Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 20
Grand Canyon
ОглавлениеEen van die wonderlikste uitsigte, wáár ook,
móét wees die enorme stuk gronderosie,
die Grand Canyon in die woestynland
van Amerika, eeue lank uitgekalwe deur die
magtige Coloradorivier. Ek sal nie die nagte
vergeet nie dat ek vroegaand daar op die
befaamde “rim”, die rand van die Canyon,
betowerd gesit en staar het oor die
asemrowende skakerings van kleur soos wat
die falende lig van die dag oor die hoë rotse
gespeel het. Dis iets goddeliks – nóg ’n beeld
van die betekenis van liefde.
Soms het ek en my Amerikaanse reisgenoot
saans ’n uur lank, voordat ons vir ete na ons
verblyfplek daar naby terug is, net daar gesit
en gekyk, in stilte.