Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 23
Nou vou ek jou toe
Оглавление(’n gedig binne ’n gedig)
Rosalie het my hierdie woorde geskryf:
Jou hande
(Vir Adam van Rosalie,
met ons 43ste huweliksherdenking,
22 Desember 2012)
BA eerste jaar. Geskiedenis van die
Wysbegeerte 1. Taak 1. Gedagtegange
rakende die ontstaan van die heelal.
Thales, Anaximander en Anaximenes.
Water, vuur, lug. Boustene van die
univers. Meneer verduidelik. Ons vra
en luister aandagtig, knik nou en
dan instemmend. En ek dink, met
groot versugting:
Meneer, jou hande is so móói.
Vele take, toetse, eindeksamens, en
’n honneursgraad later, stap ek die
paadjie kansel toe, my pa aan my sy.
Jy wag daar. Lank reeds nie meer
Meneer nie. Laat gly my ringe tot by hul
rusplek op die basis van my trouvinger.
En, terwyl die heelal kantel, dink ek:
My lief, jou hande is só mooi.
Nou, vir reeds meer as veertig jaar,
verken en ken en koester jou hande my steeds.
My man, jou hande is so mooi.
Hierop het ek haar geantwoord:
Dan vou ek jou vannag in my arms toe,
en in die heilige donker van ons soel
kamer, sal ek naby jou kom, jou bemin,
en weet hoe goed dit vir ons is om al
die armsvol vreugde en liefde van ons
samesyn te ín, en te laat sin maak in
die lewe.