Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 16
Aan my skrywersvriende
ОглавлениеEk het Elsa Joubert laat weet ek was
lank stil, maar dat my woorde
nou weer kom,
en sy was daaroor bly.
Vir Antjie Krog het ek dit ook laat weet,
en sý was bly.
En ek het my skrywersvriend
Braam de Vries laat weet. Hy was
eweneens bly.
Ander kollegas het ek nie laat weet nie
maar is seker húlle ook was bly: André
wat aldeur waarderend was van my werk;
Joan Hambidge, met haar waardering
vir Kanna; en Breyten was kennelik bly.
Soos hy vroeër geskryf het: “… aan die einde
van die dag … is Adam Small … die man
wat van ons taal … ’n lokasie, dus ’n
plaaslikheid … universaliteit gemaak
het. Die poësie is dieper as die mond,
en met baie tonge.”
Breyten het my werk van die verlede só
goed verstaan. Nou, sê ek hom egter,
beweeg ek in ietwat anderste bane, en kom
ek deur ’n heelwat vreemder doeane
– alhoewel, op my Odysseus-reis, my hand
van indertyd duidelik genoeg wys. En
wat ek nou ook aan te bied het, laat ek as
’n barakat aan my vriende, ’n toegif,
vrygewend, van geseënde kos,
uit ’n liefdevolle hart.
En ek steek by die begin van hierdie laaste
of voorlaaste reis my mooiste kers op
vir my vriende en hoop die vlam brand
lank genoeg om my die tyd te gun wat ek
nodig nog sal hê om enkele groot dinge
in my leser se skoot te lê.
El sal ook nie nalaat om my padkos
en pak kaarte saam te neem nie, om myself
op die oorblywende weg en weë te vermaak
met die speel, waar ek ook mag aankom,
van Klawerjas of Solitaire.