Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 14
My woorde kom weer
ОглавлениеEk was lank stil, maar nou,
waarlik, kom die woorde weer.
Skoorvoetend eers, dan met langer
hale. Ek het té lank gehiberneer.
Dit was kompleet soos in
’n Pwasa-tyd, maar nou, gereinig,
is ek daaruit, en opgewonde soos ’n kind
vind ek skielik ek skryf weer my sélf
úit op papier – watter plesier. Kyk,
die magie van my hand het nie
verval nie. Ek sien ’n heelal opegaan
en helder lig stil-stil om my
uitstraal:
Het daghet,
Het daghet
overal.
Ek hoor ’n stem wat my vra: Adam,
wat het van jou Kaaps geword? Hierdie
nuwe verse klink só anders. Ek dink ná,
antwoord dan: My Kaaps is goeie geskiedenis –
die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die
stemloses. Maar daar kom ’n keer wanneer
’n digter ook aan sy eie belang sal dink,
homself as individu op die verhoog moet
bring. Daar’s immers werklikhede, van die
digkuns onder meer, ewe dringend tog
as dié van die ertappeleters van Van Gogh.
En ook, my Kaaps leef voort in die musiek van
hierdie nuwe verse, die paring van en speel
met binne- en buiteryme. Só bly die
Krismisbands en -kore, van tye her en nou,
in hierdie nuwe werk se landskap sing,
sing, sing en stap.