Читать книгу Klawerjas - Adam Small - Страница 5

Inleidend

Оглавление

Hierdie poësie – met mý soort rym, en ook vrye verse – stuur weg van platvloersheid, dog is terselfdertyd bestem vir gewoon-intelligente mense en wil nie ’n vertoon van ge­leerd­heid en obskure hoogdrawendheid wees nie.

Laat my ook sê dat dit nie juis bevorderlik vir die begrip van sake is om te vra wat ’n gedig “beteken” nie. Om poësie te waar­deer is soos om wyn te proe of, soos ons op Engels sê, “savour”: geniet net die woorde, die sinne, die sentimente, die ge­dag­tes, die opgaaf van herinneringe – meestal val dit al­les soos manna uit die hemel op die digter se papier neer.

Enkele elders gepubliseerde maar tot dusver ongebundelde gedigte word ook in hierdie bundel opgeneem.

Aangesien daar erotiese verse in hierdie bundel voorkom, is dit nodig om daarop te let dat daar ’n groot verskil is tussen ’n ero­tiese gedig en ’n pornografiese vers – ’n verskil wat party digters nie skyn te eerbiedig nie.

Pornografiese skrywe is onvergeeflik wat ernstige poësie betref.

Ook: te veel mense meen poësie is ’n saak van rym op rym. Maar dis nie so nie. Ryme sal soms hul opwagting maak, en soms glad nie. Daar’s natuurlik ook verskillende soorte rym. In my geval lê die ryme soms vlak naas mekaar; meestal egter is hul versprei deur die teks en moet lesers en hoorders hul oë en ore oophou vir die musiek wat die verse deurtrek. Hoe ook, poësie bly ’n werklikheid van die ontlading van emosie by wyse van die sinvolle, innige gebruik van taal wat beto­we­rend werk, soms selfs net die stel van groot gedagtes en die skep van ontroerende beelde, en inderdaad sommer net die ves­tiging van die leser of hoorder se aandag op ’n ander digter se wonderlike woorde. ’n Mens kan miskien daar­op let dat daar aan goeie poësie altyd iets surrealisties en geheimenisvol is.

Goeie gebede ook, nes psalms, kan mooi poësie wees, by­gesê hierdie moontlikheid word deur die meeste predikante verfoes. Daar’s ook die beoordelaars wat meen dat ’n goeie vers “ontroerend” moet wees. Maar wát beteken “ontroerend”? Wat vir die een dít is, is nie noodwendig vir die ander so nie. Poësie strek wyer as ontroering.

Dan ook: ’n Digter het die voorreg, die prerogatief, om sy eie woorde, punktuasie, en veral beelde te skep. Daar’s eg­ter één voorbehoud: dié skepping moet sy werk meer toe­gank­lik vir sy lesers maak, en indien dit voorgelees word, vir sy hoorders. Ek is egter bewus van digters, groot name ook, wie se werk al minder toeganklik raak soos hulle hierdie voor­reg beoefen, al meer obskuur.

Ten slotte: Ek verwonder my aan die “taalkenners”, hoe hulle alles in verseëlde houertjies wil pak: waar en wanneer daar gekoppelteken moet word, hoofletters moet wees, bokas-onder­kas geskryf moet word en dies meer. Taalgebruik, en natuur­lik die poësie, buig net nie voor hierdie simplistiese taal­beskouing nie.

Klawerjas

Подняться наверх