Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 19
Wat is liefde?
ОглавлениеRosalie maak sake vir my nie maklik nie.
Sy vra my, met betekenisvol-laggende oë
wat ek bedoel met “liefde” en wat “liefling”
beteken. Sy vra my om te verduidelik
en is nogal tevrede met my antwoord.
Daar’s geen definisie soos in matesis nie,
maar, by wyse van gelykenis, sê ek haar,
ervaar ek die betekenis van hierdie woorde
as dié van ’n onverklaarbare gedrongenheid:
Ek onthou hoe ek jare gelede op ’n keer,
laatmiddag tussen Robertson en Worcester
op pad Kaap toe was en hoe, by Goree, die
sakkende son skielik op my afgekom het,
oorrompelend, en ek met die motor stil moes
hou. Die lug was, minute lank, ’n vlammende
oranjerooi wat my aan die keel gegryp
en tot angstigheid gebring het. Eindelik,
in ’n soort swymeling, het ek daaruit gekom
en skugter verder gery.
Soos daardie lug, so iets,
is liefde.
Dan weer, wanneer ek in die winter van die werk
op pad was huis toe het die onweer in die
Suid-Skiereiland vroegmiddag al somber gekom,
met sluiers reën wat van vér af genader het met
’n dreuning van hael, en ’n mens moes onder
die eerste brug oor die pad skuiling
soek. En alles was gedronge – dis die enigste woord
om die ervaring mee te beskryf. Jy was
vasgedruk in ’n soort hulpeloosheid. ’n Ervaring
soos van daardie intens uitgeblokkeerde lug,
so iets, is liefde.
Ondanks die angs in dit alles ingebou, bly ek
jou liefhê. Die ontstellende vreugde is myne.