Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 10
Nihil ex Nihilo
ОглавлениеOns is altyd geleer: Nihil ex Nihilo – niks
kom voort uit niks. Is dit ’n oordeel
té haastig en gou, wat nie rekening hou
nie met die poësie? Want poësie
ontvou asof van nêrens af, is skielik
daar op jou papier, en hoe verklaar jy dit?
Mense sê my: Tog nie, jy het sóveel al
ervaar, en die nuwe woorde kom uit
daardie bron. Dan besef jy: die Nihil
– die Niks – is daardie ondergrondse
wateraar van die siel.