Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit - Страница 11

Оглавление

Hoofstuk 8

Hoofstuk 8

Aandrus, Debbie se pa se plasie, grens aan die dorpie Sandspruit en beslaan nagenoeg dertig morg goeie riviergrond. Pieter Malan was jare lank boekhouer by een van Sandspruit se prokureursfirmas, maar die kantoorwerk was vir hom ’n marteling omdat sy hart maar altyd by boerdery gelê het. Om eendag ’n plaas te besit, al was dit ook hoe klein, en sy eie baas te wees, was die groot strewe van sy lewe. Dis om dié rede dat hy dit nooit so ver gebring het om hom by een van sy base te laat inskryf om self prokureur te word nie. Klein soos sy salaris was, het hy en Miem, sy vrou, hier afgeknyp en daar geplooi om gereeld elke maand ’n bedraggie by die “plaasgeld” te voeg. Toe Aandrus op die mark kom, het hy al sy spaargeld getrek, wat hy kortgekom het by sy werkgewers op verband geleen, en sy boerderytjie aan die gang gesit met ’n paar melkkoeie en varke en hoenders. Die eerste jaar het hy op die dorp bly woon en middae, ná sy kantoorwerk klaar was, op die plaas gewerk tot donker toe. Maar dit het selfs vir hom te veel geword. Toe het hy sy dorpshuis verkoop en met sy familie plaas toe getrek en elke dag sy werk in die dorp gaan doen, want hulle kon nie sonder die bykomende inkomste uitkom nie. Selfs so het dit maar swaar gegaan, want daar was geen einde aan die uitgawes op die plaas nie. Maar dinge was darem beter. Miem kon nou bedags ’n oog oor die boerdery hou en weldra, toe die inkomste uit die plaas bestendig geword het, het hy sy werk op die dorp gelos en al sy aandag aan sy boerdery gewy. Hy het hard gewerk, van smôrens vroeg tot saans laat, somer en winter, maar hy was gelukkig en tevrede.

Miem het in haar man se keuse berus en saam met hom hard gewerk, die pligte van ’n boervrou op haar geneem. Die kinders het van die vryheid en buitelewe gehou en buitendien was hulle so naby die dorp dat hulle niks daarvan gemaak het om heen en weer te stap nie – al het hulle soms in die koue wintermaande baiemaal gemurmureer.

Debbie, byna negentien jaar oud, was die oudste van drie dogters. Dora was sestien en Popsie elf jaar oud. Ouma Coetzee woon ook al tien jaar of meer by hulle in die huis. Byna vandat Debbie kan onthou, was haar ouma daar, een van die huisgesin, en het sy al die lief en leed saam met hulle deurgemaak. Dankbaar en gelukkig om een van hulle familiekringetjie te wees, was sy stil en op haar plek en nooit in iemand se pad nie. Vir haar was die jare van storm en drang verby. Haar kinders was groot, oor die hele land versprei, en sy was die gelukkigste wanneer sy hier by Miem en Pieter se huis was. Miem was haar lieflingsdogter, sy was baie lief vir haar kleindogters en hulle vir haar, en sy het goed oor die weg gekom met haar skoonseun. By haar eie seuns was sy in die pad en haar tweede dogter, Maria, is met ’n Engelsman getroud en in hul Engelsgeoriënteerde huishouding het Ouma heeltemal ontuis gevoel. Maria was nou Mary, en Billy en Carol, haar twee kinders, wesentjies uit ’n ander wêreld. Soos sy ouer geword het, het Ouma maar haar gesondheid voorgehou as die rede waarom sy nie meer so ver kon reis nie en hier gebly het waar sy welkom en tuis gevoel het.

Dis ’n dag of twee voor Kersfees. Op die oostestoepie is Debbie en Ouma besig om die week se wasgoed na te sien en te herstel. Ouma was nooit ledig nie. Die bleek, maer hande met die swaar blou are het altyd beweeg, was altyd besig.

Dis drukkend warm. Die somerhitte hang swaar oor die Wes-Transvaalse dorpie, oor die vlakte en die spruit en die koppies en rantjies. Almal voel lomerig en lui. Ouma lyk ’n bietjie moeg, daar is pêreltjies sweet op haar voorkop, maar kersregop sit sy in haar stoel en vinnig vleg die blink naald in en uit deur die sokkie wat sy stop.

“Ouma kan regtig maar laat staan,” sê Debbie sag. “Daar is nie veel om te doen nie. Ek sal alles gou klaarmaak.”

Maar ’n mens praat verniet. Ouma luister tog nie. Die ou mense kan so onnodig koppig wees. Dis glad nie vir haar nodig om so hard te werk nie. Hulle is almal lief vir haar en wil haar almal help, maar nee, Ouma wil haar plek vol staan en laat niemand toe om werk uit haar hand te neem nie.

Binne slaan die horlosie vieruur. Debbie se ma en Dora is in die kombuis besig om tert en koek vir Kersfees te bak. Doortjie is in haar element. Sy is nooit so gelukkig as wanneer sy in die kombuis besig is om koek te bak en te kook nie. Doortjie wil so dolgraag huishoudkundige word. Maar dis ’n vierjaarkursus. Waar moet die geld vandaan kom? Dis Doortjie se laaste jaar op skool. Sy is nou in matriek, maar waar moet hulle die geld kry om twee dogters tegelyk op universiteit te hou? Dit gaan alreeds so moeilik met die een. Hulle maak heeldag planne – sy en haar ma en Dora – maar die toekoms bly op die oomblik duister. Miskien moet Dora maar eers vir twee jaar gaan werk. As sy, Debbie, eers klaar is en sy het ’n aanstelling gekry, sal sy elke pennie bysit om te help. Sy is so diep dankbaar vir die geleentheid wat sy gekry het om verder te studeer. Sy is nie prakties aangelê soos Dora nie. Haar studie is vir haar alles. In haar geval het dit ook ’n tyd lank gelyk asof sy haar toekomsdrome sou moes laat vaar en maar in die prokureurskantoor sou moes gaan werk nadat sy matriek gemaak het. Debbie weet dis net aan haar ma te danke dat sy haar kans gekry het. Haar pa was baie onwillig om haar weg te stuur. Waarvoor wil sy verder leer? Tye is swaar en sy verband is groot. Hy kan dit nie bekostig nie en buitendien, een van die dae trou sy en dan is al die vreeslike geleerdheid tog onnodig. Maar Debbie het ’n getroue en vasberade kampvegter in haar ma gehad en toe Ouma ook nog bykom en aanbied om al haar universiteitsgeld vir die eerste jaar te betaal, het Pieter se argumente al flouer en flouer geword. Die vrouens het vierkant teen hom saamgestaan.

En Debbie het gegaan, ’n skraal, jong dogter met sterre in haar grys oë, weg na die groot, wonderlike stad, die wonderlike universiteit waar ’n nuwe lewe vir haar gewag het. Hoe jonk en naïef was ek tog nie, dink Debbie, ’n glimlaggie van herinnering om haar mond. Hoe dankbaar was die ou groentjie nie vir die leiding en beskerming van Trudie Hiemstra nie. Hoewel Trudie ’n vierdejaarstudent was, was sy die gaafste vriendin wat ’n meisie ooit kon kry.

Vol verwagting het sy gegaan en haar verwagting is nie beskaam nie. Sy was nie net diep gelukkig in haar nuwe omgewing nie, maar Paul het ook gekom. Paul. Waar is hy vanmiddag? Sy verlang elke uur van die lang somerdae na Paul en in die warm nagte droom sy van hom. As sy die dag ’n brief van Paul kry, is die wêreld sommer mooi: Die klipkoppies is vriendelik, die sonsondergang wonderlik, die aandskemering vreedsaam. As sy nie van Paul hoor nie, wag sy maar net vir môre om te kom. Sy hoor dikwels van hom en sy briewe is vol liefde en verlange. Soos sy droom hy ook van die dag wanneer hulle weer bymekaar kan wees.

Doortjie verskyn op die stoep met ’n swaar gelaaide skinkbord wat sy op die rottangtafeltjie neersit. Doortjie is byna sewentien jaar oud, sterk en mooi gebou met bloesende rooi wange. Sy het ’n swart krulkop en helderbruin oë. Sy is in baie opsigte haar pa se dogter, koppig en gedetermineerd, en haar sterk bruin hande staan vir niks verkeerd nie. Sy is vrolik en opgeruimd – daar aard sy nie na haar stil, meer teruggetrokke pa nie – en rusteloos van gees, altyd aan die gang. Debbie is die dromer. Sy is nooit so gelukkig as wanneer sy haar in ’n boek kan verdiep en die wêreld om haar kan vergeet nie.

Glimlaggend sit Doortjie die skinkbord neer.

“Het Ouma al sulke mooi beskuit gesien?” vra sy spoggerig.

Ouma neem haar koffie by Doortjie en betrag die boerbeskuit, geurig, wit en fyn.

“Dankie, Dora. Nee, my kind. Waarlik, ek het lank laas sulke pragtige beskuit gesien. Jy sal ’n knap huisvrou uitmaak. Die dogters van vandag dink mos dis ’n skande om in die kombuis te werk. En die dag as hulle trou, moet die huishulp maar bak en kook in die kombuis en netnou is die man moeg vir die hele spulletjie en as die vrou weer sien, sit sy terug by haar pa in die huis.”

Debbie en Dora lag albei. Debbie neem ’n snytjie van die mosbeskuit wat Dora vir haar gesmeer het omdat sy weet hoe lief haar suster vir die vars beskuit is.

“Dis regtig mooi beskuit, Doortjie. Jou man sal jou nooit weer terugbring huis toe nie. Ek wens ek was so knap soos jy. Waar is Moeder?”

Net toe verskyn Miem Malan op die stoepie. Sy gaan sit op die bankie langs Deborah en begin haar koffie drink. Sy lyk moeg en warm en Debbie voel skielik skuldig. As sy so bekwaam en ywerig soos Doortjie was, kon hulle twee saam gebak het en kon haar ma hier op die koel stoepie saam met Ouma gesit en naaldwerk doen het. Sy sal meer belang moet stel in die huishouding. As sy eendag Paul se vrou is, moet alles volmaak wees. Paul se vrou, dink sy dromerig. Soos so dikwels in die afgelope weke dink sy weer aan daardie aaklige, vernederende oomblikke in die landdroshof. Sy en Paul verwys nooit daarna nie, maar tog kan sy dit nie vergeet nie. Haar maag voel nou nog hol en naar as sy net daaraan dink.

Sy sien haar ma kyk na haar, ’n begrypende glimlaggie in die grys oë, en sy bloos.

“Droom Debbie al weer?” terg sy haar dogter so ’n bietjie.

“Sy dink natuurlik al weer aan die brief wat Vader netnou huis toe sal bring,” terg Doortjie verder. “Die dokter skryf darem so gereeld en dis sulke lekker dik briewe.”

“Ag, jy’s laf, Doortjie,” sê Debbie vinnig. “Hy is nie ’n dokter nie en sal nie een wees voordat baie jare verby is nie.”

“Mag wees. Maar hy skryf darem lekker dik briewe.”

“Ag loop, Doortjie.” Debbie se wange is vuurrooi.

“Ek sou graag die jong kêrel wil sien,” sê Ouma en sy neem nog ’n stukkie beskuit. “Waar is Popsie? Is sy weer saam met Pieter dorp toe?”

“Ja, Moeder, sy het so gepleit om saam te gaan.”

“In dié hitte,” sê Ouma half ontevrede. “Die kind is alreeds pikswart verbrand.”

“Sy het ’n groot kappie op, Moeder. Sy geniet dit tog so om met die perdekar te ry en sy is lekker geselskap vir Pieter. Is die koffiekan op die stoof, Doortjie? Jou pa-hulle sal seker netnou hier wees en dan sal hy baie dors wees.” Pieter werk darem so hard, dink sy. Dis van vroeg in die môre tot laat in die aand, dag ná dag, dieselfde storie. Maar hy hou daarvan. Hy is lief vir diere, lief vir die vrugbare stukkie grond wat aan hom behoort, lief vir die ruimte en vryheid en die weidsheid van die wêreld om hom. En nou gaan dit darem al ’n bietjie beter met hulle en kan Pieter dit bekostig om ’n ekstra werker aan te hou, wat hom oneindig help. Maar in die begin . . . Sy onthou nog daardie eerste dae toe hy saans byna te moeg was om uit te trek, hoe hy alles in die stryd gewerp het om die vertroue wat sy in hom gestel het te regverdig. Hy is verkeerd, het baie mense gesê, om sy vaste werk te verruil vir die wisselvallige, onseker bestaan van ’n kleinboer sonder enige kapitaal om op terug te val as die dae van teëspoed kom. Hoe sal hy wat ’n kantoorman is ooit ’n bestaan kan maak op grond waar ’n ander man uitgeboer het? Maar Pieter het kans gesien om die verwaarloosde plasie weer op te bou en ’n goeie bestaan daaruit te maak. Sy het nie in sy pad gestaan nie. En Pieter het gewerk. Hy het soos ’n besetene gewerk.

Geleidelik het daar orde op die plaas gekom, het sy boederytjie vorm aangeneem en vrugte begin afwerp. Baie stadig en op ’n baie klein skaal. Maar Pieter was tevrede en wat oor was, het hy maar weer in die plaas gesteek. Die grootste seën was dat hulle volop kos gehad het, melk en vrugte en groente en vleis. Dis net die huis waarmee sy nie vrede kan maak nie. Sy wil so graag ’n bietjie aan die huis laat verbreek en verander. Dis so ’n donker, ongerieflike huis. Sterk en stewig gebou, maar van estetiese oorwegings was daar by die bou van die huis geen sprake nie. Dis of die oorspronklike eienaar doelbewus die son uit die huis wou hou. Daar is nie eens ’n enkele venster aan die noordekant nie. In die winter is daar nie ’n enkele warm hoekie waar ’n mens kan sit nie en in die somer is die huis benoud. Ag, eendag sal hulle dit nog kan bekostig om te verbeter. Nou moet hulle maar baie spaarsamig te werk gaan. Pieter wil nog ’n paar Frieskoeie aankoop en die dogters word groot en hulle behoeftes moet selfs ten spyte van die plaas eerste kom. Sy sal alles vir haar dogters opoffer sodat hulle die beste kan kry. Drie dogters is ’n groot verantwoordelikheid vir enige ma. Haar ouma het altyd gesê jong dogters is soos groen koring op die land. So voel sy ook. In die jong groen gesaaides, in die tenger halmpies wat buig voor die wind, lê groot en ryk belofte. Maar daar is ook altyd onrus en vrees in die boer se hart – vir skade, vir storms wat kan kom en vernietig voordat die koring vol in die aar, geel en ryp, geoes kan word. Sy is geseën en gelukkig in haar dogters. Debbie, Doortjie en Popsie. Drie dogters van dieselfde ouers en tog so verskillend soos die nag van die dag.

Sy voel moeg en warm. Sy is al van vanoggend vroeg af op die been en sy is ook nie meer so jonk soos wat sy was nie. As ’n vrou haar leeftyd bereik het, behoort sy dit darem al so ’n bietjie makliker te hê. Sy het nie meer die krag wat sy as jong vrou gehad het nie. Sy kan dit voel as sy die dag so hard gewerk het. En Pieter sal netnou hier wees en sy wil nie graag hê hy moet haar so aantref nie.

“Waar gaan Moeder nou heen?” vra Debbie toe sy opstaan. “Sit nog ’n bietjie. Moeder het so hard gewerk.”

“Ek wil gou gaan bad voor jou pa kom, my kind. En daar is nog werkies om te doen.”

“Ons sal alles doen,” sê Debbie vinnig. “Eiers uithaal en kyk dat die hoenders kos kry en aandete maak. Gaan bad Mammie maar.”

Toe Pieter Malan en sy jongste dogter ’n rukkie later daar aankom, het hulle haar op die stoep aangetref. Sy het gebad en ’n koel, ligte, bont rok aangehad. Haar hande het vir ’n wonder rustig in haar skoot gelê. Pieter Malan het sy vrou gesoen, bly om weer terug by haar te wees. Hy het op die kant van die stoep gaan sit en sy hoed agteroor gestoot. Hy was ’n lang, taamlike skraal man, bruingebrand, met donker hare en oë en ’n onvermoeide gees. Daar was skynbaar geen einde aan hom nie.

Popsie Malan, die jongste van die drie dogters, het haar arms om haar ma se nek gegooi en haar gesoen. Toe probeer sy met ongeduldige vingers haar kappie se bande losknoop.

“Sjoe, dis warm,” sê sy. “O Moeder, Elsatjie se kat het klein katjies gekry. Ses van hulle, die dierbaarste ou goedjies. En tannie Alie sê ek kan net soveel van hulle kry as wat ek wil hê. Sy sê hulle wil hulle nie hê nie, die kat kry heeldag kleintjies.” Die groengrys oë kyk smekend in haar ma s’n. “Kan ek maar, Mamsie, kan ek maar almal kry?”

“My liewe Popsie,” glimlag Miem Malan. “Hoe kan ons dan nou sewe katte aanhou? Hou jy dan nie meer van Snippie nie?”

“Ja, Mammie, ek is nog net so lief vir haar. Maar, o Mammie, hulle is so mooi. Daar is twee swartetjies en vier bontetjies. Kan ek maar, Mamsie?”

“Ons sal sien, my hartjie. Hulle is in elk geval te klein om hulle nou al van hulle ma af weg te neem, maar miskien kan jy later enetjie kry.”

Popsie is vir eers tevrede. Dora kom met die koffie na buite en Popsie, wat met haar kop teen haar ma se skouer sit, sê weer: “Elsatjie sê sy gaan ’n slaappop vir Kersfees kry.” Sy sê niks meer nie, maar haar smekende oë maak dit ook nie nodig nie. Miem Malan sug. Hoe moet ’n mens jou kinders laat verstaan? Elsa Fouché, Popsie se beste vriendin, is een van die hoërskoolonderwysers se enigste dogter. Dis vir hulle baie maklik om vir hulle dogter die ou dingetjies te gee wat ’n jong kind so gelukkig kan maak. Maar dis swaar om die verlange in jou eie kind se oë te sien en te weet dat jy maar altyd nee moet sê omdat daar ander, dringender behoeftes is wat voorkeur moet kry. In die reël is hulle ook soet en inskiklik, dis net so af en toe dat die verlange te groot word. Sag streel sy haar jongste se ligte, blink haartjies.

“Toe maar, hartjie, eendag koop ons vir jou die grootste slaappop wat daar in die winkel is. Maar nou kan Vader nie. Kom, drink jou melk. Ons gaan vanaand buite onder die peerboom eet. Ek het gehoor Debbie en Dora maak sulke planne.”

Die fyn, ovaalvormige gesiggie wat net ’n oomblik vantevore so treurig was, verhelder nou. Die ogies straal.

“Ek sal hulle gaan help. O, dit sal lekker wees.” Soos ’n warrelwind is sy by die huis in.

Pieter en sy vrou kyk glimlaggend na mekaar. Hy sien die teerheid in haar oë. Hy weet wat in haar hart aangaan. Hy steek sy hand in sy baadjiesak, trek ’n posspaarbankboekie daaruit en oorhandig dit aan haar. Sy neem dit by hom en maak dit oop. Daar is ’n deposito van vyf pond inbetaal. Vraend kyk sy na hom en met ’n glimlag verduidelik hy: “Die groente en vrugte en blomme wat ek smôrens mark toe geneem het, het die afgelope week byna dubbel hul gewone prys behaal. Dis Kerstyd en dit lyk of die mense nie omgee wat hulle betaal nie. Dis vir jou huis, vir die veranderings wat jy wil maak. Dit sal maar stadig gaan, maar dis ’n begin. As jy eier- of bottergeld oorhet, kan jy dit ook daarby sit.”

Verras bly sit sy. Dit het sy nie verwag nie. Sou Pieter weet dat sy soms so opstandig en ontevrede voel?

“Dankie, Pieter.” Sy staan op en soen hom. Sy weet hoe nodig hy die geld het, hoe baie dinge hy nog vir die plaas wil koop. Maar daar is ook dankbaarheid en erkentlikheid teenoor sy vrou wat hom gehelp het om sy hartsbegeerte waar te maak.

“Moenie nou al dankie sê nie,” terg hy haar so ’n bietjie. “Dis miskien ’n jaar voordat ek weer iets kan bysit. En miskien kom ek dit sommer al weer een van die dae leen. Maar dis vir jou en jou huis, nie vir jou dogters nie.”

Sy bloos effens, want hy het al weer haar gedagtes gelees. Maar sy aanvaar die geld met dank. Dis die begin van haar droomhuis.

Daar stap Debbie nou na die hoenderhokke toe met ’n mandjie om die eiers uit te haal. Popsie is by haar. Sy hang aan Debbie se arm terwyl sy opkyk in haar gesig en sonder ophou gesels. Sy vertel haar seker nou van die katjies en die slaappop. Sy hoor Dora hier binne werskaf, druk besig om aandete klaar te maak. Ouma help haar seker, sy kan nooit ledig wees nie. Pieter staan op om sy koeie vir die aand te versorg en ’n rukkie is sy alleen op die stoep. Lang, koel skaduwees lê nou oor die veld. Die aandgeluide weerklink oor die werf, maar verder is dit stil en rustig. Ook hier binne-in haar is dit rustig. Solank dit met haar dierbares goed gaan, gaan dit met haar ook goed.

Tryna du Toit-omnibus 2

Подняться наверх