Читать книгу Liewe Heksie se groot omnibus - Верна Велс - Страница 14
ОглавлениеLiewe Heksie en die Koekoek
Een oggend vroeg kom Blommie by Heksie se huis aan en oor sy skouer dra hy ’n visstok. Heksie sit op die stoep en om haar lê ’n paar planke, spykers, ’n hamer en ’n saag.
“Haai, Heksie, wat maak jy met al daardie gereedskap?” vra Blommie.
“Wat’s dít?” vra Heksie.
“Wat’s wat?” vra Blommie.
“Daardie groot woord wat jy gesê het. Ek weet nie van groot woorde nie.”
“O, jy bedoel gereedskap?” sê Blommie.
“Ja, wat is dit, hè, Blommie?”
“Ag, Heksie, gereedskap is hamers en sae en sulke goed. Sê nou vir my, wat maak jy met al die gereedskap?”
“Ek wil vir my ’n koekoekhorlosie maak,” sê Heksie.
“’n Koekoekhorlosie!” lag Blommie.
“En wat is miskien so snaaks?” vra Heksie vies.
“Jy kan nie van planke en spykers ’n horlosie maak nie, Heksie. ’n Horlosie is vol wieletjies en allerhande goed. Dis net slim mense wat horlosies kan maak.”
“O,” sê Heksie en trek haar hoed oor haar oë.
Blommie is dadelik jammer hy het gelag. “Ek’s jammer, Heksie, ek wou nie snaaks wees nie, maar jy sal regtig nie ’n horlosie kan maak nie.”
Nou huil arme Heksie sommer kliphard. “Ek wil so graag ’n koekoekhorlosie hê. Vandat ek Karel se mevrou se horlosie gesien het, wil ek ook een hê om in my huis op te hang. Nou sal ek nooit een hê nie.”
“Ja, hulle kos baie geld,” sug Blommie.
“En ons het nie geld nie, nè?” huil Heksie.
Blommie skud sy kop. “Nee, ons het nie.”
Arme Heksie huil nou aanmekaar. Blommie wil graag iets doen om haar van die horlosie te laat vergeet. “Weet jy waarom ek eintlik hierheen gekom het, Heksie?” vra hy.
“Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar hoe sal ek weet as jy my nie sê nie?” sê Heksie.
“Ek het kom vra of jy saam met my wil gaan visvang. Kyk, ek het my visstok saamgebring.”
“Haai, oe, ek wil vreeslik graag saamgaan. Maar dan moet jy vir my ’n stukkie vislyn en ’n hoek gee, hoor, Blommie, want ek het nie vis … ge … gereedskap nie. Haai, hoor jy, Blommie, ek onthou van daardie groot woord. Party dae is ek ’n bietjie slim, nè?” sê Heksie skaam.
“E … ja, Heksie, party dae is jy slim,” sê Blommie. “Net, dis nie visgereedskap nie, dis visgerei. Maar ons moet nou loop, anders vang ons nie ’n vis nie.”
Heksie sit haar swart punthoed op en die twee loop rivier toe. Blommeland se riviere is pragtig helder en skoon en op die walle groei mooi groen gras en bome.
Blommie en Heksie gaan sit op die wal van die rivier en Blommie gee vir Heksie ’n stuk vislyn en ’n hoek. “Hier’s ’n stukkie pap ook, Heksie,” sê hy.
“Dankie, Blommie, jy’s baie gaaf,” sê Heksie en sit die pap in haar mond.
“Heksie!” raas Blommie. “Dis nie vir jou om te eet nie, dis vir die visse!”
“O,” sê Heksie. “Hoekom is dit vir die visse?”
“Man, jy sit mos pap of wurmpies aan die hoek en wanneer die vissies dit eet, vang jy hulle,” sê Blommie.
“Ek’s jammer, Blommie, ek het ’n bietjie vergeet van die pap en die wurmpies,” sê Heksie en sit ’n stukkie pap aan die hoek.
Blommie sit ook pap aan die hoek en gooi dit doer ver in die water. Heksie sien hoe lekker Blommie sy visstok vashou.
“Ek gaan die lyn aan my besemstok vasbind, dan het ek ook ’n visstok,” sê sy.
Heksie bind die lyn aan die punt van haar besemstok vas en gooi haar hoek in die water. “Weet jy, Blommie, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek glo nie die ander hekse het al ooit van hulle besems ’n visstok gemaak nie, weet jy?”
“Nee, Heksie, ek dink ook nie so nie,” fluister Blommie. Hy wens Heksie wil saggies praat, want dit moet stil wees as jy ’n vis wil vang.
Skielik gee Heksie se besemstok ’n ruk. “Blommie!” gil sy. “My besemstok wil uit my hande spring!”
“Hou vas, Heksie, jy gaan ’n vis vang!” sê Blommie opgewonde.
“Haai, oe, dink jy regtig ek gaan ’n vis vang?” vra Heksie.
“Ja, man, moenie so baie praat nie. Trek die vis uit!” Blommie se gesig is sommer bloedrooi, so opgewonde is hy.
Heksie gee ’n harde trek aan die stok en val amper agteroor toe die hoek uit die water kom. Aan die hoek hang ’n swart ding. “Haai, Blommie,” sê Heksie bly, “kyk, ek het ’n skoenvis gevang!”
Blommie kyk na die swart ding en sê: “Dit lyk nie net soos ’n skoen nie, Heksie, dit ís ’n skoen.”
“Is nie,” sê Heksie kwaai, “dis ’n skoenvis. Kyk sy tandjies.”
“Dis die spykers waar die sool losgetrek het, Heksie,” sê Blommie.
“Is nie, dis sy tandjies,” sê Heksie en wil net weer begin huil.
“Goed, Heksie, ons sê maar dis sy tandjies,” sê Blommie moedeloos.
“Kom ons kyk of jy ook ’n vis gaan vang, Blommie,” sê Heksie terwyl sy nog ’n stukkie pap aan die hoek sit.
Vir ’n rukkie sit die twee doodstil en wag dat die visse aan die pap moet byt.
Skielik sê Heksie: “Blommie, ek het nou net ’n liedjie gemaak. Ek sal dit vir jou sing, hoor?”
Blommie wil nog keer, maar Heksie begin sommer sing; alles op een noot, soos sy mos maar altyd sing:
“My naam is Heksie Visterman;
Jan Pierre-wierre-wiet, Jan-Bam.”
Toe sy klaar is, sê sy: “Dis ál woorde wat ek gemaak het. Ek sal ’n bietjie dink, dan maak ek nog, hoor?”
“Ja, Heksie,” sug Blommie, “maar ons moenie so raas nie, die visse sal skrik.”
“Ek wil nou nie snaaks wees nie, Blommie, maar ek het nie geraas nie, ek het gesing. Dit lyk my jy weet nie van musiek nie. Of … of is my liedjie vir jou lelik?”
“Nee … dis baie mooi, Heksie,” sê Blommie vinnig, voor Heksie weer huil.
“Nou ja, dan sal ek dit gou weer sing, ek het klaar nog woorde gemaak,” sê Heksie, maar net toe sy wil begin sing, kom die wind en waai haar hoed in die rivier.
“My hoed, my hoed!” skreeu Heksie en hardloop by die water in agter haar hoed aan.
“Heksie, oppas, dis dalk baie diep!” roep Blommie, maar toe sien hy die water kom net tot by haar knieë.
Heksie gryp haar hoed en skreeu vir Blommie: “Die water is heerlik, Blommie, ek gaan ’n bietjie hier rondloop en kyk of ek nog skoenvisse kan vang!”
“Ja, maar jou klere gaan nat word,” sê Blommie kwaai.
Heksie lag dat haar enigste tand uitsteek. “Ek wil nou nie snaaks wees nie, Blommie, maar my klere is mos al klaar nat!”
Net toe val daar iets plaps! naby Heksie in die water. Dis sowaar ’n babavoëltjie. Voor hy onder die water kan wegraak, tel Heksie hom op. Hy is darem nie dood nie, maar Heksie sien hy is baie moeg en koud. “Haai,” sê sy, “dit lyk my dis ’n koekoekvoëltjie. Ek sal hom maar onder my hoed warm maak en hom later vra waar sy horlosie is.”
Heksie sit die voëltjie op haar kop en sit haar hoed bo-oor hom. Toe gaan sy terug na Blommie toe.
Heksie wil nog vir Blommie van die voëltjie vertel, maar Blommie is te opgewonde. “Kyk, Heksie, ek het ’n vissie gevang!”
“Haai, oe!” sê Heksie. “Laat ek sien.”
Blommie wys vir Heksie die vissie.
“Hy’s nie genoeg om te eet nie,” sê Heksie.
“Nee,” sê Blommie, “ek gaan hom teruggooi, maar ek hét hom darem gevang.”
“Ja, jy’s baie slim, Blommie,” sê Heksie.
Blommie gooi die vissie terug in die rivier en hy en Heksie gooi weer hulle hoeke in die water. Hulle sit net ’n rukkie toe hulle iemand hoor huil.
“Wie huil so?” vra Heksie.
“Kyk, Heksie,” sê Blommie en wys na ’n duif wat op die rivier se wal staan. “Hoekom huil jy, Duif?” vra Blommie.
“Omdat my kind in die rivier geval en verdrink het,” sê die duif.
“Is jou kind ’n duif?” vra Heksie.
“Natuurlik, Heksie,” sê Blommie ongeduldig. “Duiwe het mos duifkinders.”
“O,” sê Heksie, “want ek wou net sê, ek het netnou ’n koekoek in die rivier opgetel.”
“Is jy seker dit was nie ’n duif nie?” vra die mamma-duif opgewonde.
“Nee, want ek wil hom in ’n horlosie sit. Dit was ’n koekoek,” sê Heksie.
“Ag tog, my kind is dood!” huil die duif.
“Heksie,” sê Blommie, “sal jy nie net vir ons die voëltjie wys nie?”
Heksie bly doodstil.
“Heksie, waar is die voëltjie?” vra Blommie.
“Ek … ek weet nie, Blommie, ek het vergeet waar ek hom gebêre het,” sê Heksie skaam.
Blommie is sommer vies. “Ag, Heksie, maar jy ís dom!”
Heksie wil net haar hoed oor haar oë trek soos sy altyd maak as sy skaam kry. Maar toe sy aan die hoed raak, hoor hulle: “Twiet! Twiet!”
“Haai, nou onthou ek waar ek hom gesit het. Hier’s hy!” Heksie haal haar hoed af en daar sit die voëltjie op haar kop.
“Dis my kind,” sê die duif en lag en huil deurmekaar. Die duifie vlieg ook sommer na sy mamma toe.
“Is nie, dis ’n koekoek,” sê Heksie.
“Nee, Heksie, dis ’n duifie, kyk hoe sit hy by sy mamma,” sê Blommie vriendelik, maar Heksie huil nou dat die trane rol.
“Ek wou so graag ’n koekoek gehad het,” snik sy.
“Wat wil jy hê?” vra die mamma-duif.
“Sy wil ’n koekoekhorlosie hê, mevrou Duif,” sê Blommie.
“Maar daar is mos nie lewende voëltjies in ’n koekoekhorlosie nie,” sê mevrou Duif. “Dis mos houtvoëltjies wat hulle daarin sit.”
“Ek weet, maar Blommie sê ek kan nie ’n houtvoëltjie maak met my hamer en my saag nie, toe dink ek ek sal hierdie enetjie vat,” sê Heksie.
“Ek wil graag vir jou iets doen omdat jy my kind gered het. Ek sal vir die koekoeke gaan vra om vir jou ’n horlosie te maak, Heksie,” sê die duif.
“Haai, regtig!” roep Heksie uit.
“Ja, en wanneer die horlosie klaar is, bring ons dit vir jou,” sê die duif.
“Haai, oe!” is al wat Heksie kan sê.
Die duif en haar baba groet vir Heksie en Blommie. Toe hulle wegvlieg, sê mevrou Duif: “Ek bring een van die dae jou horlosie, Heksie!”
“Haai, Blommie,” sê Heksie bly. “Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek sal seker die enigste heksie met ’n koekoekhorlosie wees.”