en sal uitvind dat Paul maar net ’n droom was. Daarom dat sy met alle mag en geweld wil vashou aan die droom. ’n Harde, ongeduldige geklop aan die voordeur laat haar haastig van die bed af opspring en vinnig deur toe loop. Maar toe sy in die gang kom, dwing sy haarself om stadiger te loop en Paul se ongeduldige kneukels tamboer al weer op die voordeur voordat sy dit ewe ongeërg oopmaak.
Toe sy hom voor haar sien staan in sy swart aandpak, so onberispelik netjies en aantreklik, begin haar hart weer onstuimig in haar keel klop. Half skaam steek sy haar hand na hom toe uit.
“Hallo,” is al wat sy fluister, maar in die glinsterende grys oë lees hy alles wat hy wil weet. Sy hand sluit warm en vas om hare.
“Hallo, Debbie.” Sy stem is sag, liefkosend. En dan: “Is jy gereed?”
“Lankal.”
Hy lag saggies.
“Is ek laat? Kan nie wees nie! Nou kom, laat ons gaan.”
In stilte ry hulle deur die swoel skemeraand, geurig van sering en kanferfoelie. Dis of daar ’n bekoring oor die ganse aarde lê. Nog nooit was ’n aand so mooi, nog nooit ’n meisie so gelukkig nie. So moes die eerste lenteaand gewees het, vol van die ewige misterie van die skepping. ’n Aand vol drome en beloftes, ’n aand om met jou geliefde in die sterlig te ry met die wind in jou hare. O, hoe salig tog om jonk te wees en om lief te hê, en om ’n aand soos hierdie met jou geliefde te deel. Daar is niks meer waarna jou hart kan verlang nie.
Paul kyk vinnig na haar en vir ’n oomblik sit hy sy hand op hare en druk dit saggies.
“Het Trudie toe vir jou die jakarandabloeisels gegee?”
“Ja.” Debbie glimlag.
“Ek is bly jy is hier by my.”
Debbie antwoord nie. Sy lê met haar kop agteroor teen die kussing, gelukkig, tevrede en gerus. Aan die ooste lê die sagte glans van die opkomende maan.
Die Van Wyks se groot, moderne dubbelverdiepinghuis met sy terrasse en lowergroen grasperke, kleurryke blombeddings en tennisbaan, is hoog teen die heuwels van Waterkloof geleë. Dis die huis van welgestelde mense. En Anne-Marie is hul enigste dogter. Deborah was een maal vantevore hier saam met Paul. Hulle het die middag kom tennis speel. Anne-Marie se pa, ’n advokaat, en Paul se pa, wat ’n geneesheer is, het saam in Holland hul studie voltooi en al die jare goeie vriende gebly. Anne-Marie is ’n jaar jonger as Paul, ook ’n derdejaar. Sy en Paul is groot maats en Paul het dikwels by hulle gekuier. Anne-Marie en haar ouers het Debbie vriendelik ontvang. Tog het sy aangevoel dat dit slegs om Paul se ontwil is dat sy vanaand hier is. Dis wonderlik hoe gou mense vasstel wie en wat jy is, en wie en wat jou pa is. En dit tel so baie by dié mense. Sy het dit baie gou agtergekom, veral sedert sy met Paul uitgaan. Maar sy gaan haar nie vanaand daaroor ontstel nie.
Oral staan jong mense rond. Sy ken maar net so hier en daar iemand, maar almal ken vir Paul en Paul ken almal. Hulle het al begin dans en die meisies se rokke vul die vertrek met kleur.
Mevrou Van Wyk het ’n pragtige swart kantrok aan. Sy neem Debbie self na die slaapkamer op die eerste verdieping waar die dames hul jasse bêre. Sy lyk mooi en jeugdig. Debbie dink aan haar ma, aan haar lewe van werk en swaarkry, van meet en pas om uit te kom met haar pa se klein inkomstetjie en te voldoen aan die baie behoeftes van die huisgesin en haar drie jong dogters vir wie sy so graag ook die beste wil gee. Haar ma is ook nog slank soos mevrou Van Wyk, maar dis van hard werk, nie van tennis speel nie. Haar vel is bruin en sonverbrand, die sterk hande hard van werk. Mevrou Van Wyk se hare is nog soos goud en pragtig gekartel. In haar ma se hare, swart soos haar eie, lê daar al die eerste fyn silwer strepies. En haar ma het seker nog nooit in haar lewe ’n aandrok besit nie. Toe sy jonk was, miskien. Seker toe, want sy kom uit ’n welgestelde familie en was onderwyseres voordat sy getroud is, maar seker nooit sedert sy haar hart aan Pieter Malan gegee het en saam met hom in die vaalgepleisterde huisie aan die buitewyke van die dorp gaan woon het, sy kinders gehad en begin grootmaak het nie.
En soos die vorige keer toe sy daar was, vervul ’n verlange na so ’n huis, om lid te wees van so ’n gesin, Debbie se hele wese. Saam met Paul sal sy dit eendag alles beleef. Paul se familie is ook ryk. Sy moet haar net in alle opsigte bekwaam om haar plek langs Paul in te neem. Tog is dit nie daarom dat sy Paul liefhet nie. Al was hy ook so arm soos haar pa en al moes sy ook net so swaarkry soos haar ma, sou dit geen verskil maak nie.
Met ’n laaste, waarderende blik na die mooi, helder verligte kamer met die dik groen tapyt, mooi ingeboude kaste en groot vensters gaan sy saam met mevrou Van Wyk af onder toe na die groot sitkamer van waar vrolike musiek kom.
Paul en Raoul Wessels gesels met Anne-Marie. Debbie groet Raoul. Sy hou van hom en voel op haar gemak as sy by hom is. Sy het hom ontmoet die dag toe sy saam met Paul by die Van Wyks tennis gespeel het en het hom dikwels daarna weer in Anne-Marie se geselskap gesien. Hy is ’n kort, fors geboude jong man met sterk, breë skouers en het tot onlangs toe nog mooi rugby gespeel. Hy is ’n hele paar jaar ouer as hulle, omtrent sewe-en-twintig, het Paul gesê, ’n jong advokaat met goeie vooruitsigte, en hy het baie gereeld by die huis teen die heuwel kom kuier. Sy hou van Raoul, ja, hy is vriendelik en innemend, maar wie sal ooit na Raoul kyk as Paul naby is? Paul is lank en skraal, in sterk teenstelling met die korter Raoul. Paul is soos ’n bronsbeeld. Hy dra nooit ’n hoed nie en sy hare, sy gesig, sy wimpers en wenkbroue – alles aan hom – is altyd goudgebrand deur die son. Miskien is dit daarom dat ’n mens dadelik sy oë opmerk, die diepblou, laggende oë wat so tergend in joune kan kyk.
Bederf? Miskien so ’n klein bietjie, gee Debbie toe. Watter ouers sal dan nie vir so ’n seun alles gee wat sy hart begeer nie?
Paul haal ’n silwer koker uit sy sak en bied sigarette aan. Anne-Marie neem een en Raoul ook. Paul neem self een en druk die koker weer toe.
“Debbie is nog te jonk,” sê hy lui, en sy glimlag. In stilte bewonder sy die gemaklike, grasieuse gebare van die mooi jong meisie van die huis. Sy voel altyd so ’n bietjie afgunstig op Anne-Marie. Geen wonder dat die jong advokaat vir niemand anders oë het nie. Anne-Marie is blond soos haar ma, maar die goue hare is vol natuurlike lig en lewe en hang los om haar gesig. Haar ligte vel is goudgebrand en haar laggende mond is donkerpienk, dieselfde kleur as haar naels. Sy en Paul, albei ewe blond, kon broer en suster gewees het. Anne-Marie het ’n blou kantrok aan, die presiese kleur van haar oë, en sy lyk soos ’n prentjie. Debbie voel soos ’n skooldogter langs haar. Sy is maar alte bewus daarvan hoe haar eenvoudige wit rokkie, wat deur haar ma gemaak is, by die ander meisies se rokke afsteek, maar sy laat dit nie blyk nie. Sy besef nie hoe mooi sy self is nie, en nog minder hoe mooi sy juis hier langs Anne-Marie met haar goue hare en vel, en te midde van die gesofistikeerdheid van die ander meisies, vir Paul is nie. Uiterlik op sy gemak en lui-rustig, kan hy sy oë nie weghou van die blouswart skynsels in haar donker hare, die diepgrys oë met hul lang swart wimpers, die fynbesnede, ovaalvormige gesiggie, die fyn, reguit neusie en die soet dog sterk mond nie. Haar vel is soos ivoor, sonder veel kleur, maar met die glans van die jeug, en haar lippe is blinksag en rooi, sonder ’n teken van lipstiffie.
Debbie hou die ander gaste dwarsdeur die aand noukeurig dop. Byna almal is vreemdelinge vir haar. Daar is ’n paar van haar professors ook, blykbaar intieme vriende van die Van Wyks, want hulle noem mekaar almal op hul name. Die meeste van hulle sit by die brugtafeltjies. Die jongeres is meestal derde- en vierdejaarstudente, mense uit ’n ander wêreld. Tog is die skraal grysoogmeisie nie ’n enkele keer sonder ’n dansmaat nie. Paul het dikwels met haar gedans en daar was altyd iemand om sy plek in te neem. Sy het selfs een keer met professor De Hoop, wat sielkunde doseer, gedans. Dit was ’n outydse wals en die professor het haar gekomplimenteer toe hulle klaar was. Die jong mense van vandag kan nie meer wals nie, het hy gesê. Sy is gelukkig ’n uitsondering.
Hoewel almal baie gaaf was, kon Debbie maar nie tuis voel nie en sy het net geleef vir die tye wanneer Paul weer na haar toe kom. Sy was ook maar net te gretig om saam met hom in die tuin te gaan stap toe hy dit later in die aand voorstel.
Die maan het al hoog gehang en die tuin, vol tergende geure, was stil en wit met donker skaduweekolle. In stilte stap sy en Paul, haar hand in syne, dieper die tuin in. Hulle vertoef ’n oomblik by die dammetjie waar die maan tussen die lelies droom en stap dan verder.
Debbie snuif meteens die aandlug op.
“Aandblomme, Paul! Kan jy ruik?” sê sy opgewonde.
Paul glimlag.
“Kyk nou net hoe raak die kind in vervoering oor ’n ou aandblommetjie,” terg hy. “Sy is omring van rose, angeliere, katjiepierings, naeltjies, sering, jasmyn – die allermooiste wat Pretoria haar kan aanbied – en raak in vervoering omdat sy haar verbeel sy ruik ’n aandblommetjie!”
“Ek verbeel my dit nie,” sê sy beslis. “Hier is aandblomme naby. Ek sal vir Anne-Marie vra.”
“Dis nie nodig nie,” lag hy. “Ek weet waar hulle groei. Kom, ek sal jou wys.”
Saam buk hulle oor die bedding en met diep teue drink sy die geur van die aandblomme in. Dis of hulle geur die betowering van die aand nog verder verhoog en al is waarvoor sy nog ’n plekkie kon maak in haar hart. Maanskyn, sy en haar geliefde alleen in ’n droomwêreld, en nou nog die towerkrag van aandblomme ook!
Paul buk en pluk ’n paar van die blomme.
“O Paul, moenie,” waarsku sy vinnig. “Moenie dit pluk nie.”
“Waarom nie?”
Hy staan op, neem haar hand en trek haar ook op. Toe steek hy die blommetjies in haar hare, net agter haar regteroor. Stil kyk hy na haar, so koel en wit in die maanskyn, so ongekunsteld en mooi soos die aandblommetjies self. Bedwelmend mooi. Sy hande is meteens op haar skouers en sag trek hy haar na hom toe.
“Paul, nee, nie hier nie,” fluister sy.
Maar sy arms sluit styf om haar.
“Nou waarom nie?” streel sy stem haar. “Almal weet mos jy is my meisie.”
Sy praat nie meer teë nie. Die wonder om in Paul se arms te wees is te groot. Die belofte van die aand word vervul. Daar is ’n warm ekstase in haar, maar daar is rus ook. Haar verlange is gestil en sy voel veilig en diep gelukkig.
Lank staan hulle so, roerloos, terwyl die maan se silwer lig oor hulle spoel, oor die geurige tuin, die waterlelies in die dam, die blomkelkies aan hul voete . . . een met die wonder van die skepping.
“Ek het jou lief, Debbie,” fluister hy in haar hare.
’n Sagte suggie ontsnap haar bors. Paul het haar lief. By hom is sy veilig. Waarvoor is Trudie dan bang? In die beskermende sirkel van Paul se liefde voel sy sterk en seker, voel sy dat sy nooit weer bang en alleen sal wees nie.
Sy is die gelukkigste meisie op aarde.
Stadig, hand aan hand, stap sy en Paul terug na die huis, en die sterre se glans is in haar oë.