Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 10

5. Soveel vrae

Оглавление

Kinders wat moor, het deur die eeue heen so algemeen geword, hul name is meestal vergete. Dis net die opspraakwekkendste moorde wat vandag nog, vaagweg, onthou word, die detail lankal verlore.

Maar telkens, met elke nuwe moord, duik dieselfde vrae op: Wat het verkeerd geloop? Dit kan tog nie wees nie? Nie hý nie … Dis wanneer ouers sê, nee, ek het nie my kind so grootgemaak nie. Nie mý kind nie. Ek kén my kind.

Maar die gemeenskap wys vinger na die ouers, veral die ma. En die ma begin wonder: Sê nou dis my skuld? Kon ek dit gekeer het? Was daar tekens wat ek nie raakgesien het nie?

’n Ma behoort tog te weet?

Gewoonlik word antwoorde gesoek in gebrekkige ouerskap. Kinders is immers verlengstukke van hul ouers. Hulle dra hul ouers se gene oral met hulle saam. Dan wroeg die ouers: Was ons te streng? Te toegeeflik? Nie liefdevol genoeg nie? Het ons daardie probleemkind afgeskeep?

Vir sommige ouers, sélf, was dit telkens te laat … Plaaslik:

•1974, Boston, Kaapstad. Marlene Lehnberg het haar minnaar, Christiaan van der Linde, se vrou, Susanna (49), met die hulp van ’n eenbeen-huurmoordenaar, Marthinus Choegoe (33), met ’n vuurwapen aangerand en met ’n skêr doodgesteek. Die skêrmoordenares. In die hof het Choegoe gesê dit was hý wat Susanna met die skêr gesteek het.

Marlene was 18, Van der Linde amper 30 jaar ouer.

•1983, Durban. Suid-Afrika se Bonnie en Clyde, Charmaine Phillips en Pieter Grundlingh, was sogenaamde spree killers. Hulle het in ’n blou Cortina met hul 6 maande oue baba, Pietertjie, op ’n moordtog deur die land gegaan en vier lyke agtergelaat, op KwaDukuza (toe Stanger) in KwaZulu-Natal naby Durban, Melmoth naby Richardsbaai, Kinross in Mpumalanga, en die laaste een in Bloemfontein.

Die motief was geld.

Charmaine was 17, Pieter presies twee keer so oud soos sy.

•1992, Rugby, by Milnerton, Kaapstad. Angelique Orsö en haar kêrel, Lawrence van Blerk, seun van ’n Johannesburgse narkotiseur, slaan haar ma, Dawn (38), met ’n braaipan dood en verwurg haar met ’n draadhanger om seker te maak. Hulle begrawe haar lyk in ’n blombedding in die tuin, toegedraai in ’n groen kombers, swartsak oor haar kop en haar hande en voete met broekiekouse vasgebind.

Angelique was 16, Lawrence 18.

•2000, Pretoria-Wes. Ná ’n rusie oor Salomé Deyzel se kêrel gaan sy laataand motorhuis toe en maak ’n 2 ℓ-Cokebottel vol petrol. Sy gooi die petrol uit oor haar slapende pa, Solly Deyzel (45), en Neeltjie Reese (39), wat by hulle ingetrek het, en steek hulle aan die brand met ’n sigaretaansteker. Sy sluit die slaapkamerdeur van buite.

Salomé was 16.

•2001, Gezina, Pretoria-Wes. Alta Pretorius en Jaco Steyn het geglo hul liefde is van die paradyslike soort. Hul troetelname vir mekaar was Adam en Eve. Alta se ma, Santa (47), ’n verpleegster, het nie die verhouding goedgekeur nie en hulle steek haar dood met messe.

Alta was 16, Jaco 17.

•2011, Welkom, Vrystaat. Die jong elektrisiën Michael van Eck (23) se liggaam word in die begraafplaas op Welkom gevind. Sy liggaam is opgekap in ’n Satanistiese ritueel en saam met die oorskot van katte begrawe. Verminkte liggaamsdele word in Maartens van der Merwe en sy verloofde, Chané van Heerden, se woonstel gevind. Daar is vreemde, grillerige skilderye in die woonstel en gebrande voedoe-poppe.

Chané was 20, Maartens 24.

•2013, Vishoek, Kaapstad. Rosemary Theron (39) van Clovelly, Vishoek, het plaaslik as harlekyn en steltloper bekend geword. Sy word deur haar dogter Phoenix Racing Cloud en dié se kêrel, Kyle Maspero, met ’n tou verwurg nadat hulle tik en dagga gerook het. Om R80 000 van haar ma in die hande te kry. Hulle het Rosemary as vermis by die polisie aangemeld. Nes in die Orsö-moord word haar lyk in ’n kombers in die tuin begrawe, en later naby Strandfontein langs ’n voetpaadjie gelos. ’n Vriend, Godfrey Scheepers, was medepligtig nadat hy gehelp het om die liggaam te verskuif, vier maande ná die moord.

Maar hy’s polisie toe.

Phoenix was 19, Kyle 18, Godfrey 20.

Kinders wat moor

Подняться наверх